Ondergang. Terri Blackstock
Читать онлайн книгу.agter. Op pad na die winkel oorweeg hy die moontlikheid dat die man nie betrokke was nie. Hy voel die brandpyn in sy ingewande wat hy altyd kry wanneer hy ’n familielid van ’n moord in kennis moet stel. Dis vir hom die swaarste aspek van sy werk.
Hy kry die plek, ’n ou, verwaarloosde gebou met diefwering voor die vensters. Die winkel is verlig en deur die venster sien hy ’n man wat agter die toonbank op ’n stoeltjie sit en na die televisie bo sy kop kyk.
Kent klim uit sy motor en stoot die glasdeure oop om in te gaan.
“Môre, hoe gaan dit?” vra die man agter die toonbank. Hy lyk nugter. Sy oë is helder, al lyk hy moeg.
“Is jy Bo Lawrence?” vra Kent.
Die man kruis sy arms oor sy bors. Verdedigend. Behoedsaam. “Ja, hoekom?”
“Ek is ’n polisiebeampte van Atlanta se moordafdeling.”
Die man se gesigsuitdrukking verander en diep plooie vang die skaduwees van die stowwerige lig. “Moord? Wat het gebeur?”
“Ons is vanoggend na jou huis uitgeroep. Jou vrou is geskiet.”
Kent hou Bo se gesig dop. Hy sluk sodat sy adamsappel op en af spring. Dis moeilik om te weet of die kleur van sy gesig verander ‒ hy is buitendien bleek. “Geskiet? Maar sy is oukei, nè?”
“Ek is bevrees sy het dit nie oorleef nie.”
Bos se mond val oop en ’n oomblik lank is hy sprakeloos. Hy druk albei hande in sy vetterige hare en trek sy vuil vingers daardeur. “Maar … ons het nie skietgoed in die huis nie. Ons hou nie … wie … wat het gebeur?”
“Dit lyk na ’n inbraak. Iemand het ingekom en haar in haar slaap doodgeskiet.”
Hy stik byna soos hy na asem snak. “Die dogtertjies … my kinders … is hulle …?”
“Hulle makeer niks. Jou dogtertjie Allie het op haar ma afgekom.”
Hy kantel asof hy gaan omval en gryp na die toonbank. “Allie? Wie het dit gedoen?”
Kent hou sy stem gelykmatig. “Ons wou jou in kennis stel en uitvind wie ons omtrent jou kinders kan bel.”
“Waar is hulle nou?” vra hy met sy gesig vertrek van wat na ware pyn lyk.
“Hulle is by Milly Prentiss van die huis langsaan.”
Hy knik. “Milly … dis goed.”
Daar is geen trane nie, maar dis nie buitengewoon nie. Dis ’n groot skok om van ’n moord te hoor en mense reageer op verskillende maniere. “Wie … wie het die polisie gebel?”
Dit is ’n vreemde vraag. Dis nie iets waaraan die meeste mense dadelik dink nie. “Dit was Milly, nadat jou dogtertjie na haar gegaan het.”
“So … het sy gesien wie dit gedoen het?”
“Nee, ek is bevrees nie. Ek wil hê jy moet asseblief saamkom na die polisiekantoor sodat ons daaroor kan praat. Dalk kan jy ons ’n paar leidrade gee.”
Hy kyk af na die kasregister. “Ja … natuurlik. Ek moet my baas bel. Ek sal die winkel moet toemaak.”
Kent kyk om hom rond. “Wanneer het jou skof gisteraand begin?”
Eers lyk dit asof die man nie hoor nie. Hy staar in die niet asof hy die nuus probeer verwerk. “Um … gisteraand agtuur. Ek werk skofte van twaalf uur.”
“Het jy in daardie tyd ooit hier weggegaan?”
Die man tel die telefoon op, maar skakel nie die nommer nie. “Nee, glad nie. Ek was heelnag hier. Ek het nie eers uitgegaan om te rook nie. Ek probeer ophou.”
Ken se oë dwaal na die veiligheidskamera teen die plafon agter die toonbank. Hy kan die video-opname in die hande kry om die man se bewering te bevestig.
“Kyk, ek weet julle dink altyd eerste aan die man as die skuldige.” Sy stem klink horterig en hees. “Maar ek sweer … ek was lief vir my vrou. Ek sal niks doen om haar seer te maak nie.” Hy druk sy bewende hand voor sy mond terwyl die hartseer dieper kepe op sy gesig vorm. Niks buitengewoons aan sy reaksie nie.
