Klaprose teen die wind. Marzanne Leroux-Van der Boon
Читать онлайн книгу.jy hier op uitkering geregtig?”
Jurgen knik. “Maar ek het nie daarvan gebruik gemaak nie. Iewers moet mens jou skuldgevoelens kwytraak. Ek het in die Rotterdamhawe gaan werk. In omstandighede ellendiger as dié van my pa se laagste arbeiders.” Hy glimlag flou na Marc. “Het jy al van die Verlore Seun gehoor?”
Marc skud sy kop, fluit sag deur sy tande.
“Nóú kom ons eers by Claus se stories uit. Ek moet dit korter maak, die son sal op ons opkom.”
“Sal ek vir ons gaan koffie haal?”
“Maak liewer ’n bietjie Milo, anders slaap ek weer nie.”
Toe hulle met die bekers sit, sê Jurgen: “Miskien moet ek net sê dat ek in daardie stadium nie-praktiserend was. Net op ’n punt van orde. Later praat ons daaroor, ek wil eers net kom by wat Claus gesê het.”
Marc knik, byna verwonderd oor hoe onbedreigd hy voel.
“Ek het nie ’n volle jaar in Rotterdam gewerk nie toe ek Claus leer ken het. Hy het inligtingsfilms vir televisie kom maak by die Aidskliniek. En een van die weinige kere in my lewe dat ek ooit my voete in ’n gay-bar gesit het, het ek hom daar gekry. Weens die een of ander onverklaarbare rede was hy onmiddellik gek op my …”
“Waansinnig verlief …” herhaal Marc Claus se uitdrukking van vroeër die aand.
“Juis,” Jurgen glimlag effens, “Claus is altyd waansinnig verlief op iemand. Ek was in daardie stadium ontsettend eensaam en homesick en disillusioned, maar selfs in daardie toestand het ek nie kans gesien vir Claus se aanslag en sy promiskuïteit nie. Ek was te veel produk van my agtergrond. Maar nie net dit nie … Ek … nee! Dit was nie vir my nie. En tot vandag toe nog kan hy nie begryp dat ’n snotneus soos ek uit agterlike Suid-Afrika hóm van alle mense van die hand kon wys nie. Eers dag hy dis my speletjie. Maar toe hy agterkom dit was nie so nie, was hy ontsettend vernederd, ja … en seergemaak. Dit was eg nooit my bedoeling om hom dít aan te doen nie, om hom te verneder nie, want daar sit ’n hele boel góéd in Claus, hoor!”
“Ek het die gevoel gekry.”
“Dit was vyf jaar gelede. Al die tyd nog het ek om daardie rede ’n waardige vriendskap met hom probeer volhou. Soos hetero’s ook vriendskappe soms kan volhou, al word die liefde van die een kant af nie beantwoord nie. Miskien was dit ook maar deel van my veldtog: ordentlik gay wees. Anyway, ons skryf redelik gereeld nog aan mekaar. Ek was ’n slag by hom in New York, hy kom altyd hier as hy in Duitsland is. Dit gebeur nie elke dag dat hy so uitbars nie. As hy dronk is wel. Miskien het ek hom vanaand ook aanleiding gegee …”
Dan is dit stil tussen hulle. Dit reën steeds en die hond snork by Marc se voete.
Hy het ook gesê dat jy nie sonder rede by die Aidskliniek werk nie. Dié woorde hang tussen hulle, onuitgesproke, maar onafwendbaar.
“Ses maande later het ek ’n jong man ontmoet. Tako. Tako van Koningsbrugge …” Daar lê ’n vreemd droewige trek om sy mond. “Hoe oud is jy?” vra hy onverwags.
Marc skrik op toe hy besef die vraag is aan hom gerig. “Ek? Byna drie en twintig.”
“Ek dag so. Hy was ook twee en twintig. ’n Egte Hollandse jongen. Blou oë, ligte hare, skraal. Argitekstudent.” Hy kyk af in sy skoot en draai die kat versigtig om sodat sy op haar rug kronkel en blitssnel na sy vingers vang met haar donker pootjies, oortjies plat getrek. “Ek het op hom verlief geraak soos nooit een keer tevore in my lewe nie. Ek het hom leer ken in ’n restaurant waar ek toe elke aand gesing en kitaar gespeel het. Daardie eerste aand het ek al elke ding waarin ek geglo het oorboord gegooi vir hom.” Hy kyk vir die eerste keer op na Marc. “Kan jy jou voorstel hoe ’n skok dit vir my was toe ek ná ’n paar weke moes agterkom dat hy allesbehalwe die onskuldige jong student was, die naïewe virgin, wat hy voorgegee het. Dat ek hoegenaamd nie sy eerste minnaar was nie. Inteendeel, hy was gewoon ’n deurwinterde homo. Maar ek kon hom nie daarvoor ophou liefhê nie … Ek glo nie dat enigiets sou kon maak dat ek kon ophou om hom lief te hê nie. Gek, hè, hoe dit is …” Dit reën nou driftig teen die groot raam aan die oorkant van die vertrek. Jurgen stoot sy bene koulik nader aan die verwarmer. “Ek weet eintlik nie wat my die reg gee om Claus se lewenstyl te veroordeel nie. Ek was ook waansinnig verlief. Ek was ook blind en doof. Maar dit het alles baie kort geduur. Skaars ses maande. Vroeg in ses en tagtig het hy siek geword. Met al my oplees oor Aids en met my mediese kennis, het ek dit onmiddellik geweet. Verby. Maar jy glo dit nie.”
