Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit


Скачать книгу
het die telefoon een keer ver weg hoor lui, maar ’n huishulp het geantwoord en indien dit ’n boodskap vir die dokter was, sou hy seker eers later daarvan in kennis gestel word.

      Daar was geen haas nie en hulle het gesels oor die opera, oor boeke, oor alles behalwe siek mense en hulle kwale. Dit was eers later toe hulle weer in die sitkamer voor die vuur sit en dokter Silbur rustig ’n sigaar sit en rook dat hy by die eintlike rede vir die ete-uitnodiging kom.

      “Ek het by Hugo gehoor dat jy hulle tot einde Junie help. Ek weet nie of jy al enige ander planne gemaak het nie, maar ek wil graag vir jou ’n aanbod maak.”

      In stilte wag Karin. Sy wonder of Hugo vanoggend vir dokter Silbur gesê het dat sy net tot Junie aanbly. Dit beteken hy het reeds besluit sy sal gaan en wag maar net die tyd af om haar te sê. Sy voel meteens ontsteld en vererg, en ook bitter teleurgesteld. Hy het gesê hy sal haar ’n kans gee … maar hy het die hele tyd reeds klaar besluit.

      Heeltemal onbewus van die gevoelens wat sy woorde by die jong meisie wakker gemaak het, vervolg dokter Silbur tydsaam: “Ek en my vrou wil graag Augustusmaand vir drie maande oorsee gaan en ek sal met graagte my praktyk in jou hande laat.” Hy kyk ondersoekend na Karin, maar sy weet nie dadelik wat om te sê nie en hy vervolg: “Ek sal jou dieselfde salaris betaal wat jy nou kry en die werk sal baie makliker wees. Daar sal min plaasbesoeke wees – ek het net ’n paar pasiënte in die distrik – en jy sal die gebruik van my motor en bestuurder hê.”

      Met opregte waardering antwoord Karin: “Dit is baie vriendelik van jou, Dokter – ek waardeer die vertroue wat jy in my stel. Ek het nog nie besluit wat ek gaan doen nie en ek sal graag oor jou aanbod wil dink.”

      “Doen dit gerus,” sê dokter Silbur hartlik. “Ek dink ook al geruime tyd daaraan om ’n jong vennoot te kry. Dalk slaag die proefneming so goed dat ons later aan ’n vennootskap kan dink.”

      Karin is daar weg met die gevoel dat sy droom. Maar van al die gedagtes wat deur haar brein gewarrel het, was sy die sterkste bewus van haar wrewel en diepe teleurstelling in Hugo Slabbert.

      Hoofstuk 13

      Dokter Silbur se onverwagte aanbod het Karin heelwat gegee om oor na te dink en sy het gewens sy kon die saak met haar pa bespreek. Die laaste paar weke het kwaai eise aan haar gestel en al was sy ook hoe geesdriftig oor die werk, het sy besef dat sy dit nie sal kan volhou nie. Van brood alleen kan ’n mens ook nie lewe nie. Daar moet tyd vir rus en ontspanning wees, selfs in die besigste lewe, en die gedurige gejaagdheid en volslae gebrek aan ’n sosiale lewe het die eerste saadjies van twyfel in haar hart laat posvat.

      Sy het dikwels die gevoel gekry dat sy van haar pasiënte afskeep bloot omdat ander, meer dringende gevalle haar tyd opeis. Dit was weliswaar ’n besonder besige maand. Selfs in normale omstandighede sou sy en Hugo hulle hande vol gehad het om die uitgestrekte praktyk alleen te behartig. Met die kwaai griepepidemie en die ander siektes wat die skielike koue weer meegebring het, het dit feitlik ’n saak van onmoontlikheid geword.

      Maar dit was slegs tydelik. Oor tien dae is Isak Roux terug en dan sal dit heelwat makliker gaan. As dit van haar afgehang het, sou sy verkies het om ’n tydjie langer saam met hulle te werk.

      Maar sy moes ook aan die moontlikheid dink dat sy ná Juniemaand sonder werk kan wees en dit was in daardie lig dat sy dokter Silbur se aanbod oorweeg het. Indien sy werklik gretig is om op die platteland te praktiseer, is dit ’n kans wat sy nie kan laat verbygaan nie.

      Sy moet die saak natuurlik vroeër of later met Hugo bespreek, maar sy is nog vreemd onwillig om dit te doen. Haar gevoelens teenoor hom is in hierdie dae deurmekaarder as ooit vantevore. Die weke wat hulle so nou saamgewerk het, het haar bewondering vir sy vermoëns as dokter laat toeneem. Hy was ook stimulerende geselskap en – haar vrouehart het dit erken – ’n besonder aantreklike man. Maar hoewel sy houding teenoor haar nie meer so styf en afsydig is soos aan die begin nie, is daar ook nie die geringste teken van toenadering van sy kant nie.

