Wie met vuur speel. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.vir R750 000 teken, is die erf mos wetlik myne, al is die geld nog nie oorbetaal nie.”
“Ja, vir die doeleindes van ’n volgende koopkontrak. Maar . . .”
“Nee, luister eers klaar. Jy kan nog steeds die Duitsers laat weet dat jy ’n erf gekry het, maar die prys is tien miljoen. Of vyftien. Jy sal moet help met die bepaling van die verkoopprys.”
Dirk sit nog steeds met die skaakstuk in sy hand, half oorbluf. “Ek het nie geweet jy is so ingelig oor kontrakte nie.”
“Ek is ’n sakevrou.”
“Hoekom doen jy dit?”
“Vir die geld. En sodat jy kan terugkom aarde toe.”
“Ek? Ek makeer . . .”
Sy maak hom met ’n swaaiende vinger stil. “Ek het gisteraand alles uitgewerk. Dit gaan nie vir jou om die geld nie, maar om die beginsel. Miskien is jy bang hulle praat van jou as die man wat die kans deur sy vingers laat glip het. Ek dink ek verstaan ’n man se trots. Dus: Ek kan miljoene verdien, jou persentasie op die transaksie is baie hoër en jy hou op om soos ’n gekweste leeumannetjie hier rond te loop.”
Ragel glimlag selfvoldaan.
Dirk staar na haar, sy mond effens oop in verbasing. Dan gooi hy sy kop agteroor en lag. ’n Kelner by die deur kyk verbaas op. Ragel se hart spring. Sy wag al die hele naweek lank vir daardie lag. Maar lag hy vir haar plan?
Dirk se lagbui bedaar. “Ek neem aan jy is vasbeslote.”
“Definitief.”
“Ragel Bergh, ek het jou onderskat. Heeltemal. Jy is nie die eienares van ’n boekwinkeltjie nie, jy is ’n sakereus, ’n vrou met visie, ambisie.”
Sy sien hoe Dirk se blou oë skielik skitter, hoe sy lewenslus in elke nuanse van sy gesig en lyf terugkeer. Sy wens hy wil haar vat . . .
Dan is hy ernstig. “Weet jy wat jy doen?”
“Natuurlik. Daar is mos nie risiko nie.”
“Nee, daar is nie. Die Duitsers sal koop. Maar jou geld. Is dit nie vas belê nie?”
“Die meeste daarvan is in aandele. Ek sal Maandag met my rekenmeester gaan praat. Dit behoort alles binne twee weke los te wees. Daar is ’n vaste belegging op drie maande kennisgewing by die bank, maar ek het oortrokke geriewe vir dieselfde bedrag.”
Dirk skud weer sy kop in ongeloof. “Uitgeslape. En ek het gedink ek ken jou.”
Ragel geniet elke oomblik.
Skielik frons hy. “Ek waardeer wat jy wil doen meer as wat jy ooit kan dink. Maar jy moet my posisie verstaan. Ons sakegemeenskap is maar klein. Die oomblik dat dit bekend word dat ek my geliefde bevoordeel het ten koste van ’n vorige sakevennoot, sal niemand my weer vertrou nie.”
Sy hoor die woord, maar bepaal haar by die punt. “Daar is geen rede hoekom die hele Kaap moet weet ek was die vorige eienaar nie.”
Dirk is ernstig. “Jy sal jou rekenmeester moet vertel waarom jy skielik ’n driekwartmiljoen kontant wil hê. En dan is daar nog jou prokureur, jou bankbestuurder . . .”
Ragel vererg haar effens. “Dirk, hou op met dink ek is net ’n grootoogmeisie in die man se sakewêreld. Ek het ook al ’n paar dinge geleer. Ek hoef niemand hiervan te vertel nie. Nie eens my rekenmeester nie. Ek kan direk met die makelaars praat. Die prokureur is ’n probleem. Iemand moet seker die koopkontrak opstel, die aktes behartig?”
“En ek ken ’n betroubare een wat sy mond sal toehou.”
Dirk glimlag breed. Hy kyk haar diep in die oë en skud sy kop van kant tot kant. Dan sit hy sy hande om haar nek en trek haar bo-oor die skaakbord saggies nader. “Jy is ongelooflik,” sê hy. En hy soen haar met drif. Ragel hoop die kelner kyk anderpad, want dié geleentheid gaan sy nie misloop nie.
Dirk staan op en vat haar hand. Sy oë lewe. “Kom,” sê hy, sy stem skielik grof. Hy stap in die gang af en met die trap op, groot, doelgerigte treë. Ragel se hart klop in haar keel. Sy moet drafstap om by te bly, om haar hand in sy sterk greep te hou.
