Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit


Скачать книгу
gedink ek sal self die ander twee besoeke doen – die plase is nie ver van mekaar af nie – maar ek het nou net gehoor ek moet dalk nog vanmiddag ’n galblaasoperasie doen. Die pasiënt kom met die drieuurtrein en ek kan nie nou weggaan nie.”

      Karin se oë glinster.

      “’n Galblaas! Ek sal dit graag wil sien.”

      “Ongelukkig is daar die plaasbesoeke,” herinner hy haar droogweg.

      “Natuurlik.” Haar stem is weer koel en saaklik. Net ’n klein rukkie in sy geselskap is gewoonlik genoeg om alle warmte en spontaneïteit by haar te laat verdwyn. “As jy my die nodige inligting sal gee, kan ek dadelik gaan.”

      “Ek het gedink ek sal self gaan,” herhaal hy tot haar verbasing. “Daar was verlede nag ’n bakleiery op een plaas en dit klink nie na ’n lekker storie nie.”

      Sy staar hom koel aan.

      “Ek gaan soontoe as dokter, ek lê nie ’n sosiale besoek af nie.”

      Hy glimlag effens en sê: “Ek vra om verskoning, dokter De Wet.”

      Kortliks verduidelik hy die pad en sy maak ’n paar haastige aantekeninge. Dan vervolg hy: “Daar sal seker ’n paar wonde wees wat toegewerk moet word – sorg maar dat jy alles byderhand het. En as een van die pasiënte hospitaal toe moet kom en jy nie reëlings kan tref vir iemand om hom dorp toe te bring nie, is ek bevrees jy sal hom maar self moet inbring.”

      “Natuurlik,” antwoord sy weer, asof dit die natuurlikste ding in die wêreld vir haar is om ’n manspasiënt saam met haar rond te ry.

      Toe sy opstaan om te gaan, sê sy: “Daar is nog iets wat ek vanmiddag met dokter Roux wou bespreek het, maar aangesien hy nie hier is nie, kan jy my miskien raad gee.”

      Stilswyend wag hy dat sy aangaan. Hy is heeltemal bewus van die feit dat sy gereeld met haar probleme na Isak Roux toe gaan. Dis slegs wanneer Isak nie beskikbaar is of haar nie kan help nie, dat sy na hom toe kom.

      “Ek soek ander losies,” vervolg sy toe hy nie antwoord nie. “Ek is nie baie gelukkig by die hotel nie.”

      “Daar is geen rede waarom jy in die hotel moet bly as jy nie gelukkig is daar nie,” antwoord hy dadelik. “Het jy ander blyplek in gedagte?”

      “Mien sê mevrou Rina Louw sal my neem – ek wou haar juis vanmiddag nog gaan sien het.”

      “Tannie Rina?” Hy kyk ’n paar tellings fronsend na haar, dan sê hy: “As tannie Rina bereid is om vir jou losies te gee, hoef jy nie verder te soek nie.”

      “Ek is bly om dit te hoor,” sê sy. “Ek sal enige verskil in die onkoste natuurlik self betaal!”

      “Ons kan later daaroor gesels,” sê hy, en kop in die lug stap sy ’n paar oomblikke later by die spreekkamer uit.

      Hugo Slabbert kyk haar peinsend agterna. Hy dink aan die rit wat vir haar voorlê en hoewel hy spyt is dat die onaangenaamste deel van die werk vandag op haar val, voel hy dat dit in die omstandighede miskien ’n baie goeie ding is.

      Dit sal haar eens en vir altyd laat besef dat die werk van ’n algemene praktisyn op ’n dorp soos Doringlaagte nie vir ’n vrou bedoel is nie.

      Hoofstuk 9

      Karin het eers daaraan gedink om van die verpleegsters te vra om saam met haar te ry. Dit was so ’n volmaakte herfsmiddag en hulle sou dit miskien geniet om uit te kom. Maar Kitty, wat eintlik die een is wat aangebied het om saam te ry, was vanmiddag aan diens en Karin besluit om maar liewer alleen te ry.

      Tot dusver het sy die plaasritte nog glad nie eentonig gevind nie. Daar het altyd ’n nuwe ervaring aan die einde van elke rit gewag. Dat sy nog altyd helder oordag kon uitgaan, het natuurlik gehelp om dit makliker te maak en hoewel sy reeds ’n paar keer verdwaal het, was sy gelukkig nog altyd voor donker weer terug in die dorp. Die tyd moet egter kom dat die nag haar op vreemde paaie sal oorval en sy probeer so goed moontlik die verskillende paaie onthou sodat sy later selfs in die nag, as die donkerte reeds bekende bakens uitgewis het, nog haar pad sal kan vind.

