Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
hoe Abel Lotz ook ’n stuk van háár vel met sy skalpel probeer oes het.

      Hy het weggekom, weer en weer met sy spoor van bloed agter hom, maar uiteindelik het sy hom gekry! Haar eerste reeksmoordenaar. En dit is wat sy ook Saterdagoggende daar langs Alberts Farm se dam ervaar: die bevrediging dat sy daarin kon slaag om vir Mia en Abel se ander slagoffers reg en geregtigheid te gee.

      Dit is mos jong Stallie Stalmeester, nou self ’n moordspeurder, wat ’n slag gesê het sy is soos ’n bulhond. Sy laat nie los wanneer sy eers haar tande in iemand ingeslaan het nie.

      Nee, as ’n bulhond het sy haarself nog nooit gesien nie. Maar met hierdie ondersoek het sy begin voel dat haar tande tog nie so stomp geword het op daai plesierbote nie. Dis of sy van haar ou mojo begin terugkry.

      Thomas se weergawe

      Laataandse gesprek | Vrydagaand 30 Oktober

      In die stil huis, almal in hulle kamers, sit Thomas in die huiskantoor agter sy lessenaar, diep versink in sy pasiënteverslae. Tot dit hom tref: daardie twee oproepe wat hy so vinnig in hulle saamtyd afgesit het.

      Sy oog het vlugtig die naam van die beller gevang, en dit was nie mevrou Gericke nie.

      Hy loer na die tyd: 22:49. Sal sy nog wakker wees?

      Hy haal sy sel uit. Lyk soos ’n Krismisboom: whatsapps, sms’e, stemboodskappe, nege onbeantwoorde oproepe.

      Hy aarsel, druk Amalia se nommer. Dit lui lank.

      Hy wil net dooddruk toe sy antwoord: “O, jy’t toe besluit om terug te bel.”

      “Ek moes seker eers na my stemboodskappe geluister het.”

      “Ek het nie ’n boodskap gelos nie.”

      “Jammer, dis laat, jy’s seker al in die bed.”

      “Ek het vir jou oproep gewag. Hoekom antwoord jy nie as ’n pasiënt jou bel nie, meneer Maas?”

      “Ek was besig, my dag was bietjie omgekrap, eers by die kantoor, toe by die huis.”

      “Wil jy daaroor praat, iets van jou bors afkry?” vra sy.

      “Ek dog ék is die berader.”

      “Selfs beraders het soms berading nodig.”

      “Dis te laat in die aand vir belydenisse.”

      “Die regte tyd is middernag.” Hy kan aan haar stemtoon hoor hoe die gesprek haar amuseer. “Pampoentyd kom al die geheime mos uit,” sê sy.

      “Ek het nie geheime nie.”

      Sy lag openlik. “O, nie? Jy’s ’n man sonder geraamtes en geheime?”

      “Het jy iets dringends op die hart waarmee ek kan help?”

      “Fred het gebel.”

      “O? Is hy terug?”

      “Nog nie. Moet glo eers ’n ander belegger gaan sien, in Londen.”

      “Hy vat lang ompaaie. Gaan jy hom saambring, wanneer hy terug is?”

      Stilte vir ’n sekonde of twee. “Dis lankal te laat. Dog ek het jou gesê?”

      “Maar jý wil weer kom?”

      “As jy iets aan my saligheid kan doen. Kan jy?”

      Kan hy? Dit is ’n goeie vraag. Hy is nie seker nie. Maar hy kan probeer. Hy hou van uitdagings. En hy het ’n gevoel dat Amalia ’n groot uitdaging gaan wees. Bekoorlik en kompleks. “Kon Annie jou met ’n volgende afspraak help?”

      “Eers oor twee weke,” sê sy. “So lank kan ek nie wag nie.”

      “Ek sal Maandag kyk vir ’n gaatjie vroeër.”

      Ná nog ’n kort aarseling: “Ek dink ek gaan vir Fred los. Finaal van hom afsien.”

      “Los? Wat van al die miljoene? Al die ingewikkelde saketransaksies waarin julle vennote is?”

      “Ek en my pa sal dit uitsorteer.”

      “Het jy met jou pa gepraat?”

      “Nee, ek wil eers met jou praat. Voor Fred terugkom. Bring jy Sondag vir Florie?”

      “Ja.”

      “Donna?”

