Goue gerf. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Goue gerf - Tryna du Toit


Скачать книгу
bande kry en die tandarts moet betaal word. Aan die begin van haar kursus het sy gedink sy sal ruimskoots uitkom met haar trustgeld en selfs nog iets oorhou om ’n paar instrumente mee te koop as sy die dag klaar is, maar die lewenskoste het so kwaai gestyg en daar is so dikwels onvoorsiene uitgawes dat sy versigtig te werk sal moet gaan om uit te kom.

      Krities beskou sy haarself in die spieël, dan knik sy tevrede. Selfs ’n kenner soos Oswald Pienaar sal geen fout met haar kan vind nie.

      Hulle het afgespreek dat Oswald haar seweuur kom haal, maar dit is byna halfagt voordat Elizabeth sy ligte klop aan die deur hoor. Hy het vir haar ’n skouerruiker van rose en angeliere en ’n doos sjokolade gebring.

      “’n Soenoffer?” vra sy koel toe sy dit by hom neem.

      Oswald Pienaar glimlag. Hy is sterk gebou met blonde hare en ’n ligte vel, en in sy wit aandbaadjie lyk hy besonder aantreklik.

      “Jammer ek is laat, maar daar was ’n rugbyvergadering wat ek moes bywoon. Ek hoop nie jy was onrustig nie.”

      “Onrustig? Waarom sou ek onrustig wees?”

      “Ek kon in ’n paal vasgery het, om maar een voorbeeld te noem, en bewusteloos op straat gelê het.”

      “Dan sou dit jou verdiende loon gewees het. Jy het al genoeg waarskuwings gehad om stadiger te ry.”

      “Ongevoelige vroumens! Ek begin regtig glo jou hart is van klip.”

      “Onmoontlik. Verkalking van die are is ’n onbekende verskynsel op my leeftyd.”

      Hy lag. “Jy is heeltemal te slim. En baie, baie mooi vanaand. Maar dit weet jy natuurlik.”

      “Natuurlik!”

      Op die divan lê haar wit stola, aandsakkie en ’n blou serpie wat met blinkertjies versier is. Sy tel dit op en draai na hom. “Ek is reg.”

      Buite op die sypaadjie wag Oswald se roomwit sportmotor. ’n Klein bende bewonderende seuntjies staan rondom dit geskaar.

      “Hoe vinnig kan hy ry, Oom?” vra ’n sproetgesiggie van vyf, ses jaar gretig.

      “Wat kos hy, Oom?” wil ’n ander een, ’n bietjie meer vrypostig as sy maatjies, weet.

      Oswald is gewoond aan die belangstelling en bewondering wat sy mooi motor oral uitlok en beantwoord die vrae gemaklik terwyl hy vir Elizabeth die deur oopmaak. Sy bind die serpie om haar hare en hy klim langs haar in. Sy geniet dit om saam met Oswald te ry. Hy ry vinnig, maar is nie ’n roekelose bestuurder nie. Buitendien is hy al soveel kere beboet en gewaarsku omdat hy te vinnig ry in die stad dat hy verplig is om die snelheidsbeperkings in ’n mate te gehoorsaam.

      By die restaurant wag die ander reeds vir hulle: Poena van Schalkwyk, Tukkies se uithalervleuel, ’n lenige rooikop, en sy meisie, Denise, en Gys le Roux, ’n lektor in Dierkunde aan die universiteit en sy vrou, Thea. Die Le Rouxs en Ryk is goed bevriend en Elizabeth is effens verbaas om hulle vanaand hier te sien. Albei die mans het aandbaadjies aan en die twee vrouens lyk mooi in hulle helderkleurige aandrokke.

      Oswald maak verskoning omdat hulle laat is en bestel sjampanje. Dit blyk nou dat dit sy verjaardag is en almal wens hom geluk. Hy eis van Elizabeth ook ’n soentjie, wat sy ongestoord gee.

      Die kelner neem hulle bestelling en terwyl hulle vir die voorgereg wag, gesels en skerts hulle opgewek. Denise en Thea rook albei en Elizabeth neem ook ’n sigaret. Hulle is ’n opvallende groepie, jonk, modern en gesofistikeerd, en Elizabeth is bewus van die belangstelling wat hulle uitlok.

      Die aand verloop gesellig. Die sjampanje help om sake verder op te vrolik en Oswald is op sy beste, vol kwinkslae. Ná ’n heerlike ete is hulle na ’n buiteklub, waar hulle tot lank ná middernag dans. Elizabeth is lief vir dans en Oswald is ’n uitstekende danser. Terwyl sy dans, is dit of al haar bekommernisse van haar af wegval en sy vergeet van alles behalwe die opwindende ritme van die musiek. Op die dansvloer is Oswald ’n ideale maat.

