Goue gerf. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Goue gerf - Tryna du Toit


Скачать книгу

      Sy het eenvoudig geweier om te glo dat so iets moontlik is, maar sy was die res van die week bedruk en ongelukkig en toe haar pa haar die naweek onverwags kom haal om saam plaas toe te gaan, het sy sommer geweet daar is onraad. Maar sy het niks gesê nie en eers die volgende dag het haar pa genoeg moed bymekaargeskraap om haar van sy planne te vertel.

      Hy het probeer om die nuus mooi en taktvol aan haar oor te dra. Hy is baie eensaam so alleen op die plaas, het hy gesê, en hy het ’n vrou se hulp en sorg bitter nodig. Hy is bekommerd oor sy dogter wat so sonder ’n ma se leiding grootword en hy het besluit dat dit vir hulle albei die beste sal wees as hy weer trou.

      “Net nie juffrou Van Breda nie,” het sy ontsteld uitgeroep. “Enigeen, maar nie juffrou Van Breda nie!”

      Maar dit wás Cora van Breda. Elizabeth het gesoebat en gehuil en mooigepraat, maar haar pa was onversetlik.

      “Ek weet jy hou nie van Cora nie. Cora het my alles vertel, ook hoe onvriendelik jy en jou maats teenoor Ria is. Maar sy verkwalik jou dit nie – kinders is dikwels wreed en onbedagsaam omdat hulle nie besef hoe maklik hulle iemand kan seermaak nie – en sy sê van haar kant af sal sy probeer om in alle opsigte jou ma se plek in te neem. En nou kry jy sommer ’n sussie ook by. Onthou jy nog hoe graag jy altyd ’n sussie wou gehad het?”

      “Pa kan met haar trou as Pa wil,” het sy koud gesê, “maar sy sal nooit my ma wees nie. Nooit! Nooit! Nooit nie! Net so min as wat haar kind my suster sal wees.”

      Haar pa het moeg en ongelukkig gelyk. “Ek is jammer jy neem so ’n houding in, my kind. Maar Cora het my gewaarsku dat jy aan die begin opstandig sal wees, dat jy eers aan die gedagte gewoond moet raak. Onthou net, ek doen dit vir ons albei, Elizabeth. ’n Dogter kan nie so vir wind en weer grootword nie. Sy het ’n ma se hulp en leiding nodig en ek kan aan niemand dink wat meer geskik is om jou ma se plek in te neem as Cora nie. Sy is ’n goeie vrou en ’n regte dame en het self ook ’n dogter. Ek hoop jy sal jou bes doen om hulle albei gelukkig en welkom hier op Leeufontein te laat voel.”

      Verslae en ongelukkig is sy terug skool toe en die selfvoldane, triomfantlike glimlaggie op Ria se ronde poedinggesig was vir haar soos gal. Maar sy het haar kop hoog gehou en selfs haar beste maat het nie geweet wat in haar hart omgaan nie. Daardie Julievakansie is haar pa en Cora van Breda getroud en ná ’n kort vakansie in Durban het hy haar en haar tienjarige dogter, Maybelle, Leeufontein toe gebring.

      Daarna was Leeufontein nooit weer dieselfde nie. Cora het die huis laat verbreek en talle ander veranderinge aangebring. Alles wat aan Engela kon herinner, is stelselmatig verwyder en uitgewis. Ria het dikwels daar gekuier en Elizabeth was verplig om haar kamer met haar te deel – dit sou die twee dogters die kans gee om mekaar beter te leer ken! – en Elizabeth, wat so lank die huis en die harte van haar ouers regeer het, het skielik geen seggenskap meer gehad nie. Is dit ’n wonder dat sy soos ’n vreemdeling en ’n indringer in haar eie huis begin voel het?

      Al Cora se pogings om die, volgens haar, trotse, parmantige, bedorwe en moedswillige jong meisie tot inkeer te bring, het misluk; van toenadering tussen hulle was daar nie sprake nie.

      Op skool het sy nog goed gepresteer; daar het sy altyd vir Ria ver in die skadu gestel. Sy was altyd eerste in die klas terwyl Ria moes swoeg om haar plek hier in die middel te behou. Aan die begin van die jaar is Elizabeth weer as klaskaptein gekies, sy het in die eerste tennis- en korfbalspan gespeel en in hulle groepie was sy die erkende leier in alles. Sy was gelukkig op skool, die enigste vlieg in die salf was Ria. Ria het gedurig stories oor haar aangedra en was die oorsaak van die groeiende spanning en verwydering tussen Elizabeth en haar pa.

      En toe kom nog die bitterste slag van almal.

      Dit was net ná die langnaweek in Mei, die jaar ná haar pa en Cora se huwelik. Elizabeth was saam met ’n vriendin Laeveld toe terwyl Ria die naweek op Leeufontein gekuier het. Elizabeth het die oggend al ’n paar keer opgemerk dat Ria so snaaks na haar kyk – met dieselfde ingenome uitdrukking op haar gesig wat ou Trix die kat het as sy onverwags ’n pierinkie room gekry het – en sy het gewonder wat aangaan. Ria het egter niks gesê nie, tot die dag dat hulle weer haaks geraak het.

