Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan


Скачать книгу
dat sy nie soos hulle is nie.

      Leia kyk op na hulle. Hulle is maer en uitgeteer, en sy wonder of hulle ook eens trotse krygers was. Het hulle ook gelukkig en laggend die jong meisies die hof gemaak en van baldadige vreugde saans die vuurdans gedans?

      Sy kyk na die stuk brood in haar hande en weer na hulle. Dan hou sy dit na hulle uit.

      “Vat dit. Ek kan nog uithou.”

      Sy draai haar kop weg toe hulle die armsalige stukkie brood opskeur en soos diere verslind.

      “Ons kon dit gehou het,” sê Teka verwytend.

      Leia laat haar kop op haar knieë rus.

      “Sou jy dit kon eet terwyl hulle so uitgehonger is?”

      “Ons sal ook een van die dae so lyk.”

      “Ons sal bly lewe,” antwoord Leia onverskillig. “Ons sal bly leef, maar ons sal nie weet hoekom nie.”

      Al om die twee dae word die seremonie met die brood herhaal, en een maal per dag word water na die ruim gedra. Hoe verder die reis vorder, hoe slegter proe die water totdat Leia dit naderhand glad nie meer wil drink nie. Selfs deur die stank in die ruim kan sy die water ruik wanneer sy daaroor buk.

      Een maal elke paar dae word ’n dooie uit die ruim gedra terwyl die oorblywendes swyend toekyk. Daar is haat in hul oë, hul swart gesigte is uitdrukkingloos. Die matrose verspil geen tyd wanneer hulle die dooies uitdra nie. Die starende gevangenes maak hulle kriewelrig.

      Ook in Leia en Teka begin die haat roer. Hulle praat nie daaroor nie, maar hulle kan dit in mekaar se oë sien. Hulle baklei ook nou om ’n stukkie brood.

      Valdi Lantini sit en broei in sy kajuit. Oor twee weke sal hulle die Kaap van Storms bereik. ’n Klompie van die slawe kan hy daar van die hand sit, maar hy sal met die grootste groep na Europa vertrek. Die een of ander tyd sal hy sy gevangenes moet inspekteer en net die bestes sal hy aan die Kaap kan verkoop. Die ander sal hy op pad na Spanje ’n bietjie vet voer sodat hulle daar ’n goeie prys kan behaal.

      Hy weet net nie wat hy met die wit meisie moet maak nie. In die Kaap wag die graaf De la Fontaine op iets spesiaals, en miskien moet hy maar daaraan dink om die meisie aan dié edelman te verkoop.

      Lantini se gesig vertrek. Hy is ’n duiwel, daardie man. ’n Mens kry sommer kouekoors wanneer hy met jou praat. Sy groen oë kyk dwarsdeur jou en hy sien alles wat in jou gedagtes omgaan. Hy is nie ’n man wat hom laat verkul nie, maar hy kibbel ook nie oor die prys as hy ’n slaaf moet koop nie. Die meisie sal hom sekerlik geval, al is dit ook net om sy verdraaide sin vir humor te bevredig. Lantini besluit die graaf is ’n boef. De la Fontaine is ’n gewetenlose, beginsellose man wat ’n sukkelaar se nek vir die pret sal omdraai.

      Valdi ril en staan op. Hy haat dit om met De la Fontaine besigheid te doen, maar dit kan nie anders nie. Die graaf het hom opdrag gegee om vir hom ’n slavin te bring wat anders is. Maar hoe moet ’n man nou maak as die meisies se gladde velle en mooi gesiggies tydens die reis verdwyn?

      Die valdeur van die ruim word oopgemaak, en vier matrose gaan versigtig met die trap af na onder. Die gevangenes staan in ’n kring om die dooie vrou op die klam vloer. Vandag is daar nie net die stille haat in hul oë nie. Hul houding is dreigend, en dit laat die matrose onseker op die trap aarsel.

      Asof hulle op dié teken gewag het, begin die gevangenes stadig vorentoe beweeg.

      “Bly waar julle is!” skreeu die een matroos en haal vinnig die sweep van sy lyfband af. Hulle ignoreer hom en kom voetjie vir voetjie nader terwyl ’n skrikwekkende stilte oor hulle hang. “Terug!” skreeu hy en lig die sweep.

      Die gevangenes voel skaars die geniepsige houe van die sweep. Hulle trap versigtig oor die dooie vrou en bereik die voet van die trap.

      Al vier matrose slaan links en regs na die swart massa wat ál nader kom, maar dit maak geen indruk nie. Paniekerig vlug hulle ’n paar trappies op na bo.

      “Die luik!” skreeu die een. “Ons moet uitkom en die luik toemaak!”

