Karoonag. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.bang”. “Fyn vrees”. Wat noem hulle dit? As jy woorde so met dieselfde letters of klanke begin? Hy kan nie dadelik onthou nie, maar Griessel se irritasie groei. ’n Ryke wat selfmoord pleeg. Omdat hy sy vrou vermoor het. En dan ’n vreeslik literêre bekentenis nalaat. Hy was in Quartus Lombaard se huis, met die uitsig oor die see, die skilderye, die moerse TV, sportmotors.
Hoe gooi jy dit alles net so weg?
Omdat jy ’n doos is. Kan nie anders nie.
Ek is Quartus Lombaard, wat eers Prime Technologies en drie jaar later DigiCard van hart-in-die-keel kleinsake met karige kontantvloei opgebou het tot sappige appels wat vir ’n totale bedrag van drie-en-twintig miljoen rand verkoop is. En floreer het op die druk en stres, die vinnig praat, vinnig groei, vinnig leef.
En toe genoeg gehad het, terwyl Louwna haar verdomde kantoorbeplanningsmaatskappytjie aanhou bestuur het met soveel geesdrif en toewyding, asof dit al is wat sy met haar lewe wou doen.
Afguns. Sy was so ooglopend gelukkig en tevrede. Elke oggend, sonder uitsondering, het sy om 06:00 opgestaan en gewas en aangetrek en met ’n lied in die hart en ’n glimlag gegroet en gaan werk. En ek het alleen in die huis agtergebly met net die vae reuk van haar parfuum wat stadigaan verdwyn.
Haar genot in die sinnelose roetine. Maandag en Dinsdag in die Kaap, Woensdagoggende Johannesburg toe. Donderdagmiddae terug, Vrydag ’n speeldag, inkopies, tee met vriendinne, ’n kunsfliek . .
Afguns het verander in irritasie, irritasie het oorgegaan, iewers, in sterk afkeer, wat stadigaan haat geword het. Verpesting. Aangeblaas deur die lugleegte van verveling en die afwesigheid van opwinding.
Laat ek nie rasionaliseer nie. Laat ek volstaan by my teorie van waansin – dit is die eenvoudigste. Laat ek beken – ek het by my lessenaar gesit met ’n oefeningboek en ek het die opskrif geskryf, teen tienuur een winteroggend: Doelwit: In ’n volgende reël: Vermoor Louwna, in vloeiende letters, my handskrif klein en presies en pynlik netjies, die kras van die penpunt hoorbaar in die groot vertrek.
Die volgende opskrif: Waarom sal dit slaag? Gevolg deur: Geen motief. En die feit dat Louwna ’n gewoontedier was. Roetine was haar toevlugsoord, haar kompas.
“Fok,” sê Griessel sag en druk sy sigaret dood. Hierdie ou dink hy’s Wilbur Smith.
In Johannesburg het sy altyd in die Sandton Comfort Inn geslaap, altyd in kamer 114, was sonder uitsondering om 21:30 in die hotelkamer sodat sy klaar gebad kan wees wanneer ek om 22:00 bel.
Dit was vir my bekende terrein, dié skriftelike, noukeurige beplanning. Ek het my twee sakeondernemings ook só begin, met dieselfde opskrifte, dieselfde vrae, gevolg deur my weergawe van die SWOT-analise (Strengths, Weaknesses, Opportunities, Threats), dan die strategiese plan, sleutel-suksesfaktore, sperdatummylpale, fyn, persoonlike variasies op die sakeskool-MBA-voorskrifte.
Geen motief. Die sleutel. Dit is waar die sotte gevang word, volgens die motief, maar ek en Louwna was altyd getrou aan mekaar, ons het hoflik geargumenteer, daar was geen lewenspolis waaruit ek kon munt slaan nie. Jy word nie ’n moordverdagte omdat die intensiteit van jou verhouding en latere huwelik stelselmatig en onherroeplik afneem nie. Hulle arresteer jou nie omdat jou vrou en jou lewe jou doodverveel nie.
En soos my plan stukkie vir stukkie, dag na dag, vorm aangeneem het, kon ek die ander kritieke suksesfaktore identifiseer: Alibi. Moordwapen. Hoteldeur.
Want só moes dit werk, op die gekose datum, die deurvoer van die plan:
10:00: Ek stel die video om Woensdagaand se televisieprogramme op te neem. (Alibi.)
10:10: Ek stel die instrument wat my selfoon se skakelknoppie om 22:00 sal druk om die oproep na Louwna se selfoon te maak. (Instrument vroeër gebou met Lego Robotics se Dark Side Development Kit.) (Alibi.)
10:20: Trek aan, wend grimering aan, sit pruik op, neem drasak, glip uit by die hekkie heel agter in die tuin, stap af tot by bushalte in Kampsbaai.
