Eendekuil. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Eendekuil - Tryna du Toit


Скачать книгу
sien oom Gideon se gesig word donker by die noem van die veearts. Met afkeer sê die oubaas: “Jy praat van vriendskap, Buurman. Is dit om jou vriendskap en welwillendheid te betoon dat jy dadelik na die prokureurs en die polisie toe gehardloop het?”

      Kosie bloos vererg. Hy voel verleë en ongemaklik onder die skerp, deurdringende blik van Esther se pa, en hy voel vies omdat hy verleë is. Maar hy kyk die oubaas reguit in die oë en sê warm en beslis: “Ek het nie na oom Andries toe gegaan om ’n saak teen oom Gideon te maak nie. Ek het by hom gaan raad soek omdat die man na wie ek altyd gaan as ek raad nodig het, nie hier is nie. Ek is ’n jong boer en die verlies van die ooie is vir my ’n ontsettende skade. Ek wou graag met oom Andries daaroor praat; maar as ’n vriend, nie as ’n prokureur nie.”

      “Dis gerieflik as ’n mens sulke vriende het,” antwoord oom Gideon sarkasties, en Kosie byt op sy tande. “En Ben Pienaar? En die veearts? En die polisie? Ook almal vriende?”

      Kosie sluk swaar, maar hy bedwing hom nog.

      “Konstabel Gerber het vanself gekom, ek het hom beslis nie ontbied nie. Ek weet nie eens waar hy van die voorval te hore gekom het nie. Meneer Pienaar het bloot uit nuuskierigheid saam met oom Andries gekom. Die veearts het ek ontbied omdat ek gehoop het dat hy nog van die skaap sal kan red.”

      “Was dit sy idee dat julle die hond se maag moet uitsny?”

      “Ek kan nie onthou wie se idee dit was nie, hy het dit maar net gedoen. Maar Oom sal tog begryp dat ek my moet beskerm. Ná oom Gideon dié houding ingeneem het, het ek gedink dit sal verstandiger wees om ’n paar voorsorgmaatreëls te tref.”

      “Van watter houding praat jy?” vra oom Gideon warm.

      Net so vinnig en warm kom dit terug: “Oom se onvriendelikheid en Oom se onwilligheid om te erken dat Rex, en Rex alleen, die skuldige is. Ek kan tog nie verantwoordelik gehou word vir sy sondes nie.”

      “Het jy al uitgevind hoe die hond in jou kamp gekom het?”

      “Daar is nêrens deurkruipplek nie. Ons het elke duim draad noukeurig nagegaan. Hy moes eenvoudig bo-oor gespring het. Ongelukkig het die reën alle spore vernietig. Maar dit maak nie saak hoe hy daar gekom het nie. Dis Oom se hond en Oom is verantwoordelik vir wat hy aanvang.”

      “Is dit wat jou wetsgeleerde vriende vir jou sê? Ek glo nie Rex kon bo-oor die jakkalsdraad gespring het nie. Iemand was nalatig en het die hek laat ooplê.”

      “Iemand? En aan wie dink Oom as Oom sê iemand?”

      Oom Gideon maak ’n vinnige, ongeduldige gebaar met sy hande. Dis duidelik dat sy ergernis by die oomblik hoër styg.

      “Enigiemand. Jou werkers, myne, trekarbeiders wat verbygekom het.

      “Of dalk een van die kinders?” vra Kosie onskuldig.

      Hy weet hy is moedswillig, maar sy geduld is ook op. “Esther ry dikwels daardie pad.”

      Oom Gideon ruk soos hy hom vererg.

      “Esther! My dogter ’n hek laat ooplê! Jy word nou beledigend, kêrel! My dogter het op ’n plaas grootgeword en nie in ’n stad nie, en sy het meer kennis van boerdery en verstand as baie jong snuiters wat ek ken wat met ’n bietjie boekgeleerdheid vir hulle verbeel dat hulle nou ook kan boer. Jy is nog nat agter jou ore, man. Wag nog ’n paar jaar voor jy saampraat.”

      “Sê Oom ek is nie ’n goeie boer nie?” wil die erg beledigde Kosie weet.

      “Ek sê jy is nog nat agter jou ore. Van jou boerdery weet ek niks nie.”

      “Oom weet darem dat ek goeie skaap het?” vra hy betekenisvol. “So goed soos enige in die distrik?”

      Oom Gideon praat nie en ná ’n oomblik vervolg Kosie: “En noudat ons weer by die kwessie van die skaap gekom het, sal Oom vir my sê of Oom vir my skadevergoeding gaan betaal, of nie?”

      Oom Gideon se stem is koud en snydend: “Ek was die hele tyd van plan om jou te vergoed. Jy was verniet so haastig om prokureurs toe te hardloop. Laat ek hoor op watter bedrag jy jou skade stel?”

