Eendekuil. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Eendekuil - Tryna du Toit


Скачать книгу
nie. Haar vraag ontstem hom meteens weer. Hy hoop nog altyd Isak sal kom boer.

      Die motor het voor die deur stilgehou en ’n man kom nou met die paadjie na die huis toe aangestap.

      “Naand, Buurman,” sê oom Gideon nog voor die jong man in die ligstreep kom, want hy het alreeds die motor herken en die rooigoue hare sien blink. “Is dit die reën wat jou hier bring?”

      “Naand, oom Gideon. Naand, Esther.”

      Hulle groet en terwyl haar hand in sy ferm greep rus, kry Esther ’n skielike gevoel van onrus. Iets is bepaald verkeerd. Sy is seker daarvan. Wat sou gebeur het? Het haar pa se beeste dalk weer in sy lusern gekom? Gespanne wag sy, sy weet nie waarvoor nie.

      Maar haar pa merk blykbaar geen onraad nie.

      “Kom binne, Buurman. Ek en Esther het net na die reën kom kyk, maar ek sien dit is nog glad nie verby nie. Het Eendekuil ook mooi reën gekry?”

      “Dit het pragtig gereën, Oom.” Die jong man se stem is swaar, sonder die lewenslus en opgeruimdheid wat ’n mens sou verwag het. “Kan ek asseblief ’n bietjie alleen met oom Gideon gesels?”

      Nou kom oom Gideon ook agter dat daar fout is.

      “Natuurlik! Kom ons stap sommer studeerkamer toe. Die vrou en die kinders is daar binne besig. Esther, dis koel hier buite, jy moet liewer ingaan, en vra jou ma om vir ons iets te drinke te maak.”

      “Ja, Pappie.”

      Wat het gebeur? wonder sy onrustig toe sy wegstap. Kosie lyk moeg en ongelukkig.

      Die studeerkamer het die hele dag toegestaan en ruik effens bedompig. Oom Gideon stoot die vensters oop en gaan sit op ’n stoel langs die groot lessenaar wat in die middel van die kamer staan. ’n Paar oomblikke kyk hy na die jong man voor hom, dan vra hy vriendelik: “Wat makeer, Buurman? Kan ek help?”

      Kosie aarsel. Noudat hy hier is, weet hy nie hoe om te begin nie. Dis nie ’n aangename taak wat hy het nie. Maar dis tog ook nie sy skuld nie. Hy het oom Gideon al self teen die hond gewaarsku. Hy sien die oubaas wag en stadig sê hy: “Ek het vandag groot skade gehad, oom Gideon. Rex het by die sewentig van my beste lammerooie verskeur.”

      Dis of oom Gideon eers nie mooi begryp wat hy sê nie. Rex! Esther se hond! Ongelowig en met verbasing op sy gesig kyk hy na die jong man voor hom, dan merk Kosie die rooi gloed van ergernis wat na sy gesig spoel.

      “Dis ’n gevaarlike beskuldiging om te maak, Buurman,” sê hy.

      “Ek is jammer, oom Gideon, maar ongelukkig is dit waar. Ek het vanmiddag net by die huis gekom toe ou Jonas my kom roep. Hy het na een van ons muile gesoek toe hy op die gedoente afgekom het. Die hond moes rasend gewees het. By die sewentig ooie was dood of so vermink dat ons hulle daar en dan moes keelafsny. Daar kan nog meer wees, dit het donker geword nog lank voor ons klaar was.”

      Oom Gideon staan op en maak keel skoon. Hy lyk baie ontsteld.

      “Magtig, dis ’n lelike affêre, man. Ek is verskriklik jammer. Is jy seker dat dit Rex was? En was hy alleen? Dis vir my moeilik om te glo dat een hond soveel skade kon aanrig.”

      “Daar is nie die minste twyfel nie, oom Gideon. Ek ken Rex te goed. Maar ek sal bly wees as Oom môreoggend vroeg self sal oorkom.”

      ’n Rukkie is daar stilte. Oom Gideon lyk oud en moeg. “Waar is die hond nou?” vra hy met ’n tikkie onrus in sy stem.

      “In die waenhuis op Eendekuil.”

      “Lewendig?”

      “Natuurlik nie. Ek sê vir Oom die hond was rasend en uiters gevaarlik. Hy het soos ’n besetene daar tussen die ooie te kere gegaan.”

      “Hoe laat was dit?”

      “Seker omtrent halfvier toe Jonas my kom roep het.”

      “Waarom het jy my nie eerder laat weet nie?”

