Rebecca. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Rebecca - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
Jou oupa leef nog en dien steeds in die maatskappy se direksie. Jou ma is weer getroud met ’n Switserse nyweraar en hulle verdeel hulle tyd tussen haar huis in Hermanus en syne in Genève. Jy het twee jonger susters. Die een is getroud met Stephen Walters, een van die visepresidente. Die ander een is werksaam in die New York-kantoor. Jy woon in die huis in Bishopscourt, is nog nie getroud nie, maar het al vir ’n paar jaar ’n aan-en-af-verhouding met Angela de Villiers, wie se familie groot belange in die wynbedryf het. Sy en haar suster het ’n PR-maatskappy, maar hulle lê hulle eintlik toe op die reël van groot liefdadigheidsfunksies, soos die gholftoernooi verlede Saterdag. Daar was ’n rukkie gelede gerugte dat julle verloof is, maar dis intussen deur haar kantoor ontken. Die skinderrubriekskrywers verwag egter ’n verlowing voor die einde van die jaar.” Rebecca bly effens uitasem stil.

      “Is dit al?” Sy wenkbrou lig net effens.

      Rebecca verwens hom onderlangs. Hy hoef nie beïndruk te wees nie, maar hy kan ten minste effens verbaas lyk. “Ek het nie nodig om meer te weet nie.” Sy dwing haarself om skrams te glimlag.

      “Kennis is mag, juffrou Fagan. ’n Mens weet nooit genoeg nie.” Hy kyk op sy horlosie toe die motor stop. “Dankie, Salie.” Dan verskuif sy blik na haar. “Ek neem aan jy sal jou pad terug stad toe vind.”

      Rebecca kyk op na die toegerankte geboue van die Universiteit van Kaapstad. Sy het aangeneem hy sal ten minste vir Salie vra om haar weer terug te neem.

      “Ek sal regkom.” Sy glimlag onbevange. Twee kan hierdie speletjie speel en sy gaan nie toelaat dat hy haar frustrasie sien nie.

      Hy klim uit die motor en stap met gemaklike treë na waar ’n paar mans op hom staan en wag. Rebecca klim ook uit en ’n paar sekondes lank kyk sy hom agterna. Hy is ’n bliksem, besluit sy.

      “Sal juffrou regkom?” Salie staan langs haar en sy verbeel haar sy sien iets soos verleentheid in die manier waarop hy haar oë probeer vermy.

      “Jy hoef nie vir my ‘juffrou’ te sê nie. My naam is Rebecca. En ja, dankie. Ek ken die pad terug.” Sy lig haar hand in ’n groet voordat sy teen die skuinste begin afstap.

      Ná die lugverkoelde motor is dit skielik ondraaglik warm buite en sy voel hoe die sweet teen haar voorkop en onder haar haarlyn begin pêrel. Sy ignoreer dit egter. Dis die een ding wat sy aan haar kant het en wat Julian Hoffman miskien nie verstaan nie. Hy kon haar vandag anderkant die Hexrivierberge ook afgelaai het en sy sou op ’n manier by die huis gekom het. Hy kan haar tyd mors, maar verder kan hy niks van haar wegneem nie, want sy het niks. Sy wonder of mense aldag besef hoe gevaarlik dit is om niks te hê nie. Want om niks te hê nie, maak ook dat jy niks kan verloor nie en in daardie wete lê ’n ongekende mag.

      ’n Uur later klim sy natgesweet in die middestad uit ’n taxi, en sonder om te dink, begin sy in die rigting van Langstraat stap. Sy kan nie eens haar eie voetstappe bo die gedruis van die stad hoor nie. Selfs haar gedagtes raak verstrengel met die uitlaatgasse en straatgeluide en die vibrasies onder haar voete. Sy koop ’n blikkie koeldrank by ’n kiosk en stap drink-drink die trap van die hostel op. Hierdie tyd van die dag is haar kamertjie onder die trap byna onhoudbaar warm en bedompig, maar sy sluit die deur en gaan lê toe-oë op die smal bedjie. Sy veroorloof haarself net een sug.

      4

      Irene kyk op toe Rebecca laatmiddag haar winkeltjie binnestap. “Wat het van jou geword?”

      “Wat bedoel jy?”

      “Niemand het vir twee dae iets van jou gehoor nie. Ek en William was gisteraand by jou kamer en vanoggend weer, maar die deur was gesluit en niemand het jou gesien nie.”

      Rebecca trek haar skouers op. “Ek was maar in die rondte.”

