.
Читать онлайн книгу.Teen die 1770’s was hulle heelwat meer bedrewe in die kuns om hul handelsaktiwiteite te verbloem. Hulle het dikwels saam met van die vernaamste burgers in handelsvennootskappe gewerk, wat volgens die Patriotte amptenare onregmatiglik bevoordeel het.
Die wese van die stryd aan die Kaap was ’n botsing oor die Kaap se stigtingsgeskiedenis en burgerregte. W.C. Boers, wat in 1774 fiskaal geword het, het dieselfde mening as Willem Adriaan van der Stel sewentig jaar vroeër gehuldig oor die minderwaardige regte en plek van die burgers. Hulle was daar tot voordeel van die Kompanjie, nie andersom nie. Saam met die goewerneur, Joachim van Plettenberg, het Boers daarop aangedring dat die Kompanjie sy reg gebruik om weerbarstige burgers weer in sy diens op te neem en hulle weg te stuur na ’n ander pos.
In die eerste paar jaar van Van Plettenberg se termyn is nie minder nie as 18 burgers vir diens opgeroep en weggestuur. Die direkte aansporing vir die Kaapse Patriotbeweging was die verbanning van die agtiende burger, Carel Hendrik Buytendagh. Hy was ’n berugte skobbejak wat sowel lede van sy familie as sy werkers aangerand het, maar die burgers het dit nodig gevind om die gebruik van verbanning te beveg.
In Mei 1778 het geheime vergaderings plaasgevind en is naamlose pamflette versprei. In ’n pamflet word gesê: “Ons het ons wette en voorregte laat verkrag en ons het vergeet dat ons vrye burgers van ’n kolonie van die vrygevegte Nederland is.” Die Patriotte het die filosofie van die natuurlike regte van die mens gebruik in hul weergawe van die stigtingsgeskiedenis. Hulle het geredeneer dat die Kompanjie en die eerste setlaars wat na Afrika gestuur is ’n soort “oorspronklike kontrak” gesluit het. Hulle het Van Riebeeck se administrasie as ’n goue tydperk beskou waarin die burgers “’n gepaste vryheid” geniet het en waarná die koloniste aan ’n “arbitrêre despotisme” blootgestel is. Na hul mening het elke persoon wat van die Kompanjie se diens vrygestel is al die regte geniet van burgers wat nooit in die Kompanjiesdiens was nie.
Hierdie siening van die geskiedenis en burgerregte het nie met die feite gestrook nie, maar die Patriotte was nie meer bereid om gesag onkrities te aanvaar nie. Meer as 400 mense het ’n versoekskrif onderteken waarin verlof gevra is vir ’n Patriot-afvaardiging van vier man om die saak in Nederland aan die Here Sewentien voor te lê.
Die goewerneur het geweier, maar die afvaardiging, wat bestempel is as die “Verteenwoordigers van die Hele Burgerstaat”, veronagsaam die verbod en vertrek na Nederland. Hier kom hulle met die Nederlandse Patriotte in aanraking, en ook met ander teenstanders van die Prins van Oranje as stadhouer. Omdat die Kompanjiedirekteure sterk Oranjemanne is, wend die Kaapse afgevaardigdes hulle ook tot die State-Generaal, die Nederlandse parlement, wat teen die prins gekant was.
Die Patriotte het verskeie versoekskrifte ingedien. In die eerste deel van die belangrikste petisie het hulle die klaaglike posisie van die Kaapse vryburgers uiteengesit; in die tweede deel het hulle sekere amptenare van onbehoorlike gedrag aangekla en daarop aangedring dat Kompanjiesamptenare streng verbied word om handel te dryf; en in die derde deel het hulle versoeke gerig om vryhandel, beter produktepryse en laer pryse vir die goedere wat hulle van die Kompanjie moet koop.
Die Kaapse Patriotte se politieke eise was ambisieus. Hulle het sewe setels vir burgers in die Politieke Raad gevra wanneer sake wat die burgers raak, bespreek word, en die helfte van die setels in die Raad van Justisie. In stede daarvan dat die regering burgers in hierdie regeringskolleges koöpteer, moes hulle vryelik verkies word deur die burgers wie se termyn in die kolleges verstryk het. Die Kaapse Patriotte het ook ’n duideliker omskrywing van burgerregte gevra, die kodifisering van die wette en ’n verbod op die verbanning van burgers, behalwe as die burgerrade dit goedkeur.
Die Patriotte se dokumente belig ook sekere maatskaplike strydpunte wat akuut begin raak het. Hulle het byvoorbeeld gevra dat wit mans nie deur “kaffers” gearresteer mag word nie en dat die burgers toegelaat moet word om slawe lyfstraf toe te dien, waarmee waarskynlik bedoel is strawwer straf as wat hulle vir hul eie seuns as geskik beskou.
