Op vlerke van die wind. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Op vlerke van die wind - Tryna du Toit


Скачать книгу
gaan sy eintlik soek? Avontuur? Liefde en romanse? ’n Droom wat met die jare verlore geraak het? Of is die reis eintlik net ’n soektog na haarself, haar eie hart, die werklike sin en betekenis van haar lewe?

      Oor die luidsprekers word aangekondig dat besoekers nou die skip moet verlaat. Daar word oor en weer gegroet; dit praat en huil en lag deurmekaar, en dan beweeg die stroom die loopplank af.

      Daar is ’n naar, hol gevoel op Emma se maag – seker maar van pure opwinding – en sy dink sy sal een van die pille drink wat Pieter haar gegee het. Sy is vasbeslote om nie seesiek te word nie.

      In die deur van haar kajuit staan sy ’n oomblik verras stil. Tussen twee splinternuwe blou tasse kniel die meisie met die goud­rooi hare. Haar gesig is tussen haar arms versteek en sy huil asof haar hart wil breek.

      Emma raak saggies aan haar skouer.

      “Wat makeer? Kan ek nie help nie?”

      Sandra Louw kyk verskrik op. Haar gesig is rooi gehuil. In haar hand hou sy ’n telegram. Van die mooi, oënskynlik selfversekerde Mejuffrou Suid-Afrika wat ’n rukkie gelede aan boord gekom het, omring deur fotograwe en bewonderaars, is daar nou weinig teken. Sy is maar net ’n kind, jonk en onervare, wat verlang na haar eie huis en mense.

      ’n Bietjie verleë staan sy op en probeer haar trane afvee.

      “Ek is Emma Conradie – ons deel die kajuit,” sê Emma saggies, gerusstellend. Sy kyk na die telegram in Sandra se hand en sê simpatiek: “Ek hoop nie jy het slegte nuus gekry nie.” Die jong meisie skud net haar kop en Emma glimlag effens. “Nou kom dan, was jou gesig. Dan gaan jy saam met my op na die dek toe. Die skip vertrek nou-nou, dan kan ons saam vir Tafelberg tot siens sê.”

      Sandra Louw skud haar kop en die trane vloei opnuut.

      “My kop is seer – ek voel nie lekker nie. Ek het vannag vieruur eers in die bed gekom. Ek … ek dink ek moet liewer ’n bietjie gaan lê.”

      “Nou kom, dan help ek jou. Jy kan later jou klere en goed uitpak.”

      Sandra maak een van die tasse oop en haal slaapklere en ’n mooi blou kamerjas daaruit. Die trane loop nog en kort-kort moet sy dit afvee.

      Emma help haar, hang die mooi swart baadjiepak op en stoot die tasse uit die pad. Asof van ver hoor sy musiek en sy word bewus van die sagte geklop van die skip se enjins. Sy drink ’n pil en gee vir Sandra ook een.

      “Jy kan onder slaap as jy wil,” sê Emma. Maar die meisie skud haar kop. Sy wil graag op die boonste bed slaap.

      Toe Emma weer op die dek kom, sien sy die meisie wat saam met haar pa aan boord gekom het, alleen eenkant staan. Daar is iets pateties aan die eensame figuurtjie en impulsief gaan Emma na haar toe.

      “Wag jy vir iemand?” vra sy met ’n glimlaggie.

      Die meisie kyk haar ’n oomblik aan, die groot blou oë koel en onvriendelik.

      “Ek wag vir my pa,” sê sy koud.

      Emma kyk haar verbaas aan. Waarom sou die kind so onvriendelik wees? Is dit om haar angs en onsekerheid te verberg?

      Emma probeer weer.

      “Jy is gelukkig om nou saam met jou pa te kan rondry wanneer ander kinders moet skoolgaan en werk.”

      Daar verroer geen spier in die strak gesiggie nie.

      “Verskoon my,” sê sy. “My pa hou nie daarvan dat ek met vreemde mense gesels nie.”

      Onthuts en vererg draai Emma om en stap weg. Sy is behoorlik op haar plek gesit! En dit deur ’n klein snip wat haar eie dogter kon gewees het.

      Die reling van die skip staan nou toe van die mense. Die orkes speel en veelkleurige linte fladder in die ligte briesie wat begin waai. Sy besluit om op die bootdek te gaan staan. Van daar kan sy alles sien en daar is minder kans dat sy die onaangename klein skepseltjie en haar seker ewe onaangename pa kan raakloop.

      Dis ’n bont spul op die kaai. ’n Reënboog van linte span van die skip na die mense op die kaai. Die sleepbote wat die skip uit die hawe moet help, is reeds op hulle plek.