      “Jy kan nie vir twee dae verdwyn en niemand weet waar jy is nie, Rebecca. Ons leef in gevaarlike tye.”

      “Wat byt jou?” Rebecca gaan sit op ’n gemakstoel voor die venster en kyk na die laatmiddagverkeer in Kloofstraat.

      “Niks byt my nie, maar ek raak die hel in as jy maak asof jy niks aan iemand verskuldig is nie. Ek wil nie oor jou wakker lê nie.”

      “Jy hoef nie oor my wakker te lê nie. Goeie goed vergaan nie sommer nie.”

      “Moenie ligsinnig wees nie!”

      Rebecca draai haar om sodat sy Irene kan sien. “Ek wil nie hê julle moet so bekommerd oor my wees nie. Dit laat my skuldig voel.”

      “Mense wat vir mekaar omgee, is oor mekaar bekommerd. Dis ’n bleddie feit van die lewe. Daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Al wat ek vra is dat jy ons net nie meer bekommerd moet maak as wat ons in elk geval is nie.” Irene se stem versag effens.

      Rebecca draai sonder ’n woord weer terug venster toe. Duiwelspiek lyk vandag vaal en ver in die dynserigheid. Hier bo teen die berg voel die lug effens skoner, maar die stad is al ’n paar dae lank toe onder ’n bruin lugbesoedelingskombers. Oorkant die winkel sit mense op die stoep van ’n klein restaurantjie. Lang glase bier word tam gelig. ’n Bus kom proesend die steil bult uitgesukkel en ’n paar minibus-taxi’s oortree binne ’n paar honderd meter ’n hele paar verkeersreëls. Dis soos ’n tafereel uit ’n film wat voor haar afspeel. En al is sy nog maar net twee maande terug, kan sy reeds weer die stad op haar tong proe. Iets hieraan is huis.

      “O, amper vergeet ek. Hier het vanmiddag ’n man gebel wat sê jy moet hom dringend kontak. Hy was eintlik op soek na jou selfoonnommer en was baie verbaas om te hoor jy het nie een nie.”

      “Wie was dit?” Rebecca bly sit met haar rug na Irene.

      “Stephen Walters. Ek het die nommer neergeskryf. Ken jy hom?”

      “Ek weet van hom. Hy is een van die visepresidente by Hoffmans.”

      Irene kom agter die klein toonbank uit. “Is dit goeie nuus?” wil sy gretig weet.

      “Ek weet nie.”

      “Is jy orraait?” Irene se kop sak laer asof sy Rebecca beter wil sien.

      “Wat laat jou dink ek is nie orraait nie?” skerm Rebecca en staan op. “Waar is daai nommer?”

      “Dis daar op die toonbank. Die nota met die groot NB in rooi.”

      Rebecca stap agter die toonbank in. “Kan ek jou telefoon leen?” Daar kom lê ’n onverwagte holte in haar maag. So asof sy haar vuis regdeur haarself sal kan druk.

      Irene knik. “Jy weet jy mag soms kla?”

      Rebecca gee ’n helder laggie. “As ek iets het om oor te kla, sal julle dit hoor.”

      Sy begin die nommer skakel en toe ’n meisie antwoord, gee sy haar naam en vra om met Stephen Walters te praat.

      “A, juffrou Fagan! Ek het gehoop jou vriendin gee vir jou die boodskap. Dis nogal moeilik om jou in die hande te kry.”

      Rebecca antwoord hom nie en hy gee ’n kuggie. “Ek wil hoor of jy môreoggend agtuur psigometriese toetse kan kom aflê. Al die kandidate moet dit doen.”

      “Al die kandidate vir wat?” Sy trek sirkels op die nota met Irene se rooi pen.

      “Jy het aansoek gedoen vir ’n pos by doktor Hoffman se kantoor.”

      Rebecca antwoord nie dadelik nie. “O ja. Ek het eintlik al daarvan vergeet. Hoe laat sê jy?”

      “Agtuur.”

      “Ek sal in my dagboek moet kyk.” Sy frommel ’n paar bladsye op die toonbank.

      “Dis baie kort kennisgewing.” Sy begin sag neurie asof sy diep moet dink. “Goed, ek sal my ander afsprake probeer skuif.”

      “Dankie. Iemand by ontvangs sal vir jou wys waarheen jy moet gaan.”

      “Ek sal daar wees,” groet sy.

      “Waar moet jy wees? Wat wil hy hê?” Irene staan skielik voor Rebecca en laasgenoemde lag.

      “Al


Скачать книгу