Wie met vuur speel. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.drink eers tee. Dirk en Van Sitterd doen die meeste geselswerk, terwyl Cartwright met sy hande op sy kierie leun en met ’n skewe kop sit en luister. Ragel vermoed dat hy effens doof is.
Die ontvangsdame bring die kontrak in en Van Sitterd behandel dit stukkie vir stukkie met hulle. “Ragel, jy het onmiddellik vervreemdingsreg op die grond, maar enige kontrakte wat jy ná vandag aangaan, sal net regsgeldig wees as die voorwaardes van die kontrak tussen jou en mister Cartwright nagekom word. You understand that, mister Cartwright?”
Cartwright leun vorentoe. “How’s that?”
Van Sitterd verduidelik die bepalings weer geduldig aan die gryskop man. Dan begin hulle met die langsame proses van ondertekening. Wanneer Cartwright die pen eindelik ná ’n laaste stylvolle handtekening neersit, kyk hy vir die eerste keer in Ragel se oë. “Congratulations, my dear. May that little piece of earth bring you much joy.”
Ragel reageer outomaties met ’n dankie, maar sy voel skielik vreeslik skuldig. As dié waardige man moet weet waarom sy dit regtig gekoop het . . .
“Just one small favour,” vra Cartwright.
“Anything.”
“Please try to conclude the transaction as soon as possible. I want to go home.”
Nou het Ragel ’n knop in haar keel. Hy wil só graag terug Engeland toe gaan, na sy mense toe, dat hy bereid is om die erf byna verniet weg te gee. En sy gaan miljoene daaruit maak. Maar vir haar gaan dit darem ook oor ’n mens . . .
“I promise you I’ll do my best,” sê sy met oorgawe.
Toe hulle ná ’n plegtige afskeid van Cartwright in die sonlig uitstap, wil Dirk met alle geweld die transaksie met middagete gaan vier.
“Ek het nog nie eens begin reël aan die geldsake nie. En jy het gehoor hoe mooi Cartwright gevra het vir gou maak,” pleit sy.
Dirk glimlag vir haar. “Dat só ’n beeldskone vrou só ’n klein hartjie moet hê. Wat van aandete? By my plek. Dirk Buchner se beroemde spaghetti met swartmossels in ’n rooiwynsous.”
“Die beeldskone vrou met die klein hartjie en die groot maag,” lag Ragel. “Jy weet waar my swak plekke lê. Ek kan nie wag nie.”
“Sien jou teen sewe-uur.”
6
“Mignon het gebel, jou broer soek jou al van Saterdag af, twee kliënte is kwaad omdat hulle so sukkel om jou in die hande te kry en . . . en dit is al,” sê Frikkie sodra sy weer by die winkel ingewaai kom.
Sy vererg haar so effens vir sy stemtoon. “Hulle kan almal maar so ’n klein bietjie wag. Ek is met iets groots besig, maar dit is al amper verby.”
“Sal dit ooit verby wees?”
Ragel is op haar perdjie. “Wat bedoel jy?”
Frikkie gee die stryd gewonne. “Niks nie,” mompel hy en draai weg.
Maar Ragel se bloed kook. “Nee, kom praat dit uit. Ek sien jy loop die afgelope tyd met jou ken op jou bors. En ek is nou moeg daarvoor. As daar iets is wat jou pla, moet jy mans genoeg wees om daaroor te praat. En nie net skimpe te gooi nie.”
Frikkie se oë rek vir haar uitbarsting. “Ek is jammer,” sê hy sag. Sy gebrek aan aggressie haal die wind uit haar seile.
“Asseblief, Frikkie. Ek is regtig besig met ’n groot ding, maar ek mag niks sê nie.”
Frikkie knik sy kop instemmend, maar sy oë is soos dié van ’n getroue ou hond wat onnodig pak gekry het. Ragel sug en stap na haar kantoor.
Haar eerste oproep is na die aandelemakelaar wat haar sake hanteer. Daarna gesels sy amper ’n driekwartier met haar bankbestuurder. Sodra sy die telefoon neersit, lui dit onmiddellik.
“Ek neem aan jy sou my al vroeg vanoggend gebel het as die naweek die moeite werd was,” sê Mignon.
