Kaptein Casanova. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Kaptein Casanova - Ettie Bierman


Скачать книгу
te noem. “’n Bomwaarskuwing?”

      Hy knik. “’n Naamlose oproep na ’n plaaslike polisiekantoor. Ons is nie in ’n posisie om enige dreigement te verontagsaam nie. As ons, die vliegtuig en honderd-drie-en-dertig onskuldiges die lug ingeblaas word, gaan die wêreld op ons nekke neerkom. Ons het geweet, ons is vooraf gewaarsku, ondanks en desnieteenstaande het ons gevlieg ... Nie ek, ons redery of enige ánder is bereid om so ’n risiko te loop nie.” Johan de Villiers wag op kommentaar, teëstribbeling, vrae, klagtes. Daar is niks nie, net ’n doodse, afwagtende stilte onder sy twee dosyn kollegas.

      “Bagasie, wat eerste onder verdenking was, het geen ongeïdentifiseerde stuk of enige ander inligting opgelewer nie, behalwe dat een passasier blykbaar lig reis en nie ’n tas ingeweeg het nie. Dis nie ’n oortreding nie. Die vrag is ook afgelaai en deursoek. Alles in die ruim is uitgeklaar. Handbagasie en persoonlike besittings is deur sekuriteitskontrole by die deure nagegaan. Die grondingenieurs soek nou vir ’n obstruksie aan die struktuur. Dames en here, dit mag ’n siek grap wees, of nie. Ek is oop vir voorstelle.”

      In die kamer het ’n kil atmosfeer ontstaan. Niemand reageer nie.

      “Die vorige pseudo-grapjas wat ’n vals alarm gemaak het, het vier jaar gekry,” merk die boordtegnikus op.

      Petri dink aan die man wat die buitensporige lewenspolis wou uitneem. Maar aangesien Janine dit nie as belangrik ag nie, bly sy ook stil, bang hulle lag vir die groentjie wat op hol is – pas oorsee en niks gewoond nie.

      “Daar was ’n snaakse teddiebeer,” skerts ’n kelner in ’n poging om die spanning te verlig.

      Petri het dit ook gesien – bo-op die gehawende, geruite kajuitsak van die meteorologiese fanatikus.

      Selma van Wyk en ’n ander meisie lag. “Dis nie ’n misdaad om vir jou kleinkinders ’n teddie te koop nie, is dit?”

      Almal stem saam: Nee, dit is nie. Speelgoed, soeweniers en geskenke is bo verdenking.

      “Twee oproepe,” deel kaptein De Villiers hulle mee, “van dieselfde histeriese en onsamehangende persoon. Geen naam of adres is verstrek nie. Voordat die polisie die oproeper se identiteit kon vasstel, is die verbinding verbreek. Al wat die polisie weet, is dat dit ’n vrou was, deurmekaar en onbetroubaar. Laat ons hoop daar kom niks van nie. In elk geval, dankie vir jul tyd. As enigeen meer uitvind, ek is heelnag beskikbaar. Intussen, lekker slaap en sien julle môre. Sesuur roeptyd, agtuur vliegtyd.”

      Die koffie wat Nico na sy kamer bestel het, is yskoud.

      “Heerlik,” sê Petri en neem ’n sluk. “Het jy die kabelgram Parys toe gestuur?”

      “En antwoord ontvang.” Nico sug en trek ’n suur gesig. “No show: walk-over for opponent.”

      Petri is ontsteld. “Dis my skuld. Al wat die Fransman het, is ’n afslaan. Sy handrug is power en sy voorarm nie veel meer werd nie. Jy sou gewen het.”

      Nico kom sit by Petri en trek haar op sy skoot. “Die groter manne op die baan het dieselfde probleem as ek gehad.”

      Petri weet wat hy bedoel: vroumense. “Daarom het hul loopbane daaronder gely,” herinner sy hom.

      “Ek weet. Maar ek kan nie konsentreer as ek nie weet waar jy jou bevind, wanneer jy terugkom en wanneer ek jou weer gaan sien nie.”

      “Ons is nog jonk, ek en jy albei. Ek wil die wêreld sien en jy wil geld maak. Ons moet ’n kompromie aangaan. Nog twee jaar. Dan is die reislus uit my uit en jy skatryk en gevestig. Dan kan ons aan die toekoms dink.”

      “Twee jaar?” Nico is ongeduldig. “Terwyl ek intussen nie weet wie waar by my nooi aanlê nie?”

