Rodriguez. Piet van Rooyen
Читать онлайн книгу.op haar maag op die smal hospitaalmatras gelê. Haar hele onderlyf was met gaasdoek toegedraai. Die ontsteking het geel deur die doek gesypel. Sy kon nie sit of staan nie. Waar sy vandaan gekom het, kon sy nie sê nie. Sy het ’n woord geprewel, maar die naam was vir almal onbekend. ’n Frelimo-patrollie het haar iewers langs ’n tweespoorpad in die middel van die bos gevind. Sy was op haar hande en knieë verbete vorentoe aan die kruip. Vorentoe, net vorentoe. Waarnatoe wou sy nie sê nie. Heel moontlik net weg. So ver moontlik weg. Iemand, waarskynlik ’n Renamo-kommando, of dalk maar net ’n enkele, identiteitslose jong soldaat, het haar onderlyf met ’n panga beetgekry. Hulle het rye diep kepe in haar boude uitgekap. Reg tot op die been. Dit was ’n sinnelose daad. ’n Blote kind. Sonder rede. Redeloos.
Die suster het Dhlakama se vrou geken, via die NGO-netwerk, gedog sy sou haar in goeie hande plaas. Sy het Alda aan haar oorgegee. Dhlakama wou sy goeie ingesteldheid bewys. Hy het hom oor die wesie ontferm, haar na die Massala-basis toe gebring. Haar hier onder Gaspar se beskerming geplaas.
Sy het natuurlik geen spesiale voorregte gedra nie. Die soldate kon steeds met haar maak soos hulle wou. Dit was deel van die oorlog. Sy’t haar nie verset nie. Sy was lankal by verset verby. Sy’t nooit iets anders gedra as die wye pienk rok nie. Dit het die verminking goed genoeg weggesteek. Sy kon weer haar kop lig, normaal funksioneer. Maar steeds met die sagte, byna ontliggaamde, sangerige stem.
Snags, as sy alleen was, het sy geleer om die koeëlpunte met haar tande uit die geweerpatrone uit te wikkel. Dan het sy haar neus toegeknyp en die bitter, swart kruit afgesluk. Sy het geglo dit sal haar help om nie swanger te word nie. Soggens het sy dan met rooi oë wakker geword en geglo dat die kruit haar skoongebrand het van binne. Dalk was dit regtig die geval, want sy het werklik nooit swanger geword nie.
13
Teen skemeraand op 24 April 1974 in ’n kantoor in die Rua António Maria Cardoso, weg van die raserige Lissabon-verkeer, sit twee mans en gesels. Tussen hulle staan twee glase en ’n bottel goeie Portugese port. Die kantoor behoort aan majoor Silva Pais, hoof van die gevreesde Portugese geheime polisie, beter bekend as die Internasionale Polisiediens vir die Verdediging van die Staat, PIDE is die Portugese afkorting. Ten spyte van die lang vlug van die vorige dag, is die besoeker wawyd wakker en vol energie. Dit is egter duidelik dat iets majoor Silva Pais pla. Hy bly afgetrokke en ingedagte met sy vinger oor die tafeldoek stryk. Die besoeker staan net bekend onder sy voorletters, KF, ook soms as “die Blom”. Hy is Ken Flower, hoof van die Rhodesiese Sentrale Intelligensie Organisasie, die CIO in Engels. Hy het pas ’n belangrike sekuriteitsooreenkoms met die Portugese gesluit, ’n ooreenkoms wat hy en sy regering al vyf jaar lank probeer finaliseer. Nou, uiteindelik, is die finale besonderhede uitgestryk, die dokumente geteken. Dis ’n ooreenkoms wat op klein skaal begin, maar wat die volgende dekades ’n ontsaglike impak op die hele Suider-Afrikaanse gemeenskap sou hê.
Die besoeker sê beleefd nee dankie vir ’n vierde glasie port. Hy het genoeg gedoen om sy dankbaarheid te betuig. Hy voel tevrede met wat hy bereik het. Dis tyd om terug te gaan. Hy groet en vertrek. Buite staan ’n taxi reeds en wag om hom na die Lissabonse Portela-lughawe te neem. Hier stap hy aan boord van ’n Boeing 707 van die Portugese Lugtransport Maatskappy, bestemming huis toe. Dis die laaste vlug wat daardie nag toegelaat word om van die Portela-lughawe op te styg. Gedurende die transithalte in Luanda, Angola, word die passasiers aangesê om aan boord te bly. Dis eienaardig. Flower is glad nie gediend hiermee nie. Dit was ’n lang vlug tot hier en hy sien uit na vaste aarde en ’n briesie vars lug. Die lugwaardinne trek bloot hul skouers op, maak asof hulle nie Engels verstaan nie.
Met sy aankoms in Salisbury, vind Flower ’n verklaring vir die buitengewone prosedure, en ook vir majoor Pais se eienaardige afgetrokkenheid van die vorige aand. Portugal sit in die greep van ’n militêre bewindsoorname. Die Revolusie van die Rooi Angeliere. Eerste minister Marcelo Caetano dra die mag van die staat oor aan die filosoof-generaal, António de Spínola. Dit beteken ’n drastiese verandering van sake. Vir Portugal. Vir Angola. Vir Mosambiek. Vir KF en die Rhodesiese regering. Vir die hele Suider-Afrika.
