Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie
Читать онлайн книгу.Sy glimlag terug. “Dit is ’n verligting, want as sy so ’n ou brombeer moes wees soos haar seun, dan sou ek nie graag wou gaan nie.”
Die kinders eis hul aandag en Louis moet sy storie ken om almal se vrae te beantwoord.
Martha staan stil-stil op en begin die koppies in die kombuis was. Alet neem die vadoek en droog af, terwyl Louis die kinders besig hou.
“Juffrou, ons het mos nou vir juffrou in ’n ding ingedwing . . .”
Sy kyk nie na Alet nie, maar Alet kan die kommer in haar stem hoor.
“Ag, nooit, Martha. Ek dink dit sal heerlik wees op die plaas. Ek weet reeds nie wat om die kort vakansies te doen nie, want ek kan mos nie huis toe gaan nie.” Sy hou haar baie besig met die wegpak van die koppies sodat Martha nie die onsekerheid in haar oë moet sien en dalk van besluit verander nie.
Martha sug van verligting en Alet besluit gelate dat sy baie meer as dit kan opoffer om vir die Ventertjies ’n lekker vakansie te verseker.
As sy baie eerlik met haarself wil wees, moet sy erken dat sy self baie graag sal wil gaan. Maar die opgewondenheid hier binne-in haar maak haar bang . . . bang dat sy weer gaan seerkry.
Die Venters is kort daarna weg, opgewonde en uitgelate. Alet glimlag toe sy hulle agterna kyk.
“Foei tog! Hulle sal dit nooit kan hou tot die einde van die kwartaal nie.”
“Ek is vreeslik dankbaar dat jy ingestem het om saam te kom, anders sou Martha nooit ingestem het om te gaan nie.”
“Dit sal jou leer om nie dinge op die ingewing van die oomblik te besluit nie . . . As jy my vroegtydig gewaarsku het, kon ek vir Martha voor die tyd so ’n bietjie bearbei het, dan het jy nie nodig gehad om my ook saam te sleep nie.”
Louis lag heerlik, sy bruin oë vol terglus.
“Miskien is dit net andersom. Dalk het ek die Venters genooi om jóú op die plaas te kry.”
Hy wag nie op ’n antwoord nie, maar draf die treetjies twee-twee af en met ’n vrolike wuif verdwyn hy om die hoek.
Ingedagte kyk Alet hom agterna. Hy het soveel verander. Hy is vriendeliker en meer genaakbaar. Sy wonder of hy darem al sy vooroordeel teenoor haar afgeskud het. Sy haal haar skouers onwillekeurig op. As hy maar net weet dat sy ’n soortgelyke ervaring as hy gehad het . . . Maar sy het nie haar vertroue in die mensdom verloor net omdat een man haar sleg behandel het nie.
Gerhard kom die aand kuier. Netjies uitgevat, sy donker hare blink en krullerig. Hy is opreg bly om haar te sien.
“Mensig, meisiekind! Ek het darem nie geweet ’n maand kan so lank wees nie.” Hy druk haar ’n oomblik styf teen hom vas en soen haar onverwags vol op die mond. “Jy gaan nie weer één vakansie weg nie!”
“Ek dink nie my ouers sal vreeslik baie van so ’n reëling hou nie.”
“Het jy toe lekker gekuier?”
Hy gaan sit op die rusbank en trek haar langs hom neer.
“Kom sit hier langs my en vergeet van koffie of tee; ek wil net vir jou hier naby my hê.”
Die erns in sy stem maak Alet bang. Sy wil hom nie seermaak nie, want sy weet hoe seer ’n mens kan kry. Sy sal hierdie gevoel wat hy blykbaar besig is om vir haar te ontwikkel, baie gou in die kiem moet smoor.
Sy skuif op en begin lig en alledaags gesels. Sy vertel van die plaas en die wingerde wat nou net bruin stokkies is en dat ’n mens nie kan glo dat daar oor ses maande al druiwe aan kan wees nie. Sy vertel van haar ouers en haar broer, van die berge en die pragtige natuurtonele, van die opvoerings . . . en sommer allerhande onsinnighede. Bang vir die stiltes wanneer sy oë smagtend op haar rus, praat sy meer as wat sy normaalweg sou.
“Ek gaan vir ons ’n bietjie tee maak. Dis al amper tienuur en ek het my keel nou kurkdroog gesels.”
