Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit


Скачать книгу
die kinders nie – en soos ek gesê het, dryf ons met die jare net verder en verder uitmekaar.”

      Ria skud haar kop ongelowig. “Jy hou so baie van jou werk en jy ontmoet soveel interessante mense – ek kan nie dink Cynthia stel nie belang nie.”

      “Ek verseker jou, ek het al baie probeer, maar tevergeefs. Sy is altyd te besig of te moeg om na my te luister. Aan die begin het ek vir haar manuskripte geneem en ek vat gereeld ons jongste publikasies huis toe, maar sy doen nie eens die moeite om hulle deur te blaai nie. Sy stel net nie belang nie, en nou probeer ek ook nie meer nie. Ek gaan my gang en sy gaan hare.”

      Ek was bang hiervoor, dink Ria. Diep in my hart het ek ’n voorgevoel gehad dis waarop dinge afstuur. En noudat dit gebeur het, vang dit haar totaal onverhoeds.

      Sy kyk op haar horlosie en sê so kalm as wat sy kan: “Ek is jammer, Bill, ek moet nou loop. Ek het halfdrie weer ’n leerling. Ek … ek is regtig jammer om te hoor van jou en Cynthia. Ek hoop maar net dis nie so erg soos wat jy dink nie en dat Cynthia sal besluit om terug te kom na jou toe.”

      Hy kyk ’n lang oomblik na haar en daar is ’n vreemde uitdrukking in sy oë. “Hoop jy dit regtig, Ria?”

      ’n Oomblik kyk sy in sy donker oë, dan bloos sy skuldig. Sy neem haar handsak en handskoene en sê haastig: “Ek moet nou gaan, Bill. Dankie vir die middagete en … en die nuus oor my boek.”

      “Ek stap saam tot by die hysbak – ek wil graag nog ’n oomblik met ons grootwildjagter gesels.”

      Ria stap voor hom uit, bewus van die blikke wat hulle volg. Sy voel skielik ongemaklik. Sy het dit nog altyd geniet om saam met Bill te eet en met hom oor boeke en mense te gesels, maar ná vandag sal dit nooit weer dieselfde wees nie. By die hysbak steek hy sy hand na haar uit. ’n Oomblik aarsel sy, dan sit sy haar hand in syne.

      “Ons gesels weer later. Intussen, alles wat goed en gaaf is vir jou,” sê hy.

      Buite in die straat is dit soos ’n bakoond. Die warmte slaan soos ’n gloed teen haar op en die swart teerstrate brand deur haar dun skoensole. Die mense op die sypaadjies lyk moeg en verwelk, sonder lus of energie vir die lewe. Selfs die rooi angeliere in die bloemis se venster hang slap. Met trae voete stap sy die paar blokke na haar woonstel.

      Sy wil nie dink aan wat Bill haar vertel het nie, maar sy kan haarself nie help nie. Cynthia se besluit om Bill te verlaat sal haar eie lewe noodwendig ook raak. Ná vandag kan dinge nooit weer dieselfde wees nie. Maar hoe diep, hoe ingrypend die verandering sal wees, sal net die tyd hulle leer.

      Sy het net haar kouse uitgetrek en ’n koel rokkie aangetrek toe die voordeurklokkie lui. Sy haas haar om die deur oop te maak. Haar leerling is ’n ouerige man, Herr Louis Krogh, ’n Duitse immigrant wat ’n paar maande gelede in Suid-Afrika aangekom het. Hy is ’n belese man wat gretig is om Afrikaans te leer praat en met die letterkunde kennis te maak. Hulle uur saam is gewoonlik interessant en stimulerend, en vandag is geen uitsondering nie. Tydens die les is sy gelukkig te besig om aan haar eie sake te dink.

      As al my leerlinge maar so was, dink sy nadat Herr Krogh weg is. Met sy mooi maniere en wye kennis van kuns, musiek en die letterkunde is hy een van die aangenaamste en interessantste mense wat sy nog teëgekom het. Maar hy het nog ’n ander eienskap wat haar sommer met hulle eerste kennismaking opgeval het – ’n kalmte van gees wat van hom uitstraal. Tog weet sy dat hy al bitter teleurstellings in sy lewe gehad het. Sy vrou is al jare lank ’n invalide en hy het sy enigste seun en alles wat hy besit het, in die Tweede Wêreldoorlog verloor. Op ’n gevorderde leeftyd het hy alles wat hy met soveel moeite weer opgebou het, laat staan en na ’n vreemde land gekom sodat hy en sy vrou naby hulle enigste dogter kan wees wat die afgelope paar jaar in Suid-Afrika woon.

      Sy maak vir haarself ’n koppie tee en gaan sit op die balkon. Die hitte lê nog soos ’n waas oor die stad. Selfs hier op die vyfde verdieping roer daar nie ’n windjie nie. As sy maar net kon weggaan, dink sy skielik. Êrens by die see waar dit koel en rustig is. Sy hou van die stad met sy wolkekrabbers, polsende lewe en bonte mengelmoes van mense, maar dis of sy skielik ’n renons in alles het.

