Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
met hulle gesels, gee hulle aandag.

      Toe die nageregborde verwyder word, kan Georgina sien dat Bertie se oë begin toeval en sy begin aanstaltes maak om te gaan. Mark probeer keer en sê hy sal die kinders huis toe neem en terugkom, maar sy wil niks daarvan hoor nie. Dit was ’n besonderse aand – een om in die jare vorentoe te onthou, maar nou wil sy ook graag by die huis kom, haar skoene lekker uitskop en sommer net ’n bietjie stilte hê … en eintlik onder Alice se oë uitkom. Die meisie het ’n vreemde manier om na haar te staar.

      Toe Mark sien hy gaan haar nie oortuig om te bly nie, staan hy al mompelend op om saam met hulle te stap.

      In die voorportaal hoor Georgina egter ’n ander stem agter haar en toe sy omdraai, kom Chris na hulle aangestap. Georgina kan vir ’n oomblik net half verwonderd na die man staan en kyk. Hy is werklik baie aantreklik en vanaand lyk hy besonder elegant, maar dit is nie al wat hom so laat uitstaan nie. Sy kan nie haar vinger daarop lê nie … dis net iets aan sy hele houding. Iets wat gesag afdwing, asof hy weet wat hy wil hê, en sal sorg dat hy dit kry.

      Sy en die kinders is besig om hulle jasse aan te trek toe hy by hulle tot stilstand kom. Hy kyk na haar toe hy praat. “Hoe gaan julle huis toe?”

      “Met ’n huurmotor.” Sy laat haar kop sak om vir Bertie met sy jas te help.

      “Sê vir haar ek sal die kinders gaan wegbring en sy moet hier wag. Die partytjie begin nou eers.” Mark kyk na die ander man en die grys oë draai terug na haar.

      “Jy is baie welkom om nog te kuier. Edward kan die kinders huis toe neem en vir Betsy vra om wakker te bly tot ons terugkom.”

      Georgina skud haar kop. “Dankie, maar dis nie nodig nie. Ons het lekker gekuier en nou is dit tyd om te gaan.”

      Sonder om te antwoord begin hy egter na die groot buitedeure aanstap en dan sien Georgina hoe Edward uit die Rolls Royce klim en haastig aangestap kom.

      “Edward, neem asseblief die kinders huis toe en vra vir Betsy om wakker te bly totdat ons terugkom.” Die ander man knik en Georgina kan net sprakeloos staan en kyk hoe die besluit namens haar geneem word.

      “Waarom moet Georgie hier bly?” Jean kyk ontevrede van haar pa na Mark.

      “Omdat sy so mooi lyk en ek graag met haar wil dans. Ek weet nie wanneer ek weer so ’n kans sal kry nie.” Mark knipoog vir Jean, en sy glimlag. Dan groet die kinders hul pa en klim in die motor.

      Georgina help vir Bertie in die motor in en sit haar arms vlugtig om die skraal lyfie. “Baie dankie dat jy so ’n ster was.”

      Die motor trek weg en sy draai om na waar die twee mans staan en wag en kan maar net in stilte tussen hulle terugstap, haar jas weer in die portaal inhandig en saam met Mark by hulle tafel gaan sit. Die ander kyk vraend op en lag toe Mark sê sy was nog nie reg om hom te los nie. Selfs Ann Meyerson het ’n klein glimlaggie om haar andersins streng mond. Alice Smith sit egter met dieselfde reguit blik na haar en kyk.

      Die musiek begin gelukkig speel en Mark hou sy hand na haar uit. Die oomblik toe sy arm om haar sluit, sug hy in haar oor: “Uiteindelik in my arms!”

      “Julle mans het almal sulke groot monde! Ek is seker julle is nie so dapper soos julle voorgee nie.”

      Hy lag hees in haar oor en dan dans hulle vir ’n oomblik in stilte. Ritmies op maat van die musiek. Na drie danse kom Harry haar opeis vir ’n dans en toe die musiek wegsterf, voel sy ’n hand op haar arm. Toe sy omdraai staan haar werkgewer voor haar.

      “Kan ek haar vir een dans leen?” Hy praat met Harry en Georgina kan net kyk hoe Harry opsy staan en Chris se arm vou ferm om haar lyf. Na die eerste paar draaie wonder sy of daar nie net één ding is wat hy nie kan doen nie, want dans kan hy besonder goed doen.

      “Jy dans baie goed.” Sy stem is by haar oor. “Die grasie van ’n ballerina.”

      Georgina oorweeg dit vir ’n oomblik om te sê enige meisie sal soos ’n ballerina in sy arms wees, maar sy byt haar tong tussen haar tande vas. Die wyn moes na haar kop gegaan het.

