Onsigbaar. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.asof sy behoort te weet waar dit is.
“In die Noord-Kaap. In die Bo-Karoo, tussen Beaufort-Wes en Carnarvon.”
Sy het ’n manier van kyk, ’n opregte, oop nuuskierigheid. Ek weet wat die vraag op haar tong is. “Waarom gaan bly ’n mens dáár?” Maar sy vra dit nie. Sy is te polities korrek, te bewus van konvensie.
“Ek sal nie omgee om eendag ’n plekkie op die platteland te hê nie,” sê sy, asof sy my beny. En dan wag sy dat ek reageer, dat ek vertel, die redes en die voor- en nadele uitstippel. Dit is ’n ander manier om die “Hoekom bly ’n mens dáár?”-vraag te vra.
Ek word gered deur die vlugkelner, wat blou kartonboksies met eetgoed aflewer – toebroodjie, pakkie southappies, ’n vrugtesap. Ek vermy die brood. Emma drink net die sap. As sy die strooitjie met haar fyn, amper kinderlike vingers behendig deur die klein foelieteiken gedwing het, sê sy: “Jy het ’n baie interessante werk.”
“Net as ek kans kry om die Stoffels van die lewe teen ’n pilaar vas te druk.”
Sy lag. Maar daar is ook iets anders, effense verbasing, asof sy nou iets raaksien wat teenstrydig is met die persepsie wat sy van my opgebou het: Hierdie vaal man wat van meet of aan so teleurstellend as gespreksgenoot was, het ’n sin vir humor.
“Het jy al bekendes opgepas?”
Dit is wat almal wil weet wanneer hulle jou beroepskeuse verneem. Van my kollegas, vir wie ’n interaksie met beroemdes kosbare aandag-valuta is, antwoord dikwels “ja” – en sal dan ’n paar filmsterre en musiekmense se name soos speelkaarte oor die tafel uitdeel. Die vraer sal op een van hulle toesak en gretig vra: “Is sy/hy nice?” Nie “is sy ’n goeie mens” of “is hy ’n man van integriteit” nie. Maar “nice” – daardie allesomvattende, niksseggende, lui woord waarvoor Afrikaners so lief is.
Wat hulle eintlik wil weet, is of die roem en rykdom die onderwerp van bespreking in ’n selfgesentreerde monster verander het, nuus wat hulle weer vir ander wil gaan oordra as deel van die nimmereindigende markkragte van kennis wat sosiale status bepaal.
Of so iets. B.J. Fikter, die enkele ander Body Armour-werknemer met wie ek sonder te veel weersin kan saamwerk, se standaard-antwoord is: “Ek kan vir jou sê, maar dan sal ek jou moet skiet.” Dit is ’n ja-antwoord wat steeds status bied, maar vir hom ’n cliché-grap as verskoning gee om nie detail te verskaf nie.
“Ons teken ’n swygklousule,” sê ek vir Emma le Roux.
“O.”
Dit neem haar ’n rukkie om te besef sy het al die moontlike onderwerpe nou sonder sukses probeer. Daar daal ’n genadige stilte neer. Ná ’n rukkie haal sy weer die tydskrif uit.
6
Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe is ’n verrassing, ondanks die effens pretensieuse naam. Die lughawegebou, tussen groen heuwels en bonkige rotsformasies, is modern en nuut. En aanskoulik. ’n Afrika-motief van reusegrasdak en oker mure, maar nie kitsch nie. Die hitte langs die aanloopbaan is dik, die humiditeit hoog. Ek sit my selfoon aan terwyl ons na die aankomssaal stap. Daar is ’n SMS van Jeanette. DOSSIER BESTAAN.
Binne in die terminaal is dit koeler, draaglik. Ons wag vir bagasie. Ek staan half agter Emma. Daar is sensualiteit in die ronding van haar denim en die vorm van die fraai nek en skouers wat die poeierblou kamisool ten toon stel. Maar trek jy jou fokus terug, sodat jy haar teenoor die groter, growwer mense om haar sien, en daar is ’n kwesbaarheid aan haar, ’n tengerige weerloosheid wat om beskerming roep, of dan minstens ontferming, ondanks die subtiele selfversekering van ’n mooi, ryk vrou.
Op die vliegtuig was sy sjarmant, opreg, nederig, ’n altruïs: Ek stel belang in jou as mens, Lemmer, al is jy net die gehuurde handlanger.
Vele fasette. Waar lê haar ware kleure?
