Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit


Скачать книгу
>

      

      Tryna du Toit

      Omnibus 4

      Human en Rousseau

Towerwater

      Hoofstuk 1

      Presies kwart voor een stap Ria de Wet by een van Hillbrow se groot wolkekrabbers in. Ná die hitte en gewoel van die straat is dit koel en rustig hier binne. Die restaurant waar sy Bill Retief vir middagete ontmoet, is op die derde verdieping van die gebou, maar sy ignoreer die oop hysbak en stap links verby na die trap.

      Die oefening sal haar goed doen en haar verstand hopelik ’n bietjie helderder maak. Sy het vanoggend met ’n dowwe hoofpyn wakker geword – natuurlik die gevolg van die slaappille wat sy eenuur vannag gedrink het – en haar leerlinge was dommer en minder ontvanklik as gewoonlik. Teen die tyd dat sy begin gereed maak het vir haar afspraak met Bill het sy so ’n kloppende hoofpyn gehad dat sy nog twee pille moes drink. ’n Bose kringloop, besef sy, maar hoe anders kan ’n mens ’n besige dag oorleef as jy nie goed geslaap het nie?

      Die hoofpyn is gelukkig beter, maar sy voel vreemd gespanne. Wat is die belangrike nuus wat Bill haar wil vertel?

      Sy aarsel in die restaurant se voorportaal. Teen die muur hang ’n vergulde spieël en sy bekyk haarself ’n oomblik daarin. Sy sien ’n skraal vrou van sowat dertig in ’n eenvoudige swart linnerok. Haar spierwit handskoene en die wit volstruisvelhandsak waarvoor sy ’n klein fortuintjie betaal het, lyk koel en elegant. Haar roesbruin hare is in ’n sagte styl gekam en haar gesig subtiel grimeer – ’n mooi masker waaragter sy haar gevoelens wegsteek.

      ’n Tipiese stadsmens, dink sy toe sy van die spieël wegdraai: uiterlik gesofistikeerd en op haar gemak, maar innerlik bang en onseker.

      Die hoofkelner kom na haar toe en vra of sy ’n tafel bespreek het. Oor sy skouer sien sy vir Bill, wat met ’n kennis staan en gesels.

      “Dankie, ek sien meneer Retief is reeds hier.”

      Bill kyk op, sien haar in die deur staan en kom nader. Haar hart klop skielik vinniger. Hy het ’n mooi ligte pak aan en lyk buitengewoon aantreklik.

      “Hallo, Ria.” Sy donker oë rus ’n oomblik goedkeurend op haar. “Hoe kry jy dit reg om in dié weer so koel te lyk?”

      Sy glimlag net en stap saam met hom na die tafel toe wat die kelner vir hulle wys. Sy is bewus van die belangstellende blikke wat hulle volg en die vaal dag het skielik ’n reënbogie gekry.

      Vlugtig bestudeer sy die spyskaart, dan sit sy dit neer.

      “Ek is lus vir die vars salm, dankie, Bill, en vooraf wit druiwesap met ’n groot stuk ys daarin,” sê sy in antwoord op Bill se vraag. “En kaas en swart koffie.”

      Terwyl Bill die kos bestel, kyk sy belangstellend om haar. Die restaurant is een van die gewilde bymekaarkomplekke in die stad en daar is gewoonlik ’n paar bekende figure uit die sake-, film- en toneelwêreld te sien.

      Bill sit sy spyskaart neer en gee sy volle aandag aan haar. “Wel, Ria, nou kan ons gesels. Hoe gaan dit met jou?”

      “Dit gaan goed, dankie,” sê sy liggies. Jy sê mos maar altyd dit gaan goed; niemand stel tog werklik in jou probleme belang nie.

      “En hoe gaan dit met die werk?”

      Ria skryf jeug- en liefdesverhale en Bill is verbonde aan die firma wat haar boeke uitgee. Dis waar hulle mekaar ontmoet het. Bill het nog altyd belang gestel in haar werk en sy het sy hulp en aanmoediging waardeer. Met die jare het hulle goeie vriende geword, maar sy het die afgelope maande begin agterkom dat sy belangstelling in haar nie meer bloot professioneel is nie. Ook van haar kant af was sy sterk aangetrokke tot die gawe, aantreklike Bill – maar Bill het ’n vrou en drie kinders.

      Sy sê met ’n effense glimlag: “As jy my skryfwerk bedoel: op die oomblik gaan dit eenvoudig glad nie. Maar kom ons gesels liewer oor iets anders.”

      “Ek het goeie nuus vir jou. Ons gaan Die Blom van die Berge herdruk.”

      “Wonderlik!” sê sy verras. “Dan kan ek maar my Cadillac bestel?”