Die amptenare het die klagte teen hulle as afguns afgemaak en fiskaal W.C. Boers het onomwonde die standpunt gestel dat die amptenare die Kaap moet regeer, nie die burgers nie. In ’n eerste reaksie het die Here Sewentien die amptenare van blaam onthef, maar in 1782 het die Patriotte ’n “nadere memorie” voorgelê waarin hulle hul klagte verder uiteengesit het. In 1784 het die Patriotte ’n liggaam wat die “volk” verteenwoordig het, georganiseer. Dit het petisies aan die State-Generaal afgestuur en vier nuwe afgevaardigdes gekies om die saak in Nederland te stel.
Die Patriotte se leiers was redelik welgestelde mense wat in Kaapstad gewoon het of nie ver daarvandaan nie. Hulle het probeer bewys dat beperkings dit vir hulle moeilik maak om vooruit te gaan. Maar hul betoog is bemoeilik deur die opbloei van die Wes-Kaap omdat ’n Franse mag gedurende die eerste helfte van die 1780’s aan die Kaap gestasioneer was. Die amptenare het gewys op die welvaart wat die Kaap beleef. Hulle het die burgers ook beskuldig van luiheid en beweer dat hul eie handelsbedrywighede heeltemal binne perke was.
Die Patriotbeweging is van groot belang. Vir die eerste keer het burgerleiers besin oor die oorlewing van die burgergemeenskap op ’n manier wat verder as hul direkte belange strek. Hulle het betoog dat dit vir baie burgers onmoontlik is om van koring- en wynbou te bestaan en dat hulle dus verplig is om diep die binneland in te trek. In die grensdistrikte moet “verskeie huisgesinne in een hut saamwoon, terwyl jongmense wat nie ’n bestaan kan maak nie ongetroud moet bly”. Sommige het selfs met die Khoi-Khois vermeng, waaruit ’n geslag gebore kan word “wat selfs meer gedug as die Boesmans-Hottentotte sou wees”. Hulle het gewaarsku dat as daar geen hervormings kom nie die burgers se trek die binneland in sou uitloop op ’n algehele “verbastering van die moraal en die opkoms van ’n heeltemal gedegenereerde volk”.
Die Patriotte het nie veel vermag nie. Die Kompanjie het die sleuteleis, naamlik burgerverteenwoordiging in die Politieke Raad, verwerp. Dit het wel die burgers in die Raad van Justisie van drie tot ses vermeerder. Die Kompanjie het ook ingestem dat die burgers nie meer teen hul sin in die Kompanjiesdiens opgeroep en verban sou word nie. Die burgers sou nie toegelaat word om handel te dryf in hul eie skepe nie, maar handel met vreemde skepe sou toegelaat word nadat aan die Kompanjie se behoeftes voldoen is.
Die Patriotbeweging in Nederland is die nek ingeslaan toe die Prins van Oranje in 1787 die hulp van Pruisiese troepe ingeroep het. In die onderdrukking wat gevolg het, het ’n groot aantal Patriotte na ander lande gevlug, veral na die nuwe onafhanklike Verenigde State van Amerika. Die Kaapse Patriotbeweging het gedisintegreer.
In die agtiende eeu was daar geen intellektuele elite aan die Kaap wat stelselmatig en voortdurend kon dink en skryf oor die kollektiewe oorlewing van die Europeërs nie. Wanneer hulle oor die politiek besin het, het hulle hulle self as óf Kompanjiesdienaars óf burgers beskou. Senior Kaapsgebore VOC-amptenare was geneig om die eenvoudige grensboere te minag. Willem Stephanus van Ryneveld het hulle beskryf as mense wat grootgeword het “in idleness and in the unrestrained indulgence of the wild passions in nature”.
Dit was nie Kaapstad en die hoë amptenare wat die grootste invloed op die ontwikkeling van die boere in die grensgebiede gehad het nie, maar die burgergemeenskap van die Wes-Kaapse platteland. Hierdie burgers het ’n rigiede slawebesittende gemeenskap gevorm waarin baie min slawe ooit gedoop, aangeneem of vrygestel is in ’n kerk wat al hoe witter geword het. Dit was hier waar die model uitgekristalliseer het van ’n Afrikanergemeenskap wat hom maatskaplik as outonoom beskou, maar wat ten volle op bruin en swart mense se arbeid steun.
Dit was ’n gemeenskap wat op spesiale regte en voorregte vir die burgers aangedring het sodat hulle hulle kon handhaaf. Hier het die ideologie van paternalisme wortelgeskiet, met die mite van ’n welwillende baas en nooi wat vir “hul mense”, veral die huisslawe, sorg en hulle amper soos eie kinders behandel, maar wat hulle nooit kerk toe neem nie en straf as hulle te vrypostig raak. Dit was hierdie model wat die mense na die grensgebied saamgeneem en streng gevolg het wanneer hulle inboorlinge in diens neem.
’n Genadelose oorlog teen die Boesmans
Teen die 1770’s het die veeboere wat dieper in die binneland ingedring het, teenstand begin ondervind. Op die noordelike en die noordoostelike grens van die kolonie het die gedugte Boesmans gewoon. Die meeste van hulle het in klein bendetjies van jagters opgetree en soms