Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Читать онлайн книгу.of Khoi-Khois probeer uitwis nie. Daarvoor was die boere te min en hul vraag na arbeid te groot. In die Khoi-Khois en die Xhosas se ekonomieë het vee dieselfde belangrike plek as in dié van die burgers ingeneem, en daarom kon hulle maklik in diens geneem word. Die ekonomie van die Boesmanjagters het egter drasties van die burgers s’n verskil en die veeboere het inderdaad geprobeer om Boesmans op groot skaal dood te maak.
Die stryd wat tussen 1770 en 1810 tussen Boesmans en burgers gewoed het, was fel en genadeloos, soos op elke plek waar veeboere en jagters gebots het. Boesmans het die burgers se vee doodgemaak en vermink of weggevoer, en veewagters vermoor. ’n Boer het een oggend wakker geword en agtergekom dat al sy veewagters doodgemaak is en dat 40 beeste en 200 skape (sy hele kudde) uitgewis is. In die aangesig van hierdie aanslag het boere ’n groot deel van die wyk Sneeuberg verlaat.
Diegene wat gebly het, het besluit om te veg. In 1774 het die regering ’n “algemene” of groot kommando onder leiding van kommandant Godlieb Rudolph Opperman uitgestuur. Die opdrag was dat die kommando die krisis vreedsaam moet besleg, maar as dit misluk, moet die Boesmanstropers “verdelg” word. Die kommando het teen die einde van 1774 teruggekeer nadat dit 503 Boesmans doodgemaak en 241 gevange geneem het.
Sekere aspekte van hierdie kommando moet beklemtoon word. Daar was 150 Khoi-Khois in die kommando, aan wie gewere en ammunisie uitgereik is. Dit bewys dat die beeld van die kommando as ’n gevegseenheid van wit mans heeltemal verkeerd is. Boere het van hul Khoi-Khoi-werkers gebruik om die kommando aan te vul of om in hul plek te veg. Dit was inderdaad die Khoi-Khois wat dikwels die spit in gevegte moes afbyt. Hoewel hy bevooroordeeld teen die boere was, moet die getuienis van Honoratus Maynier, landdros van Graaff-Reinet, wel in ag geneem word: “Ek het altyd gevind dat die kommando nooit geslaag het nie behalwe wanneer daar ’n aansienlike aantal Hottentotte saam met die burgers was, wat dan op die voorpunt geplaas is en die meeste aan gevaar blootgestel was.”
Nog ’n betekenisvolle aspek van Opperman se kommando was die vang van Boesmanvroue en -kinders. Die regering het allerlei geskenke saamgegee wat onder die Boesmans uitgedeel kon word, maar daar was ook beenysters en boeie. Dit was bedoel vir weerlose kinders en vroue wat op die gevegsterrein oorgebly het nadat die mans doodgeskiet is. Party van die vroue is aan die Khoi-Khoi-lede van die kommando gegee en die kinders is teruggebring en op die plase ingeboek.
Die vang van vroue en kinders het gou ’n doel op sigself geword. Dirk Koetse het byvoorbeeld aan die leier van ’n kommando geskryf: “Ek het my Hottentot beveel om ’n kleintjie vir my te vang en ek vra jou dat indien hy een kry hy dit kan hou.” Teen 1795 was daar ongeveer duisend gevangenes in Graaff-Reinet en party burgers het daarop aangedring dat kommandolede toegelaat word om hul gevangenes te verkoop, wat die stelsel vir alle praktiese doeleindes in slawerny sou omskep.
Opperman se kommando het nie daarin geslaag om vrede te bewerkstellig nie. Adriaan van Jaarsveld het nou geprobeer om met ’n daad van uiterste geweld Boesmans die skrik op die lyf te jaag. Hy het twee plase in Sneeuberg besit en was energiek en ondernemend, maar ook ’n man met ’n vinnige humeur en ’n wrede streep. In 1775 het Van Jaarsveld ’n daad gepleeg wat afgryse wek. As leier van ’n kommando het hy 12 seekoeie geskiet en hulle as aas vir die Boesmans gelos. Terwyl die Boesmans besig was om die karkasse van die seekoeie te eet, het die kommando toegeslaan en 122 doodgeskiet en 21 gevang. Slegs vyf het ontsnap. Maar hierdie gruweldaad het ook nie vrede gebring nie.
Van Jaarsveld het nou ook Sneeuberg verlaat, maar die stryd hier en in die ander wyke aan die noordoosgrens het voortgeduur. Volgens die amptelike syfers het die kommando’s tussen 1760 en 1795 2 480 Boesmans doodgeskiet en 654 in hegtenis geneem. Die Boesmans het 19 161 beeste en 84 094 skape weggevoer en ook 276 veewagters doodgemaak. Gedurende die 1790’s was Sneeuberg die toneel van ’n genadelose stryd.
Veldkommandant J.P. van der Walt, ’n nuwe leiersfiguur, het onverwags met ’n radikaal ander benadering gekom. Hy het verskeie kommando’s gelei wat in die 1770’s en 1780’s teen die Boesmans uitgetrek het met die doel om die rowers uit te wis. Hy het in hierdie stadium nie die veldtogte van die kommando’s en die vang van Boesmankinders teengestaan nie. Vyf jaar later het hy egter sy mening verander. Hy het die landdros gevra om te weier dat nog kommando’s uitgaan en kinders vang, aangesien “die burgers ook alles sou gee as hulle van hul kinders beroof word”.
