Anderman se vrou. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.aand is sy gesag inderdaad van die hoogste orde: Aristoteles en Averroes, Dante en Cavalcanti, Thomas van Aquino en Mahatma Gandhi, Johannes Bogomil en Middeleeuse Katare en ketters – oor die ontginning van rede en intellek as die mens se allerbestemming. Oor hoe die geslagsdaad rasionele vermoëns ondermyn, oor hoe gedagtes oor seks die mens se bonum perfectum versteur, oor die ewige stryd tussen die goeie en die bose godheid, tussen ’n sondige vleeslike lewe en die soberheid van gees en rede. Oor hoe elke mens deur ’n spirituele reiniging van sondes purgeer moet word, verlos van die gevangeskap van vleeslike luste en drange na fornikasie, en om die siklus van prokreasie en reïnkarnasie te verbreek, anders is jy en jou nageslag gedoem om ewig dwaalgeeste op ’n sondige aarde te wees.
Met toenemende onrus het sy hom geduldig uitgehoor, toe sonder woord opgestaan en uitgeloop. Die aand het hy nie in hulle bed kom slaap nie.
’n Week later het sy, pleks van reiniging, sonde gekies. Haar verskoning aan hom was dat sy saans by Lea gaan kuier. Haar verskoning aan haarself was dat hy haar deur sy geestelike en liggaamlike afwesigheid tot die sonde gedwing het.
Hulle was almal jonger as sy. Willem was die eerste een. Toe Rob. Toe James. Wanneer een te veeleisend begin word, op haar gevoelens begin aanspraak maak, het sy haar losgewoel en verder gereis. Want haar huis – en Simon is deel van haar huis – gaan sy nie opgee nie. Hoekom sou sy? Dit is waar sy sekuriteit kry, gerief, geselskap, vertroude rituele.
Dat die aantreklike doktor Pope, boonop so intelligent en fynbesnaard, háár destyds gekies het, was in haar jong gemoed amper asof uit ’n feëverhaal; sy en Lea kom uit ’n ander soort huis.
Nou het sy uit ’n lang slaap wakker geskrik en alles het verander, alles is vreemd, die verlede afgesluit. Hulle is al vier maande hier, en in hierdie vreemde kan daar nie meer ’n lover, hoer of ander vrou in sy lewe wees nie, hier is dit net hulle twee, op mekaar aangewese, en sy het selfs hoop dat iets gered kan word van hulle verbrokkelende lewe en huwelik.
Sy trek die nuwe japon aan, streel ingedagte oor die klein moesie hoog aan ’n prominente wangbeen, haar beauty spot, begin met die nagroom en sê: “Gaan ons nou maar net aanhou vlug, vir die res van ons lewe herwaarts en derwaarts soos twee trekvoëls?”
In die slaapkamer is daar stilte, dan sê hy: “Dit sal oorwaai, Rachel, vertrou my net.”
“Oorwaai? Kyk waar sit ons, Simon, ons het nie eens meer ’n huis om na terug te keer nie.” Oor daardie mense wat hulle mooi huis laat afbrand het, huil sy steeds. Sy wonder wat Simon dáároor alles weet en nie vir haar sê nie. Om haar groter hartseer te spaar? Of iets meer sinisters?
“Dis mos hoekom ons moes vlug, Rachel.”
Sy wag, maar in die slaapkamer nou net stilte. “Hoekom?” vra sy.
“Omdat hulle jou wou kom vat.”
“Kom vat? Wie?”
“Die polisie, Rachel.” Die irritasie duidelik. “Hulle was op die punt om jou te kom arresteer. Maar nou dink hulle dis óns wat in die brand dood is. Alles gaan nou oorwaai.”
Sy kom uit die badkamer met die handdoek om haar hare en staar verdwaas na hom, daar op die bed met sy koerant. “Mý arresteer? Hoekom vir my?”
“Om landuit te vlug was al hoe ek jou kon red. Hulle dink jy’s medepligtig aan Jack se moorde, hulle dink mos jy en Jack … hulle dink julle was minnaars.”
“Waarvan praat jy, Simon?”
Bid jou aan – sy en Jack! Hy was vroeër Simon se laboratoriumassistent en motorbestuurder en het haar ook in daardie tyd dikwels rondgery, hare, naels, inkopies, Bertolini’s toe. Maar hy is weg omdat hy glo sy eie potjie wou gaan krap het … eintlik om mense te gaan doodmaak, het dit later geblyk. Daaroor het Simon net sy kop geskud en gesê: Wie sou dit ooit van Jack kon dink, so ’n sagte en stil kêrel.
Hy laat sak die koerant op sy bors. “Jammer, Rachel … ek wou jou nie daarmee ook belas nie, ek weet hoe swaar dit reeds vir jou is.”
