Karoonag. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.’n ryke bron van ware verhale wat dikwels veel meer boeiend is as die beste fiksie.
Een daarvan is die storie van Ebie van Wyk en Nicole Pesch.
Ek het dit die eerste keer gehoor in 2006, tydens die jaarlikse boeresportdans, want Nicole het ons dié aand in haar eksotiese Duits-Afrikaanse aksent verwelkom. Toe ek versigtig uitvra oor die oorsprong daarvan, het ons tafelgenote my met die gewone behendigheid vertel: Hoe Ebie, jong boer van die plaas Juriesfontein, per toeval ’n Duitse meisie ’n saamrygeleentheid gegee het uit die Kaap uit, hoe hulle verlief geraak het en eindelik getroud is.
Dit het lank in my agterkop bly vassteek, en ek het dikwels die tipiese skrywerspel van “sê nou maar …” daarop toegepas. Tot Huisgenoot my in 2008 gevra het om ’n vervolgverhaal van drie hoofstukke te skryf.
Ek het “Karoonag” eers vir Ebie en Nicole gewys voor ek dit aangebied het vir publikasie. Hulle het goedgunstiglik ingewillig dat ek kon voortgaan. Maar die groot verrassing was toe Ebie vra: “Hoe het jy geweet my skoonpa was in die Duitse sekerheidsdienste?”
Die antwoord was dat ek glad nie geweet het nie. Dit is maar net nog een van daardie groot toevallighede wat in die skryfproses gebeur.
Ek moet ook byvoeg dat al die Loxton-inwoners en kontreiboere in die storie regte mense is. Dit was groot pret om hulle elkeen in te skryf. (Die omslagfoto is ook, terloops, op Bob Meintjes se plaas Welgevonden geneem – deur my vrou, Anita.)
Ten slotte, en ter illustrasie van die genot wat ek uit die Bo-Karoo se stories put, bied ek graag ’n rubriek aan wat enkele jare gelede in BuiteBurger verskyn het:
Okkie Wiehahn se vark
Die hele ding het begin met Okkie Wiehahn se vark.
Die vorige aand nog sê ek vir die Gautengers die ding van die Karoo is die stories. Ons sit op Jakhalsdans en lê weg aan die skaapboud en die wildspastei en Lourens Pretorius sê dis die kos en Johan Kriek sê dis die landskap en ek sê nee, dis die mense en die stories wat hulle vertel – een van daardie motorfietsryerargumente wat jy net vir die lekker aan die gang hou.
En die volgende dag vat ek en Anita hulle op die servituutpad tussen Van der Waltspoort en Slangfontein wat oor Okkie se werf by Abramskraal loop. Ons hou in die koelte by die dam skuins onder die opstal stil, want die Gautengers het vyf kilo’s terug in die sand neergeslaan, die een na die ander, en nou is my vrou soos ’n broeis hen oor hul welstand.
Ons wag in die koelte en hier langs ons, in ’n kampie, staan die vark. Met die eerste oogopslag ’n lelike dierasie, duidelik ’n uitlander, g’n selfrespekterende boerevark sal só lyk nie: lang swart wimpers, gekreukelde snoet wat in ’n boheemse vorm eindig en ’n lyf wat so effens aan ’n boelterriër herinner. En dan besef jy die ding is eintlik mooi van lelikgeit, soos tannie Liefie van Humansdorp destyds sou gesê het.
Die Gautengers is nog almal sterk op pad en ons ry aan, in Okkie se klofie op, oor die rug, Skuinskop se kant toe. Dis tipiese Bo-Karoolandskap, klowe en rûens, koppe en riviertjies, altyd interessant, dikwels skouspelagtig. Oor Bultfontein, Gansfontein, Slangfontein, Ramfontein, Lakenvlei (wie’t gesê hier’s nie water nie?) tot by Erasmuskraal, waar ons die Bokpoortpad terug Loxton toe vat vir petrol.
By die koöperasie se pompe loop ons vir oom Joe van Wyk raak, wat dadelik sê ons moet kom koffie drink. Dis ’n uitnodiging wat jy nie van die hand wys nie, want oom Joe kan gesels, om nie eens van tant Annetjie se koffie en beskuit te praat nie.
En toe ons en die hele kaboedel Gautengers elkeen met ’n koppie en ’n bordjie in die groot sitkamer tot ruste gekom het, vra ek of hy dalk weet watse vark dit is wat daar by Okkie Wiehahn uithang en oom Joe sê hy dink dis ’n Sjinese model. Wat hom toe dadelik herinner aan die ander storie:
In die dae voor hy die boerdery aan Johannes oorgegee en hulle dorp toe getrek het, is daar een aand ’n klop aan die voordeur van Rietpoort se opstal. Toe oom Joe oopmaak, staan drie Sjinese op die stoep – sjarmante pa, mooie ma en die oulikste ou kindjie wat ’n mens jou kan indink: groot donker oë, pragtige, steil swart haartjies en ’n glimlag wat lyk soos die sonsopkoms oor Rooikop se berg.