10:45: Neem bus tot by Kaapstad-stasie.
11:45: Verwissel baadjies en pruike (uit drasak) in stasietoilet. Sit swaarraambril op. Neem huurmotor na lughawe.
14:00: Neem vlug BA 605 na Johannesburg. (Kontant betaal onder vals naam. Gebruik vals rybewys.)
16:00: Arriveer by O.R. Tambo Internasionaal. Verwissel baadjie, pruik en bril in toilet. Neem huurmotor na die Sandton City Lodge.
17:00: Ontvang verseëlde pakket met 9 mm Ruger P94-pistool en knaldemper wat ek ’n week vroeër aan myself gestuur het. Handwapen op swartmark gekoop deur geklassifiseerde kleinadvertensie op te volg.
17:20: Hang “Moenie steur nie, asseblief”-etiket aan deurknop, stort, was grimering af, haal kospakkie uit drasak, eet, ruim op, strek uit op bed, probeer ontspan.
21:00: Begin opnuut met grimering, sit weer eerste pruik op, trek eerste baadjie aan, maak seker pistool is gelaai.
21:30: Verlaat hotel deur diensingang agter, stap die 2,4 km na die Comfort Inn. Tempo net vinnig genoeg om tydsberekening reg te kry.
21:55: Hartbeklemmende oomblik nommer een: Daar is net een pad tot by haar kamer – verby die ontvangstoonbank. Stap met doelgerigtheid en selfversekerdheid, asof jy daar hoort. Gebruik trappe tot op eerste verdieping.
22:00: Wag buite haar deur tot die selfoon begin lui. Albei hande nodig vir kaart en deur. (Het magnetiese meestergleufkaart twee weke gelede van Comfort Inn-skoonmaker gekoop vir R1 000, natuurlik swaar vermom.)
Hartbeklemmende oomblik nommer twee: Soos deur oopgaan, moet die pistool in my regterhand wees. Ek moet die deur agter my toedruk, vir Louwna skiet, wag tot minstens vyf minute verloop het, dan haar selfoon se verbinding met myne verbreek.
22:06: Verlaat kamer 114, in gang af, trappe, verby die ontvangstoonbank, terug na my hotelkamer, kry drasak, stap na Sandton City, kry huurmotor na lughawe. Plaas daar pistool in asblik.
23:55: Neem vlug SA 505 na Kaapstad.
02:00: Neem huurmotor na Kaapstad-stasie.
02:40: Vervang baadjie en pruik en bril in stasietoilet. Neem huurmotor na Kampsbaai.
03:10: Stap van hoofstrand na ons huis (nou my huis).
03:25: Glip deur agterste hekkie, sluit deur oop, druk pruik, baadjie en bril by ander in drasak, plaas drasak in swart plastiekvullissak, plaas vullissak by ander in oprit. Haal Robotics se Dark Side Development Kit uitmekaar en stoor in studeerkamerkas. Stort. Draai video terug. Kyk na al die programme. Draai video weer terug. Kyk weer na programme. Draai video weer terug. Stel video om onmiddellik fliek op DStv op dieselfde band op te neem. Gaan slaap. Wag vir oproep uit Johannesburg: “Meneer Lombaard, ek het ongelukkig vir u slegte nuus …”
Maar moord is nie ’n saketransaksie nie. En die Besigheidsplan van Die Dood het sy eie, unieke eise: Spertye word in minute gemeet, selfs sekondes. Jy kan nie oortrokke geriewe reël om jou deur die benoude tye te dra nie.
Griessel skud sy kop, steek nog ’n sigaret aan. Sy mond, sy tong, soek die smaak van brandewyn, sy brein en senu-eindpunte soek die alkohol daarin, die helende kragte. Vier-en-dertig dae. Wanneer sal dit bedaar?
Hy weet wat die antwoord is. Miskien nooit.
Laat hy lees.
My deeglike voorbereiding, die grimeerstudie en vermommingskuns uit boeke en op die internet was nuttig, dit is waar. My presiese beplanning het alles feitlik foutloos laat verloop. Maar niks kon my voorberei vir die oomblik toe ek die sneller moes trek nie. Miskien is sommige mense meer geskik vir die brutaliteit van moord.
Ek het die hotelkamer se deur ontsluit, my bewegings, herhaaldelik geoefen, foutloos en behendig en vloeiend, sy het met haar rug na my toe gesit in die gemakstoel, ek het nie op daardie oomblik gewonder waarom sy nie die luiende selfoon beantwoord nie, ek was te dankbaar dat ek haar nie in die oë hoef te kyk nie, ek het die sneller getrek, twee keer, gedempte “ffffut-ffffut”-geluide en haar agterkop wat oopbars terwyl sy vooroor val, bloed en been en brein oor die stoel en ek wou braak, skielik en haas onbeheerbaar,