“Wat gaan aan? Praat, Simon! Hoekom het jy nie vroeër so gesê nie?” Daardie moorde het die Paasnaweek begin, net ’n paar maande terug.
“Die speurders wou jou uitvra oor leidrade en bewyse wat hulle in Jack se blyplek gekry het. Glo van jou hare op sy lakens. Tissues met jou DNS. Koppie met jou lipstiffie aan. Wat nog? Ja, selfs afdrukke van jou vingers in sy kombuis. ’n Foto van jou onder sy matras. Maar die goed is geplant om jou te frame. En ek weet wie dit gedoen het … Wim Kellerman!”
“Hoekom sou hy my wou frame?” Sy het destyds nogal van Wim gehou. Aantreklike man en op sy plek.
“Wie sal weet hoe sy kop werk? Al wat ek kan dink, is dat hy my jaloers wou maak, hy wou my uitlok. Om iets aan jou of Jack te doen. Hy wou hê ek moet iets aanvang wat die polisie se aandag op ons sou vestig.”
Hoekom wou hy die polisie op hulle spoor sit? Dit maak nie vir haar sin nie. Wim wat skielik ná al die jare ou vriende en ou kollegas in die rug wil steek, Jack se moorde gebruik om háár te probeer frame om Simon by te kom? Nee, daar moet ’n ander verklaring wees en sy is seker dat Simon, soos altyd, weer goed vir haar wegsteek. Dit was mos kastig daardie wet op ampsgeheime wat hulle verbied het om selfs met hulle eie vrouens oor hulle werk by Bon Accord te gesels. Simon praat nou nog nie daaroor nie. En Mira het oor dieselfde ding gekla, gesê dis hoekom sy Wim gelos het, oor sy geheime werkslewe.
Sy staan langs die bed en kyk na hom af. “Dink jy regtig ek’s so naïef, Simon?”
Ook die moord op die gewese minister was groot nuus, nadat hy nog so ewe skynheilig die voete gaan was het van daardie vroue in Bonteheuwel. Die einste een wat destyds alles gaan staan en oopkrap het met sy gebiegtery voor die aartsbiskop. Meer lieg as bieg, vermoed sy.
“Wat is die eintlike rede hoekom jy besluit het om te vlug? Het die polisie nuwe leidrade gekry ná die minister se dood, oor daardie geknoeiery in julle geheimsinnige laboratorium?”
“Ons het goeie werk daar gedoen, Rachel, daar was géén getuienis oor onwettighede nie, die koerante het liegstories die wêreld ingestuur. Ingeligte bronne. Dis mos wat hulle sê as hulle goed uit die duim suig.”
Sy beduie. “Het jy gesien, daar op my bedkas?”
Hy leun oor na haar kant toe en bestudeer die kennisgewing, gerig aan: Simon Pope, Poste Restante, George Town, Grand Cayman.
Sy gaan terug badkamer toe. “Wat’s dit?”
“O,” sê hy, meteens ’n wip in sy stem, “dis my messe, uiteindelik aangekom, gedog ek sien hulle nie weer nie.”
SERGE
Augustus 2006
Montreal, Quebec, Kanada
Die prosessering van sy vrylating duur nie lank nie, al die papierwerk is vooraf afgehandel, nou teken hy net die laaste paar vorms en kry afskrifte. Daarna word hy na ’n toonbank begelei waar ’n amptenaar ’n deurtjie van pleksiglas tussen tralies oopskuif, en ’n bevel na hom blaf oor die boks wat hy na hom uitstoot. Hy druk die bril teen sy neus op, vee sy lang hare van sy wang weg, vou die flappe oop, beskou emosieloos die paar persoonlike besittings wat twaalf jaar vir hom bewaar is, knik, en teken vir ontvangs van die boks se inhoud.
“Geniet jou dag … sien jou oor ’n paar maande weer,” sê die siniese amptenaar en klap die deurtjie toe.
“Fok jou ook,” brom Aimé Simard met die boks onder die arm. Sy jeans, T-hemp en windjekker is vroeër die oggend uit dieselfde bewaarplek gehaal en in sy sel vir hom gegee. Ook sy ou tekkies en keps. Die jekker en hemp span om sy skouers, die jeans om sy heupe en bobene, van twaalf jaar met gewigte speel in die tronk se gimnasium.
“Kom iemand jou haal?” vra sy wag in die lang gang af, hulle deurtog deur die lense van CCTV-kameras en bewegingsensors gevolg, en elektroniese hekke wat outomaties vir hulle oop- en toeskuif.
Hy brom net in sy digte baard, sy oë donker en intens agter die bril.
Uiteindelik