So in gebroke Ingels (die Sjinese s’n, natuurlik) word daar verduidelik van ’n pap wiel op die Fraserburg-pad en nadat die gaste binnegenooi is vir innerlike versterkings, het oom Joe gaan hand bysit om hulle weer mobiel te kry. Met die groetslag is dit die ene Oosterse hoflikheid en dankbaarheid en hy ry terug huis toe, diep onder die indruk van die toeval wat mense uit alle oorde bymekaar bring.
Die volgende dag hoor oom Joe die res van die storie. Vroegoggend klok die uitheemse gesinnetjie by een van Loxton se winkels in en vra of die mense dan tog nie kan help met kleingeld vir ’n R200-noot nie. Die winkelier is dadelik bereid, maar omdat die dorp nie noodwendig die besigste metropool in die land is nie, hou sy so vir die interessantheid ’n oog op die Sjinese wanneer hulle straataf ry. En sien die motor hou by die volgende kafee stil.
Met dié bekyk sy die R200-noot van nader en sien dis nie heeltemal soos ons geld moet lyk nie. Toe bel sy die kafee, waar die Sjinese pa al weer aan die uitkom is. “Wou hulle kleingeld vir R200 hê?” vra sy die kafee-eienaar.
“Ja,” kom die antwoord.
Toe weet sy daar’s ’n slang in die gras en dis nie ’n tuinslang nie. Sy bel vir Frikkie by die poliesstasie en sê sy dink hier’s fout en Frikkie en sy span gryp die vên en hulle kom. Toe die Sjinese die lang arm se vuurwa gewaar, sit hulle voet in die hoek, Carnarvon toe. Dit raak ’n wilde jaagtog oor die vlaktes, met Frikkie wat op die radio klim en sê hulle moet keer voor, want hier’s vandag groot pêre.
Om ’n lang storie kort te maak: ’n Mens weet nie of dit die woema in die SAPD-vên of net die gereg se intieme kennis van die plaaslike paaie was nie, maar hulle keer toe die verdagtes net duskant die Gansvleirivier aan – en in die sedan se kattebak is genoeg vervalste geld om ’n groot Karooplaas mee te koop.
Wat toe van die Sjinese geword het, weet oom Joe nie. Gerugte wil dit hê dat hulle vir ’n sindikaat gewerk het en dat die man in die tjoekie sit en die ma en die oulike ou kindjie teruggepos is Beijing toe.
Maar die punt van die hele storie is dat as dit nie vir Okkie Wiehahn se vark was nie, ons nooit dié juweel uit oom Joe se welsprekende mond sou gehoor het nie. O, en natuurlik die feit dat die Karoo se bekoring eintlik in die mense en hul stories lê. En in die kos. En in die landskap …
DIE PERFEKTE MOORD
Die twee dokumente lê langs mekaar op speurder-kaptein Bennie Griessel se lessenaar – die oorspronklike bekentenis, in Forensies se deursigtige plastiek, en die een wat hy nou moet bestudeer, die fotostaatkopie. Hy steek ’n sigaret aan, kyk daarna.
Ses bladsye wit Sappi-A4-papier. Vasgekram in die boonste, linkerkantste hoek. Netjiese rye letters en woorde en sinne, volgens die rekenaarkenner by die laboratorium, in Times New Roman 12-punt, waarskynlik gedruk op die oorledene se HP-LaserJet 1020, bes moontlik geskep in Microsoft Word.
Heil die leser, sê die aanhef. Die formele blymoedigheid daarvan irriteer Griessel vaagweg.
Hy weet wat in die eerste paragraaf staan – dit het hy haastig op die toneel gelees voor hy gefluit het en dit versigtig in die bewysstuksak geplaas het.
Hy trek aan die sigaret en lees.
My naam is Quartus Lombaard. Ek het moord gepleeg.
Net dit, in die eerste paragraaf.
Dit is moeilik om te sê presies wanneer ek besluit het om my vrou dood te maak – nog moeiliker om te verduidelik waarom. Daar was sekerlik kranksinnigheid aan my kant. Nie die soort met wilde oë en skuim om die mond nie, maar die ander een, stil en stadig sluipend.
“Stadig sluipend.” Griessel sug. Melodrama op ’n Maandagmiddag, met die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares. Vier-en-dertig dae sonder alkohol.
Die smagting na risiko was groot, dit moet ek beken. Die afhanklikheid aan adrenalien, aan die berekende bang, die fyn vrees van die buik wanneer jy na aan die afgrond beweeg. Ek het dit