Die versoeking van Thomas Maas. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten


Скачать книгу
sy die TV aan vir die oggendnuus, trek ’n stoel by die tafel uit, en eet haar muesli en jogurt, teug aan haar tee en dink aan haar dag wat voorlê. Toe een aand, ’n paar maande gelede, roep Thomas hulle almal bymekaar vir ’n gesinskoukus.

      “Kyk, van môreoggend af is daar ’n nuwe reël in hierdie huis. Ons spat nie meer soggens uitmekaar soos ’n spul werfhoenders nie. Ons staan almal ’n halfuur vroeër op sodat ons tyd het om saam ’n ordentlike brekfis te sit en eet. Dis die belangrikste maaltyd van die dag, nie iets wat jy vinnig afskeep met ’n paar happe Coco Pops of ’n smoothie nie.”

      “Maar, Pappa,” sê Florie, “ek hou van Coco Pops.”

      “G’n maars nie, dis die reël.”

      “Wie gaan eerste opstaan om ontbyt te maak?” wil Donna weet, met ’n alsiende derde oog.

      “Ek sal,” bied Thomas aan.

      “En ek sal kom help,” sê Patty.

      “En ek soek bacon en eiers en toast,” sê Antonie.

      “Coco Pops vir my,” sê Florie.

      Donna kom tot Thomas se redding. “Dis nie ’n hotel nie. Julle eet wat op die tafel is.”

      Sedertdien moes hy al meermale die sweep gaan klap om almal vroeër uit die bed te kry. Maar wanneer ’n goeie roetine eers gevestig raak, weet Donna, kan dit ’n wonderlike ding wees. Tot sover gaan dit goed. Wat kan beter wees as om ’n dag te begin met almal saam om die tafel, al is dit net vir vyftien minute? En om die dag saans op dieselfde manier af te sluit?

      “So,” sê Donna in die kombuis, “is jy reg vir vandag se vraestel?”

      Patty is klaar in haar skoolklere. “Hoop so, ek het hard geleer.”

      “Ek’s seker als sal goed gaan. En vir Woensdagaand?”

      “Daarvoor het ek ook hard geoefen. Gaan Oupa saam?”

      “Dink jy hy sal by die huis bly? Ek vat hom vanoggend eers na die ortopeed oor sy ou knie, hoop nie dit stuur af op ’n knievervanging nie.”

      Sy dek die tafel en hulle is vir ’n oomblik in stilte doenig.

      “Antonie is nie lekker nie,” sê Patty dan.

      “Ek kom so agter. Hy wil nie eintlik praat nie, klink weer baie kwaad. Het hy iets vir jou gesê, oor iets wat hom kon ontstel het?”

      “Muisneste. Dis wat ek dink.”

      “En jy?” vra Donna. “Niemand spesiaal in jou lewe nie?”

      “Nee, Mams! Ek het skaars tyd vir myself.” En verskuif, soos gewoonlik, dié onderwerp beslis uit hulle gesprek uit. “Ek dink Florie geniet die perdry baie. Een van die dae staan hier ’n perd ook in ons garage!”

      “Ja, Pa sal die garage moet groter maak vir elkeen se ryding. My Kombi, sy Opel, Antonie se rolstoel, jou Vespa, Florie se perd.”

      “Waaroor lag julle twee so lekker?” vra Thomas met die inkom. “En kyk, alles is omtrent klaar, niks vir my om te doen nie.”

      “Jy kan daai ander twee gaan aanjaag.” Almal weet hoe Florie soggens kan draal, asof sy in haar slaap loop.

      Buite staan Thomas vir hulle en wag, die Kombi uit die motorhuis getrek. Patty en Florie gee hom sy druk en soen. Antonie druk nie, hy en sy pa stamp vuis. Patty kry eerste koers. Florie spring voor by die Kombi in.

      Sy en Thomas staan en kyk hoe Antonie uit sy rolstoel op sy sitplek insukkel, uitleun om die stoel op te vou en aan die klampe van die eenvoudige hystoestel vas te maak. Hy druk ’n knop wat die elektriese motor aktiveer, en die hyskontrepsie lig die stoel op die dakrak. By die skool sal hy dit net weer laat sak, die klampe se vleuelmoere losdraai, die stoel oopvou om uit die Kombi in sy sitplek in te skuif. Hy weier dat enigiemand hom met hierdie roetine help.

      “Ek vat Pa vroeg ortopeed toe, en ons het daarna ook weer ’n afspraak by sy dokter, ek wil weet wat aangaan met die pille.”

      “Hy gaan nie gelukkig wees nie.”

