Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit


Скачать книгу
Dis verbasend hoeveel wysheid daar in die brief skuil, hoeveel karakter dit verraai. Bill sal ’n gek wees om so ’n vrou te los.

      So herhaal die geskiedenis homself, dink sy wrang. Maar dié keer is sy “die ander vrou”. Vir die eerste keer sien sy haarself soos Cynthia haar moet sien en die prentjie vervul haar met afkeer.

      Dis of die kamer skielik te klein en te benoud vir haar word, en haastig vlug sy uit balkon toe. Onder en om haar lê die stad waar so baie drome al begrawe lê. Wel, nog ’n droom is daarmee heen.

      En nou? By wie moet sy raad vra? Haar pa is weer getroud en het ’n beroep na ’n ander gemeente aanvaar. Hulle is amper vreemdelinge vir mekaar. Sy weet vooraf wat hy sal sê. Hy ken net twee kleure, wit en swart. Hy sal praat van die breë pad waarop sy wandel, van die jong mense van vandag wat geen beginsels, geen ankers het nie. Miskien is hy reg, maar wat weet hy – veilig in sy ivoortoring van selfingenomenheid – van die probleme en versoekings waarvoor vandag se jong mense te staan kom?

      Haar twee broers is albei predikante en verdiep in hulle huislike en gemeentesake. Sal hulle ooit haar probleem begryp? Nie Albert nie – Albert is sy pa se seun, streng en nougeset. Maar Danie? Danie is van ’n ander stoffasie. Sy kon nog altyd met Danie oor haar probleme gesels; by hom kon sy altyd hulp en raad soek. As Danie maar hier was. Maar Danie woon in Pretoria en hy sal hom morsdood skrik as sy hom dié tyd van die nag moet bel.

      Sy dink aan iets wat Louis Krogh eendag vir haar gesê het toe hy haar van sy lewe in Duitsland en al hulle beproewings vertel het. “As al jou drome en ideale soos ’n kaartehuis om jou ineenstort, as jy vind dat die pad wat jy met soveel verwagtings betree het, skielik doodloop, gaan sit jy nie en bekla jou lot nie. Jy gaan eenvoudig op ’n nuwe ontdekkingsreis. Daar is soveel wêrelde wat wag om ontdek te word – kuns, wetenskap, musiek, letterkunde, filosofie, die sterre, die aarde …”

      As die een pad doodloop, wag daar altyd weer ’n ander een. Miskien selfs mooier en interessanter as die een waarlangs jy gekom het. Jy moet maar net die moed hê om te gaan soek.

      Sy weet nou wat sy gaan doen. Sy sal Donkerfontein toe gaan om groot-groot-groottante Sophia Maria se storie na te vors.

      Hoofstuk 2

      Ria het Danie vroeg die volgende oggend gebel en hom van haar planne vertel.

      “Dit klink interessant,” sê hy. “Ek is ook al jare lank lus om eendag by ons familie in die Karoo te gaan kuier. Nou spring jy my voor. Wanneer wil jy gaan?”

      “Sommer dadelik. Sodra my planne agtermekaar is.”

      “So gou? Wanneer het jy dit besluit?”

      “Gisteraand.” Liggies sê sy: “Ek het jou amper vannag gebel. Ek wou sommer met jou gesels.”

      Daar is stilte.

      “Wat makeer, Ria?” vra hy op heeltemal ’n ander toon. “Jy is nie aan die weghardloop nie, is jy?”

      “Miskien is ek,” sê sy liggies. “Miskien is ek maar net verveeld en op soek na nuwe afleiding. Jy weet mos ons skrywers is nie soos ander, gewone mense nie.”

      “Bog,” sê hy. ’n Rukkie is dit stil terwyl hy die saak oordink, dan sê hy saaklik: “Is jy vanmiddag ná vyf tuis? Ek wil graag so ’n bietjie meer van jou planne hoor.”

      “Dis nie nodig dat jy Johannesburg toe kom daarvoor nie. Ek kan jou alles oor die foon vertel.”

      “Ek wil jou graag sien voor jy weggaan. En ’n mens gesels nie so lekker oor die foon nie. Of hoe?”

      “Ek wil jou baie graag sien. Maar ek weet hoe besig jy is …”

      “Nooit te besig as jy my nodig het nie.”

      “Ek het nie gesê ek het jou nodig nie,” protesteer sy flou, maar hy lag net.

      “Ek sal kom. Sien jou vyfuur.”

      Ria sit die telefoon met ’n gevoel van verligting neer. Sy wil graag met Danie gesels en hoor wat hy sê.