“Haai. Ek moet bieg – dit gaan dol.”
“Wel?”
“Wel wat?”
“Ragel Bergh, jy is besig om my te tart. Het hy of het hy nie?”
“Ek is jammer, juffrou Van der Merwe, maar dit is geklassifiseerde inligting.”
Mignon gil aan die ander kant. “Hy het! Ek weet hy het. Ek kan dit aan jou stemtoon hoor. Jy klink so onderdanig. Maak jy al sy skoene skoon?”
“Dit was nie nodig nie.”
Mignon bly vir ’n oomblik oorbluf stil. “Dis ’n grap, Ragel. Onthou jy? Wanneer iets snaaks is?”
“Ek is nou moeg daarvoor dat jy alewig besig is om Dirk af te kraak. Ek kan dit nie verstaan nie. Frikkie is net so negatief.”
Dié keer neem dit Mignon nog langer om oor haar verbasing te kom. Ná ’n rukkie stilte sê sy: “Luister, dit is Maandag. Kom ons probeer môre weer om dié gesprek voort te sit. Dalk voel jy beter.”
“Ek voel baie goed. Daar is niks met my verkeerd nie,” sê Ragel vies.
Mignon sug en groet. Ragel sit die telefoon neer met ’n groot frons. Hoekom is almal skielik so vyandig? Kan hulle nie besef dat sy onder druk is nie? Dit is ’n groot transaksie – die grootste waarby sy nog betrokke was. En sy kan nie eens daaroor praat nie. Behalwe met Dirk. Hy sal verstaan. En sy moet nog tot vanaand wag om hom te sien.
Die res van haar dag is vol frustrasie. Sy is in die winkel vasgekeer saam met Frikkie wat sy oë gedurig verwytend op haar rig soos ’n gekweste dier. Boonop sukkel sy om te konsentreer wanneer kliënte kom gesels.
Teen vieruur kan sy dit nie meer hou nie.
“Frikkie, dit is regtig ’n blou Maandag. Ek gaan in ’n warm bad klim,” maak sy verskoning.
Sy slaan die MG se dak terug en kies koers Houtbaai toe, al langs die see af.
Ragel se gedagtes maal. Daar het in die laaste 24 uur só baie gebeur. Doen sy die regte ding? Het sy nie met die voorstel dat sy die erf sal koop, te gou haar gevoelens vir Dirk gewys nie? Sy gee nie ’n duiwel om vir die geld nie. Sy wil net nie vir Dirk verloor nie. Nee, dit is nie heeltemal eerlik nie. Die geld sal heerlik wees. Net die idee om so baie geld te kan besit . . .
Die wind deur haar hare wil nie help om die spinnerakke weg te waai nie.
Sy besluit om vanaand met Dirk te praat. Hy sal verstaan. Sy draai die MG om en ry huis toe.
Die eerste groot verrassing is toe hy haar kom haal en sy hom skaars kan sien agter die reuse bos blomme in sy arms.
“Sit dit net eers in die water. Ons gaan dadelik ry. Ek het iets wat ek met jou wil bespreek,” sê Dirk ernstig.
Ragel skrik. Maar sy doen meganies wat hy sê.
Wanneer hulle by Dirk se woonstel kom, laat hy haar op die rusbank sit en maak dadelik ’n bottel sjampanje oop. Hy kom sit langs haar en skink twee glase.
“Op jou nuutgevonde rykdom.”
Sy klink haar glasie. “Jy wou iets met my bespreek het.”
Toe kom die tweede verrassing.
“Ja.” Dirk skuif nader. “Jy het nie ’n goeie dag gehad nie, nè?”
“Kan ’n mens dit só maklik sien?”
Dirk glimlag. “Jy was onseker of jy die regte besluit geneem het, deurmekaar oor die hele spul, bekommerd dat jy al jou geld in een neseier belê.”
Nou glimlag sy vir die eerste keer. “Hoe op aarde weet jy dit?”
“Luister, dit is my werk om te weet. Elke transaksie wat ek beklink, het dieselfde uitwerking op mense wat nie elke dag by sake van dié grootte betrokke is nie. Jou gevoelens is doodnormaal. Die rede daarvoor is dat die opwinding vir eers verby is. Maar moenie jou bekommer nie. Die groot