Onder sy leierskap het die boere vee, tabak en krale aan Boesmanstamme uitgedeel om hulle te oorreed om in vrede te leef. Die veldwagmeesters van die Midde-Roggeveld en die Hantam het begin om skape en ander geskenke in te samel, wat van tyd tot tyd oorhandig kon word om die Boesmans te oorreed om op te hou steel. Alhoewel die aanvalle deur die Boesmans op party plekke tot die tweede dekade van die volgende eeu voortgeduur het, het kolonel Collins in 1809 geskryf hoe bevredigend dit is “to observe the anxiety evinced by the farmers of the north-eastern districts to preserve peace with that people rather by conciliation than by terror”. Gedurende die 1820’s het landdros Andries Stockenstrom en die sendeling James Clarke soortgelyke stellings gemaak. Maar aan die ander kant van die spektrum was daar in daardie stadium nog steeds burgers wat in Boesmankinders handel gedryf het.
Die opstand van die Khoi-Khoi-arbeiders
Teen die 1760’s het Khoi-Khoi-stamme tussen die Van Stadensrivier (wat naby die huidige Port Elizabeth uitmond), en die Visrivier gewoon. Baie Khoi-Khois is opgeneem in die Gqunukhwebe, die mees westelike stam van Xhosasprekers. Aangesien die Xhosas se gewasse somerreën nodig gehad het, het hulle nie ver oor die Visrivier beweeg waar die streek van winterreën begin het nie.
Teen die 1770’s het druk deur die nuwe indringers – wit mense van wes en Xhosas van oos – die Khoi-Khois gedwing om hul onafhanklikheid prys te gee en hul lot by die Xhosas of die burgers in te gooi. Dit was ’n moeilike besluit. Indien die Khoi-Khois by die Xhosas aangesluit het, sou hul vee deel van die stam se rykdom word, maar ná ’n aanvanklike posisie van onderworpenheid sou hulle volkome in die stam geïntegreer word en geen sosiale diskriminasie ondervind nie. Xhosa-kapteins het Khoi-Khoi-vroue geneem en daarmee die integrasie van die nuwelinge bevestig. Op hierdie manier het veral die Gqunukhwebe ’n groot aantal Khoi-Khois ingelyf.
Om in die diens van ’n boer te tree, het ander moontlikhede aan die Khoi-Khois gebied. Hulle sou altyd bediendes bly en was uitgesluit van die burger se familie en sy kerk, maar kon as ’n gesin saambly, hul vee behou en as hulle op kommando gegaan het, kon hulle hul kudde met ’n deel van die buit aanvul.
Die arbeidstelsel op die plase het nie op vrye arbeid berus nie en daar is baie selde kontantlone betaal. Dit help om dit uit ’n vergelykende oogpunt te beskou. Slawerny of gedwonge arbeid kom voor waar daar nog “vry grond” beskikbaar is (dit wil sê waar ’n bestaan gemaak kan word sonder die aanwending van veel kapitaal). In ’n situasie waar hulpbronne so oorvloedig is dat mense nie hoef te werk nie, is inheemse mense telkens met geweld gedwing om vir koloniste te werk. Dit het ook dikwels aan die Kaap gebeur.
Kontantlone om arbeiders te lok, was iets vreemds. Daar was geen markte in die binneland waar kontant gebruik is nie. Die historikus Suzie Newton-King het bereken dat die kontantinkomste van die veeboere aan die grens te laag was om aan die Khoi-Khois behoorlike kontantlone te betaal. Baie burgers op die pioniersgrens het die Khoi-Khois gedwing om te werk. Hulle het hulle afgeransel en gedreig om hulle te skiet as hulle sou vlug. Hierdie Khoi-Khois was gewoonlik nie veel meer as lyfeienes of slawe nie. Die veeboere wou die Khoi-Khois se grond hê en partykeer ook hul vee. Hulle wou hulle gebruik as veewagters, wat hulle die teikens van Boesman- of Xhosa-stropers gemaak het. Die boere het hulle selfs met gewere gewapen en op kommando saamgeneem.
Gedwonge arbeid is selde stabiel en onderlinge vertroue kan nie met geweld verkry word nie. Die feit dat gewapende Khoi-Khois op so ’n groot skaal gebruik is, laat ’n mens wonder: ’n boer wat nie ’n Khoi-Khoi vertrou het nie, sou nie aan hom ’n wapen gee en hom sy vee laat oppas of op kommando saamneem nie. Ons moet dus aanneem dat in hul verhouding, wat historici “kliëntskap” noem, wel vertroue bestaan het. Hierin het ’n arm Khoi-Khoi die beskerming van ’n boer gesoek, wat hom sy eie veestapel help opbou en hom teen bedreigings beskerm het. Anders Sparrman, wat gedurende die 1770’s gereis het, het geskryf: “The Hottentots, who are in some husbandmen’s service, are treated in the gentlest manner, and, perhaps, even without ever having a harsh word given