      “Ek hét Saterdag met hom daaroor gepraat, hy’t nie ’n keuse nie.”

      Sy pik Thomas op die wang en toe sy wegry, sien sy in die truspieël hoe hy omdraai terug die huis in. Sy kan haar voorstel hoe hy die kombuis begin opruim, skottelgoed en eetgerei in die wasser pak, en kamer toe gaan om homself ordentlik te kry vir die dag.

      Hierdie daaglikse gewoontes saam met haar man en kinders is vir Donna gerusstellend, en ja, selfs kalmerend. Al is daar – soos by alle ander gesinne, selfs by die oënskynlik mees perfekte – los drade en haperings. Sy sien haar en Thomas beslis nie as volmaakte ouers nie, maar hulle doen hulle bes. Hulle is, dink Donna op pad skool toe, eintlik ’n gelukkige gesin, selfs met Antonie se sporadiese neerslagtigheid.

      Donna bel hom in die etenstyd, al wanneer sy seker is dat hy nie ’n pasiënt het nie. “Die ortopeed sê die X-strale wys nie beenskade nie. Die ligamente is waarskynlik gekneus toe hy dit geswik het.”

      “Wat van die pille?”

      “Soos ek vermoed het. Pa het goed vir ons weggesteek. Hy was vroeër al by ’n neuroloog.”

      “Die neuroloog het die medisynes voorgeskryf?”

      “Sy huisdokter het ’n verslag van die neuroloog gekry. Hy praat van vroeë tekens. Maar sê nie van wat nie. Niks kan gediagnoseer word sonder verdere neurologiese toetse nie. Hy is wel vol vertroue dat die medisyne Pa se toestand onder beheer sal hou, ten minste vir ’n tyd. Hy het Pa weer na die neuroloog verwys vir die verdere toetse.”

      “Wanneer het die neuroloog die eerste keer die inhibeerder vir jou pa voorgeskryf?”

      “Dis die ding, al ses maande gelede.”

      KANTNOTA

      Ella het geweet dat sy en Thomas Maas lank nie die laaste sien van mekaar gesien het ná haar kastige konsultasie by hom nie. Veral nadat moord-en-roof by die saak betrokke geraak het, het sy besef dat sy hom baie gou weer sal moet gaan besoek. En dié slag onbewimpeld. Sy het die situasie met Donna bespreek en dié het ingestem.

      Natuurlik was hy, om die minste te sê, taamlik ongeskik, selfs vyandig, toe sy weer daar by hom instap en haar werklike geloofsbriewe op die tafel sit. Maar só ’n houding het sy verwag. Ook sy beskuldiging dat sy die eerste keer onderduims toegang tot hom verkry het. Hoor wie fokken praat, het sy gedink, wat van jóú jakkalsstreke? In my storie was daar darem ’n halwe waarheid, hoeveel waarheid is daar in jou verskonings?

      Haar vorige lewe as moordspeurder het haar gebrei vir enige soort arrogante hardekoejawel, en met die reg aan jou kant het jy baie maniere om die hardste gat sag te maak. Nie as PI nie. Stallie Stalmeester was darem nog daar. Sy het hom destyds uit die radiokamer in die speurafdeling ingekry en die fynere truuks van goeie speurwerk geleer. Hy is diep in die skuld by haar. Daarom het hy nie ’n keuse gehad as om een oog toe te knyp wanneer sy sy naam en status misbruik het om Thomas Maas te bearbei nie.

      Dit het gewerk. Of so het dit gelyk. Maar sy was skepties. Want weer eens: Hoekom sou ’n vermeende owerspeler sy oneerlike hart aan sy vrou se PI ontbloot?

      Die voordeel van haar opvolggesprekke met hom was dat sy Thomas Maas se eie woorde teen die feite kon opweeg ten einde die waarheid te probeer distilleer.

      Stallie. Hy het haar destyds dikwels Saterdagaande saamgevat na sy Pink Flower-klub, jel in sy hare, ketting om die nek, sy jong boudjies in ’n stywe broek ingespan. Dit was in daai moedverlore tyd nadat sy haar hartseer oor Bam, en daarna Milo Boonstra, met die polisie se traumaberader uitgepraat en sy geglo het dat sy nooit weer liefde gaan vind nie. ’n Intermissie van groot leegte in haar siel.

      Boonop het kolonel Sauls beslis dat sy ’n babaoppasser nodig het. Dit het vir haar glo te gevaarlik geword om alleen rond te ry. Elke boosdoener en sy broer het, volgens hom, haar bloed gesoek. Toe bied Stallie aan om saam te ry. Buddy-buddy, om mekaar se rûe op te pas.

      En


Скачать книгу