Proteus. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.is nie intyds nie. Ek kan delf, maar …”
Radebe: “Ek stuur ’n motorspan soontoe. Daar’s soms noodnommers op die deure.”
“Doen dit.”
Sy probeer weer die gegewe analiseer, hoeke en kante van benadering, sukkelend met die stukkies van die legkaart.
“Geen rekord van Mpayipheli by die ANC, MK, PAC of Apla nie?” vra sy.
“Niks. Maar ’n mens moet onthou: Die ANC-stelsels het ’n paar keer knoue gekry. Dit is onvolledig. En die PAC en Apla het nooit regtig iets gehad nie. Al die PAC-inligting kom van die Boere se data af. En daar’s niks oor Mpayipheli nie.”
“Daar moet ’n verband wees tussen Mpayipheli en Kleintjes.”
“Hel,” sê Quinn, “hy kon hulle tuinier gewees het.”
Radebe, altyd versigtig met sy uitsprake, fronsend asof hy diepe vertwyfeling het, sê: “Sy het die Arendse-nommer eerste gebel om Mpayipheli te kontak. Miskien is Arendse die skakel.”
“Kan wees.” Sy stap steeds op en af, verteer die insette, oorweeg die moontlikhede. Haar dors na inligting is allesoorheersend. HuIle moet ’n bres slaan, ’n skerp lig werp op die newels van onkunde. Maar hoe kry jy ’n dwelmbaron aan die praat?
Nog ’n siklus in haar wentelbaan teen die muur, op en af. “Goed,” sê sy. “Dít is wat ons gaan doen …”
* * * * *
Hy is in die vuil toilette van Bellville se stasie. Nadat hy agter die geslote deur sy liggaamlike nood verlig het, haal hy die twee pistole se magasyne en slotmeganismes uit. Dan loop hy uit en plaas die onderskeie onderdele van die vuurwapens in verskillende vullisblikke en begin stap, Durbanweg se kant toe. Hy weet steeds nie waarheen hy gaan nie. Hy is net bewus van minute wat verbytik en hy is nou net tien kilometer nader aan Lusaka as wat hy by die lughawe was. Die versoeking om die hele gemors net so te los en huis toe te gaan, lê soos ’n verlange in hom, maar dan kom die vraag elke keer terug: Is dit wat Johnny Kleintjes gedoen het toe hy wat Tobela is hom nodig gehad het? En die antwoord daarop is nee, maak nie saak hoe hy daaraan dink nie, al wil hy nie nou hier wees nie, al wil hy nie die dringendheid en spanning in sy buik voel groei nie. Hy skuld vir Johnny Kleintjes en hy sal sy gat moet roer.
As hy om die hoek kom waar Voortrekker- en Durbanweg kruis en die voertuie by die verkeerslig sien, gaan daar vir hom ’n lig op. Die pas van sy voeteval versnel as hy in die rigting van die Ontvanger se kantoor beweeg. Daar’s ’n taxihalte daar. Hy moet terug Kaap toe. Vinnig.
* * * * *
Mazibuko verbreek die tweede keer vandag ’n selfoonverbinding met Janina Mentz en begin bevele op span Alpha blaf: “Kom ons kry die kiste oop, daar’s werk om te doen. Hecklers, handwapens, rookgranate, koeëlvaste baadjies, nagsig. En ek soek geverfde gesigte.”
Hulle reageer onmiddellik met oorgawe, knip die toerustingkiste oop, hul oë wat na hom flits, nuuskierigheid oor die aard van die opdrag. Hy sê niks, oordink die gesprek met Mentz. Waarom het hy vanmiddag ’n offisier aangerand? Want die doos het sy Duitse herdershond op Klein-Joe Moroka gesit. Wat het Klein-Joe gedoen? Hy het nie die luitenantjie gesalueer nie. Hoekom nie? Klein-Joe is Klein-Joe. Soms so in sy eie kop besig dat hy nie weet wat om hom aangaan nie. Deur-die-mis-nalatigheid was al wat dit was. En toe die luitenantjie vir Klein-Joe met ’n stroom obseniteite konfronteer het, gebeur wat altyd sal gebeur. Klein-Joe laat net een mens met hom neuk en dis hy wat Mazibuko is. Dis waarom hy vir Klein-Joe in die eerste plek uit die MP-selle gaan haal het. Klein-Joe het vir die luitenantjie gesê om ’n onnoembare daad met homself of sy hond te gaan verrig en die luitenantjie het die hond aangemoedig om vir Klein-Joe te byt. Wat in elk geval militêr gesien ’n oortreding van die ergste graad is. Het die hond vir Klein-Joe gebyt? Ja, die hond het vir Klein-Joe aan die broek gebyt. Het hy seergekry? Nee. Die luitenant en die hond het vir Klein-Joe verneder – en dit is net so erg soos ’n byt wat bloed trek. Erger, in Klein-Joe se geval. ’n Onreg is gepleeg, hoe jy ook al daarna kyk.