Dieselfde dag breek ’n seksie Portugese vlootsoldate onder bevel van luitenant-kommandeur Martins Cavalheiro die deur na majoor Pais se kantoor oop. Behalwe die halfbottel port en die leë glase, Ken Flower se vingerafdrukke nog duidelik sigbaar op een daarvan, vind hulle in die staalkabinet die ondertekende ooreenkoms tussen die Portugese regering en Rhodesië. Die ooreenkoms gee toestemming aan die Rhodesiese weermag vir oorgrensoperasies in Mosambiekse grondgebied. Dit maak ook voorsiening vir die stigting en finansiering van ’n klandestiene inheemse beweging as teenvoeter vir die aktiwiteite van die Mosambiekse bevrydingsleër, Frelimo. Die beweging dra nog nie ’n naam nie, maar dit sal een kry. Die aanvanklike veld van operasie is die Tete-provinsie. Van hier af sal dit uitgebrei word oor die hele westelike grens van Mosambiek, en mettertyd verder. So ver as wat nodig is.
Die noodlot loop eienaardige draaie. Die bewindsoorname in Portugal kom ’n dag te laat, of die ooreenkoms net mooi ’n dag betyds, hoe ook al ’n mens daarna wil kyk. Die nuwe regering sou nooit so ’n klandestiene ooreenkoms goedkeur nie. Nou staan dit reeds op papier. Papier vat lank om te ontbind. Wat die verloop van sake in Afrika betref, is dit te laat om te keer.
Die bewindsoorname in Portugal speel, om die waarheid te sê, juis mooi in die hande van “die Blom” en sy regering. Op 2 Junie 1974 stap die hele bevelstruktuur van ’n klein anti-Frelimo weerstandsbeweging in Mosambiek oor die Rhodesiese grens en meld hulle vir krygsdiens aan. Dis ’n klein groepie soldate, minder as vyftig, ’n paar wit Portugese ingesluit. Die bevelvoerder is majoor Oscar Cardoso, ’n oud-Flecha-offisier uit Angola. Hy’t wyd geloop om tot hier te kom.
Die Rhodesiërs steek vir Cardoso en sy mense in ’n verlate militêre basis in die Chimanimani-berge weg. Hier ondergaan hulle intensiewe opleiding en ontvang die mees moderne wapens wat beskikbaar is. Toe hulle gereed is, word hulle bietjies-bietjies ontplooi, in Rhodesië, in Zambië, in Zaïre, in Mosambiek, oral waar hulle ook al die grootste moeilikheid kan veroorsaak. Die bevolking sien hulle suksesse, word oorweldig deur hulle onverskrokkenheid. Al hoe meer Mosambiekers begin aansluit, vrywillig of andersins. Hulle wil deel wees van die spel van krag.
Die bevelstruktuur van die klein weerstandsorganisasie was egter te wit na die CIO se sin. Dit was belangrik vir die werwingsveldtog in Mosambiek om dit swarter te kry. Toe Cardoso en sy manskappe hulself twee jaar later aan die FNLA van Angola verkoop vir ’n beter salaris, neem ’n ontsette senior Frelimo-bevelvoerder, André Matsangaiza, die beheer van die weerstandsbeweging oor. Die beweging word Renamo gedoop. Resistência Nacional de Moçambicana. Die Rhodesiërs help Matsangaiza om ’n basis tot stand te bring bo-op die berg Gorongoza, net mooi in die middel van die land. Van hier af kan Renamo met behulp van verskuifbare kleiner basisse in enige rigting militêre aksie onderneem. Die doel is om alle Frelimo-bewegings na en vanaf Beira, Maputo en Tete af te sny, kommunikasie te bemoeilik, die hele omgewing te teister, en te isoleer van regeringsinvloed. Dit bied die geleentheid aan die Rhodesiërs om hulle oostelike grens teenaan Mosambiek te beskerm, sonder om dit self te doen.
Aanvanklik is die primêre doel die insameling van teeninsurgensie inligting. Stelselmatig word dit uitgebou tot die werwing van soldate vir die Renamo-leër en offensiewe operasies teen Frelimo- en Zanu-PF-faksies in Mosambiek. Die geveg was aan die gang vir die “hearts and minds of the people”, wat dit ook al mag beteken.
In Oktober 1979 val Matsangaiza ’n goed bewaakte Frelimo-weermagbasis by Vila Paiva de Andrade aan. Dis ’n dom waagstuk. Matsangaiza en twintig ander word doodgeskiet. Hulle liggame lê gesaai oor die oop stuk grond tussen die bos en die Frelimo-basis. “Ons Sonstraal is moer toe,” kom die boodskap oor die radio. Sonstraal is die kodewoord vir bevelvoerder. Die Rhodesiërs slaag daarin om twaalf erg gewondes in uiters gevaarlike omstandighede per helikopter uit die gevegsgebied weg te voer vir hospitaalbehandeling in Salisbury, maar aan Matsangaiza self is niks te redde nie. Die Sonstraal is inderdaad uitgedoof. Die leierskap van Renamo word oorgedra na Afonso Dhlakama. Nes Matsangaiza voor hom is Dhlakama ’n verloopte Frelimo-offisier.
Dhlakama is nie die mees geskikte kandidaat vir “die Blom” en sy organisasie nie. Grootpraterig, dikwels onbetroubaar, selfverheerlikend, is Dhlakama nie die tipiese leier wat die CIO in beheer sou wou sien nie. Hy