      “Nee, sy kom nie saam nie. Sy wil nie die tweeling in eksamentyd alleen los nie.”

      “Goed,” sê sy. “Geniet jou aand.” En weg is sy.

      Hy sit ’n oomblik met die sel in sy hand, onseker oor wat hy van die gesprek moet dink. Sy bel hom twee keer, net om te sê sy gaan haar man los? Wel, dalk is dit nie heeltemal vreemd om daaroor te bel nie. Só ’n finale besluit om ’n huwelik te beëindig is ’n traumatiese gebeurtenis, word soms gelykgestel daaraan om iemand aan die dood af te staan. Maar hierdie is nie ’n gewone huwelik nie, dit lyk na een wat sonder liefde op mammonse fondamente gebou is – al het hy nog net één party se gekleurde woord daarvoor. Dalk verskil Fred heftig van haar siening, dalk reken Fred sy hart loop bruisend oor van liefde vir sy vrou, dat hy enigiets sal doen om haar te behou, dat hy selfs van sy rykdom afstand sal doen, dat hy dalk selfs bereid is om haar stalkneg by Rojas Equestrian Centre te word net om haar te behou. Twee kante van dieselfde munt.

      Thomas gaan deur al sy selfoonboodskappe, blaai dan lusteloos deur die verslae, lees transkripsies, kom traag op hoogte van die wroegings van Maandag se pasiënte. Sy gedagtes dwaal na Rolf en sy pille en verwarrings, na Antonie se sporadiese opstandigheid wat nou telkens heftiger begin uitbars, na Donna se swaar emosionele las, na mevrou Gericke wat vergeefs veg om haar tienerseun van ’n vroeë dwelmhel te red, na Patty en Florie, aan wie niemand eintlik dink nie omdat hulle so geluidloos en gelykmatig saam met die stroom dryf, die een gelukkig met haar klarinet, die ander een met haar perde.

      Patty. Volgende Woensdagaand is dit háár aand.

      Hy maak sy lêers toe, sit sy rekenaar af. In die slaapkamer is Donna al in die bed.

      “Het jy mevrou Gericke gekry?” vra sy.

      “Dit was nie sy nie, iemand anders met ’n nood.”

      Hy bespreek nie graag spesifieke pasiënte met Donna of enigiemand anders nie. Dit is vertroulike inligting. Maar mevrou Gericke is so ’n hartseer geval dat hy dit genoem en gehoop het dat Donna dalk, as ’n ma, ’n paar insigte met hom kan deel. Hy vind dit nie nodig om te noem dat Amalia Rojas by hom hulp kom soek vir haar huweliksprobleme nie.

      Sy sit haar lig af en hy syne. Sy draai op haar sy, haar rug na hom. Hy sit sy arm om haar warm, geilerige lyf, bedag waar sy palm tot rus kom; sy het besliste intieme voorkeure en afkere – oor waar jy mag vat en nie vat nie.

      Donna se weergawe

      ’n Gelukkige gesin | Maandag 2 November

      Patty het haar eie kom en gaan. Met haar Vespa (danksy Oupa Rolf). Een van die min lede van die soms onpeilbare tienerspesie wat lae onderhoud verg. Vir Donna en Thomas is dit ’n groot troos. Soggens skool toe. Smiddae huiswerk, musieklesse, repetisies saam met die kamerorkes. Geen gewone tienergiere nie. Volwasse al op sewentien, skram nie weg van huislike pligte en verantwoordelikhede nie, met kosmaak, met Florie. En veral met Antonie het sy daardie spesiale, unieke band wat alle tweelinge deel.

      Patty wys min, maar Donna kan dit aanvoel, hoe die gevolge van Antonie se ongeluk ook aan Patty se gemoed ’n letsel gelaat het. Soms sien sy iets in Patty se oë, ’n refleksie van die seer in haar kind se hart.

      Maandagoggend, soos die meeste oggende, is sy en Patty saam in die kombuis, die res nog met hulle opstaanroetines besig. Sy maak koffie en smeer toebroodjies vir skool, Patty braai spek en bak eiers, rooster brood en skink die vrugtesap.

      Maar die roetine is relatief nuut. Vroeër het elkeen soggens sommer so staan-staan iets gegryp om te eet en dan holderstebolder laat spaander om betyds te wees, Patty op haar Vespa skool toe,


Скачать книгу