Eendekuil. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Eendekuil - Tryna du Toit


Скачать книгу
daar onder in die leegte.

      Selina roep hom om te kom eet.

      Sy eenvoudige aandete bestaan uit brood, ’n stukkie koue vleis, vrugte en melk, maar hy eet smaaklik met die gesonde eetlus van ’n jong man wat heeldag hard in die buitelug gewerk het.

      Ou Selina kom binne om die skottelgoed te verwyder en hy trek hom neer in ’n gemaklike stoel met Boel aan sy voete en begin tydsaam die koerante lees wat vandag met die pos gekom het.

      Hy het vandag hard gewerk en daar is ’n gevoel van rus en tevredenheid in hom. Sy lammerooie is pragtig. Gelukkig dat hy daardie lusernkampie het om hulle in te hou. As dit net wil reën sodat daar vir die winter ook kos kan wees!

      Ná ’n rukkie word dit stil in die kombuis en hy en Boel is alleen. ’n Uur of wat lees hy verder, dan staan hy op en begin aanstaltes maak om te gaan slaap.

      ’n Rukkie staan hy buite onder die sterre wat vanaand so besonder helder flikker. Liggies roer die wind deur die toppe van die hoë bloekombome langs die huis. Die nag is stil en vreedsaam. Hy hoor hoe die gesang van die kriekies helder in die stilte weerklink, en terwyl hy nog so staan en wag met die aandluggie koel en verfrissend teen sy slape, hoor hy die swaar, diep stem van ’n brulpadda nie ver van die huis af nie.

      Sy hart klop opgewonde. As die brulpadda sy stem verhef, dan is die reën nie ver nie. So het die ou mense altyd voorspel en hulle het gewoonlik gelyk gehad.

      Hy staan nog daar, onwillig om in te gaan, die diep gebrul van die padda soos musiek in sy ore, toe hy weerlig laag teen die westerhemel sien uitslaan. Lank staan hy en wag op ’n herhaling van daardie weerlig. Hy begin net dink dat sy oë hom gekul het toe die weerlig weer teen die naghemel flikker, nou regoor die windpomp en heelwat meer na die noordekant toe as die eerste keer. ’n Oomblik was dit daar, toe is die nag weer donker en stil.

      Met nuwe hoop in sy hart gaan die jong man uiteindelik kamer toe. Sy kop het skaars aan die kussing geraak of hy voel hoe die slaap hom oorval. Hy sien weer sy mooi lammerooie wat so rustig in die klein kampie wei, hy sien die weerlig wat vanaand vir die eerste keer ná baie maande weer laag teen die horison uitgeslaan het, en daar is weer daardie gevoel van innige rus en tevredenheid in hom.

      Dan dink hy nie meer nie.

      Hoofstuk 2

      Hoofstuk 2

      Kort ná middagete die Woensdag is Kosie en Boel al weer op pad huis toe in sy tweedehandse blou Chevrolet-motortjie. Hy is vroeg die oggend dorp toe met die bedoeling om al sy inkopies en goed gedurende die oggend af te handel, dan in die middag tennis te speel en selfs miskien ’n nooi te soek om die aand saam met hom bioskoop toe te gaan. Maar toe hy teen twaalfuur sien hoe pragtig die wolke in die weste begin saampak, het hy dadelik van voorneme verander. Hy wil op Eendekuil wees as die eerste druppel reën daar val.

      Hy is haastig om by die huis te kom en moet eenvoudig vinnig ry op die slegte sinkplaatpad as hy nie uitmekaar wil skud nie. Maar ten spyte van die slegte pad voel hy ’n groot opgewondenheid in hom. Hy wil sing en lag en skree as hy na daardie blou weer daar voor kyk.

      “Vandag spoel ons weg, ou Boel,” sê hy en sit ’n oomblik sy hand op die hond se nek. Dan begin hy sing, ’n bietjie van die wysie af, maar met groot genot:

      Aai aai, die witborskraai,

      Hiervandaan na Mosselbaai.

      Oompie wil na Tannie vry,

      Tannie trek haar neus opsy.

      Opgewonde blaf Boel saam en Kosie kry groot lag vir hulle twee. Stemmiger ry hy verder. Kort-kort loer hy maar weer besorg na die weste. As die pragtige weer tog net nie verbygaan sonder om sy seën oor hulle uit te stort nie. Maar hy dink weer aan die weerlig wat die laaste paar aande aanhoudend geslaan het, aan die wind wat nog die hele tyd reg uit die ooste waai, en sy sekerheid dat hulle reën eindelik hier is, groei vinnig aan.

      In sy motorspieëltjie sien hy ’n groot swart motor met ’n lang stofstreep agter hom aangejaag kom. Dit lyk na sy buurman, oom Gideon Bruwer, se motor. Oom Gideon is ook haastig om by die huis te kom, dink hy. Op Skeerpoort het daar die afgelope twee jaar maar baie min reën geval en die veld is kaal en bruin en uitgetrap. Hy weet oom Gideon was alreeds verplig om van sy skaap te verkoop wat hy baie graag nog ’n paar maande langer sou wou gehou het.