      Hy het voorheen oor haar kollegas gekla, meer as een keer. Selfs daaroor rusie gemaak en teenoor hulle uitgevaar, asof hy haar nie vertrou nie. Petri wil ’n argument vermy en praat ligweg: “Soos ek al hoeveel keer verduidelik het, is driekwart van die ouens wat saam met my vlieg, oud en koud en getroud.”

      “Vanaand se kaptein ook?”

      Petri kyk anderpad.

      “De Villiers, die een met die flikkers vir die meisies. Is hy ook oud en koud?”

      Petri is op veiliger terrein. “Hy is verloof.”

      “Wie sê so?”

      “Die skindertonge. Binnekort getroud.”

      “Wanneer?”

      “Hoe sal ek weet? Ek ken hom nie. Vanaand was die eerste keer dat ek hom ontmoet het.”

      “Hopelik ook die laaste keer.” Hy neem Petri se hand in syne en soen haar. “Ek kan vir my vrou sorg. Ná ons troue kan jy ophou vlieg, hoef jy nie weer sente te tel nie.”

      “Moenie oorhaastig wees nie. As jy Wimbledon wil wen, moet jy los wees. Vry, sonder verpligtinge teenoor ’n vrou en gesin wat jou konsentrasie verdeel.”

      “Dis groter stres om ongetroud te wees.” Nico trek haar nader. “Ná ons troue, waar gaan ons woon?”

      Petri speel saam. “Monaco, die Riviera. Die Outback of die Kalahari.”

      “Ek wil ’n span kinders hê. Twee dogtertjies wat soos jy lyk en tien seuns wat ook soos jy lyk.” Sy arms gaan om haar en hy trek haar stywer teen hom vas. “Jy kan vir die meisiekinders hokkiestokke en vir die seuns krieketkolwe koop. Dit maak nie saak as hulle nooit tennis speel nie. Solank ons twee bymekaar is.”

      Petri voel soos Janine. Oplaas Oxfordstraat, leerware in Madrid, Delft in Amsterdam, ’n koekoekhorlosie in Switserland en belastingvrye artikels in Las Palmas en Hongkong. Nog ses maande, ’n jaar – daarna sal sy bereid wees om van die kosmopolitiese lewe afskeid te neem, huis op te sit en kinders groot te maak.

      “Solank ons saam is,” beaam sy met haar kop teen sy bors.

      Nico se arms om haar raak dwingend, eisend. “Ek het jou lief, Petri. Die Franse of Suid-Afrikaanse Ope, selfs Wimbledon ... Jy is belangriker as geld of titels.”

      Petri is van vieruur vanmiddag af aan die gang en onder druk. Sy is moeg en gespanne. Bekommerd en onrustig. Wat sy nodig het, is gerusstelling, nie bykomende eise nie.

      Toe Nico se omhelsing te besitlik word, stoot sy hom weg. “Môre is ’n lang dag. Ons moet gaan slaap.”

      “Ek is nie vaak nie.” Hy skuif haar agteroor op die stoel met sy mond teen hare. “Moenie altyd wil vlug sodra ek ernstig raak nie.”

      Petri beur regop. “Niek, nee ...”

      Hy laat haar nie gaan nie. “Ons ken mekaar al lank. Ons gaan trou.”

      “Eendag.”

      “Hoekom trou ons nie môre nie? Of vanaand nie?”

      “Jy is laf.”

      “Ek dag jy gee vir my om. Hoekom keer jy altyd, stribbel jy teë, soek uitstel?”

      “Niek, jy is te haastig. Moenie ... Nee!” Petri se stem is skerp. Sy wikkel haar los en staan op. “Gáán trou verskil van ís getroud. Ons is intussen vriende, elk met sy eie lewe en keuses. Moenie ons verhouding bederf nie.”

      “Jy is outyds.”

      “Ja.”

      “Preuts.”

      “Noem dit wat jy wil, ek is soos ek is.”

      Hy is verleë en ná ’n rukkie weer homself: boetvaardig en vol berou.

      “Jy is reg. Hoe sal ek in die toekoms regkom sonder ’n slim, praktiese vrou wat kophou?”

      “Jy is ’n wenner, jy sal altyd bo uitkom.”

      “Sal ek? Sonder jou?”

      “Ja.” Petri staan by die deur. Mense loop in die gang verby en sy is skielik baie formeel. “Ek hoop u voel nou beter, meneer Loodts.”

      “Hoe kan ek, as


Скачать книгу