      Hy lag. “Jy moet liewer nog ’n bietjie wag. Maar ons het heelwat navrae gekry en besluit om dit te herdruk.”

      “Wonderlik,” herhaal sy. Die bruin oë tintel en ’n glimlaggie speel om haar mondhoeke. Al die miswolke van die oggend het verdwyn. “Is dit die belangrike nuus wat jy my wou vertel?”

      Bill skud sy kop. “Nee, maar ons kan later daaroor gesels. Kom ons eet eers.”

      Die ete verloop gesellig. Bill ken almal in die stad wat die moeite werd is om te ken en gesels onderhoudend.

      “Sien jy die man wat nou net inkom – die een met die snor? Dis die grootwildjagter en skrywer Alex Forsythe. Ons het sy jongste boek, Oerwoudlegendes, uitgegee – jy het dit tog seker al gelees? Die eerste oplaag was binne ’n maand uitverkoop. Die boek is reeds in Engels en Duits vertaal en nou word dit nog verfilm ook. Op die ou end sal dit hom seker ’n aardige bedraggie in die sak bring.”

      Ria glimlag effens. “Dit was eens op ’n tyd my ambisie ook om eendag ’n treffer te skryf wat in baie tale vertaal en boonop nog verfilm word.”

      Hy raak liggies aan haar hand. “My liewe kind, jy is nog maar aan die begin van jou loopbaan. Ek verwag nog groot dinge van jou.”

      Sy haal haar skouers op. “Ek dink party dae die fonteintjie het opgedroog. Eerlikwaar, Bill, ek het al ernstig daaraan begin dink om weer te gaan skoolhou en die skrywery voorlopig heeltemal te laat vaar.”

      “Onsin. Ek sal dit nie toelaat nie. Dis die hitte wat ’n mens so uitmergel. Wag net tot die koeler weer kom en jy sal sien jy is weer vol geesdrif en energie.”

      Die kelner sit kaas en koffie voor hulle neer. Sonder om na Bill te kyk, sê sy stadig: “Wat wou jy my vertel, Bill?”

      Sy gesig versober. Hy steek vir hulle elkeen ’n sigaret op, blaas die vuurhoutjie dood en sê: “Cynthia het besluit om my te verlaat.”

      Ria is lam geskrik. “Vir goed?”

      “Ek weet nie. Ons sal later besluit. Voorlopig gaan sy en die kinders by haar ouers kuier – dit sal ons albei ’n kans gee om daaroor te dink. Persoonlik twyfel ek of sy sal terugkom. Ons huwelik is leeg en betekenisloos. Behalwe die kinders is daar niks meer wat ons bind nie. Waarvoor sal ’n mens nog langer aangaan?”

      Die kinders, dink Ria: Kosie en Cecile, en Sandra wat maar twee jaar oud is. Wat word van hulle?

      “Ek … ek is jammer om dit te hoor,” stamel sy ontsteld.

      Bill haal sy skouers op. “Dis jammer, maar dié dinge gebeur. Jy is self ook daardeur, so jy weet ’n mens moet maar net die beste van die saak maak. En liewer nou terwyl ons nog jonk genoeg is om ’n nuwe begin te maak.”

      Hy raak weer aan haar hand. “Dit sal jou en my ook ’n kans gee om mekaar beter te leer ken. Ons was nog altyd goeie vriende, Ria, en ek dink jy weet dis nie net in die skryfster wat ek belang stel nie. Ek stel in jou as vrou ook belang. Wie weet, as Cynthia besluit om nie terug te kom nie …”

      Ria neem haar hand haastig weg. “Nee, Bill, jy mag nie so praat nie. Jy laat my baie skuldig voel. As ek moet dink dat ek enige aandeel daaraan het, die oorsaak moet wees dat jy en Cynthia uitmekaar gaan …”

      “Ontspan. Jy het niks daarmee te doen nie. Cynthia en ek moes nooit getrou het nie. Ons geaardhede en belangstellings is te uiteenlopend. Dis of ons met die jare net verder uitmekaar dryf. Dis die tragedie van die lewe: ’n man raak verlief op ’n mooi gesiggie en ’n oulike lyfie en jy trou sonder om te dink. Dis eers wanneer jy later jou verstand kry dat jy besef dat ’n mooi gesig en ’n oulike lyf nie genoeg is nie. ’n Man wil ’n maat hê – iemand wat belang stel in sy werk, met wie hy kan gesels oor sy drome en ideale, ’n vrou wat sy lewe in alle opsigte kan deel. Kinders en bediendes is al waarin Cynthia belang stel, al waaroor sy kan gesels. Vir haar is ek maar net die man wat sorg dat die rekenings elke maand betaal word en in al hulle behoeftes voorsien.”

      ’n Stiltetjie val tussen hulle, dan gaan hy voort: “Ek


Скачать книгу