      In ’n stofwolk ry die Bruwers by hom verby. Oom Gideon druk die toeter van sy motor en die kinders en tant Lenie waai vriendelik vir Kosie. Ewe plesierig waai Kosie terug, hoewel hy byna verstik in oom Gideon se stof.

      Skeerpoort het sowat vyf jaar gelede ná die skielike afsterwe van oom Bêrend du Plessis in die mark gekom. Hy onthou dit nog goed, want dit was net so ’n rukkie ná hy en Magriet saam met Barry na Wag ’n Bietjie gekom het. Oom Gideon het glo vroeër in Prieska se wêreld geboer, maar hy was al lankal op die uitkyk na ’n geskikte plaas in dié kontrei. Oom Gideon is ’n wakker, vooruitstrewende boer en ’n groot aanwins vir die distrik. Hy het al heelwat verbeterings op Skeerpoort aangebring, maar die afgelope maande het die droogte hom ook lelik geknyp. Hy was altyd gaaf en vriendelik teenoor Kosie en hoewel hy heelwat ouer as Kosie is, het die jong man soms daar gaan kuier en dan het hy en oom Gideon heerlik gesels. As dit ook nie was dat Magriet en Barry so naby was nie, sou hy seker meer dikwels daar gekuier het. Nou het hy maar altyd as daar ’n los uurtjie was, Wag ’n Bietjie toe gegaan. Dit was ook na Barry wat hy gegaan het as daar moeilikheid was of as hy raad nodig gehad het.

      Hier is maar min jong mense van sy ouderdom in die omtrek. Dis almal ouer, gevestigde boere met wie ’n jong man nie maklik gesels oor die drome en ideale wat hom besiel nie. Oom Gideon se kinders is weer jonger as hy en ongelukkig die grootste gedeelte van die jaar weg op skool en universiteit, maar hulle het nogtans die afgelope jare groot maats geword en vakansietye as hulle tuis is, is dit ’n gesellige heen-en-weer-kuiery. Veral Isak, ’n skrander, stil seun van sowat agtien jaar, kuier graag by hom op Eendekuil. Esther is net ouer as Isak, ’n tweedejaar op Stellenbosch, maar so ’n klein rabbedoe dat ’n mens nooit aan haar as ’n jong dame kan dink nie. Sy kan pragtig perdry en dis waarlik ’n plesier om haar in die saal te sien.

      Oom Gideon is nie net ’n skaapboer nie. Hy is ook ’n teler van volbloedperde, en die mooiste en spoggerigste van oom Gideon se perde is gewoonlik Esther se ryperde as sy met vakansie tuis is. Jammer dat hy hulle die vakansie so min gesien het, maar tant Lenie se gesondheid was nie so goed nie en die hele gesin het gedurende Desember en Januarie op Hermanus vakansie gehou. Die paar keer dat hy Esther gesien het ná hulle teruggekom het, was sy te perd, geklee in ’n verbleikte hemp en ’n langbroek, haar goudbruin hare los in die wind, bruingebrand met sproete oor haar neusie, ’n volkome teenstelling met Elaine, die blonde nooientjie wat hy vanaand bioskoop toe wou geneem het.

      Esther sal seker nooit Elaine Pienaar se sjarme hê nie, besluit hy. Dis nie iets wat ’n mens aanleer nie. Jy word daarmee gebore. Elaine was nogal ’n bietjie vies toe hy aan haar verduidelik het dat hy dadelik plaas toe moet gaan en nie vir die bioskoopvertoning kon bly nie. Maar toe hy die wolke sien saampak, kon niks hom in die dorp hou nie. Hy sal maar ’n ander aand spesiaal ingaan om Elaine bioskoop toe te neem.

      Dis seker al weer tyd vir Esther en Isak om terug te gaan universiteit toe, dink hy. Hy moet ’n plan maak om hulle te gaan groet. Isak het hom verlede week ’n hele dag gehelp om sy ou motortjie uitmekaar te haal en weer inmekaar te sit. Hy kan gerus weer vir hom gaan dankie sê. Die seun is besonder oulik met masjiene. Hy het ook nooit sy belofte nagekom om vir Esther daardie boek te neem wat hy Kersfees present gekry het nie.

      Haar mense noem haar Koekie, maar sy kan so kwaad en verleë word as hy haar met die bynaam terg.

      “Waar op aarde het hulle aan so ’n naam gekom?” het hy haar geterg toe hy met hulle begin maats maak het.

      “Dis omdat ek so mooi en soet was toe ek klein was dat al die mense my so genoem het,” het sy koel en uit die hoogte verklaar, maar daar het ’n warm blos op haar wange gelê.

      “Ongelooflik,” het hy met ’n doodernstige gesig gesê. “Maar ’n mens verander natuurlik baie soos jy ouer word.”

      As hy


Скачать книгу