Anderman se vrou. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Anderman se vrou - Chris Karsten


Скачать книгу
gaan sit.

      Die groot ou agter haar bied ’n varkboud aan. “Sersant Frank Doucette,” sê hy, druk weer die deur toe en beduie na ’n stoel aan die oorkant, daar waar die lens my gesig mooi kan vang. “Sit. Dankie dat jy gekom het.”

      “Ek moes my vlug uitstel,” sê ek vieserig. “En is nie seker wat julle van my wil hê nie, bevrees julle mors julle tyd.”

      “Waarheen wou jy vlieg … terug huis toe?” Korporaal Young se ogies lyk effe verlep, die skerperige gesiggie gestroop van enige lewensvreugde, die punt van haar snuiwende neusie rooi.

      “Eers Toronto toe, dán huis toe,” sê ek, sodat dit nie klink of ek probeer weghol nie. “Jy’t oor die foon gesê julle wil my sien oor doktor Pope … oor sy verdwyning. Hoe moet ék daarmee help?”

      Doucette trek dokumente uit sy aktetas. “Ons ondersoek ook moontlike oortredings van Kanadese immigrasiewette.”

      “Hier, my visum is wettig, kyk self … ek’s ’n toeris.”

      Hy ignoreer die paspoort. “Ons stel meer belang in wat jy gedoen het nádat jy in Kanada aangekom het.”

      Ook Sarah Young haal lêers uit ’n ritssak, rangskik dit voor haar, haal ’n laptop uit ’n drasak, skakel dit aan, plak ’n Kleenexboks langs haar op die tafel. My moed sak. Lyk na ’n lang sit.

      “Waar’t julle my naam gekry?” Ek probeer ’n dapper sy wys. “Is dit gebruik hier om toeriste lastig te val?”

      “Ons verwelkom alle toeriste in Kanada … solank hulle visums nie onder valse voorwendsels bekom is nie. Ons volg ’n wenk op. Die informant verkies om in hierdie stadium anoniem te bly.”

      “Watse wenk? Hoekom het hy my naam vir julle gegee?”

      Doucette leun oor en skuif een van die mikrofone nader na my toe. “Gee jy om?”

      Asof my gevoel enige verskil gaan maak. Ek lig ’n skouer. “Watse wenk?” probeer ek weer, in my harslag ’n gefladder, my oë op korporaal Young se maer vingers. Sy druk knoppies op die paneel, en aan die mikrofoon en kameralens begin rooi liggies flikker.

      “Vir die rekord,” sê sy, “jou volle naam en status?”

      “Wim Kellerman. Suid-Afrikaanse toeris.” Ek beloer die mikrofoon en liggies. “Moes ek ’n prokureur saamgebring het?”

      “Dis net ’n verkennende gesprek, meneer Kellerman,” sê Doucette. “En ons waardeer jou hulp. Jy’t doktor Pope mos goed geken, dit sal gaaf wees as jy die gapings vir ons kan invul.”

      “Ek het hom baie lank nie gesien nie, seker ’n goeie twintig jaar laas. Mense verander oor so ’n lang tyd.” Vat my, kyk hoe het ék oor twintig jaar verander – van gelukkig getroud tot omtrent ’n hermiet, die Trappis van die Outeniquas. “Hoe lank gaan ons besig wees?”

      “En sy vrou?” vra Sarah Young.

      “Ekskuus?”

      “Wanneer het jy mevrou Pope laas gesien?”

      Ek verskuif. Blessit hard, polisiestoele. “Dieselfde tyd laas … so twintig jaar.”

      “Jy seker?”

      Waarna mik Sarah Young, wat weet sy, wat vermoed sy? “Ek het haar die afgelope Sondag weer vir die eerste keer ná twintig jaar gesien,” korrigeer ek.

      Sy kyk met ’n frons op. “Is daar iets tussen julle aan die gang, meneer Kellerman, tussen jou en mevrou Pope?”

      “Wat bedoel jy? Ons is bloot ou kennisse, dis al.”

      “Is jy seker?”

      Ek leun effe vooroor. “Is dit hoekom ek hier is, dink julle ek en Rachel … ek en mevrou Pope het iets te doen met haar man se verdrinking?”

      “Ons verdink niemand nie,” sê Doucette. “Nog nie. Ons pluis dinge nog net uit. Om agter die waarheid te kom.”

      “Julle glo nie hy’t verdrink nie?”

      “Wat ons glo of nie glo nie, is nie hier ter sake nie.” Ineens ’n skerpte in Doucette se stem.

