Katalekte. Breyten Breytenbach
Читать онлайн книгу.klavierakkoorde
eers Carmen en dan ’n Schubert-lied oefen
die krulkop-voordanser is onbestendig op haar voete
die jonger een in swart se hare is kort
en lei ons nie in versoeking nie
hoekom hiér?
“omdat ons die son se laaste strale vang”
dit was vyf-en-twintig oor sewe
en toe die bejaarde heer verewig
en ewig amen
in die dalende son se stralekrans
hoe hy staan en bewe oor sy kierie
hoe absoluut honger sy oë die danser se ritme
vas probeer vang
hoe hy huil
en hoe sy weier om enige geld uit sy hand te ontvang
’n lewe verjaar
die lewe is heerlik, heerlik, heerlik:
die hart brand soet en seer
in die tongverewiging van drome
waar die wolke bly
en so stil soos ’n oog
rook daardie hart
gevou in ewige beweging
verder as geheue se weggange
wat nie weerklink
is geen liefde nie –
in die uitspansel van jou hand
word nagmusiek uitgemeet
soos ’n blou planeet
en wie ken die vreemdeling se land?
wie sing ooit die wegvlieglied
soos die lewe van vlindervlerke
wanneer verbeelding se lettergrepe
nog bewe in die vingers?
wat vertel die vlees se vokale
van die huweliksoptog
ingeskeep in die gedig?
wie sal met ons praat
van die fees van verloorders?
ons is die vlam wat verborge patrone
van die liefde verviervoud
en met die jare plooi ons
die vel van die aarde
ingeskerp in kwartiere van sien
is die klip se gesig
die klank van donkerte
om ’n maan te onthou
agter die berg
die ontbinding van herinnerde drome
in tuimelende binding
bou die lig
tussen water en wind:
die wolke sal bly
“uiterste helderheid is ’n misterie”
27 Maart 2011, Clifton
die oene-gedig
hoeveel seisoene het ons saam gereis
twee brokke behoeftige syn
op hierdie wentelende planeet
wat net ’n dag en ’n nag lank is
hoeveel pare skoene het ons uitgetrap
deur stof van woestyne en oor tapyte
van paleise
en waar is die sole
en waar is die siele
hoeveel lemoene het ons vir mekaar geskil
skyfie vir skuitjie op die tong gelê
deur hoe baie boorde het ons gewandel
sodat dit aand mag skemer oor die aarde
en die bloeisels soos sterskerwe tydloosheid
ruik en roer
hoe dikwels het ek jou groen hande
op my nek gevoel
en hoe soet was ons soene toe
en weer oen oen oene
wat het ons alles gedink en gedoen
hoeveel ballonne het ons opgeblaas
hoeveel pampoene het ons geëet
in bredies en gebruin met kaneel
hoeveel keer het ons gesien hoe strydende partye
met legioene skitterende visioene
tot versoening kom
en dan weer die wonde breek
hoe sermoene van liefde en blou lemoene
en pampoenskille en bloedbevlekte blasoene
en lippe sonder soene in die grond verswelg word
hoeveel miljoene leeftogte al
dwaal ons deur die niet
twee flodde bedorwe syn
wat mekaar soms herken en verloor
van krip tot die somber linte van krip
en nou die aand aankom
om soos ’n vlug flaminke te vertrek
wat maak ons met die hoene
en die goene en die woene en doene
my liefde?
Re: versoek om lêplek
Vir die vaders van die dorpie van so ’n dertigtal huise
omtrent twee uur met die sneltrein suid van Parys
in die sentrale hoogland waar die landbou nie ryk is nie –
klein kuddes wit beeste af en toe, skape in die kastanjebome
se skaduwees, miskien rape en kool en sonneblomme somers –
julle sal die plek herken.
Dis met die oog op die klein ommuurde begraafplaas
so ’n halfmyl buite die dorp dat ek vir julle skryf.
Sal julle omgee as ek daar begrawe word?
Ek weet julle ken my nie en my aksent is anders. Maar
ek sien daar is dalk nog plek tussen die vyftig of so grafte,
of miskien onder ’n familiesteen weggevrotte name
bo ’n lappie gat waar die geslagte lankal uitgesterf het?
Ek belowe ek sal my gedra, nie lelik sing Saterdagnagte nie,
my deel bydra vir die wurms en die miere ter wille
van gesoute burgerskap en gesonde vergaan.
Ek sal nie aanlê by julle vroumense nie en saam
met julle vroom wees al kan ek nou nie onthou
uit watter geloof ek stam nie.
Julle sal geen las hê van onwelkome besoek van mense
van kleur met gerwe sewejaartjies of gediggies
of dronk lywe nie.
Ek sal selfs my naam verander om in te pas,
iets met die klank van julle beboste heuwels en middagslapie
wolke,