      Hulle draai om om boontoe te vlug, maar die gevangenes kry nou lewe. Soos ’n swart golf stu hulle vorentoe en pluk die matrose van die leer af. Onder vang hul maats die vier stomme mans, wat hulself gillend en skoppend probeer verdedig.

      Leia byt op haar tande. Ons sal hulle vermoor, dink sy. Ons sal die hele gruwelike spul vermoor en teruggaan. Met koue gevoelloosheid staan sy en kyk hoe die ander die matrose verniel. Met ysige afsydigheid hoor sy hul pleidooie en hul geroep na hul moeders. Sy dink aan al die mense wat deur hierdie soort mans uit haar stat weggeneem is. Niemand het hulle ooit weer gesien nie … hulle is weg … en wie weet watter verskriklike lot het op hulle gewag?

      Die gevangenes stroom teen die leer op na die dek. Hulle word verblind deur die skielike skerp lig van die middagson, en dit gee die matrose genoeg tyd om van hul skrik te herstel. Swepe, weet hulle, sal nie nou enige indruk maak nie, en hulle gryp na hul kapmesse. Hulle dryf die gevangenes met woeste kaphoue terug na die valdeur, maar daar is nie meer keer aan die stroom wat van onder af opstu nie. Hulle borrel by die luik uit, knip hul oë teen die skerp lig en som baie gou die situasie op die dek op.

      Van oral af is daar nou geskokte uitroepe, en een van die matrose hardloop om die kaptein te gaan roep. Intussen oorrompel die gevangenes twee van die matrose en neem hul kapmesse af. Met hierdie wrede messe gewapen, het hulle ’n beter kans om hul doel te bereik.

      ’n Bloedige geveg bars op die dek los. Menige gevangene sterf in ’n bloedplas. Ander stort met ’n gil van die dek af in die bruisende see. Ook die matrose spring nie vry nie.

      Valdi staan geskok op die voorkasteel. Wat ’n sinnelose slagting, dink hy met toegetrekte keel. Dis asof die duiwel in die gevangenes gevaar het. Hulle storm doodsveragtend op die matrose af, wat hulle wild en wakker afmaai.

      “Staak dit!” gil hy, en vir ’n oomblik is daar ’n verposing in die geveg. “Het julle almal nou waansinnig geword?”

      Die swart gevangenes verstaan nie wat hy sê nie en besluit dat dit onbelangrik is. Hulle het nou meer messe buitgemaak en is besig om die geveg te wen. Hulle kan niks meer verloor as wat hulle reeds verloor het nie. Sonder meer sit hulle die geveg voort.

      Valdi spring soos ’n prop op die dek op en neer. Woedend en geskok pluk hy sy pistool uit sy lyfband, korrel na een van die gevangenes en trek die sneller. Die man knak vorentoe en sak op die dek neer.

      Die knal van die skoot ruk die gevangenes tot stilstand. Hulle staar op na die voorkasteel waar die vet mannetjie met die rokende wapen in sy hand staan, en hulle kan nie begryp wat nou gebeur het nie.

      Dit kos Valdi minder as ’n sekonde om te besef dat hy die kaarte in sy guns laat swaai het. In stilte laai hy weer die pistool en hierdie keer skiet hy na die mas. Hout splinter uit die kant daarvan en die gevangenes deins effens terug. Hulle vrees en bygeloof oor die onbekende kry die oorhand. Hulle ken vuur, maar hierdie vuur wat oor ’n afstand kan doodmaak, is vreemd. Met wydgerekte oë staar hulle na die mas en na hul makker wat met ’n gat in sy rug op die dek lê.

      “Terug na die ruim!” skreeu Valdi hees en trek nog ’n skoot af.

      Die gevangenes aarsel nie langer nie, maar bondel beangs na die valdeur. Intuïtief voel hulle aan dat hulle in daardie stink gat veilig sal wees teen die man wat vuur en dood saai met die klein stukkie yster in sy hand.

      Leia sien hulle terugkom met vaal gesigte en wydgerekte oë. Sy het die skote gehoor en dit nie begryp nie. Tog het dit ook vir haar in haar spore tot stilstand gebring, en sy en Teka het na die verste hoek gewyk.

      Op die dek is dit nou baie stil. Die valdeur is terug in sy plek. Die swaar gewonde gevangenes word oorboord gegooi, en die matrose na hul kajuite geneem.

      Valdi vloek lank en lustig. Ten minste twintig slawe is daarmee heen. Dis ’n duur prys om te betaal. Nog ’n paar sal binne die volgende week sterf. Hierdie reis was nie die moeite werd nie.

      Befoeterd keer hy terug na sy kajuit. Hy is woedend oor sy matrose wat gesterf het. Die beste wat


Скачать книгу