      Wat die werk betref, het sy al hoe meer die gevoel gekry dat sy so stadigaan sy vertroue wen. Hy het al hoe meer van die verantwoordelike werk aan haar toevertrou en het haar die afgelope tyd selfs toegelaat om kleiner operasies te doen. En hoewel hy haar met valkoë dopgehou het, was hy blykbaar tevrede.

      Dis hoekom dit so ’n skok was om by dokter Silbur te hoor dat Hugo vir hom gesê het dat hulle ná Juniemaand nie langer van haar dienste gebruik sal maak nie.

      Nadat sy die hele oggend alleen met haar teleurstelling geworstel het, kon sy die spanning en onsekerheid nie langer uithou nie. Toe hy haar die middag ná spreekure kom sien om ’n plaasbesoek met haar te bespreek, vertel sy hom van dokter Silbur se aanbod.

      Hy antwoord haar nie dadelik nie. Fronsend staar hy ’n rukkie voor hom uit, dan vra hy: “Vra jy my raad?”

      “Ek wil graag die saak met jou bespreek,” antwoord sy koel. Stilswyend wag hy, sy oë ondersoekend op haar gerig en sy vervolg: “Dokter Silbur het my die aanbod gemaak nadat jy hom vertel het ek sal net tot einde Junie saam met julle werk.”

      Sy een wenkbrou gaan effens op. Dan het hy hom nie verbeel dat haar houding die hele dag so effens koel en afsydig was nie. Dit was dan die rede.

      “Wanneer sou ek dit vir dokter Silbur gesê het?” vra hy.

      Sy merk dat hy dit nie ontken nie en haal ongeërg haar skouers op. Sy kan haar ontsteltenis nie heeltemal wegsteek nie, maar sy probeer so kalm moontlik praat: “Ek weet nie. Dit maak ook nie juis saak nie. Ek het net gedink jy sal die saak eers met my bespreek voor jy dokter Silbur of enigiemand anders daarvan sê.”

      “Ek het dit nie met dokter Silbur bespreek nie,” ontken hy kalm.

      “Maar jy het hom tog laat verstaan dat ek ná Juniemaand beskikbaar sal wees.”

      Hy begin op en af stap.

      “Kom ons veronderstel jy sou net tot einde Junie hier by ons werk. Sou jy dan dokter Silbur se aanbod aanvaar?”

      “Ek het nog nie besluit nie,” antwoord sy koel.

      “Antwoord dan vir my dié vraag: Wil jy nog so graag op ’n dorpie soos Doringlaagte werk?”

      Onwillig antwoord sy: “Ek dink so.” En dan meer beslis: “Ja, ek wil nog net so graag.”

      “Het selfs die afgelope drie weke jou nie van plan laat verander nie?”

      “Dit was harde werk, maar ek het dit geniet.”

      “Het jy jouself onlangs geweeg?” vra hy onverwags.

      “Wat het dit met die saak te doen?”

      “Jy weet net so goed soos ek wat dit met die saak te doen het. Jy het die afgelope weke baie gewig verloor – agt pond, sou ek skat. Hoe lank dink jy gaan jy die pas kan volhou?”

      “Ek is nie die enigste een wat die afgelope weke gewig verloor het nie,” sê sy koel. “En ek dink jy sal self erken dat dit ’n baie moeilike paar weke was.”

      “Ek erken dit, maar daar kan weer sulke tye kom.” Sy antwoord nie en ná ’n rukkie vervolg hy: “Dokter Silbur dink ernstig daaraan om ’n vennoot te kry.”

      “Hy het my gesê,” antwoord sy, nog uit die hoogte, en weer gaan een wenkbrou op.

      “En jy aarsel nog om sy aanbod te aanvaar?”

      “Ek sal dit heel moontlik aanvaar,” sê sy koel, net om hom te wys dat sy nie die minste verleë is nie. Maar nadat sy die woorde geuiter het, sou sy enigiets gee om hulle te herroep.

      “Ek is seker jy sal nie jammer wees nie,” sê hy goedkeurend. “Die werk is maklik. Selfs ’n vrou sal dit kan behartig.”

      Dit moes hy nie gesê het nie. Vuurvonke skiet uit die blou oë.

      “En dink jy dis waarvoor ek nege lang jare gewerk het – net so hard soos enige van die manstudente – waarvoor ek al die opofferings gemaak het, om nou tevrede te wees met ’n rusbankpraktyk waarna geen ander dokter


Скачать книгу