“Hoe begin dit eintlik?” vra Marc, opeens weer bewerig.
Jurgen sug en stoot sy vingers skielik moeg deur sy hare. “Daar het eers die rare plekkies aan sy bene te voorskyn begin kom. Toe dit van geen enkele middel wou opklaar nie, is hy ten slotte na ’n dermatoloog en dié het hom reguit na die kliniek verwys. Ag, toe wou hy ook al vir ’n lang tyd nie meer eintlik eet nie. Nie veel energie gehad nie. Verskriklik gewig verloor. Nagsweet. Alles. Begin Oktober het hulle vasgestel dis Aids …”
“Hy moes dus al siek gewees het toe jy hom leer ken het.”
“O ja. Hy was seropositief.”
“Het jy dit geweet?”
Jurgen skud sy kop langsaam. “Hy het dit nooit vir my gesê nie. En ek het hom ook nie gevra nie. Selfs ook nie toe ek bewys had van sy veelvuldige vroeëre verhoudings nie. Ek het nog die speletjie van sy onskuld en sy naïwiteit saam met hom bly speel. Ek was so verskriklik bang om hom te verloor, en hy wis dit … Alles wat Claus vanaand gesê het, is presies waar. Jy het nie verstand nie en jy kan nie oordeel nie. Of jy wil nie.”
“Hoe het hy dan later die oorsprong van sy siekte aan jou verduidelik?”
“Bloedoortappings ná ’n motorfietsongeluk. Absolute leuen.”
Marc steek ’n sigaret aan. “Het jy hom opgepas?”
Jurgen knik. “Maar nie vir lank nie, want einde Oktober het hy las van sy longe begin kry en moes hy in die kliniek opgeneem word. Dis hoe ek aanvanklik in F-5 tereggekom het. Dit was vir my ondenkbaar om hom alleen daar te laat … en my drie jaar medies en my Nederlandse paspoort en my bereidwilligheid om te wérk …” Hy maak ’n gebaar met sy hande. “Nie veel mense is begerig om dáár te werk nie.”
“En toe?” vra Marc met kwalik verborge ongeduld.
“Kaposi in sy longe gevind. Hulle het hom toe op die veelgeroemde cystostatica-kuur gesit. Ag … aanvanklik het dit nog gelyk of dit mag help, hy’t vir ’n paar weke huis toe gekom. Al sy hare het van die chemoterapie uitgeval … sy lang, byna wit hare …” ’n Ontsettende weemoed vertrek sy mond weer sodat hy sy lippe vasbyt en wegkyk. Ook Marc laat sy oë ontsteld sak. Asof hy iets aanvoel, kom die hond regop en lê sy swaar kop op Jurgen se bene. Dit neem ’n ruk voor hy weer verder praat. “Begin Desember is hy weer terug na die poli vir nog so ’n kuur. Dié keer was dit heeltemal vrugteloos. Hy was nie eens veertien dae by die huis nie. Direk ná Kersfees moes hy terug. Hy het so ontsettend pyn in sy longe gekry. Daarna het hy nie weer huis toe gekom nie. Hy het longontsteking gekry en die kaposi in sy longe het hand oor hand toegeneem. Ek het begin bid dat dit … moes verbykom … sy lyding was verskriklik om te sien. Sy familie, streng gereformeerdes, het jare al min of meer hulle hande aan hom gewas. Ek was eintlik al wat daar nog was.” Hy laat sy gesig in sy hande sak. Marc sit daar magteloos by. Toe Jurgen weer opkyk, is sy oë rooi. “Hy was so verskriklik bang om dood te gaan. Ek het ure lank met hom oor God en die hemel sit en praat. Oor die liéfde van God in Jesus …” Marc dink meteens aan die twee mans wat hy vroeër die dag in die hospitaal gesien het. Dit laat hom ril. “Op die end het hy tog in ’n soort … vrede gegaan. Dankbaarheid dáárvoor het my ’n eed voor God laat sweer dat dit vir my die allerlaaste maal was …” Hy staan meteens op en stap oor die vertrek na die venster. Die hond is onmiddellik by hom. Hy stoot die raam oop en teug aan die ysige naglug. “Dit het ophou reën,” sê hy. “Sal ons Rubicon gou vir ’n stappie neem?”
Marc kom wankelrig regop. Hy sien dat dit halfdrie is. “Dis goed.”
“Trek