Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
Читать онлайн книгу.laat Jean saamry. Hy is nou wel net ’n stalkneg, maar jy sal veiliger wees met twee mans om jou op te pas. Ons wil tog nie ’n herhaling van die aand op die bal hê nie.”
Angélique glimlag. “Merci, madame, maar ek glo nie dat dit nodig is nie. Emile is ’n ervare koetsier en ’n goeie vegter.”
“Tog, ek wil weet dat jy veilig gaan wees.”
Die koets het met die twee mans op die koetsbankie vertrek. Jean was skoon ingenome met dié onverwagte plesierrit en dit het uit sy hele houding gestraal.
In die koets sit Angélique met haar oë half geslote en dink oor wat haar te doen staan. Eugéne de Vigny se reaksie toe sy vir hom gesê het dat sy nie met hom wil trou nie, het haar laat besef dat hy die saak nie net sal laat nie. Hy sal haar dwing om haar belofte aan hom na te kom. En Arles sal altyd tussen hulle wees. Sy sal altyd wonder wat daar in die verre Frankryk gebeur het. Die herroeping van die Edik van Nantes was byna tien jaar gelede.
Haar gedagtes dwaal na Eduardo en in die stilte en afgesonderdheid van die koets veroorloof sy haar die salige genot om haar gedagtes vrye teuels te gee . . .
“Daar is ’n ruiter voor in die pad, mademoiselle!” roep Emile skielik en hou die perde in.
Sy skrik op uit haar mymeringe, voel die beklemmende vrees in haar keel klop toe sy ’n sekonde lank die nag van die bal onthou. Dan steek sy haar kop by die venster uit.
“Net die een?”
“Ja, mademoiselle, maar daar kan nog wees. Hier is baie bosse om ons.”
“Maar hier is ook geen plek om die koets te draai nie, Emile!” roep sy terug en beskou die ruigte waardeur die koets ry met misnoeë. Die rytuig sal nooit hier kan draai nie en buitendien, as dit struikrowers is, sal hulle op die koets toesak sodra Emile hierdie moeilike maneuver probeer doen. “Ry aan en ry vinnig! Dis al wat ons kan doen!” roep sy en trek haar kop terug.
“Ja, mademoiselle!”
Emile se sweep klap en met ’n ruk tel die koets spoed op. Sou iemand haar dalk wéér probeer ontvoer? wonder sy angstig.
Die ruiter het egter intussen nader gekom en toe die koets hom bereik, val hy met sy perd langs die koets in pas in.
Emile en Jean behoort hom baas te kan raak, dink die meisie benoud. Dan ruk sy die gordyntjie opsy en sien verskrik hoedat die ruiter rats soos ’n kat van sy perd op die snelbewegende rytuig spring. Emile uiter ’n verskrikte gil en Jean pluk sy swaard uit sy skede.
Maar dan kom die koets stadig tot stilstand. Sy hoor die drie mans redekawel en kan dit nie verstaan nie. Emile kan tog nie ’n struikrower oorreed om liewer pad te gee nie?
“Dis ongehoord!” hoor sy die koetsier verontwaardig uitroep.
“Niemand raak aan die mademoiselle terwyl ons hier is nie!” skreeu Jean woedend.
Die volgende oomblik wip die ruiter ligvoets van die koets af. Toe hy die deur enkele oomblikke later oopmaak, herken Angélique hom.
“Don Eduardo! Wat maak u hier!”
Hy klim vinnig in en maak die deurtjie weer toe.
“Ek kom met u praat, señorita.”
Haar hart klop onstuimig in haar keel. Sy bly sy oë ontwyk sodat hy nie haar diepste gedagtes moet raai nie.
“U kon my by die huis besoek het,” sê sy met ’n ligte bewing in haar stem.
Hy kyk ’n oomblik lank ondersoekend na haar. “Nee. Monsieur die markies kom te dikwels en onverwags daar aan.”
Sy kyk vinnig op. “Is u dalk bang vir hom, monsieur?”
Hy grinnik net en vou sy swart fluweelmantel stywer om hom. “Ek het aan ú gedink, señorita. Hy kan die wêreld baie onaangenaam vir u maak as hy u in my teenwoordigheid vind, dan nie?” Daar is ’n uitdaging in sy donker oë wat haar hart vinniger laat klop.
