Anderman se vrou. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Anderman se vrou - Chris Karsten


Скачать книгу
op en stap uit, vul die longe in sy groot borskas met die vars, vry lug, kyk op na die enkele wolkies, swewend deur die blou.

      ’n Kar kom aangery en hou by hom stil. Hy ignoreer dit en asem eers sy vryheid in, laat dwaal sy oë soos ’n voël in vlug, oor woude en riviere en gholfbane en fabrieke en woonhuise waar mense hulle daaglikse lewe bedryf het terwyl hy al die jare agter hierdie hoë mure en hekke en tralies gekluister was.

      Nou eers kyk hy na die kar, ’n gewone wit Chevrolet Impala, ouerige model. Die agterdeur word van binne oopgestoot en hy klim in, sit sy boks langs hom op die sitplek. Geen groetery nie. Die swyende bestuurder trek weg en sy swyende metgesel maak sy venster op ’n kier oop, asof hulle nuwe saamryer ’n reuk in die kar gebring het wat hom nie aanstaan nie. By die T-aansluiting uit die Archambault-tronkkompleks draai die Impala links in Boulevard Gibson, en ná ’n paar kilometer se stilte, regs op Roete 335 in die rigting van Montreal.

      Eers nou draai die voorste passasier skuins in sy sitplek en Simard kyk na hom, na die borselkop, die snor, die pokkerige letsels wat die wange, ken en nek bestippel. Hy sou die senior amptenaar wees, die bestuurder die junior, maar hulle word nie aan hom voorgestel nie. Ook nie eintlik nodig nie, want Simard het ’n goeie spesmaas wie hulle is, nie hulle name nie, hulle werkgewer: Justisie.

      Pokgesig gee ’n dokumentetassie oor die sitplek agtertoe aan. Simard voel iets vets binne, rits dit oop en onder, tussen dokumente, lig hy ’n kleiner sak uit, trek die velcro-strook oop. Dit is styf geprop. Hy laat gly sy voorvinger oor die gebruikte note, skat so vyfduisend dollar.

      Hy frons. “Is dit al?”

      “Voorin is ’n bankkaart. In jou nuwe bankrekening by BMO is nog vyf. Dis genoeg. Ons is nie Krismisvader nie.”

      Hy trek die eerste dokument uit met die mashoof van die Banque de Montréal, ’n uitdruk van ’n bankstaat wat die bedrag van vyfduisend dollar bevestig in ’n spaarrekening in die naam van Serge Baribeau, Fayette 9, Rue Goupil, Longueuil.

      Die tweede dokument is ’n lywige een van die Ministère de la Justice. Dit gee in Frans ’n gedetailleerde uiteensetting van Serge Baribeau se status en verpligtinge as “kollaborateur van justisie”, en die voorwaardes van sy opname in Quebec se getuiebeskermingsprogram, onderteken deur Sabin Lemieux, Procureur en chef, Directeur des Poursuites Criminelles et Pénales.

      ’n Dokument van tien bladsye het ’n opskrif wat sê dit bevat Serge Baribeau se werksgeskiedenis, resente persoonlike omstandighede en agtergrond, en volledige biografie met familiegeskiedenis tot twee voorgeslagte her. Natuurlik sonder vermelding van enige tronkstraf, daarvan is hy seker. Serge Baribeau is so rein soos ’n fokken baba. Hy druk dit in die sak terug. Dié inligting oor wie hy nou is en waar hy vandaan kom, sal hy later rustig inneem.

      Nog ’n dokument het die mashoof van die Gouvernement du Canada, met aangeheg ’n nuwe SIN-kaart vir Serge Baribeau wat die “verlore” een vervang; sonder dié Social Insurance Number bestaan jy nie.

      Ander dokumente bevat Serge Baribeau se huurkontrak vir die woonstel in Longueuil, ’n Quebec-rybewys met baardlose gesigfoto wat nog geneem is vir sy tronk-ID, en aanstellingsbrief by Service Canadien de la Faune. Hierdie brief amuseer hom. Dit bevestig sy nuwe plek van werk, sy toesighouer, wanneer hy hom moet aanmeld vir diens, sy werksure, en sy loon van $12 per uur.

      “Ek werk nou vir Wildlewe?”

      “Op Couvée-eiland, ja,” sê Pokgesig.

      “Maar is dit nie ’n voëlreservaat nie?”

      “Vir migrasievoëls. Bestudeer vanaand al jou dokumente, alle agtergrond is daarin.”

      Hy loer na die kort beskrywing van sy nuwe werkplek. Die reservaat is in 1986 begin spesifiek om die neste en eiers van ringbekmeeue te beskerm. In 1994 was daar glo nog dertigduisend pare, vanjaar is skaars negehonderd getel. “Wat word van hulle?” wonder hy hardop.

