Die kralebruid. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Die kralebruid - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
oggendson skyn warm en helder in haar gesig toe sy wakker skrik. Skielik is alles om haar helder, asof ’n reusehand die missluiers weggetrek het.

      Sy is in ’n vreemde, klein kamertjie. Die mure is van stokke en gras gemaak. Die warm, sagte ding om haar is amper soos ’n kombers, maar daar is sagte haartjies aan die binnekant.

      Sy kruip hande-viervoet na die opening en moet dan haar oë vinnig teen die skerp sonlig knip. Die vrolike klik-klak-geluid wat so deel van haar drome was, hou skielik op.

      “Isa, Isa!” sê ’n paar van hulle en staar dan ongelowig na haar. Die vrou met die nou al bekende plooigesiggie van haar drome kom vinnig nader en kom kniel langs haar.

      Dankbaar kyk sy af in die vreemde, amper bekende gesig en vat dan die een plooihandjie en druk dit teen haar wang.

      Die ou vroutjie hier langs haar draai na die ander wat eerbiedig nader kom, en selfs sy kan die duidelike trots van ’n eienaar op die plooigesig herken . . .

      “Isa, Isa!”

      Isa druk haar skraler teen die duin toe sy Nina se stem herken. Sy sal nou-nou gaan help. Sy wil nog eers hierdie gedagtes in haar uitstryk. Hierdie knaende verlange en hartseer in haar wil nie laat skiet nie, en dit word elke jaar net erger en meer beklemmend.

      Isa draai op haar rug en sluit haar oë, en die son skyn warm en vriendelik op haar gesig. Haar gedagtes kuier nog ’n bietjie in die verlede en sy is onwillig om dit sommerso prys te gee.

      Die ou vroutjie met die plooigesiggie se naam was toe Nina. Sy was die vorige hoofman se vrou en het nooit kinders gehad nie. Isa glimlag stil. Dierbare Nina wat vas glo dat die gode vir haar ’n kind uit die see gestuur het om haar te troos ná haar man se dood, twee winters gelede. Sommer om haar smaad van kinderloosheid ook weg te neem.

      Die eerste ruk was dit ’n stryd net om te verstaan wat hulle wou hê. Sy kon geen kop of stert van die vreemde geklik-klak uitmaak nie.

      Die Ouni’s woon in familiegroepe bymekaar sodat kos nie ’n probleem moet word nie. Húl groep se hutte staan in die loop van ’n droë rivier wat deur hierdie onherberg­same woestyn loop. In die bedding van hierdie rivier groei ’n paar geharde bome met lang, diep wortels en nog ander plante wat hierdie klimaat en dorheid kan oorleef. Hulle grawe dus ook wortels en bessies uit om te kan oorleef. Die mans gaan jag darem ook so af en toe en bring dan ’n bokkie huis toe. Verder het hulle ’n paar bokke wat hulle melk. Van al die kos is die melk vir Isa die lekkerste – en ook die bittersoet narras wat plek-plek op die duine groei.

      Hareb, ’n meisie van omtrent haar eie ouderdom, het haar geleidelik die vreemde klik-klak-taal geleer en vandag praat sy dit net so vlot soos hulle. Sy probeer om haar eie taal lewend te hou deur dit te praat wanneer sy alleen is. Soms sing sy sommer net in haar moedertaal. Hier diep in haar hart was daar nog altyd hoop dat sy tog weer eendag een van haar eie mense sou sien; dat sy weer sou kon teruggaan na waar sy hoort.

      Hierdie hoop het die eerste twee jaar hoog gevlam, veral dié kere wanneer hulle die tog see toe onderneem het. Dit het egter al meer getaan, en nou het sy dit maar heeltemal uit haar gedagtes gewis.

      Nina het gisteraand met haar gepraat. Die mans van die ander groepe gaan eersdaags by hulle opdaag om vir hulle vroue te kom soek. Dit is ’n reël by die Ounistam dat hulle nie met vroue van hul eie groep trou nie. Die mans kom hierdie tyd van die jaar om vroue te soek en betaal dan met bokke.

      Nina het reeds vir haar ’n man uitgesoek: jong Gao, die seun van ’n hoofman. Hy is jonk en sterk en sal eendag sy pa se titel erf. Hy was die vorige jaar al daar, maar toe het Nina gesê sy is te jonk, Gao moet nog ’n jaar wag.

      Isa sug en sit haar hand voor haar oë. Sy wens sy kan vir Nina sê dat sy nie nou al wil trou nie. Daar is so ’n vreemde onwilligheid in haar om met een van hierdie natuurkinders te trou. Hareb wil graag vir Gao hê, maar Nina sal nie verstaan nie. Buitendien het sy vir Gao belowe.

