Onsigbaar. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.met nuwe oë sien.
* * *
Die Bateleur-suite is onderbeklemtoonde weelde, en al wat Emma doen, is om effens te knik, asof dit min of meer voldoen aan haar standaarde. Die swart portier (Benjamin. Hospitality Assistant) dra ons reissakke in. Emma stop hom ’n groen noot in die hand en sê: “That’s fine, just leave them here.”
Hy wys vir my waar die lugversorging en die minikroeg se geheimenisse lê. As hy uitstap, sê Emma: “Sal ek hierdie een vat?” Sy wys na die slaapkamer wat links van die sitvertrek lê. Daar is ’n dubbelbed in.
“Dis goed.”
Ek dra myne na die ander een, wat regs uitgaan, twee enkelbeddens met dieselfde roomwit linne as Emma s’n. Dan neem ek inventaris. Die houtraamvensters kan oop, maar word toegehou vir die fluisterende lugversorging. Elke slaapkamer en die sit-en-kroegruimte in die middel het ’n skuifdeur na die stoep aan die voorkant. Die slotmeganisme is ongesofistikeerd, nie goeie sekuriteit nie. Ek maak dit oop en loop uit op die stoep. Buite is ’n gepoleerde klipvloer, twee banke en stoele in volstruisleer, twee gemonteerde verkykers en ’n uitsig oor die nou verlate watergat, behalwe ’n swerm duiwe wat rusteloos drink.
Ek loop om die eenheid. Drie meter se grasperk, dan begin die ruigte. Ontwerp en geplaas vir privaatheid. Nie een van die ander eenhede, elkeen genoem na ’n arendspesie, is sigbaar nie. Slegte nuus uit ’n lyfwag se oogpunt.
Maar as iemand teoreties gesproke vir Emma wil hê, sal hulle die hoofhek moet vermy, oor twee meter wilddraad moet klim en sewe kilometer deur die veld moet stap in leeu- en olifantwêreld. Daar is nie veel om my oor te bekommer nie.
Ek gaan in, die koel binnekant ’n lafenis. Emma se deur is toe, ek hoor die fluistering van ’n stort. Vir ’n oomblik, heeltemal ongevraagd, visualiseer my kop haar lyf onder die waterdruppels. Ek stap kamer toe om die koue water in my eie badkamer te gaan oopdraai.
7
Ons stap in die skemer na Mohlolobe se Honey Buzzard Restaurant. Daar is ’n neerslagtigheid aan Emma. Gisteraand in Hermanus was sy ook met etenstyd stil. Miskien is sy nie ’n aandmens nie. Miskien is dit die hitte.
Wanneer ons by die kerslig van ’n tafel sit, sê sy: “Jy is seker baie honger, Lemmer.”
“Ek sal kan eet.”
’n Kelner bring spyskaarte en ’n wynlys. “Ek vergeet soms van kos,” sê sy.
Sy skuif die wynlys na my toe. “Jy is welkom om wyn te drink.”
“Nee dankie.”
Sy bestudeer die spyskaart lank en sonder geesdrif. “Net ’n slaai, ’n Griekse slaai,” sê sy vir die kelner. Ek bestel ’n bottel vonkelwater teen die prys van ’n klein motortjie – en die beesfilet met groen-pepersous en kapokaartappels. Ons kyk vir die ander mense in die vertrek, middeljarige buitelanders in groepe van twee en vier. Emma torring die wit linneservet uit ’n ring van nagebootste ivoor. Sy draai die ring met haar delikate vingers om en om, kyk na die fyn blaarpatroon daarop.
“Jy moet my verskoon …” sê sy en kyk op. “Toe ek vandag die bokke sien …”
Ek onthou die oomblik toe sy haar hand oor haar mond gesit het. Sy bepaal weer haar aandag by die wit ring in haar hand. “Ons het ’n wildplaas in die Waterberge gehad. My pa …”
Sy trek haar asem diep in en laat dit stadig uit, asof sy beheer wil kry oor die emosie agter die woorde.
“Nie ’n groot plaas nie, net drieduisend hektaar, net ’n stuk grond met ’n paar bokke op sodat ons naweke … My pa het gesê dit is vir ons, sy kinders, sodat ons nie hééltemal dorpsjapies is nie. Sodat ons kan weet wat klitsgras is. Vir Jacobus was dit … Op die plaas was hy nooit in die huis nie – hy het buite geslaap en geloop en gebly en … Hy het altyd twee of drie van sy maats daar gehad, maar hy het net vir my in die middag gevat as die son begin sak. Aan my hand. Ek was nege of tien, hy was amper klaar met skool. Dan gaan stap hy en sy sus … Hy’t geweet waar die bokke was, al die troppies, dan het hy gesê wat wil jy sien, sus, watter bokke wil jy sien? Dan het hy my vertel van hulle, hoe hulle maak, wat hulle doen. En die voëls, ek moes hulle name leer … Dit was vir my lekker … maar ek het ook partykeer so ’n bietjie skuldig gevoel omdat ek nie heeltemal soos hy kon wees nie … so heeltemal … Dit was asof hy nie geleef het as hy nie op die plaas was nie. Elke vakansie … Ek wou nie áltyd plaas toe gegaan het nie, nie elke naweek en elke vakansie nie …”
En dan is sy weer stil, tot die kos kom. Ek val my biefstuk met geesdrif aan. Sy krap rusteloos met haar vurk tussen die slaaiblare, sit dit eindelik neer.