      “’n Dame maak nie so nie,” het Ria haar vroom berispe oor die een of ander sonde wat Elizabeth weer begaan het. “Ek sal vir Cora sê wat jy gedoen het.”

      “Sê gerus, ou klikbek,” het Elizabeth minagtend geantwoord. “My pa steur hom gelukkig nie aan jou stories nie. Hy weet jy is net jaloers.”

      Ria het so rooi soos beet geword. “Ek het geen rede om op jou jaloers te wees nie,” het Ria venynig geantwoord. “Ek is minstens nie ’n optelkind wat nie eens weet wie haar eie ma of pa is nie!”

      ’n Optelkind? Onbegrypend het sy na Ria gekyk. Sy het nie die vaagste benul gehad waarvan Ria praat nie.

      “Wil jy vir my sê jy weet nie dat oom Jan nie jou eie pa is nie?” het Ria leedvermakerig gesê. “Dat jy maar net sy aangenome dogter is nie?”

      “Sy aangenome dogter! Dis ’n leuen, en jy weet dit net so goed soos ek. Jy probeer maar net weer soos gewoonlik om kwaad te steek.”

      “Vra hom as jy my nie glo nie,” het Ria uitdagend gesê en daar was iets in haar gesig, in die klein blinkbruin ogies, wat Elizabeth met ’n aaklige gevoel van onheil vervul het.

      “Dis ’n leuen,” het sy herhaal en omgedraai en weggestap, maar ’n ontsettende onsekerheid is in haar hart gebore, ’n gevoel wat haar in die jare wat gevolg het, nooit weer heeltemal verlaat het nie.

      Jan Bornman het later, toe sy hom gevra het, die storie bevestig. Elizabeth is nie sy en Engela se eie dogter nie, maar ’n aangenome kind.

      “Waarom het julle my nooit gesê nie?” het sy ontsteld gevra. “Waarom het julle dit al die jare geheim gehou en my nou só laat uitvind?”

      “Dit was jou ma se wens. Sy het gedink dis beter so. Jy was net so blond soos sy en almal het aanvaar dat jy ons eie kind is. Maar tannie Cora dink ons het verkeerd gedoen om nie vir jou te vertel nie. Sy dink dit is my Christelike plig om jou die waarheid te vertel.” Hy het die ongelukkigheid in haar oë gesien en lomp sy hand op haar skouer geplaas. “Ek wou jou self vertel, Elizabeth. Ek . . . ek is baie jammer dat Ria dit so uitgelap het.”

      Sy het na Jan Bornman opgekyk en stil die groot vraag gevra: “As julle nie my pa en ma is nie, wie is dan my regte pa en ma?”

      “Ek weet nie.”

      “Was ek . . . is ek ’n buite-egtelike kind?”

      “Ek weet nie, Elizabeth, op my woord van eer. Ek weet nie wie jou ouers is nie. Jy was maar net ’n paar dae oud toe die dokter jou vir ons gebring het. Ons was so bly om jou te kry dat ons nooit vrae gevra het nie. Ek . . . sover ek weet, is albei jou ouers dood, maar ek kan nie met sekerheid sê nie. Maar jy moet jou nou nie die besigheid aantrek of jou onnodig ongelukkig maak nie, Elizabeth. Die verlede is verby, dis net die toekoms wat tel. Jy is ’n mooi, slim dogter en as jy so aanhou, sal jy dit nog ver in die lewe bring. Niks het verander nie. Jy is nog altyd my dogter en jy sal dit bly tot ek die dag doodgaan.” Niks het verander nie, het hy gesê, maar sy het van beter geweet.

      Later die middag het sy kerkhof toe gegaan en daar by Engela Bornman se graf het sy haar verdriet en verslaentheid uitgesnik. Maar dit was die laaste keer. Sy het nooit daarna weer ’n enkele traan gestort nie.

      Die verhaal het natuurlik soos ’n veldbrand deur die skool gegaan. Daarvoor het Ria gesorg. Elizabeth was bewus van die agteraf fluisterings, maar sy het haar kop hoog gehou en gemaak of sy nie weet wat aangaan nie. Sy het nooit die saak met iemand bespreek nie, nie eens met haar beste vriendin nie. In daardie stadium was sy so rou en seer dat sy eenvoudig nie daaroor kon praat nie en later het sy nie die moed gehad om weer die onderwerp aan te roer nie. Maar die gebeure het haar nie onaangeraak gelaat nie. Die gelukkige, sorgelose skooldogter het verdwyn. Die ervaring het haar verbitter; dit het haar ouer, harder en meer onverdraagsaam teenoor haar medemens gemaak. Vroeg reeds het sy van haar mooiste ideale omtrent die liefde en die lewe prysgegee. Sy het ’n alleenloper geword, geleer om haar ongelukkigheid en vertwyfeling vir haarself


Скачать книгу