Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
nie gevra om stad toe te gaan nie.

      “Dit maak nie saak nie – ek kan sommer hier in die omgewing êrens vir die naweek gaan bly.” Die man wil seker alleen met sy kinders wees en sy wil beslis nie hê hy moet dink sy wil saam met hulle Kersfees deurbring nie.

      “Die kinders wil graag hê jy moet Kersfees saam met hulle deurbring. As jy wil.” Georgina luister verbaas na die effense onsekerheid waarmee hy dit sê. Sy wil so graag vir hom vra wat hy wil hê, maar sy kan dit nie doen nie. Daarom knik sy net.

      “As dit u pas, sal ek graag bly.”

      Sy begin om op te staan, maar sy stem keer haar. “Jy is onverskillig met die perdry. Ek het Magriet belowe ek sal na jou kyk – ek gaan haar nie bel en sê jy het jou doodgeval nie!”

      Sy lag hardop voordat sy kan keer en nie eens die frons tussen sy wenkbroue kan haar laat ophou nie.

      “Ek is bly om te sien jy kan lag, maar ek sien ongelukkig nie die grap hierin nie.” Daar is ’n merkbare kil toon in die andersins niksseggende stem.

      Georgina het moeite om die lag uit haar stem te keer. “Ek is jammer. Ek is net nie juis daaraan gewoond dat ek iemand se verantwoordelikheid is nie.” Dan versober haar stem. “Phantom is ’n besonderse dier. Ek is jammer ek het sonder u toestemming op hom gery.” Sy wonder skielik of dit nie die eintlike rede agter sy vermaning is nie. Hy is dalk oor sy perd begaan.

      “Jy is welkom om op hom te ry – net nie teen so ’n spoed nie.”

      Sy knik en stap haastig deur toe.

      “Georgina, my naam is Chris.”

      Sy antwoord hom nie, gee ook nie ’n aanduiding dat sy hom gehoor het nie.

      Georgina is besig om aan te trek toe Mark bel om te hoor hoe laat hy haar kan verwag, en klink baie teleurgesteld toe sy sê die lughawe is gesluit.

      “Ek neem hom nie kwalik nie, ek sou ook al die lughawens en sommer die paaie ook laat sluit het as ek Kersfees alleen saam met jou kon deurbring!”

      “Mark!” Georgina stik byna in die woord. “Moenie simpel wees nie!”

      “Georgina Walters, ek sal graag eendag wil weet hoe op aarde jy nog kan los rondloop.” Sy stem is vir ’n oomblik ernstig, maar dan lag hy weer. “Ek is regtig jammer jy kan nie vanaand hier wees nie, maar ek sien jou volgende week in Japan!”

      Voordat Georgina hom kan uitvra, word die verbinding egter verbreek en moet sy die gehoorstuk neersit.

      Japan! Sy hoop van harte nie hulle word volgende week Japan toe gesleep nie! Vaderland, dis Kersfees, hou die man dan nooit op nie?

      13

      Jean is reeds aangetrek toe Georgina by haar in die kamer kom. Georgina het hulle aangesê om mooi aan te trek, want die tafel in die eetkamer is feestelik gedek. Sy self het ’n swart langbroek en kort oranje truitjie aan. Die dogtertjie bekyk haar onbeskaamd van bo tot onder.

      “Jy is vreeslik mooi.” Dit word met soveel eerlike oortuiging gesê, dat Georgina glimlag.

      “Baie dankie, dis ’n mooi kompliment.”

      André kom die kamer binne en sê sy pa en Bertie wag al in die studeerkamer. En ook sy blik gaan waarderend oor Georgina voordat hy skugter wegkyk.

      In die studeerkamer laat Bertie egter luidkeels hoor hoe mooi sy vir hom lyk en dan kyk hy na sy pa en wil weet of sy pa met hom saamstem.

      Die donker kop knik en Georgina is seker daar is geamuseerdheid in die grys oë. Sy kyk haastig weg.

      “Waar is al die geskenke, Georgie? Ek sien nêrens iets nie!” Bertie trippel rusteloos rond.

      “Gee my net ’n minuut, maar julle moet hier in die studeerkamer bly.” Met dié woorde loop Georgina haastig deur die portaal en sluit die groot deure na die sitkamer oop. Sy skakel twee muurlampe en die feëliggies aan die Kersboom aan. Die liggies weerkaats met ligstrale in die glas en kristalversierings. Sy steek ook die kerse aan wat oral in kershouers staan, en dan maak sy die dubbeldeure na die groot eetkamer oop, waar die mooi versierde tafel staan, en skakel ook daar twee ligte aan en steek die kerse op die tafel aan.