      “Dit het my later bygeval dat ek dit seker moes gedoen het, maar ek het op daardie oomblik nie daaraan gedink nie. Die reën was baie naby en ek en Jonas het ons hande vol gehad. Ek kon die arme ooie nie ’n oomblik langer in hul ellende laat nie. Ek het nie eens my ander mense laat roep nie. Ek en Jonas het dwarsdeur die reën gewerk tot die donker ons later daar kom vang het. Maar die bewyse sal môre nog almal daar wees,” eindig hy grimmig.

      Die oubaas kry weer ’n kleurtjie, en hy bedwing hom met moeite. Dis ’n lelike besigheid hierdie. Hy weet nie bra wat om te sê nie. Hier is hy al die hele middag in die wolke oor die lieflike reëns wat val en die hele tyd lê en wag dié nuwe skade vir hom. Kosie is blykbaar baie seker dat dit Rex is. En dan sal hy moet regstaan vir die skade. Maar hy kan gou genoeg uitvind. Swaar en moeisaam, met ledemate wat vanaand ongewoon stram is, stap hy na die deur.

      “Esther,” roep hy, “kom ’n bietjie hier.”

      Sy kom dadelik en bly aarselend in die deur staan. Met haar wit rok en die vlegsels om haar kop lyk sy vir Kosie heeltemal anders as gewoonlik: ouer, sagter en vrouliker. Vinnig kyk sy van haar pa na Kosie, maar nie een van hulle praat nie.

      “Wat is dit?” vra sy met droë lippe.

      “Waar is Rex?” vra haar pa. Sy stem is skor en kortaf. Gespanne wag Kosie haar antwoord af en hy hoop meteens vuriglik dat hy tog verkeerd moet wees, dat dit nie Rex is wat hy vanmiddag daar doodgeskiet het nie.

      “Ek weet nie,” fluister sy. “Hy is al die hele middag weg. Kiewiet sê hy het hier weggeraak net ná ons dorp toe is.” Haar pa en Kosie is albei stil. Hulle kyk nie een na haar nie en met ’n stem wat skielik helderder klink, vra sy: “Waar is Rex?”

      Dis Kosie wat na haar toe gaan.

      “Ek is jammer, Esther … maar ek moes hom vanmiddag doodskiet.”

      Hy sien die ongeloof in haar oë. Verslae vra sy: “Doodskiet? Waarom?”

      “Omdat hy my skape verskeur het!”

      ’n Paar tellings kyk sy na hom en haar oë skiet vol trane.

      “Dis nie waar nie,” sê sy onstuimig. “Ek glo jou nie. Jy het nooit van Rex gehou nie, daarom het jy hom doodgeskiet. Dis seker jou eie hond wat die skaap gebyt het.”

      Sy draai om en hardloop by die studeerkamer uit. ’n Rukkie is daar stilte, dan sê oom Gideon swaar: “Sy is ontsteld. Jy weet sy was baie geheg aan die hond.”

      “Ek is jammer,” sê Kosie, maar sy stem is ergerlik. “Ek het Oom meermale teen die hond gewaarsku. Ek het hom nooit vertrou nie. Oom kan nog dankbaar wees dat dit skape is wat hy verskeur het en nie mense nie.”

      Hy wou nie bly om tee saam met die gesin te drink nie, en oom Gideon het ook nie daarop aangedring nie. Die besigheid het hom baie ontstel. Hy moet daaroor nadink. Hy het belowe dat hy vroeg die volgende oggend sou oorkom Eendekuil toe en daarmee moes Kosie tevrede wees.

      Die reën het nog steeds geval toe Kosie van Skeerpoort af weg is, ’n sagte, deurdringende reën wat die droë kors van die aarde heerlik deurweek.

      Die geluid van stromende water is oral en die spruit, wat jare lank dor en droog gelê het, is ’n sterk, bruisende stroom.

      Maar die blydskap en juiging wat daar vanaand in sy hart moes wees, is nie daar nie. Hy sien weer sy arme, verskeurde ooie, hy hoor nog hul jammerlike geblêr. Hy het so reikhalsend uitgesien na sy eerste eie lammeroes, soveel sorg en moeite aan die ooie bestee gedurende die warm, droë maande.

      Sy uitsoekooie …

      En asof dit nie genoeg is nie, is daar ook nog die herinnering aan die verwyt wat hy in die jong meisie se oë gelees het toe hy aan haar moes sê dat hy haar hond doodgeskiet het.

      Hoofstuk 4

      Hoofstuk 4

      Dit is nog half donker toe Kosie die volgende oggend wakker word. Dadelik staan hy op en begin aantrek. Sy hart voel swaar, die gedagte aan sy teleurstelling en verlies hang soos ’n donker wolk oor


Скачать книгу