      “Moet ons nie nou huis toe gaan nie?” vra sy uiteindelik, gedagtig aan die rugbywedstryd wat hy en Poena die volgende dag moet speel.

      “Waarom?”

      “Wat van môre?”

      “Wat daarvan?”

      Sy skud haar kop. “Om vanaand tot watter tyd te kuier en môre goed rugby te speel . . . daarvoor het ’n man jeug en ’n konstitusie van yster nodig.”

      “Vanaand tel nie, dis my verjaardag.”

      “Jou verjaardag is lankal verby,” spot sy.

      Oswald Pienaar kyk af na die meisie in sy arms. Daar is ’n glimlaggie om haar mond en sy lyk nog net so mooi soos aan die begin van die aand.

      “Kom jy môremiddag kyk hoe ek speel?”

      Sy skud haar kop. “Môremiddag is ek baie ver weg. Ek gaan die naweek ’n bietjie huis toe.”

      “Waar is jou huis?”

      “Oudendal.”

      “Ek onthou nou. Jou pa boer, nie waar nie? Mielies of grondboontjies, of so iets. Wag tot Sondag, dan ry ek saam met jou. Met die Alfa kan ons voor brekfis al daar wees.”

      Sy glimlag effens. “Nee, dankie. Ek moet môre gaan. Ek wil al weer Sondagoggend terugkom.”

      Hulle bly tot die laaste dans. Oswald stel voor dat hulle êrens spek en eiers gaan eet, maar Elizabeth weier.

      “Genoeg is genoeg. Jy en Poena moet môre die universiteit se naam hoog hou en ek het ’n lang ent pad om te ry. Ons eet ’n ander dag spek en eiers.”

      “Dis my verjaardag,” sê hy verwytend, maar sy glimlag geamuseerd.

      “Dit was ’n heerlike aand, Oswald, maar nou wil ek huis toe gaan. Asseblief.”

      Die “asseblief” is ’n bevel en nie ’n versoek nie, en effens nukkerig gee Oswald toe. Hy weet al uit ervaring dit sal nie help om teë te praat nie. Daar is tye dat hy hom diep vererg vir die meisiekind se hovaardigheid, en tog kan hy nie van haar af wegbly nie. Hy is nie gewoond dat meisies so koel en afsydig teenoor hom is nie, maar hy het baie gou besef dat Elizabeth Bornman anders is as al die ander meisies met wie hy tot dusver te doen gehad het. ’n Man moet volgens haar reëls speel, het hy uitgevind, of sy speel glad nie saam nie. Maar dit is nogal ’n interessante ervaring en hy is bereid om sy tyd af te wag.

      Wat is dit in Elizabeth wat hom altyd na haar toe laat terugkom? wonder hy nou. Is dit haar skoonheid, die pragtige koringgeel hare, die besonderse blou oë en sagte, goudgebrande vel, die grasie van haar slanke figuur? Of is dit haar trotse onafhanklikheid van gees, die gevoel dat sy buite sy bereik is, wat hom telkemale weer terugbring na haar toe ten spyte van die koel ongeërgdheid waarmee hy so dikwels ontvang word?

      In die maanlig ry hulle huis toe. Stil sit sy langs hom. Die blinkertjies op haar serpie glinster soos diamante en haar profiel is suiwer en mooi in die sagte lig van die maan. Elizabeth het die aand geniet, maar haar gedagtes is nie nou by die jong man wat langs haar sit nie. Sy wonder wat die dag van môre alles sal oplewer. Sal sy kry wat sy soek of sal sy net teleurgesteld en meer verbitterd as ooit vantevore terugkeer na die stad, wat die afgelope jare haar enigste tuiste en haar toevlug geword het?

      Oswald sit sy hand oor albei hare, wat in haar skoot gevou lê, en voel hoe sy instinkmatig verstyf.

      “Hoekom so stil? Droom jy of slaap jy?”

      Sy sit sy hand terug op die stuurwiel. “Ek geniet die maanlig en die wind. Dis ’n nag vir liefde en romanse, soos die skryfsters van soetsappige liefdesverhale sal sê.”

      Haar stem is koel en spottend, en effens uitdagend sê hy: “Wat is fout met liefde en romanse?”

      “Alles! Dis ’n illusie, ’n lokval, ’n strik, ’n hersenskim . . . ’n droom waarin jy net kan glo as jy baie jonk en baie onervare is.”

      “As ek mag vra, met watter gesag praat jy?”

      Sy


Скачать книгу