Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Читать онлайн книгу.tussen die Bo-Visrivier en die Koonaprivier, wat ’n deel van die neutrale gebied ingesluit het. Laastens was daar die noordoostelike gebied, wat hoofsaaklik bestaan het uit die groot Tarkawyk, wat deel van die distrik Somerset gevorm het.
Daar was veral in die sentrale grensgebied ’n hele bredie van burgergriewe: onsekerheid oor grondbesit, ’n gebrek aan beskerming teen veediefstal, ’n verbod op slawebesit en die teenwoordigheid van Maqoma, Tyhali en verskeie ander Xhosa-kapteins. C.F.J. Muller se deeglike studie van die oorsake van die Groot Trek besluit dat hierdie emigrasie veral toe te skryf is aan die inisiatief en organisatoriese vermoë van ’n klein groepie Afrikanerboere in die sentrale sektor van die oosgrens, wat nuwe weivelde in die binneland verkies het.
In die sentrale grensgebied het die Afrikanerboere die onsekerste gevoel. Plase is aanvanklik aan burgers en Britse setlaars uitgegee op die enkele voorwaarde dat hulle geen slawe aanhou nie. In 1826 het die imperiale regering egter besluit om die oordrag van grond te vertraag totdat dit finaal oor die toekoms van hierdie gebied besluit het. Die minister van kolonies in Londen wou slegs Engelssprekende koloniste hier vestig. Die regering het die burgers beveel om die neutrale gebied te verlaat, maar die meeste het besluit om aan te bly. Die instroming van Mfecane-vlugtelinge het die konflik oor grond, weiveld en beeste verskerp.
Met die vestiging van die Katriviernedersetting was Khoi-Khois nou in beheer van een van die voorkeurplekke in die neutrale gebied. Vir burgers wat onseker was oor hul eie reg op die grond het dit gelyk of hulle een die kortste ent trek. Party het gekla: “Die Engelsman is baie geleerd en ons is baie dom. Hulle en die Hottentotte sal ons met verdrag uitdruk.”
Stockenstrom het geprobeer om die ergste vergrype van die terugvatstelsel uit te skakel. Hy het beveel dat boere hul vee goed moet oppas en het probeer sorg dat die patrollies net vee wat werklik gesteel is, opspoor. Maar hy het al hoe meer bedenkinge begin koester oor die patrollies, wat die Xhosas aan die grens in ’n toestand van voortdurende onrus gehou het. Krale is gewoonlik net voor sonsopkoms aangeval en daar is wild geskiet. Die patrollies het hutte verbrand, vee gegryp en die ingesetenes verdryf. Die mense het ylings gevlug, al was hulle onskuldig. Tyhali het eenmaal gevra: “Sal ek dan nooit vrede in my eie land hê nie? Moet ek dag ná dag op hierdie manier behandel word?”
Kolonel Somerset en Stockenstrom kon mekaar nie veel nie. Somerset het Stockenstrom beskou as ’n kolonis wat hom nie op sy plek hou nie en Stockenstrom was oortuig dat die kolonel roekeloos stryd aanblaas. Om die Xhosas uit die neutrale gebied te verdryf, het Somerset amper elke week patrollies uitgestuur om gesteelde vee op te spoor en terug te vat. Van die krale wat verontreg gevoel het, het weer ekspedisies uitgestuur om vee op die plase te buit. Die grensgebied het ’n kookpot van ontevredenheid geword.
Stockenstrom het begin vermoed dat dit deel van ’n sinistere agenda was om die Xhosas so desperaat te maak dat hulle die kolonie inval. Hy het geskryf van mense wat “’n reeks bloedige oorloë” begeer. Ten spyte van sy besware het Somerset voortgegaan met aggressiewe patrollies. In 1833 was Stockenstrom moedeloos. Hy het na Londen gereis om meer mag te vra om sy pligte uit te voer en het bedank toe dit geweier word. Hy het nou besluit om die Kaap permanent te verlaat en hom in Swede, die geboorteland van sy vader, te vestig.
Toe hy in 1833 die kolonie verlaat, was Stockenstrom siek en sat daarvan. Hy het daarna verwys as “die geliefde, die verdoemde kolonie”. Hy was veral bitter oor Philip, wat hom onregverdig beskuldig het dat hy Boesmans laat doodmaak het ten einde hul kinders as ingeboektes te kan uitdeel. Hy het met ’n gevoel van gelatenheid geskryf: “Dank God, ek het niks meer te doen met hierdie Kaapse en Kaffer-sake nie.”
Met sy vertrek het die regering se grensbeleid die laaste bietjie geloofwaardigheid verloor wat dit in die oë van sowel die burgers as die Xhosas gehad het. Die beleid het weifelend gebly. Dit het ’n paar Xhosa-kapteins toegelaat om weer na die neutrale gebied terug te keer en selfs Maqoma kon ook terugkom, maar hy is in 1833 weer ’n keer uitgesit. Hy moes nou bly op ’n stuk grond wat hy beskryf het as “sonder ’n stukkie gras, so kaal soos ’n paradeterrein”.
