Rebecca. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Rebecca - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
is daar genoeg taxi’s hier buite. Dankie dat ek jou so vroeg kon kom pla het vir ’n warm stort. Daar by ons is dit weer chaos vanoggend. Ek vermoed iemand het die warm kraan die hele nag oopgelos of hulle steel snags warm water.”

      “Wanneer kry jy vir jou ’n ander blyplek?” Irene sug soos William wanneer hy met haar daaroor praat, en Rebecca gee ’n wye glimlag.

      “As ek hierdie job kry. So, jy moet vandag vir my ’n kers laat brand en al jou duime vashou.” Dan is sy uit die vertrek en die voordeur klap agter haar toe.

      “Ek het ’n afspraak met doktor Hoffman.” Rebecca sê dit met al die gesag wat sy kan bemeester.

      Die vrou agter die lessenaar kyk haar onbeskaamd op en af. Rebecca herken haar dadelik. Dis die rooi Renault se eienaar. Die een wat ’n ryk man soek. Sy is die verpersoonliking van kantoorelegansie. Netjies gesnyde blonde hare, ’n snyerspakkie en elegante skoene.

      “U naam?”

      “Rebecca Fagan.” Rebecca weet nie of sy verlig of jammer is toe die vrou se kop knik nie. Sy was vandag reg om haar pad oop te baklei.

      “Sit asseblief. Doktor behoort binnekort hier te wees.”

      Rebecca gaan sit op een van die gemakstoele en bekyk die kantoor van hoek tot kant. Om hier te kon uitkom, moes sy onder in die portaal by ’n sekuriteitsingang haar naam in ’n boek skryf. En toe sy uit die hysbak stap, moes sy haarself deur ’n interkom aanmeld voor die glasdeure vir haar oopgegaan het. Die ontvangsvertrek is ruim en smaakvol gemeubileer. Irene sal beïndruk wees met al die antieke meubels. Links van haar kan sy ’n kantoor sien waarin ’n ouerige vrou by ’n rekenaar sit. Regs lei nog ’n deur na ’n vertrek wat soos ’n konferensiekamer lyk, en verder kan sy nie sien nie. Daar loop ’n gang regs om die ontvangstoonbank en sy neem aan die ander kantore is in die gang.

      Sy wonder of hulle almal so vroeg begin werk. Nie dat sy omgee nie; sy het net altyd gedink kantoorure in die Kaap is van nege-uur af. Die foon op die lessenaar lui skielik en Rebecca skrik uit haar gedagtes op.

      “Doktor sal jou nou sien.”

      Die vrou – sy het haarself as Anèl bekendgestel – staan op en stap voor Rebecca die gang af. Tot haar verbasing is daar net nog een kantoor, links uit die gang, en aan die einde van die gang ’n paar dubbeldeure. Die vrou klop liggies voor sy een van die deure oopstoot en vir Rebecca beduie om in te gaan.

      Rebecca ruik koffie en sy hoop sy gaan ook ’n koppie kry.

      Sy staan ’n oomblik stil toe die deur agter haar toeklik. Die kantoor beslaan die hele breedte van die gebou. Drie van die mure bestaan uit groot vensters. Haar blik beweeg van links, waar Tafelberg geraam in die venster lê, stadig oor Leeukop en Seinheuwel, tot by die Waterkantontwikkeling regs van haar. In die een hoek staan ’n konferensietafel en reg voor haar ’n groot lessenaar. Tussen die lessenaar en die konferensietafel is twee groot rusbanke en ’n gemakstoel om ’n koffietafel gegroepeer. Die kantoor is, soos die portaal, met pragtige antieke stukke gemeubileer. Oor die dik volvloermat lê drie mooi Persiese matte gestrooi. Sy moet keer of sy klop haarself op die skouer. Niemand het gedink sy sal tot hier kan vorder nie.

      “Juffrou Fagan.” Die man wat agter die lessenaar opstaan, lyk aansienlik anders as die glimlaggende man in gholfklere. Die glimlag is weg en al wat hy van Saterdag oorgehou het, is ’n sonbruin gesig.

      “So, dis hoe die ander helfte van die bevolking hulle dae deurbring.” Sy kyk met onverbloemde nuuskierigheid rond.

      “Ekskuus?”

      “Dis ’n baie indrukwekkende kantoor.”

