Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua

Читать онлайн книгу.

Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua


Скачать книгу
eintlik wil vertel, is die goeie nuus wat ek by meneer De Swart gekry het.” Sy vertel Rita van die brief en die juwele. “Ek sit dus darem nie heeltemal op straat nie, Rita. Noudat ek jou al my nuus vertel het, kan jy gerus met joune wegval. Ek verseker jou, ek is die ene ore.”

      “Wag ’n bietjie, jong. Voordat ek met my nuus begin, wil ek net eers dit sê: ek hoop nie jy het ’n woonstel gaan staan en huur nie, want dan sal jy die huur dadelik moet opsê.”

      Natasha kyk haar vriendin vraend en met opgetrekte wenkbroue aan.

      “Ek verstaan nou glad nie wat jy bedoel nie, jong,” sê sy sag, “ek woon tydelik in ’n hotel.” ’n Uitdrukking van verligting flits oor Rita se gesig. “Maar sê vir my, waarom is ’n woonstel vir my op die oomblik van die baan af?” vra Natasha nuuskierig.

      “Omdat jy iewers langs die Drakensberge gaan woon,” verduidelik Rita ingenome. “Jou toekomstige werkgewer, Dewalt de Meyer, het glo ’n pragtige plaas daar rond.”

      “Wat op aarde wil ’n plaasboer met ’n assistente maak?” vra Natasha teleurgesteld. “Ek weet in elk geval niks van boerdery af nie.” Sy koester geen begeerte om vir ’n boer te werk nie. Maar as dit nie anders kan nie, sal sy seker maar moet. Dalk behels die werk allerlei administratiewe takies.

      “Dewalt, my hartjie,” hoor sy Rita gerusstellend sê, “is nie ’n plaasboer nie; hy is ’n bekende skrywer van Afrikaanse en Engelse romans. Hy het ook al talle draaiboeke en radioverhale in albei tale geskryf. Hy werk nou aan ’n draaiboek vir een van Amerika se bekendste filmbase. Irene, sy suster, meen dat sy jongste draaiboek van hom ’n miljoenêr kan maak. Maar dit beteken natuurlik nie dat hy arm is nie. O nee, Dewalt het ryk geërf toe sy ma twee jaar gelede oorlede is.”

      “Nou waarom is hy van sy pa vervreem?” wil Natasha weer weet. As sy dan vir die man moet werk, wil sy alles van hom weet.

      “Ag, jong, dis ’n lang storie; maar dit kom eintlik daarop neer dat hy geweier het om saam met sy pa in die besigheid te gaan. Oubaas Lafras wou ’n vennootskap met hom aangaan, maar Dewalt wou nie sy skrywersloopbaan vir die sakewêreld prysgee nie. Hierdie hardkoppigheid van Dewalt het glo ’n hewige rusie veroorsaak en daartoe gelei dat hy sak en pak plaas toe verhuis het.”

      “Hoe weet sy suster dat hy iemand in diens wil neem?” kom dit weer van Natasha.

      “O, Irene bel en skryf gereeld om te hoor hoe dit met hom gaan,” vertel Rita. “Sy is baie geheg aan Dewalt. Maar om terug te keer tot die betrekking … Jy kan by Dewalt begin werk sodra dit vir jou geleë is. Irene verwag jou môreoggend in my kantoor. Daar is glo ’n paar dingetjies wat sy persoonlik met jou wil bespreek.”

      “Laat ek eers hoor hoe sake staan in verband met die salaris. Sal dit my darem aan die lewe hou, of sal ek onder die broodlyn moet lewe?” wil Natasha belangstellend weet.

      “O ja, die salaris,” glimlag Rita. “Nee, jong, dit sal gelukkig nie vir jou nodig wees om onder die broodlyn te lewe nie, want benewens die salaris,” en sy noem ’n aantreklike bedrag, “ontvang jy ook gratis inwoning. Jy sal dus jou vuurwa in stand kan hou, maar ek is bevrees jy sal nog steeds jou perd en motorboot van die hand moet sit. As werkende meisie sal jy in elk geval nie tyd kry om met jou boot op die see te gaan rondkerjakker nie. As jy wil perdry, kan jy maar van Dewalt se perde gebruik.”

      Natasha sit tot laat by Rita en gesels en kom die aand byna twaalfuur eers tuis. Sy het nog nie veel oor haar toekomstige werkgewer gedink nie, maar toe sy later in die bed lê, wonder sy die eerste keer hoe Dewalt lyk en of hy darem gaaf is. Sy het nog nooit vir iemand gewerk nie en sy weet nie of sy met ’n buierige persoon oor die weg sal kom nie. Dit moet bitter onaangenaam wees om heeldag saam met ’n knorpot te werk. Sy hoop maar Dewalt het ’n aangename persoonlikheid.

      Hoewel Natasha tot laat daardie nag oor Dewalt lê en bespiegel, is sy vroeg die volgende oggend uit die bed en betyds gereed om na Rita se kantoor te gaan.