Terselfdertyd het die regering die boere se vermoë om hulle self te verdedig, gekniehalter. In ’n poging om die toenemende smokkelhandel in gewere en ammunisie aan bande te lê, het die regering die verskaffing van ammunisie beperk. Waar veldkornette en veldkommandante daaraan gewoond was om voorrade aan te koop vir al die burgers in hul wyke, was dit volgens die nuwe beleid nou slegs by regeringskantore beskikbaar. Die boere het vermoed dat dit gedoen is omdat hulle nie genoeg vertrou word nie.
Die situasie het by die dag versleg. Diefstalle van die koloniste se vee het voortgeduur en dan het die patrollies weer uitgetrek. Hulle het selfs kapteins lastig geval wat hul bes gedoen het om die vrede te bewaar. In 1834 het ’n landmeter aan die grens opgemerk: “The year 1834 may be described as one of unremitting plunder. The patrols were making seizures of the cattle belonging to the Caffres, and every month – almost every week – they were injuring and provoking that miserable people.[It] seems to be that it was the express object of some persons in the colony about this time to provoke the Caffres to a war.”
Maqoma het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die kwessie van vee slegs ’n voorwendsel is in ’n sameswering om meer Xhosa-grond te verower. Bhotomane, een van die senior kapteins, het woedend uitgeroep: “Ons mense het jul vee gesteel, maar julle het met die manier waarop julle jul verliese wou goedmaak onskuldiges gestraf. Nadat julle ons land geneem het sonder dat daar ’n sprankie geregtigheid was, het julle ons hier op ’n klein stukkie grond laat honger ly. Julle dreig om ons te vernietig omdat ons gesteel het. Maar ons het geen ander keuse gehad nie as om te steel of om van honger te sterf.”
Die blankes was oor die algemeen onbewus van ’n lont wat al hoe korter brand. Hulle het nie besef nie dat deur die Xhosas in die grensgebied voortdurend te ontwrig hulle ’n gemeenskaplike wil om weerstand te bied onder die Xhosas veroorsaak het. Ook die versigtige opperhoof Hintsa, wat anderkant die Keirivier gewoon het, het hom met die Xhosas in die neutrale gebied vereenselwig.
Teen die middel van die 1830’s was daar slegs 750 soldate aan die grens gestasioneer. Grahamstad se ammunisievoorraad was op die laagste vlak. So het sake gestaan toe die mees verwoestende grensoorlog van almal uitbreek.
Die Sesde Grensoorlog
In die laaste dae van 1834 het Maqoma en Tyhali met ’n mag van 12 000 tot 15 000 Xhosas oor die grens gestroom. Ná vyf grensoorloë het die Xhosas uiteindelik geleer hoe om doeltreffend teen die kolonie te veg. In stede daarvan om in groot groepe op te trek het hulle in klein groepies aangeval. ’n Burger het ’n aanval op sy plaas as volg beskryf: “Omtrent 8-uur in die aand begin die honde te blaf. Meteens storm die kaffers tussen die skape deur, maar ons skiet hulle met lopers terug … Die kaffers fluit en skree aan alle kante, skiet en gooi met assegaaie en klippe op die huis amper soos reën. Die skape blêr, die beeste bulk, die honde blaf, die vyand storm toe om die beeste van die toue af te sny; ander wil die huis instorm. Een kaffer word in die deur doodgeskiet met ’n afgebreekte assegaai in sy hand. Die rumoer is vreeslik.”
Die invallers het groot getalle vee weggevoer en reuseskade in ’n breë strook van Algoabaai tot die dorp Somerset aangerig. Daar is gerapporteer dat 7 000 koloniste “binne ’n week in die grootste nood gedompel is”. Van sy stasie in die Katriviernedersetting het James Read berig dat die boere “geruïneer” is. Aan die kolonie se kant het 20 blankes en omtrent 80 Khoi-Khois gesterf; 455 plaashuise is afgebrand en duisende perde, beeste en skape is weggevoer. Die koloniale verliese is op ongeveer £300 000 gestel. Die Xhosas het vlugtig weer die Suurveld beheer.
Ná ’n geruime tyd het militêre versterkings en ook die goewerneur, sir Benjamin D’Urban, aan die grens aangekom. D’Urban het besluit dat Philip en ander kritici ’n wanvoorstelling van die boere gemaak het en dat die Xhosas die vernaamste skuld dra. Hulle is “savage and irreclaimable”, woorde waaroor sy kritici hom sou gesel. Hy het die beleid aanvaar wat deur sekere Britse setlaars voorgestel is. Die kolonie se grense moes uitgeskuif word om ’n groot deel van die Xhosas se gebied in te sluit en dit moes vir grondspekulasie en wit nedersetting oopgestel word.
Intussen het die militêre operasies voortgeduur. Die koloniale mag van Britse soldate, Khoi-Khoi-troepe, Britse setlaars en burgerkommando’s het die Xhosa-gebied