“My pa … Vir hom was die ergste dat hulle nie vir Jacobus gekry het nie. Miskien sou dit vir hom beter gewees het as daar ’n … ’n liggaam was. Iets …”
Sy tel die servet van haar skoot af op, druk daarmee op haar mond. “Hy’t die plaas verkoop. Toe daar niks hoop meer was nie. Hy het nie met ons daaroor gepraat nie, hy het net een aand by die huis gekom en gesê die plaas is … Dit was die eerste keer … vanmiddag toe ek die bokke sien. Dit was die eerste keer van die plaas se tyd af … Van Jacobus se dood af.”
Ek bly stil. My geluide van simpatie was nog nooit betroubaar nie. En ek sit daar en ek is daarvan bewus dat ek nie ’n uitverkorene is nie. Ek is bloot die enigste beskikbare oor.
Emma neem weer die servetring tussen haar vingers. “Ek … Gisteraand het ek gelê en dink miskien maak ek ’n groot fout, miskien wil ek so graag hê daar moet nog iets van Jacobus iewers wees dat ek … Hoe sien ’n mens al dié goed objektief? Hoe kan jy seker wees dis nie jou emosie en jou verlange … Ek mis hulle, Lemmer. Ek mis hulle as mense en ek mis hulle as idees. As broer en pa en ma. ’n Mens moet familie hê ... Maar dan wonder ek ... is ek hier omdat ek dáárna soek? Het die ou op televisie regtig soos Jacobus gelyk? Ek ... hoe ... ek kan nie seker wees nie. Maar ek kan dit ook nie net ... Daardie telefoonoproep ... as jy nou vir my moet vra wat die man gesê het, wat het ek definitief gehoor? Dit is waarvoor jy ’n pa nodig het, sodat jy kan sê: Pa, is ek . . . is dit die regte ding?”
My bord is leeg. Ek sit die mes en vurk met verligting neer. Nou hoef ek nie meer skuldig te voel dat die kos lekker is, en ek eet terwyl sy met haarself worstel nie. Maar ek kan haar vraag nie antwoord nie. Daarom sê ek: ‘Jou pa ...” Net ’n klein aansporing.
Sy antwoord nie dadelik nie. Sy vou eers die ring in haar hand toe en dan kyk sy op na my en sy sê: “Hy was ’n stoker se kind.”
’n Kelner kom neem my bord weg en sy skuif haar slaai ook oor na hom toe en sê: “I’m sorry ... the salad is great ... it’s just my appetite …”
“Not a problem, madam. Would you like to see the dessert menu?”
“Jy moet poeding eet, Lemmer.”
“Nee dankie. Ek is versadig.”
“Coffee? Liqueur?”
Ons wys dit van die hand. Ek hoop Emma sal opstaan. Maar sy sit die servetring neer waar haar bord gestaan het en plaas haar elmboë op die tafel. “Dit voel vir my of almal vergeet het hoe arm baie Afrikaners was. My ouma ... sy het ’n groentetuin in die agterplaas gemaak en my oupa het ’n hoenderhok tussen die treinspore ... dit was teen die reëls, maar daar was nie ’n ander plek nie, daardie spoorweghuisies in Bloemfontein ...”
En dan vertel sy my die familielegende, die vodde-na-rykdom-sage van Johannes Petrus le Roux. Ek vermoed dit is ’n hervertelling van ’n bekende verhaal, een waarna sy seker dikwels as kind grootoog gesit en luister het. Dit is ook vir haar op hierdie oomblik ’n manier om die hoeksteen van haar verlore gesin weer aan te raak, om haarself en haar speurtog te herdefinieer.
Haar pa was die tweede oudste van vyf kinders, ’n groot gesin wat te hoë eise aan die salaris van ’n stoker gestel het. Op vyftien was daar nie ander genade nie, hy moes gaan werk. Vir ’n jaar het hy as handlanger by die Spoorweë se reuse loodse in Bloemfontein se Oos-Einde gewerk, binne stapafstand van sy nederige ouerhuis tussen die sidings.