Nadat Bo met sy baas gepraat het, skakel hy al die ligte af en sluit die winkel. Kent haal die veiligheidsvideo uit sonder enige teenkanting van hom. Daarna volg Bo Kent na die motor en klim in die voorste passasiersitplek. Daar is nog geen trane terwyl hulle na die polisiekantoor ry nie. Toe hulle daar kom, kyk Kent na die video-opname. Dit bevestig Bo se storie. Hy was die hele nag by die werk.
Hy is waarskynlik net ’n bedroefde man in ’n skoktoestand, maar Kent hoop hy het dalk inligting wat hulle na sy vrou se moordenaar kan lei.
Hoofstuk 5
Hoofstuk 5
”Emily, jy moet ophou met hierdie laat nagte as jy die volgende dag klas het.” Barbara skuif die graankosboks oor die kombuistoonbank na haar leepoogdogter.
“Ek kan dit nie help nie,” sê Emily in ’n trae, hees stem. “Ek kan nie vroeër aan die slaap raak nie.”
“Dis haar geaardheid, Ma,” sê Lance met ’n mond vol Cheerio’s. “Sy is deur en deur ’n partytjiedier.”
“Stil, jy,” mompel Emily. “Ek het nie partytjie gehou nie.”
Barbara grawe in haar handsak na geld vir Lance se middagete en sit dit op die toonbank. “Emily, ek probeer net sê jy moet stry teen die gewoontes van verslaafdes soos om heelnag wakker te bly wanneer jy die volgende dag klas het. Jy moet leer om vooruit te dink en nie toegee aan die ingewing van die oomblik nie.”
“Dis nie tipies van verslaafdes nie, Ma. Almal wat ek ken, gaan slaap laat. Dis wat studente doen.”
“En dis waarom die helfte van die studente opskop voor hulle graad kry.” Barbara kyk na die sestienjarige Lance. “Lance, belowe my jy sal vanmiddag gaan eet.”
Hy antwoord nie en maak asof hy verdiep is in die woorde op die graankosboks.
“Lance, het jy my gehoor?”
“Ja, maar ek haat middagete.”
“Jy haat middagete?” vra Emily. “Dis verspot. Jy kan liggaamsoefening of wiskunde of wetenskap haat. Niemand haat middagete nie.”
“As hulle alleen moet sit, haat hulle dit.”
“Ek het gedink jou meisie sit by jou,” sê Emily.
“April is nie my meisie nie, altans nog nie.” Hy lig sy glas melk na sy mond en grinnik met sy oë terwyl hy drink. Hy plak die glas te hard neer. “Sy sit nie altyd by my nie. Partykeer slaan sy middagete oor. Hoekom kan ek nie net tuisonderrig kry nie?”
Dis ’n ou storie. “Lance, jy sal nog vriende maak,” sê Barbara. “Wees net geduldig.”
“Ek het baie vriende in Jeff City gehad.”
Hulle het in Januarie hierheen verhuis nadat hulle hulle huis in Missouri verkoop het. Lance was in daardie stadium aan die herstel van ’n ernstige longbesering en hy sukkel nou om in te pas nadat hy in die middel van die skooljaar by ’n nuwe skool moes inval. Aangesien hy tydens die somervakansie geen maats gemaak het nie, het hy ’n lang, eensame drie maande agter die rug. Vroeër het hy altyd bofbal gespeel tydens daardie lang, warm maande en dit was ’n manier om vriende te maak. Aangesien sy longkapasiteit nog nie heeltemal herstel het nie en hy niemand goed geken het nie, het hy egter nie by ’n span aangesluit nie. Barbara is nou spyt dat sy hom nie probeer oorreed het nie. “Jy was altyd ’n gewilde outjie en jy sal weer gewild wees. Boonop sal dit jou sterker maak. Jy leer nou nuwe vaardighede. Byvoorbeeld meegevoel met eensame mense. Dit kan goeie dinge oplewer. Dit was die regte besluit vir die gesin om hierheen te trek.”
“Nee, dit was reg vir jóú, Ma, sodat jy nader aan Kent kan wees. Ek verstaan dit en ek hou van hom en alles. Maar ek mis my vriende. Ek het dit nooit voorheen gehaat om skool toe te gaan nie. Hierdie ouens behandel my soos