      Sy draai om en kan die afwagting op die kinders se gesigte sien toe sy hulle roep.

      Hulle steek woordeloos in die deur vas en sy is skielik bly sy het dit gedoen. Elke kind verdien mooi herinneringe. En dit maak nie meer saak wat die groot man langs haar dink nie. Sy glimlag by haarself toe die drie selfversekerde kinders huiwerig die vertrek binnestap, asof hulle heilige grond betree.

      En dan neem die kinderlike nuuskierigheid oor en buk Bertie by die pakkies, maar sy pa keer hom. “Ons gaan eers eet. Mevrou Connely het heerlike kos gemaak.” En daarmee beduie hy na die ruim eetkamer waar die lang tafel met ryk wit linne, silwer en kristal bedek is.

      Op ’n sytafel staan groot silwer-opskepbakke met klein kersbrandertjies onderin om die kos warm te hou.

      Terwyl die kinders druiwesap drink, skink Chris vir hulle twee saam met elke gereg ’n ander wyn. Georgina kan voel hoe die senuknop in haar begin los raak en sy minder gespanne aan die gesprekke kan deelneem.

      Uiteindelik is die heerlike ete verby en help almal gou om die borde en bakke kombuis toe te dra. Dan maak die kinders hulle op die mat voor die Kersboom tuis en begin hulle na spesifieke pakkies soek. André verdwyn in ’n stadium stil en kom met ’n yslike groot pakkie terug, wat hy ook eenkant onder die boom neersit. Vir die kinders is daar, anders as in die verlede, nie net een of twee baie duur geskenke nie. Hierdie jaar is daar ’n klomp kleiner geskenke. Sommige laat hulle uitbars van die lag en oor ander oe en aa hulle. Daar is boeke en interessante T-hemde, of sokkies met grappige prentjies op. Jean kry lekkerruikroom en André kry ’n blikkie eksotiese reukweerder vir mans, waaroor hy stil glimlag. Georgina is innig dankbaar dat hulle van die geskenke hou, en nie met ontevrede gesigte daar sit nie. Hulle kyk ook opgewonde hoe hulle pa al die klein geskenke van hulle oopmaak. Daar is vir hom ook ’n boek, laserskywe, ’n mooi das en selfs ’n dosie lekker sjokolade – alles deur die kinders uitgesoek en sorgvuldig deur Georgina toegedraai.

      Dan sleep André die groot pakkie nader en sit dit voor Georgina neer. “Dis van ons almal vir jou. Ons hoop jy hou daarvan.”

      Georgina se mond gaan oop om te sê sy wil nie geskenke hê nie, maar haar oog vang die uitdrukking in die stil grys oë oorkant haar en sy sluk haar woorde terug. Sy haal eers die kaartjie van die pakkie af en lees met ’n brandknop in haar keel die paar woorde: Baie dankie vir die lekkerste tyd van ons lewens … ons wens jy kan vir altyd bly! Met baie liefde van André, Jean en Bertie.

      Haar vingers begin die ryklik versierde kartondoos oopmaak en dan lig haar oë vir ’n oomblik vraend na die man oorkant haar, want hierdie is nie ’n geskenk wat die kinders kon uitgesoek en gekoop het nie.

      Georgina vou die sagte wit sneespapier oop en haar hande bly in die lug hang. Heel bo-op is ’n klein smuktassie van sagte duifblou leer. Onder die smuktassie is ’n skouersak van dieselfde blou leer en heel onder is ’n groterige reistas. Georgina staar na die mooi tasse, onmagtig om iets te sê.

      “Hou jy nie daarvan nie?” Dis Bertie se stem wat onseker opklink.

      Sy moet eers kug voordat sy kan antwoord. “Dis die mooiste tasse wat ek nog gesien het.” Sy weet nie wat om verder te sê nie. Weet nie wie om te bedank nie … weet ook nie of sy moet dankie sê nie, want sy is nie seker sy kan so ’n geskenk aanvaar nie. Maar vir die oomblik kan sy net na die geskenk staar, en is verlig toe Jean ’n groot plat pakkie optel en op haar pa se skoot gaan neersit.

      Hy kyk verras daarna. “Is dit ook vir my?”

      “Ja, maak oop. Dis van Georgina.”

      Hy maak die papier los en Georgina kan nie help om hom dop te hou nie. Wat op aarde kan ’n mens iemand gee wat alles het of alles kan bekostig? Maar sy is seker die pragtige geraamde foto’s van die kinders is iets wat hy êrens kan gebruik. Al hang hy dit in sy slaapkamer.

      Sy


Скачать книгу