      “As dit oom Gideon se skaap was, wat reken Oom sou die skade gewees het?”

      “Ek vra vir jou. Jy en jou prokureurs het blykbaar alles al haarfyn uitgewerk.”

      ’n Lang ruk kyk Kosie na die ouer man, dan sê hy stadig: “Vyfhonderd pond sal nie my skade dek nie …”

      “Vyfhonderd pond! Jy moet stapelgek wees as jy dink dat ek jou ’n pennie meer as honderd pond sal betaal.”

      “Honderd pond vir tagtig uitsoekooie wat binne ses weke sou lam!” Kosie lag spottend. “Liewe aarde, Oom, slagskape haal twee pond stuk!” Hy staan op en vervolg: “Ek is jammer ek het met Oom kom praat. Ek het gedink dat ons die saak soos redelike, verstandige mense kan bespreek, maar ek het blykbaar ’n groot fout gemaak. Dit sal nie weer gebeur nie. Dag, oom Gideon.”

      Oom Gideon se gesig is rooi van ergernis. Hy maak of hy nie Kosie se uitgestrekte hand sien nie en ná ’n oomblik trek Kosie dit terug.

      “Ek is jammer, oom Gideon,” sê Kosie, bitter teleurgesteld oor die wending wat sake geneem het.

      “Ek is nie jou oom Gideon nie,” snou die oubaas hom toe. “Die naam is meneer Bruwer. En in die vervolg sal ek dit waardeer as jy op ’n uitnodiging wag voor jy weer jou voete op Skeerpoort sit.”

      “Ek sal dit onthou!” Kosie is nou wit van ontsteltenis. Hy draai om en stap uit.

      ’n Lang ruk kyk oom Gideon die jong ruiter agterna, dan neem hy sy hoed en kierie en stap tuin toe.

      Tant Lenie verskyn op die stoep met die koffie wat sy gou gaan maak het toe sy die besoeker gewaar het, maar tot haar teleurstelling en ontsteltenis sien sy dat hy alreeds weer weg is. Sy roep na haar man, maar hy maak of hy haar nie hoor nie en stap vinnig aan. Met ’n sug draai sy om en stap weer met die koffie terug kombuis toe. Sy skuif die koffiekan nader aan die stoof waar dit warm kan bly en gaan sit by die kombuistafel om maar solank haar koffie te drink.

      Lenie Opperman is byna een en twintig jaar gelede getroud met Gideon Bruwer, ’n man byna tien jaar ouer as sy. Hy was destyds ’n fluks, vooruitstrewende jong boer met groot planne en ideale vir die toekoms; sy ’n baie jong onderwyseressie wat net begin skoolhou het. Gideon het byna met die eerste oogopslag op die mooi jong meisie verlief geraak en dit het hom ook nie lank geneem om haar sy vrou te maak en haar plaas toe te bring nie.

      Sy dorpsnooientjie, het hy haar altyd tergend genoem, veral in die begin toe sy nog nie so handig en vinnig was met al die werkies wat van ’n plaasvrou verwag word nie. Maar sy het vasgebyt en deurgedruk, en hoewel Gideon vandag nog soms van sy dorpsnooi praat, weet sy dat dit ’n liefkosing is en dat hy haar lange jare al as ’n knap, noulettende huisvrou waardeer.

      Haar gesondheid het die afgelope jare heelwat te wense oorgelaat en dit het inspanning gekos om haar plek in die huis vol te staan. Sy kla nie veel nie, maar fyn plooitjies het al vinniger hul verskyning op haar gesig gemaak, en selfs die lang vakansie by die see het nie veel gedoen om haar beter te laat voel nie.

      Sy voel nou baie bekommerd. Gideon het seker weer met sy jong buurman woorde gehad, dink sy. Hy kan soms tog so hardkoppig, so verkeerd en onverstandig wees, en hy is altyd prikkelbaarder net ná die kinders terug skool en universiteit toe is. Sy het al geleer om dan maar versigtig en geduldig met hom te werk. Maar dit sou Kosie nie weet nie. Kosie voel natuurlik ongelukkig en ontsteld oor die verlies van sy skape en as Gideon verkeerd en ontegemoetkomend is, kan dit maklik op ’n rusie uitloop. En harde woorde tussen hulle sal die saak tog geensins verbeter nie. Netnou-netnou is daar nog ’n hofsaak, maar sy hoop tog dat Gideon nie so onverstandig sal wees nie.

      Die spulletjie sal Gideon seker ’n paar honderd pond kos, dink sy bekommerd. En dit kom nou op ’n baie slegte tyd. Hy het nou net weer daardie duur perd so bitter teen haar sin gekoop. Maar Gideon kan nou eenvoudig nie ’n mooi perd weerstaan nie, en daardie swart vierjaaroud-volbloedhings is seker een van die mooistes wat sy nog gesien het. As sy planne


Скачать книгу