“Hy haat u, monsieur,” sê sy sag.
“Dit is so.” Hy lag sag en gee Emile die teken dat hy maar kan vertrek. Sy perd volg die koets vanself. Dan leun hy skielik oor na haar. “Waarom het u die markies nie die voordeel van die twyfel gegee nie, señorita?” wil hy weet. “Waarom het u my nie galg toe gestuur nie?”
Sy ruk orent en voel hoe sy verbleek.
“Ek kon nie,” sê sy dof en slaan haar blik neer. “Ek was tog nie seker of dit wel u was nie.”
“Dit was nie ek nie.”
Sy knik, maar kyk nie op nie. “Dan het ek tog die regte ding gedoen.”
Hy gryp haar hand en hou dit in ’n staalgreep vas asof hy bang is dat sy sal vlug voordat sy sal praat. “Maar waarom het u my skotvry laat wegkom, señorita? Ek staan in die weg van u geluk. Terwyl ek nog leef, sal jou verloofde nooit vry van die verlede kan wees nie!”
“Ek weet,” antwoord sy sag.
Hy skud haar aan haar skouers en dwing haar om na hom te kyk. Daar is ’n vreemde uitdrukking in sy donker oë en Angélique weet dat sý nie die oorsaak van daardie deurdringende blik is nie.
“Weet u iets, señorita? Weet u iets wat ek nie weet nie? Iets wat . . .”
Hy bly skielik stil en sak terug teen die kussings van die oorkantste bankie.
“Iets wat die geheim kan oplos?” por sy.
Hy skud sy kop. “Vir my is dit nie ’n geheim nie.”
Sy kyk onbegrypend na hom. As daar dan geen geheim is nie, waarom is al die geheimsinnigheid dan daar?
“Gaan u en die markies nog veg?” wil sy weet toe die stilte te lank rek.
“Ja . . .”
“Hy is ’n baie goeie swaardvegter . . . hy sal u doodmaak.”
Sy blik is ’n oomblik lank agterdogtig op haar gerig, maar dan ontspan hy.
“Hy sal my nie doodmaak nie.”
Sy lek met die punt van haar tong oor haar bolip. “En u?” vra sy hees, “gaan u hom doodmaak?”
Sy aantreklike gesig verhard, sy oë word koud en ’n oomblik lank skrik sy byna vir die uitdrukking op sy gesig. “Nee, señorita, ek gaan hom nie doodmaak nie. Dis vir my belangrik dat hy bly lewe . . . dis van die allergrootste belang dat hy bly lewe.”
“Ek verstaan nie . . . is dit omdat u my leed wil spaar?”
“Ek kan u verseker dat u naam geen skade sal ly nie, señorita.” Die koue uitdrukking is terug in sy donker oë. “Moenie probeer uitvind wat in Arles gebeur het nie, señorita,” sê hy met ’n sagte, maar onmiskenbare dreigement in sy stem. “Moenie agter die geheim van Touraine probeer kom nie. As jy nie na my luister nie, sal jou lewe geen duit meer werd wees nie.”
Angélique deins effens terug. Dit wat voorheen vir haar ’n opwindende avontuur was, word nou ’n bedreiging. As sy net geweet het waaroor alles gaan, dan sou sy ook kon weet in watter soort gevaar sy verkeer.
“Ek verstaan nie, monsieur.”
“Moenie probeer nie, señorita. Alles sal opgelos wees voor u met señor De Vigny trou.”
Sy kyk weg. “Ons trou oor minder as ’n maand, monsieur.” Die ongelukkigheid lê vlak in haar stem en sy probeer nie eens om dit te verdoesel nie.
Hy huiwer voordat hy sê: “Moet hom nie weier nie, Angélique. Onthou, jou lewe is op die spel.”
Sy kyk vinnig na hom toe hy haar naam uitspreek, maar hy het reeds die koetsdeur oopgemaak en roep na Emile om stil te hou. Toe die koets tot stilstand kom, klim hy uit en kyk terug na die meisie wat nog roerloos sit.
“Trou met die markies van Touraine . . . dis noodsaaklik as jy gelukkig wil wees . . .” Hy draai vinnig om en klim op sy perd. Sonder