      “Waarom het jy nie vir my gesê die kinders wou vanaand hierheen gekom het nie?”

      “Ek was nie seker wat u daarvan sou sê nie.” Sy moet skielik konsentreer om nie op sy tone te trap nie.

      “Jy kon my gevra het.”

      Sy knik haar kop liggies. “Ek kon seker, maar ek was bang u sê nee en ek het geweet hoe graag veral André dit wou bywoon. Hulle sien net altyd die koerantberigte, maar weet nie regtig hoe u wêreld lyk nie.” Haar stem het merkbaar gestyg.

      Sy kan voel hoe hy effens agteroorleun en sy kyk vlugtig op, maar kyk vinnig weg toe sy die skewe glimlag om sy mond gewaar.

      “Wat laat jou dink ek sou jou versoek geweier het?”

      “U neem hulle nooit juis saam op sosiale uitstappies nie.” Daar het skielik ’n stuk waagmoed in haar kom lê.

      “Ek het nie gedink kinders sal so iets wil bywoon nie.”

      “Dit gaan nie oor die soort funksie nie, dit gaan daaroor dat hulle vir ’n aand deel van u lewe is.” Die musiek het opgehou en Georgina begin om agteruit te tree, maar sy arms sluit weer om haar toe die musiek begin en sy is genoodsaak om saam met hom oor die baan te beweeg.

      “Miskien moet ons eers hierdie gesprek voltooi. Wat wil jy my nog oor my kinders vertel, want dit lyk my nie jy sal my aanbeveel vir die Pa van die Jaar-toekenning nie!”

      Georgina kan nie agterkom of hy kwaad is nie. Sy het ook nie die moed om na sy gesig te kyk nie.

      “Doktor Parker, jy het vanaand ’n groot toekenning gekry – geniet die aand. Niemand verwag van jou om ál die toekennings te kry nie.” Georgina wens sy kan net haar mond hou, maar dis asof haar tong nie meer aan haar behoort nie. Sy wil nie sy kinders met hom bespreek nie. Veral nie vanaand nie, maar sy kan haarself nie help nie.

      “Dink jy my kinders is ongelukkig met hulle lewens?” Die vraag word by haar oor gevra terwyl hulle in die rondte draai.

      “Hoe kán hulle as hulle niks anders ken nie?”

      Voordat hy haar kan antwoord, kom die musiek tot ’n einde en hierdie keer is sy vinniger. Toe die laaste note wegsterf, het sy reeds begin omdraai en is hy genoodsaak om haar na die tafel te volg.

      Mark staan op toe hy hulle sien aankom. “Maggies, Chris, baas of nie baas nie, jy kan gerus met jou eie meisie gaan dans.”

      Hy gee ’n ligte buiginkie voor Georgina. “Ek is jammer, sy is ’n baie goeie danser.”

      “Hmm, waarom dink jy het ek haar hier gehou?” Mark sit sy arm om haar skouer en lag in haar oë. Georgina voel hoe haar wange warm word. Sy is seker Mark terg haar net met al die aandag, maar die ander man se donker blik laat haar tog verleë voel en sy is verlig toe hy met Peter en Maureen West begin gesels.

      11

      Georgina gryp onwillekeurig na die armleunings toe die helikopter die volgende oggend bewend opstyg. Haar versoek om saam met William en Betsy met die motor te ry het op dowe ore geval en nou kan sy maar net kyk hoe Manhattan se wolkekrabbers kleiner onder hulle word. En dan swaai die helikopter in ’n noordwestelike rigting. Sy kyk na die twee mans in die voorste sitplekke. Greg het haar die dag op die lughawe ook kom haal, maar dis haar werkgewer se hande op die stuurmeganisme en Georgina wonder vir die soveelste keer of daar iets is wat hy nie kan doen nie. Maar as hy ’n straler kan vlieg, kan hy seker ’n helikopter ook bestuur. Dan glimlag sy skielik as sy vir ’n oomblik wonder of hy motor kan bestuur. Dit sal nogal lagwekkend wees, maar sy skud haar kop vir haar eie onsinnige gedagtes.

      “Georgie!”

      Georgina se kop ruk orent en dan sien sy André beduie na iets onder hulle en sy kyk by die venster uit. Hulle is besig om oor ’n groot gebou te sirkel en dan begin hulle stadig daal, reg bokant ’n baie groot groen grasperk. Sy is dankbaar toe hulle tot stilstand kom en die geruis van die motore begin bedaar. Sy en die kinders


Скачать книгу