      Waarom sal sy nie weggaan nie? Sy het lank laas ’n vakansie gehad en die rus sal haar goed doen. Sy het nou wel nie geld in die bank nie, maar Bill-hulle sal altyd vir haar ’n voorskot op Blom van die Berge gee as sy hulle vra.

      Het Cynthia uit haar eie besluit om Bill te verlaat? wonder sy nou. Of het die voorstel van Bill af gekom? Sy sou graag wou weet.

      Sy voel half siek van ontsteltenis. Die spanning van die afgelope maande is besig om na ’n klimaks op te bou.

      Sy weet Bill hou van haar. Hulle was altyd goeie vriende, maar daar het die afgelope jaar geleidelik ’n verandering in hulle verhouding gekom. Dis of hulle skielik met nuwe oë na mekaar begin kyk het. Die aanraking van sy hand, sy stem oor die telefoon, die warm, waarderende blik in sy oë, het haar hart vinniger laat klop. As die telefoon of deurklokkie lui, was haar eerste gedagte: is dit dalk hy? En sy weet Bill geniet haar geselskap net so baie soos wat sy syne geniet. Maar Bill is ’n getroude man met drie jong kinders wat eerste aanspraak op sy liefde en lojaliteit het. Al sê hy ook dat hy Cynthia nie meer liefhet nie, dat hulle totaal onverskillig teenoor mekaar staan, gee dit haar nog nie die reg om tussen hom en sy gesin te kom nie.

      Dis ’n harde wêreld, verseker sy haarself, en elkeen moet veg vir sy geluk, vir wat hy uit die lewe wil hê. Het sy dit nie self ervaar nie? Sy is reeds twee-en-dertig en die jare gaan so gou verby. Waarom aarsel sy nog? Gryp wat die lewe jou bied met albei hande aan; so ’n kans sal jy nie weer kry nie.

      Maar al probeer sy ook haar hart verhard, kan sy nie haar skuldgevoel afskud nie. Sy bly dink aan Bill se kinders. Dis die gedagte aan hulle wat haar nog altyd laat terugdeins het, wat haar nog altyd gehelp het om Bill op ’n veilige afstand te hou.

      Hoe lank is dit nou al dat sy met dié probleem worstel? Snags kan sy nie slaap nie en sy het weke laas aan haar tikmasjien geraak. Al die genot wat sy vroeër uit haar skryfwerk geput het, het verdwyn. En nou, vandag, kom Bill met die nuus dat Cynthia hom verlaat. Dit verander natuurlik die hele saak. As Cynthia hom regtig nie meer liefhet nie, as sy besluit om nie weer terug te kom na hom toe nie, is Bill heeltemal vry om met haar of enigiemand anders te trou.

      Dis ’n lang pad wat sy gekom het, dink sy, tot by hierdie kruispad waar sy haarself vandag bevind.

      Sy het saam met haar twee ouer broers op ’n dorpie in die Noord-Transvaal grootgeword. Haar pa was die predikant. Hulle het al drie goed presteer op skool en haar pa het verwag dat hulle in alle opsigte ’n voorbeeld in die gemeente moet wees. Hulle vriende is altyd streng gekeur en sy het vroeg reeds haar toevlug tot die fantasiewêreld van haar verbeelding geneem.

      Sy het haar broers later stad toe gevolg vir ’n onderwysgraad aan die Universiteit van Pretoria en in haar finale jaar het sy vir Okkie van Zyl ontmoet. Hulle het halsoorkop verlief geraak en is getroud net nadat sy haar graad gekry het – bitter teen haar ouers se sin. Veral haar pa wou hê hulle moes ten minste nog ’n jaar of twee wag.

      Okkie was ’n kunsstudent – ook dit het haar predikantpa teen die bors gestuit – wat hom veral op skilder toegelê het. Terwyl sy skoolgehou het, het hy geskilder. Hy het werklik talent gehad en sy eerste uitstalling het gunstige kritiek uitgelok. Hy het selfs ’n paar van sy skilderye verkoop.

      Met hulle private lewe het dit egter nie so goed gegaan nie. Hulle geaardhede was totaal verskillend en Ria het gou uitgevind dat Okkie lui, selfsugtig en onbetroubaar was. Hy het eenvoudig al die verantwoordelikheid van die huishouding op haar afgeskuif en nooit ’n vinger verroer om haar te help nie. Hulle het baie rusie gemaak en sy het dikwels aan haar pa se vermanings gedink. Miskien sou dit tog beter gewees het as hulle ’n jaar of wat gewag het.

      Sy het Okkie egter nog liefgehad. Omdat sy die sterker, meer volwasse een was, het sy toegewings vir sy kunstenaarstemperament gemaak en van haar kant af hard probeer om ’n sukses van hulle lewe saam te maak. Dit was ’n geweldige slag toe Okkie uit die bloute vir haar sê hy wil ’n egskeiding hê. Hy was verlief op iemand anders en wou so gou moontlik met haar trou. Sy het gesoebat en mooigepraat – ’n egskeiding was ondenkbaar, dit


Скачать книгу