Lemmer se Wet oor Klein Vroue: Moet hulle nie vertrou nie. Nie professioneel nie en nie persoonlik nie. Hulle leer van kleins af twee Pavloviaanse truuks aan: Die eerste is ’n produk van mense se reaksie: “Ag, maar is jy nie ’n oulike ou dingetjie nie,” veral as die gesiggie rond en die oë groot is. Mense behandel hulle soos skattige klein diere, sodat hulle dit leer ontgin, met maniertjies en gebaartjies wat die oulikheid onderstreep en die gebruiksaanwending slyp soos ’n sosiale lem. Die tweede is die gevoel van fisieke magteloosheid. Die wêreld is groot en sterk; hulle is tenger en relatief swak. Groter, voller vroue se ronde lyne van borste en heupe is vuurtorings vir manlike belangstelling, klein vroue se silhoeëtte trek nie aandag nie. Om te oorleef, ter selfbeskerming en selfhandhawing, moet hulle noodgedwonge uit ander bronne put. Daarom leer hulle om die krag van die kop te gebruik, hulle leer om te manipuleer, ’n voortdurende slim spel te speel met die wêreld om hulle.
Jeanette sê die dossier bestaan. Daar is dus waarheid aan Emma se storie. Maar hoeveel? Beantwoord dit genoeg van die vrae? As haar lewe dan regtig in gevaar is, waarom het sy Body Armour se goedkoopste beskermingsopsie gekies? Want volgens Carel die Grote het sy in die oortreffende trap geërf.
Gee ek haar die voordeel van die twyfel en sê Carel het oordryf? Of wil Emma nie glo sy is in werklike gevaar nie – al is sy ’n klein vroutjie met ’n predisposisie? Dalk is sy finansieel konserwatief. Of net suinig. Of te beskeie of skaam om die teenwoordigheid van twee of vier mans met vuurwapens en oorfone om haar te hê.
Of dalk speel sy ’n spel.
Ons bagasie kom aan. Ons loop na Budget-motorhuur. Terwyl Emma vorms invul, lui my selfoon. Ek herken die nommer, loop ’n entjie weg en antwoord.
“Hallo, Antjie,” sê ek.
“Waar’s jy?” vra Antjie Barnard in haar diep, onmoontlik sensuele stem.
“Ek werk. Dit gaan ’n week of wat vat.”
“So gedink. Wie gaan jou leibeurt doen? Dis warm hier.”
“Ek sal vir jou moet vra.”
“Dan doen ek dit. En as ek jou nie betyds sien nie, voorspoedige Nuwejaar.”
“Dankie, Antjie, vir jou ook. Pas jouself op.”
“Hoekom?” Sy lag en beëindig die oproep.
As ek omdraai, staan Emma reg agter my, met die lig van nuwe kennis in haar oë. Ek sê niks, neem net die sleutel van ’n wit BMW 318i wat sy na my uithou. Dit staan buite in die son. Ek laai die tasse in die kattebak en doen ’n opname van 360 grade. Niemand stel in ons belang nie. Ek klim in en kry die enjin aan die gang sodat die lugversorging kan inskop. Emma vou ’n kaart op haar skoot oop.
“Ek het gedink ons moet eers Hoedspruit toe gaan,” sê sy. Haar wysvinger soek die pad. Sy dra nie naellak nie. “Hier, oor Hazyview en Klaserie, dit lyk na die kortste pad. Of ken jy dié wêreld, Lemmer?”
“Nie goed nie.”
“Ek sal navigeer.”
Ons ry. Daar is meer verkeer as wat ek verwag het, bakkies, 4x4’s, vragmotors, minibustaxi’s. Geen teken van agtervolging nie. Deur Witrivier, die kontras met die Kaap is skril – hier is die natuur se kleure helder en oordadig in die lower van die eindelose bome, die bloedrooi van bykans elke blom, die diep, donker mahonie van mense wat stalletjies langs die paaie bedryf. Lelike, amateuragtige bemarkingsborde skree name, tariewe en aanwysings uit na kampeerplekke, gastehuise en private wildtuine.
Emma gee aanwysings, ons kry die R538 en ry, aanvanklik in stilte.
Wanneer die vraag eindelik kom, verras dit my nie. Want daar is sekere dinge waaroor geen vrou haar nuuskierigheid kan bedwing nie.
“Was dit jou …” ’n Oomblik se huiwering om aan te dui dat die term wyd inklusief sal wees. “… vriendin?”
Ek weet waarna sy verwys, maar ek hou my dom.
“Wat netnou gebel het?” Emma se stemtoon is in ditjies-en-datjies-modus, daardie neutraal-vriendelike trant wat sê sy is sommer net nuuskierig, sy wil net vir die interessantheid weet. Wat nie noodwendig onwaar