      Ek ruk my ook op. “Gaan vra daai vriend van hom … sy vriend en visvangvennoot. Mevrou Pope sê hulle was dik vrinne, hy sal julle kan help uitpluis. En gaan vra ook hulle dekhelper, hy lyk na iemand wat van álles sal weet.”

      “Ons het hulle al uitgevra, nou wil ons hoor wat jý dink,” sê Sarah Young.

      Sy bedoel seker nie noodwendig die volle en enigste waarheid nie, bloot die waarheid aldus Wim Kellerman. En ek sê: “Ek dink mevrou Pope is steeds hoopvol dat haar man gaan terugkom huis toe.”

      “Ons soek haar, lyk of sy ook nou verdwyn het,” sê Sarah Young. “Weet jý dalk waar sy is, met dié dat jy so intiem kennis dra van al haar hoop en verwagtinge?”

      Ja, ek weet waar sy is. Maar hierdie twee sal eers my naels met ’n platbektang moet begin uittrek voor ek dít sal verklap; dit is tyd dat Rachel met rus gelaat word. “Wens ek kon help,” sê ek. Die leuens het begin. Ek maak ’n mooi skoot daarvan om na my horlosie te kyk.

      En dit slaag: “Haastig?” vra sy. “’n Ander afspraak?”

      “Uh-huh.”

      “Met mevrou Pope?”

      “Nee, iemand anders …” Met ’n wetter wat dit geniet om van vriend of vyand maalvleis te maak. Maar dit is óók nie vir Sarah Young en Doucette se ore bedoel nie … dit is ’n persoonlike afspraak.

      Doucette se dik voorvinger tik-tik op die blad, ook sý mond is sonder lagplooie. “So, meneer Kellerman, as jy en doktor Pope mekaar twintig jaar laas gesien het en nie eintlik meer kollegas en vriende is nie, wat presies kom doen jy dan hier in Kanada? Spesifiek in Nova Scotia?”

      “Méér spesifiek,” val Sarah Young in, “wat kom doen jy op Moose Cove, hier by die Popes se huis? Hoekom skielik nou, al die pad uit Suid-Afrika, as jy en mevrou Pope ook in twee dekades geen kontak met mekaar gehad het nie?”

      RACHEL

      Julie 2006

      George Town, Grand Cayman

      Die badhanddoek is nuut en donsig en byna liefkosend aan haar gloeiende vel. Álles is nuut. Sy skud haar nat hare. So ’n vreemde nuwe wêreld.

      Sy gaan staan voor die lang spieël en laat val die handdoek oor haar voete. In die aangewasemde spieël is haar lyf silfagtig en rosig, met stemmige borste. Hoe sou Simon haar heimlik takseer, sou hy haar só sien – darem óók met ’n knik van beskeie goedkeuring? Maar hy sien haar nie só nie, hy sien haar nie rosig en silfagtig nie, ook nie kaal nie. Sy hou nie daarvan boek nie. Dalk onbewustelik in haar oor geknoop, want dié datum onthou sy dan, die laaste keer dat hy haar kaal gesien het: 1 Januarie 2000. Ses en ’n half jaar gelede. ’n Lang tyd, ’n ewigheid, om nie deur jou eie man kaal gesien te word nie.

      Sy het toe ook uit ’n stort gekom.

      Die gebeure van daardie Saterdagoggend van die nuwe millennium lê soos ’n stuk drifsel in haar geheue, ’n soort keerpunt, soos om gevra te word: Waar was jy die dag toe die eerste man op die maan stap? Wat het jy gedoen die dag toe die Boeings teen New York se torings vasvlieg? En: Hoe het jy die nuwe millennium ingelui? O, ek was in ons huis in Groenkloof, Pretoria, die een met die gewels en rietdak, alleen voor die TV, ek het gekyk hoe die dag gevier word op plekke waar die son eerste opkom.

      Toe is sy bed toe. Simon reeds in ’n diep slaap, sy asemstote ’n ritmiese ruising deur sy neus. Beuselagtighede soos vierings van nuwe millenniums traak hom mos nie.

      Saterdagoggend was sy kant leeg. In sy studeerkamer, het sy vermoed. Sy sanctum sanctorum.

      Maar toe sy onder die stort uitkom, skrik sy … Daar staan hy in die deur, nog in sy slaapbroek en T-hemp, haar handdoek in sy hande, staan daar soos ’n slaaploper.

      Sy


Скачать книгу