      Irene hou dadelik van die stil, minsame Natasha. Dat sy oor fyn smaak beskik en net aan die beste gewoond is, blyk duidelik uit haar klere.

      “Ek dink jy sal goeie medisyne vir my ouboet wees, Natasha,” meen Irene en glimlag vertroulik.

      Natasha kyk stip na Irene en vra dan belangstellend: “Waarom het hy medisyne nodig?”

      “O, hy het ses maande gelede ’n ernstige liefdesteleurstelling gehad,” vertel Irene. “Trouens, vir hom was dit ’n geweldige skok toe Esna le Clus hom soos ’n warm patat gelos en haar aan ’n ryker man gaan staan en verloof het. Maar vir Pappa en vir my was dit ’n seën dat hy die kloue van so ’n gewetenlose fortuinsoekster vrygespring het.”

      “Die naam Esna le Clus klink vir my bekend,” sê Natasha.

      “Sy is ’n bekende model en haar naam en foto verskyn dikwels in die koerante. Maar ek moet sê dat sy my ouboet ’n lelike streep getrek het – en dit nadat hy haar met duur juwele behang het.”

      “Die wêreld is vol van haar soort – vroue wat ’n man se waarde volgens die syfers van sy bankrekening bepaal,” meen Rita.

      “Wel, ek hoop nie jou broer laat mý vir die Esna-vroumens se sondes boet nie,” laat Natasha van haar hoor. Sy het al gehoor dat ’n liefdesteleurstelling sommige mense onredelik, koud en ongevoelig teenoor ander maak. Sy hoop maar dat Dewalt nie in so ’n skepsel verander het nie.

      “My broer is nou ’n bitter ongelukkige man, Natasha,” sê Irene, “maar ek en Pappa is baie bly dat hy ’n lewe saam met Esna gespaar is. Jy sien, Esna het nog nooit ’n man liefgehad nie, net sy bankrekening. Toe sy hoor dat Dewalt iets besit, het sy dadelik aan hom verloof geraak. Maar toe sy ’n man ontmoet met meer aardse skatte as Dewalt, het sy my broer sonder meer die trekpas gegee en aan die ander man verloof geraak. Nou treur Dewalt oor hierdie gewetenlose vrou.”

      “Ja, dit is presies hoe ’n mansmens is,” raak Rita ’n wysheid kwyt. “Ken nie ’n fortuinsoekster as hulle een sien nie.”

      Oubaas Lafras stap die kantoor binne en Natasha word aan hom voorgestel.

      “So, dan is jy die dametjie wat Irene vir Dewalt as assistente wil hê?” laat die oubaas vriendelik hoor terwyl hy haar ondersoekend aankyk. “Ek weet nie waarom Dewalt nou juis ’n helper moet hê nie. Die man is groot genoeg om sy storietjies self te tik en sy administratiewe take op sy eie te behartig. Jy kan liewer in een van my kantore kom werk, juffrou Zeltmann.”

      “Nee, wag nou eers, Pappa,” keer Irene haastig, “ek het Dewalt reeds gebel en hom van Natasha vertel. Hy verwag haar nie later as Saterdag nie.”

      “Hm, jy en Dewalt gee haar nie eens kans om self te besluit of sy vir hom wil werk nie,” laat die oubaas weer hoor. Hy draai na Natasha. “Hier sal altyd vir jou ’n pos wees. As jy voel jy kan glad nie met Dewalt oor die weg kom nie, moet jy net –”

      “Wat laat Pappa só dink? Waarom sal Natasha nie met Dewalt oor die weg kom nie?” val Irene die oubaas in die rede.

      “Wel, sedert daardie Le Clus-vroumens hom die trekpas gegee het, het hy al twee meisies in diens gehad. Juffrou Zeltmann sal die derde wees. Is dit nie genoeg bewys dat g’n beskaafde mens met hom oor die weg kan kom nie?”

      Irene draai na Natasha en sê gerusstellend: “My pa probeer jou opsetlik afskrik omdat hy self nog iemand vir sy tikwerk en algemene administrasie nodig het. Ek stry nie; my broer is op die oomblik nie die maklikste mens om voor te werk nie. Maar dit is nie te sê dat hy sy vorige twee werknemers onredelik afgedank het nie. Dewalt is ’n baie aantreklike man, Natasha, en die twee meisies het glo meer in hom as in die werk belanggestel … Nou ja, soos ek my broer ken, sal hy dit nie duld dat hy iemand moet betaal net om sy werk te verwaarloos nie.”

      “Ek probeer nie om die dametjie af te skrik nie, Irene,” maak die oubaas ernstig beswaar teen sy dogter se aantyging. “Ek wil maar net hê juffrou Zeltmann moet weet dat ek vir haar ’n heenkome het as sy glad nie met Dewalt oor die weg kan kom nie.”

      “Natasha is nie die soort wat haar aan Dewalt sal opdring


Скачать книгу