      Isa draai weer op haar maag en druk haar gesig teen haar arm om te kyk of dit nie die onstuimigheid in haar wil laat bedaar nie. Wat gaan met haar aan? In haar hele bestaan het sy nog nie soveel liefde en sorgsaamheid geken soos hier by Nina nie. Nina bederf en vertroetel haar soos geen eie moeder beter sou kon doen nie. Sy lei ’n luilekker lewe. Hier is so min werk. Hulle soek ’n bietjie kos, en verder het sy maar die gewoonte behou om die hut met ’n tak uit te vee en rondom die hutte skoon te maak – tot groot vermaak van die ander.

      Die Ounistam het haar vreemde maniere maar aanvaar as deel van haar vreemde herkoms. Aan die begin kon sy die vreemde taal nie praat nie, en later het dit nie meer sin gemaak om hulle haar hele lewensgeskiedenis te vertel nie. Sy twyfel in elk geval of hulle dit sou glo. Sy is Nina se kind wat die gode vir haar gegee het! Niks gaan hulle oortuig dat dit nie so is nie.

      Isa skryf met haar vinger in die sagte sand. Sy kon reeds lees en skryf toe sy hier gekom het. Sy het dit ook maar lewend probeer hou deur dit oor en oor te oefen, tot groot vermaak van Hareb wat dink dat sy heeltemal van lotjie getik is.

      Ses jaar! Isa skryf ’n ses in die sand en sug diep. Sy is al ses jaar hier. Sy moet dus al omtrent agtien jaar oud wees. Elke jaar wanneer hulle hierdie tog see toe aanpak, merk sy dit teen die groot boomstam by hul hut. Sy wonder wat die datum is. As sy dit weet, kan sy haar ouderdom bepaal, want sy onthou nog haar geboortedatum. Dit is 30 April 1792. Dit moet dus nou iewers in 1810 rond wees.

      Isa lig haar effens op en kyk oor die see. In hierdie jare het sy nog nie weer ’n seil op die horison gesien nie.

      “Isa! Kom, kind! Waar is jy?” Isa hoor die angstigheid in Nina se stem toe sy na haar roep.

      Arme Nina! Sy is gewoonlik heeltyd onrustig wanneer hulle hier by die see is – seker maar bang dat die gode haar kind sal kom terugvat.

      Isa staan op en skud die sand van haar velrokkie af. Sy trek die een skouertjie op en glimlag. Dit was ook een van die dinge wat die ander nie kon verstaan nie. Isa het botweg geweier om net die klein velletjie wat soos ’n voorskootjie voor hulle hang, te dra. Sy het beduie en gekeer en later gehuil en vir Nina beduie dat sy die velletjie wil hê wat haar hele lyfie kon bedek.

      Nina was eers koppig, maar die trane in die groot, blou oë het haar laat toegee en sy het die velrokkie met ’n ophaal van haar skouers vir die kind gegee.

      Sy het die vel met een van die mans se klipmesse gesny, en met ’n doring en senings het sy vir haar ’n rok gemaak. Een wat bolangs ook toemaak. Van die linneklere wat sy aangehad het, het sy vir haar onderklere gemaak wat sy onder die kort rokkie kon dra.

      Isa draf teen die duin af en waai vir Nina wat verlig glimlag. “Waar kruip jy weer weg, kind?” raas sy. “Die mans vang maar swak vandag. Ons sal vanaand hier slaap. Julle moet vir ons van die hout wat hier op die strand uitgespoel het, gaan optel sodat ons vanaand ’n vuurtjie kan maak.”

      Hareb is dadelik by en al laggend en geselsend hardloop sy en Isa met die strand langs. Kort-kort tel een ’n mossel op en gooi dit in die velsak oor haar skouer.

      Die dag snel verby en soos uitgelate kinders hardloop hulle rond. Die aand maak hulle ’n vuurtjie en hulle braai sommer van die vis wat die mans gevang het. Die ander visse word oopgesny en met sout, wat hulle ’n entjie daarvandaan in ’n pan optel, ingevryf om droog te word.

      Dit word taamlik koud hier op die strand en hulle bondel saam en lê styf teen mekaar op die sagte sand en slaap, Nina se maer, plooierige arm styf om Isa se lyf.

      Die mis hang laag toe hulle die volgende oggend opstaan. Hulle kan nie ver oor die see uit sien nie. Die mans is egter luidrugtig besig om alles reg te maak om die koue water aan te durf met hul gevlegte mandjies om nog ’n paar visse te vang.

      Isa se hare hang los en die taai seewindjie waai dit deurmekaar en koek dit, maar sy steur haar nie veel daaraan nie. By hul hutte het sy vir haar ’n visgraat drooggemaak waarmee sy soms haar hare kam. Wanneer Nina ’n bietjie water kan spaar, was sy Isa se hare sodat dit weer spierwit kan wees – dit is vir haar die mooiste ding op aarde.

      So af en toe, wanneer die water volop is, vat sy haar water na die hut toe en was haar daarin.


Скачать книгу