      “’n Familie rooijakkalse se skuld,” sê Pokgesig. “Jou nuwe werkgewer sal jou presies inlig oor jou pligte, maar ek vermoed jy moet die jakkalse probeer vang. Nie doodmaak of beseer nie, net vang. Om die voëls te beskerm.”

      Hy sien hoe Pokgesig die mededeling geniet.

      “Ek word ’n jakkalsvanger?”

      “Nee, jy word ’n voëlbeskermer. Dis ’n eerbare werk. Sonder geweld. Jy moet begin leer dat probleme sónder geweld opgelos kan word.”

      By Archambault het ’n man met die naam Aimé Simard met ’n boks in ’n Impala ingeklim; by Rue Goupil, Longueuil, klim ’n man met die naam Serge Baribeau met dieselfde boks uit dieselfde Impala.

      En wag op die sypaadjie.

      Pokgesig laat sak sy venster en sê: “Dè, dis ’n spesiale sel,” en hou die selfoon na Serge Baribeau uit. “Dis hoofsaaklik bedoel om mý te bel. My naam is Monsieur Bastien. Ek verwag goeie samewerking van jou. As jy my teleurstel, is jy terug in Archambault. Ek verwag elke Vrydagaand ’n oproep van jou. Stiptelik agtuur. Mis jy een oproep na my, is jy terug in Archambault. Dan is jy weer Aimé Simard en frommel ek ons ooreenkoms op. Het jy dit?”

      Serge knik en vat die sel. “Waar’s die sleutel?”

      Pokgesig vroetel in sy sakke en skiet die woonstelsleutel deur die venster na hom.

      DIE ONDERHOUD

      Saterdag 6 September 2008

      “Wat kom soek ek spesifiék hier in Kanada? Ek’s ’n amateur-lepidopteris, ek kom kyk na julle skoenlappers.” Ek loer van sersant Doucette na korporaal Young, terug na Doucette, en lees ongeloof op albei gesigte. Of skeptisisme. Wat is die verskil? Of onbegrip.

      “Skoenlappers?” sê Doucette. Kon net sowel wees: Pterodaktiele?

      “Ja, spesifiék bloues. Byvoorbeeld Celastrina ladon, al is hy in die westelike dele van Kanada eerder persblou. Baie ou spesie, Cramer het hom in 1780 al spesifiék beskryf … monumentale werk wat hy gedoen het, Lambertz het –”

      “Die Popes, is hulle ook lepi- … skoenlapperkykers?” onderbreek Sarah Young my ongeskik.

      “Nee. Sover ek weet het Simon … het doktor Pope nooit enige ander belangstellings gehad as die neurofarmakologie nie. Sy vakgebied. Die wetenskap wat hom besig hou met die chemiese, fisiologiese, terapeutiese en selfs sielkundige uitwerking van genees- en dwelmmiddels op lewende organismes. In sy geval, spesifiék op die menslike brein.” Sy eintlike belangstelling was om mense te laat martel, maar dit sê ek nie.

      “Wat van mevrou Pope?” Steeds korporaal Young, skynbaar behep met ’n gewaande vriendskap tussen my en mevrou Pope.

      “Ek het die afgelope week ontdek dat sy ’n entoesiastiese amateur-ornitoloog is. Sy hou van voëls.”

      “Het Nova Scotia blou skoenlappers?” wil Doucette weet.

      “O ja, sowel die genoemde Spring Azure as Summer Azure kom byvoorbeeld hier voor, veral by Kejimkujik.”

      “Was jy daar, by Keji?” vra Sarah Young, lig haar wenkbroue, klink beïndruk, ondanks die waterige ogies.

      “Ja, ek het albei spesies daar afgeneem. Wil jy sien?”

      Sy skud haar kop, bekyk haar kortgeknipte laklose naels, kyk op. “Was mevrou Pope saam met jou Keji toe?”

      Dit begin al hoe duideliker word dat ’n bepaalde gedagte soos ’n kwaadaardige gewas in Sarah Young se agterkop posgevat het. Oor my en Rachel, dat ons “iets aan die gang” het. En as ek begin lieg of bontpraat, gaan dit haar suspisies net versterk. “Ja, sy wou voëls kyk terwyl ek blou vlinders soek.”

      “Is jy getroud, meneer Kellerman?”

      Ek loer onderlangs na Doucette, dié sit agteroor, momenteel net ’n belangstellende toehoorder, vrye teuels aan sy kollega om in te zoem op my hernome vriendskap met Rachel Pope, spesifiek op my band met ’n ander man se vrou. Waarskynlik vol hoop dat hierdie koers van die ondervraging hulle sal help om die ware motief uitgepluis te


Скачать книгу