Dirk bewe effens as hy sy kamerdeur wil oopsluit. Wanneer hulle binne is, trek hy haar byna hardhandig nader. Haar asem jaag van die hardloop en die afwagting. Hy kreun terwyl hy haar soen, sy hande besig met haar bloes se knope. Ragel wil sy hemp oopvlek, haar lippe teen sy bors druk, haar bors teen sy bors druk. Hy tel haar op en lê haar op die bed neer.
Haar vingers raak verstrengel in die dik blonde hare as sy sy kop nader trek.
Ragel is eers weer die Sondagoggend alleen wanneer sy na haar kamer moet gaan om reg te maak vir ontbyt. Sy betrap haarself dat sy met ’n groot glimlag in die vuurwarm bad lê en die gebeure van die afgelope dag herleef. Sy het nog nooit ’n minnaar soos Dirk Buchner beleef nie. Hy het dinge met haar gedoen wat haar laat skree het, en laat lag het. Hy was sag – en soms nié. Hy was hoflik, dringend, skeppend, ervare, spitsvondig, liefdevol, wonderlik. Sy is nog nooit só geheel en al bemin nie.
Dan besef sy hulle het die vorige oggend laas geëet en sy is rasend honger. Sy bad vinnig klaar en trek aan. Dirk kom haal haar en hulle loop hand in hand die trap af. “Dis aansienlik stadiger as toe ons opgekom het, nè?” Ragel lag uitbundig.
Sy kan nie haar oë van hom afhou nie. Tussen elke gereg hou sy Dirk se hand vas. Sy kan nie ophou met glimlag nie. Sy wil aan hom behoort.
Laatmiddag, met die rit huis toe, tref hulle finale reëlings vir die transaksie. By haar huis, met vol bekers koffie wat koud word en die reën wat teen die ruite sif, maak sy weer haar lyf sag en oop vir hom.
Hy kom haal haar net ná tien by die winkel. Frikkie probeer om die innige soen waarmee sy Dirk groet, mis te kyk, maar sy frons verdiep. Hy het onmiddellik besef dat Ragel blind verlief is toe sy ’n uur later as gewoonlik by die winkel opdaag en oor niks en niemand anders as Dirk Buchner en hul wonderlike naweek saam kan praat nie.
Dirk ry eers Kampsbaai toe. “Jy moet sien wat jy koop. Jy moet die erf se sand tussen jou tone voel en besluit of dit regtig is wat jy wil doen.”
Ragel hou sy hand so styf vas dat hy amper nie die Porsche se ratte kan verwissel nie.
Die sake-erf is groter as wat sy gedink het en die uitsig oor die Atlantiese oseaan is oneindig. Ragel is gek na die plek.
“Verstaan jy nou waarom ek dit nie vir R750 000 kan laat gaan nie?”
Ragel soen hom.
Sy prokureur se kantoor is hoog in een van die Strandgebied se nuwe toringblokke. Jankowitz en Van Sitterd staan op die deur. Die ontvangslokaal is ruim en modern gemeubileer. Die rooikopontvangsdame sou beeldskoon gewees het as dit nie vir haar oormaat grimering was nie.
Sy kom met ’n groot glimlag om die toonbank gestap. “Môre, meneer Buchner. U moet juffrou Bergh wees. Meneer Van Sitterd wag al vir u. Kom, stap gerus deur.”
Dirk groet hoflik. Die ontvangsdame hou die deur oop en hulle stap in ’n reusekantoor in, waar ’n ewe groot man met ’n welige pikswart baard agter ’n tamaai lessenaar sit.
“Dirkie,” sê hy joviaal en staan op, ’n groot hand uitgestrek.
“John, ek wil hê jy moet my aanstaande ontmoet. Ragel Bergh, dit is my vriend, John van Sitterd.”
Ragel hou dadelik van die groot man met die baard.
“Now I know why you waited so long, Dirkie. It was worth it.”
Ragel bloos. Van Sitterd fluister vir haar agter ’n teatrale hand. “Hy was maar sku vir vroumense. Te blêddie bangbroek.”
Ragel lag en Van Sitterd bulder. “Kom sit, kom sit. Mister Cartwright sal nou enige oomblik hier wees.”
Dirk en Van Sitterd raak dadelik aan die gesels oor die kontrak. Ragel luister met een oor. Sy besef Van Sitterd het ’n grap gemaak oor Dirk se skuheid vir vroue, maar sy weet daar is ook waarheid in. En sy hou