      “Ek is bly jy hou daarvan,” laat hy droog hoor terwyl hy om die lessenaar stap en sy hand formeel na haar uithou. Sy is verlig oor die ferm handdruk. Dis vreemd hoe klein dingetjies soms belangrik kan wees. Een van die dinge wat sy nie kan verdra nie, is mense met ’n pap handdruk. ’n Mens hoef nie ’n handdrukkompetisie te hou nie, maar sy gril vir ’n hand wat soos ’n dooie vis in hare lê.

      “Kom sit asseblief.” Hy beduie na die rusbanke en sy besef die stoel is syne.

      “Het jy iets op die hart, of kan ek maar ’n paar vrae vra?” val hy saaklik met die deur in die huis toe sy sit.

      Rebecca beduie met haar hande dat hy kan voortgaan.

      “Waar het jy gehoor ek soek iemand?”

      Sy byt haar onderlip vas. Dis die een vraag wat sy nie nou gaan beantwoord nie. “Ek sal verkies om nie te sê nie.”

      Sy oë vernou en sy wonder effens angstig of hy haar nou gaan vra om te loop.

      “Het jy ’n idee wat die werk behels?” verras hy haar.

      Sy skud haar kop. “Nee, seker nie een honderd persent nie, maar ek vermoed daar sal nie van my verwag word om kernsplitsing te doen nie.”

      “En die res kan jy alles hanteer?”

      Rebecca kyk hom vas in die oë. “Nie noodwendig nie, maar ek is seker die res sal ek alles kan leer doen.”

      “Waarom hier en waarom nou?” kom sy volgende vraag.

      “Ek is lus vir ’n uitdaging en ek sal eerder iets met verskillende fasette doen as om dag vir dag dieselfde taak oor en oor te doen. Waarom nou? Want ek wil geld maak.”

      “Jy weet nie eens wat die salaris behels nie.” Sy blik rus niksseggend op haar en sy wonder of hy kan poker speel.

      “Nee, maar ek weet waarvoor ek bereid is om te werk en dit behoort in my behoeftes te voorsien.”

      “En waarvoor, as ek mag vra, is jy bereid om te werk?”

      Toe sy die bedrag noem, bly sy uitdrukking onveranderd en sy is effe teleurgesteld. Dit beteken hy het sy emosies goed onder beheer.

      “Ek het nie geweet dis my pos waarin jy belangstel nie.”

      Rebecca se reguit blik huiwer ook nie. “Ek het nie geweet jou pos is beskikbaar nie.”

      “Juffrou Fagan,” ignoreer hy haar opmerking, “wat laat jou dink enigiemand sal jou so ’n salaris aanbied? Mense met jare se ondervinding kry nie eens soveel nie.”

      “Dis wat ek vir jou werd gaan wees.” Sy bedink haarself egter blitsvinnig. “Nee, dis nie waar nie. Jy sal my waarde nie werklik kan koop nie, maar dit is waarvoor ek bereid is om my dienste en kennis aan te bied.”

      “Ek is versigtig om te vra watse dienste jy alles vir daardie bedrag aanbied.”

      “Ek het daardie eerste dag vir jou gesê ek sal in al jou behoeftes voorsien, nie noodwendig persoonlik nie, maar ek sal reël dat jy alles kry wat jy moet hê.”

      “Alles?”

      Sy is trots op haarself dat sy steeds nie ’n oog knip nie. “Daar is ’n verskil tussen wat jy móét hê en wat jy wíl hê.”

      Net vir ’n oomblik lê daar iets soos geamuseerdheid in sy oë en Rebecca kyk smagtend na die koppie op sy lessenaar. Sy wonder of sy vir ’n koppie koffie kan vra.

      “Hoe het jy onder in die parkeergarage gekom?”

      “Ek het ingestap toe daar ’n motor uitgery het. Die veiligheidsbeamptes was besig om tee te drink en hulle het nie opgekyk nie.”

      “Ek kon jou laat arresteer het vir betreding.”

      “Maar jy het nie.”

      “Waarom wil jy geld maak?”

      “Ek wil vir my ’n blyplek koop.”

      “Waar woon jy op die oomblik?”

      “Ek huur ’n kamer.”

      “Het jy jou CV saamgebring?”

      Rebecca hou ’n groot wit koevert na hom toe uit en hy trek ’n enkele vel papier daaruit.

      ’n Ligte frons lê tussen sy wenkbroue terwyl hy lees.


Скачать книгу