      Dis ’n tydrowende proses om die skip in posisie vir die uit­vaart te maneuvreer en Emma kyk hoe behendig die klein sleep­bote die groot, logge skip hanteer. Stadig word die stuk water tussen die skip en die kaai groter; een vir een breek die reënbooglinte, die laaste skakels tussen die skip en die land. Die trilling van die dek onder haar voetsole en die nou skielik sterk merkbare geluid van die skip se enjins verhoog Emma se opwinding.

      Toe die groot skip eindelik die sleepbote afskud en met ’n laaste groet die oop see invaar, lê die stad agter hulle reeds in skaduwee. Die wind waai nou heelwat sterker en Emma haal ’n serp uit haar jassak en bind dit om haar kop. Sy voel hoe die dek stadig styg en daal en hoe die groot Kaapse golwe die skip effens laat rol. Sy besluit om te gaan kyk hoe dit met haar kajuitmaat gaan.

      Die skip se gerol word erger en sy voel ’n bietjie lighoofdig. Versigtig klim sy die nou, steil trap van die bootdek af. Sy is ’n paar treë van onder toe sy die twee – pa en dogter – onderaan die trap sien staan. Die helder blik van die man se blougrys oë tref haar weer, en moontlik van pure verbouereerdheid haak haar voet vas. Sy gryp na die reling, maar met die rol van die skip verloor sy haar ewewig en struikel. Sy sou seker hard geval het as die man nie sy hand na haar uitgesteek het nie.

      “Ek hoop nie jy het seergekry nie,” sê hy hoflik terwyl hy haar nog vashou. Verbeel sy haar dit of is daar ’n ligte spotklank in sy stem? Dadelik vererg sy haar. Dink hy sy het met opset in sy arms geval?

      “Nee, dankie,” sê sy uitasem. Sonder om na hom te kyk, haar gesig rooi van verleentheid, stap sy haastig weg. Die rol van die skip laat haar amper weer haar ewewig verloor, maar sy is gelukkig by ’n ingang en glip haastig na binne.

      In die gang kry sy vir Hilda Bekker.

      “Waar was jy?” vra Hilda. “Ek het al oral na jou gesoek. Ek het gereël dat ons aan dieselfde tafel sit, maar ek twyfel of ek vanaand sal gaan eet. Te veel kreef en sjampanje vanmiddag!”

      Emma sien dat sy opvallend bleek is en knik simpatiek.

      “Dit was gaaf van jou,” sê sy. “Gaan lê nou ’n bietjie, miskien voel jy later beter.”

      “Ek sal sien. Moet in elk geval nie vir my wag nie.”

      Sy wil nog iets sê, maar draai skielik om en loop haastig weg.

      In die kajuit is alles rustig. Sandra lê in die boonste bed, toegemaak met ’n ligte wolkombers, haar gesig weg van die lig ge­draai. Die goudrooi hare val oor die kussing. Sy is blykbaar vas aan die slaap.

      Daar waai ’n koel briesie deur die patryspoort, maar die kajuit voel benoud vir Emma, en sy besluit om weer buitentoe te gaan.

      Lank staan sy alleen daar buite teen die reling van die skip. Die wind het koud geword. Kaapstad is nou net ’n gloed teen die aandhemel en die eerste sterre het reeds verskyn. Daar is min ander mense op dek; die meeste is binne, in hulle kajuite of in die sitkamers besig met ’n drankie.

      Sy is bly sy het reeds met Hilda en met Agnes en haar skoonsuster, Moira, kennis gemaak. Sy sal graag van die ander mense ook wil leer ken, maar vanaand gee sy nie om om alleen te wees nie. Die eerste aand op ’n skip is ’n besondere ervaring, met besondere gewaarwordinge wat jy nie sommer met enigeen kan deel nie. En sy het baie om oor na te dink.

      Uiteindelik moet sy tog ingaan. Sy voel gelukkig nie siek nie, net effens lighoofdig. Sy besef sy is honger en dink sy sal dit tog waag om iets te gaan eet.

      In die kajuit slaap Sandra nog vas, uitgeput na die opwin­ding van die afgelope dae. Emma trek ’n ander rok aan, kam haar hare en vind sonder moeite haar pad na die eetkamer.

      Die groot eetkamer is leeg, byna verlate. Net hier en daar sit mense. Dis nog vroeg, baie mense sal eers later kom en baie sal dit ook liewer nie vanaand in die eetkamer waag nie.

      Die hoofkelner kom haar tegemoet en groet


Скачать книгу