      Sy kom gouer as wat sy verwag het by die hek met die naambord Oupossie. In die veertien dae het sy geleer dat jy maar moet aanstoot as jy al jou plaasritte voor donker wil klaarkry. Sy besluit om reguit na die plaashuis toe te ry soos Isak Roux haar eenkeer aangeraai het. Daar kan sy hoor hoe om by die werkers se huise te kom, en as die boer gaaf is, stuur hy dalk nog iemand saam om haar die pad te wys.

      Arrie du Randt het op die stoep gesit en koffie drink toe hy die dreuning van die motor hoor.

      “Dis seker die dokter,” sê hy vir sy ma, wat besig is om haar varings en ander stoepplante nat te gooi. “Hy sal seker eers gou ’n bietjie koffie wil drink.”

      “Die koffie is op die stoof,” antwoord sy. “Ek hoop tog dis die dokter – die arme Jakop het al swaar genoeg gekry.”

      “Dis sy verdiende loon,” is Arrie se ongevoelige opmerking. “Die eerste naweek dat ons almal van die huis af weg is, hou hy partytjie en gaan lol boonop met ’n ander man se vrou. Wat anders as moeilikheid het hy verwag?”

      “Ag, Arrie, Jakop kon mos nie geweet het almal sal saam baklei nie,” berispe sy ma hom, hoewel sy goed verstaan hoekom haar seun so omgekrap is. Die werk op die plaas het feitlik tot stilstand gekom en dit sal dae duur voor Jakop en die ander beseerdes weer op hulle pos is.

      “Wel, hy behoort van beter te weet,” sê hy. Dan kyk hy fronsend na die rooi tweesitplekmotor wat tussen die rantjies verskyn. “Dis nie ’n dokter nie,” vervolg hy vies. “Deksels, wanneer is een van hulle dan van plan om te kom? Ek sal seker maar weer moet bel.”

      “Gaan ontvang darem eers die mense,” sê sy moeder. “Miskien vra hulle net die pad of iets – ek ken glad nie die motor nie.”

      “Dis ’n vrou,” sê Arrie terwyl hy opstaan. Nog steeds vies oor die dokter wat nie opdaag nie, stap hy die vreemdeling wat so ontydig hier aankom, ongeduldig tegemoet.

      Sy humeur koel dadelik af toe hy die besoeker van naderby sien. Die meisie het ’n bruin romp met ’n wit bloese en ’n los rooi baadjie aan en jy kan haar deur ’n ring trek. Sy dra nie ’n hoed nie en die son blink in haar kort swart hare. Die besondere blou van haar oë onder die mooigevormde swart wenkbroue tref hom dadelik en hy dink dat hy lanklaas so ’n mooi meisie gesien het. Wat sy ook al wil hê, hy is bly dat sy by Oupossie aangekom het.

      “Goeiemiddag,” groet hy vriendelik terwyl hy sy hand na haar toe uitsteek. “Ek is Arrie du Randt.”

      Sy lê haar hand in syne en kyk glimlaggend op na hom en van daardie oomblik af was Arrie haar gewillige slaaf.

      “Goeiemiddag, meneer Du Randt,” sê sy. “Ek is dokter De Wet.”

      Dokter De Wet? ’n Oomblik staar hy haar onbegrypend aan, dan verhelder sy gesig meteens. Natuurlik! Die nuwe jong doktertjie. Maar net so skielik verdonker sy gesig weer en vererg sê hy: “Maar waarom stuur hulle dan vir jou, dokter De Wet? Waarom kom hulle nie self nie? Dis nie ’n vroumens se werk dié nie.”

      “Is dit aan my bekwaamheid wat jy twyfel, meneer Du Randt?” vra sy en haar blou oë glinster ondeund.

      “Dit het niks met die saak te doen nie,” sê hy ontevrede. “Hulle behoort albei van beter te weet as om ’n vrou te stuur. Ek is baie lus en bel dadelik vir Hugo Slabbert.”

      “Dit sal jammer wees,” sê sy en ’n klein glimlaggie huiwer nog om haar mondhoeke. “Dit gaan juis maar moeilik om dokter Slabbert te oortuig dat ’n vrouedokter net so goed soos haar manlike kollegas is. As daar nog klagtes van die publiek ook bykom …”

      “Ek is jammer,” sê hy boetvaardig. “In daardie geval sal ek natuurlik nie bel nie. Maar kom nader – my ma het koffie op die stoof.”

      “Ek het eintlik net die pad kom vra,” sê sy. “As jy nie omgee nie, sal ek liewer dadelik gaan. Ek weet nie hoe lank ek besig sal wees nie en ek


Скачать книгу