Mazibuko het gekies om nie deur kanale die skaal van geregtigheid te herstel nie, want dan sou ander ook met die RU kom kanse vat. ’n Punt moes gemaak word. En nou huil die Bats.
“Hulle huil, ja. Hulle soek tugstappe.”
“Tug my.” Uitdagend, want hy het geweet die RU is onaantasbaar voor hy die Bat gebliksem het.
“Nie voor jy jou brood verdien het nie.” Toe gee sy die agtergrond, die opdrag.
Sy span gee vir hom sy wapens en baadjie aan, die nagsig-kopstuk en kamoefleerverf laaste. Hy maak gereed met behendige, geoefende bewegings, tot hulle in gelid voor hom staan en hy voor die ry afstap en hier en daar aan ’n gordel pluk of ’n stuk uitrusting regtrek.
“Ek het ’n nuwe naam vir die Ama-kill-kill,” sê hy. “Na vanaand gaan julle bekend staan as die Gangsta Busters.”
7
Hy vra vir die taxibestuurder om hom voor die Media 24-gebou in die Heerengracht af te laai. Hy kies koers, oos, deur die Nico Malan, draai links in Hertzog, die verkeer dié tyd van die aand uitgedun. Hy loop doelbewus sonder dringendheid, soos ’n man wat nêrens heen op pad is nie. Weer links in Oswald Pirow. As hy tussen die vulstasie se pompe deurstap en die petroljoggies in hul nagkamer deur die venster groet, sien hy die voertuig voor Mother City Motorrad staan, die ligte aan. En hy sien die Spoke voor, langs mekaar. Sy hart sink.
Hulle hou die plek dop.
Hy maak die joggies se nagkamerdeur oop en gaan in, weet as hy buite staan, gaan hy gesien word.
Hul enjin luier. Goeie teken, as hulle op observasiediens was, sou hulle verder terug in die dwarsstraat gestaan het, ligte af, enjin af. Die joggies is bly om hom te sien – enige afleiding dié tyd van die aand is welkom. Wat maak hy hier, wat is in die sak? Hy fabriseer ’n antwoord – ’n kliënt se gedienste motorfiets is nie afgelewer nie en nou moet hy wat Mpayipheli is die Whiteys se kastaiings uit die vuur kom krap. Maar uit die hoek van sy oog hou hy die motor in die straat dop. Hy sien dit trek weg, probeer dit dophou sonder om agterdog by die joggies te wek.
Moet hy die kliënt se motorfiets dié tyd van die nag gaan aflewer?
Ja, die man is kwaad, hy het die fiets môreoggend nodig en die Whitey-baas is te lui om in die aand uit te kom, daarom dat die Xhosa uitgeroep is, dit is mos maar dieselfde ou storie; wat kyk julle op televisie, ’n wedstrydspeletjie?
Ja, elke ou moet uit drie meisies kies, maar hy kan hulle nie sien nie, hy mag hulle net vrae vra …
Die motor is weg, hy luister nog hoflik vir ’n minuut of twee, verskoon homself, loop uit, kyk in die strate op en af. Daar’s niks. Hy stap oor, agter, in die dienssteeg in. Hy haal sy beursie uit die blou sak, soek deur die voue van die leer. Die houtdeur se silwer sleutel lê blink en plat waar hy dit altyd bêre, want hy is soggens eerste hier om uit te vee, ’n halfuur voor die meganici – dan moet hy die ketel en die ligte aansit en seker maak die vertoonvensters is skoon.
Hy sluit oop, tik die kode op die alarmpaneeltjie in. Hy moet besluit – sit hy die ligte aan? Die joggies sal wonder as hy dit nie aansit nie. Maar hy besluit daarteen, hy moet nie aandag trek nie.
Volgende besluit: Watter motorfiets? Here, die goed is groot. Sal hy met sy Honda 200-kennis kan bo bly? Nog nooit is hy toegelaat om een te ry nie – hy moet hulle na buite stoot, dan was, poleer en blinkvryf. En weer terugstoot.
En vanaand moet hy op een klim en Johannesburg toe ry. Maar watter een?
Hy voel die gewig van die sak in sy hand.
Die 1200 RS is die vinnigste, maar wat van die sak? Die LT het pakplek, maar dit is reusagtig. Die GS-demonstrasiemodel in die vertoonlokaal het die vaste bagasiesakke weerskante van die agterwiel, die motorfiets staan daar, bonkig en gehurk, oranje-geel; die sleutel, weet hy, hang in die onderdelekamer.
Here, die goed is so groot.
* * * * *
Ondanks