Gerhard is stiller en diep ingedagte terwyl hulle tee drink. Hy staan ook sommer kort daarna op om te loop. By die deur neem hy haar onverwags in sy arms.
“Meisiekind! Ek het vreeslik na jou verlang.” Sy lippe skuif warm en besitlik oor hare. Sy is kragteloos in sy greep en staan stil in sy arms.
“Het jy darem so ’n bietjie na my ook verlang?” Sy stem is teer terwyl hy die hare liggies uit haar gesig vee.
“Ek . . . ek het na jou verlang, Gerhard. Ek het na julle almal verlang, maar . . . ek wil nie hê jy moet seerkry nie. Ek . . .”
“Is ek te haastig vir jou?” Hy los haar teësinnig. “Ons sal weer gesels. Intussen sal ek so baie vir jou kom kuier dat jy later glad nie sonder my sal kan klaarkom nie.”
Hy lê sy vinger liggies op haar lippe toe sy wil praat en fluister: “Nag, mooiste!”
Hy trek die deur saggies agter hom toe.
Lank staan Alet in die stil, donker gang. Sy druk haar kop liggies teen die houtmuur.
Hoekom is die lewe so onverstaanbaar? Pieter wou haar nie hê nie . . . sy wil nie vir Gerhard hê nie, maar Gerhard wil haar hê en sy . . .? Sy weet nie wat sy wil hê nie!
8
Die ontspanningsklub lewe soos ’n miernes wat omgekeer is. Dit is vanaand die jaarlikse polisiedans en almal, letterlik almal op Walvisbaai, is vanaand hier.
Alet kyk nuuskierig om haar rond. Die saal is pragtig getooi. Palmtakke versier die mure en op een plek is ou lakens kunstig geverf en tussen die takke gedrapeer. ’n Pragtige woestyntoneel is op die lakens geverf. ’n Yslike kameel bekyk hulle uit die hoogte deur die palmtakke.
Tafels en stoele is teen die mure van die saal gerangskik met oorgenoeg ruimte in die middel vir die paartjies om te dans.
Alet lyk pragtig. Haar vollengte rok van spierwit organza vou wolkerig om haar en laat Gerhard, wat self baie deftig en aantreklik lyk, soos ’n hen om haar kloek.
Ongemerk hou sy die deur dop. Sy wonder of Louis ook vanaand sal kom.
Hul vriendskap het so mooi gevlot tot . . . tot verlede week. Soos opregte vriende kon hulle oor alles en nog wat gesels.
Hulle was besig om tee te drink een pouse, toe hy ongeërg sy koppie neersit.
“Sal jy volgende Vrydag saam met my na die polisiedansparty gaan?”
Sy het verras opgekyk, die teleurstelling stadig besig om haar te oormeester. Sy sou so graag wou, maar Gerhard het haar reeds gevra. Ag, hoekom het hy nie al eerder gevra nie?
“Ek het reeds vir Gerhard belowe om saam met hom te gaan . . .”
“Hm . . .” Louis het sy lepel soos ’n pen tussen sy vingers gevat en die patroontjie op die skinkbordlappie afgetrek. “Is daar ’n verhouding tussen julle?” Hy het stadig opgekyk in haar helderblou oë.
“Ek . . . sal nie sê daar is ’n verhouding nie. Dit is . . .”
Hy het haar ongeskik in die rede geval.
“Hoekom kan ’n vroumens nooit ’n direkte antwoord gee nie? Sê ja, of nee!”
Die bloed het vinnig in Alet se wange opgestoot.
“Moet ek verantwoording doen oor my privaat lewe ook?”
“Nee, juffrou, jy hoef nie.” Louis se stem was koud en sarkasties. “Dit is net . . . Jy kan ander mense baie hartseer en ongeluk bespaar deur eerlik te wees.”
Hy het woedend met sy vuis op die lessenaar geslaan dat die koppies in die pierings gerinkel het. “As jy die man wil hê . . . vat hom. Maar moenie skaam wees daaroor nie. Hoekom . . .” Hy het sy hande magteloos opgelig en toe by die deur uitgestorm, terwyl hy oor sy skouer gesis het: “Dit maak my woedend!”
Alet ken sy geskiedenis en het simpatie met hom; sy verstaan hoekom hy so optree. Maar dit gee hom darem ook nie die reg om ander mense links