      Sy het gebad en was besig om roosterbrood en tee te maak toe die voordeurklokkie lui. Dis haar buurvrou, Mabel Stark. Haar middeljarige gesig is wit, haar blou oë verskrik, en die diepgoue hare waarop sy gewoonlik so gesteld is, hang ongekam oor haar skouers.

      “Wat makeer, Mevrou?” vra Ria haastig sonder om te groet. “Kan ek help?”

      “Het jy gehoor wat gebeur het?” Mevrou Stark klink effens uitasem. “Issie Geldenhuis is nou net met die ambulans hospitaal toe. Selfmoord probeer pleeg. Sy het glo ’n hele bottel slaappille gedrink.”

      Ria staar haar aan. Sy ken Issie, of ten minste, sy het gedink sy ken Issie. Issie woon op die vierde verdieping van die gebou, net onder haar. Sy is ’n jaar of twee ouer as sy en ’n snelskriftikster by ’n groot prokureursfirma in die stad. ’n Aangename meisie, stil en op haar plek, wat haar nooit met haar bure se sake bemoei nie. Wat sou Issie besiel het om so iets te doen?

      “Wanneer het dit gebeur?”

      Mevrou Stark haal haar skouers op. “Gisteraand of vannag – niemand weet nie. Petrus het haar vanoggend gekry toe hy die woonstel gaan skoonmaak het. Hy het eers gedink sy slaap, maar het blykbaar onraad bemerk en die opsigter gaan roep. Ou dokter Crous was gelukkig nog nie weg nie en hy het dadelik die ambulans ontbied. Maar hy het blykbaar nie veel hoop nie.”

      Ria ruik skielik die roosterbrood wat in die kombuis agter haar brand. “Kom in,” nooi sy vir mevrou Stark terwyl sy kombuis toe hardloop. “Kom drink ’n koppie tee saam met my. Dit sal ons albei goed doen.”

      Terwyl hulle tee drink, gesels hulle oor Issie.

      “’n Mens wonder wat kon gebeur het,” mymer mevrou Stark. “So ’n stil, kleurlose meisie – die regte Sondagskoolonderwyseres-tipe, het ek altyd gedink. Dit het gelyk of botter nie in haar mond sou smelt nie. Maar hoe sê die spreekwoord? Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond.”

      “Ek dink net hoe diep ongelukkig sy moes gewees het, miskien maande al, en niemand van ons het iets vermoed nie.”

      “Dis mos maar die lewe, ons hou almal die blink kant bo. Ons gaan vrolik aan tot daar eendag iets gebeur wat ons dwing om stil te staan en ons lewe weer in oënskou te neem. Dis dan dat die werklikheid net te veel vir jou word. Dis soos daardie jong paartjie wat hulleself tien dae gelede geskiet het – ons weet nou nog nie waarom nie. Maar ons kan darem nie kla nie, nè? In so ’n woonstelgebou gebeur daar altyd iets. Daar is nie ’n gebrek aan drama en opwinding nie.”

      Nie ’n gebrek aan drama en opwinding nie! dink Ria toe mevrou Stark weg is. Ons woon jare lank saam in dieselfde woonstelgebou, sien mekaar gereeld, groet mekaar, wissel soms ’n paar woordjies, maar dis al. Hoe min weet ons van die heimlike vrese en verlangens, die hartseer en eensaamheid in mekaar se harte.

      Sy het van Issie gehou en graag met haar gesels, en hulle het ook af en toe saam geëet. Sy het nooit gedink Issie is ongelukkig nie. Maar ’n mens besluit nie sommer een aand jy is moeg vir die lewe en wil ’n einde daaraan maak nie. Jy moet daartoe gedryf word deur dinge buite jou beheer.

      Issie het min vriende gehad en nooit oor haar familie gepraat nie. Daar was ’n ouerige man wat gereeld vir haar kom kuier het, maar Ria het hom nooit ontmoet nie. Hy was geskei van sy vrou, het Issie gesê. Sy het altyd gedink Issie hou baie van die man, maar as sy haar met hom terg of probeer uitvra het, het Issie net haar kop geskud en gesê: “Ons is goeie vriende, dis al.” Sou die man iets te doen hê met haar selfmoordpoging?

      Hoe sê mevrou Stark? “Ons gaan vrolik aan tot daar eendag iets gebeur wat ons dwing om stil te staan.” Sy het nooit soveel insig van Mabel Stark verwag nie. Sy het altyd gedink sy is leeg en oppervlakkig en net gesteld op haar uiterlike, veral op die mooi goue hare waaraan sy soveel aandag en geld bestee. Nou begin sy wonder hoeveel sy eintlik van Mabel Stark weet.

      Die res van die dag het sy hard gewerk; daar was baie om te doen. Danie het kort ná vyfuur gekom. Hy was vyf jaar ouer as Ria en heelwat


Скачать книгу