Die kralebruid. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Die kralebruid - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
strek haar behaaglik uit. Nina staan steunend op en druk swaar op haar kruis. Isa glimlag liefdevol.

      “Waar is dit seer, Ma-Nina? Hoe lyk dit vir my Ma word oud?”

      “Natuurlik word ek oud. Ek sal daaraan moet begin dink dat die voorvaders my een van die dae sal kom haal.”

      “Ag, nee wat, Ma-Nina, hulle sal jou nie nou al wil hê nie. Daar is nog te veel lewe in jou oor,” sê Isa laggend.

      “Ai, Isa, moenie so oneerbiedig van die voorvaders praat nie. Hulle was dan so goed vir my. Hulle het jóú dan vir my gegee. “Sy beduie met ’n maer hand na ’n klompie rotse. “Net daar het ek jou gekry. Dit was ook so ’n mistige môre soos vandag. Die son het ook so weggekruip. Toe ek daar om die rotse kom, lê die mooiste ding wat ek nog gesien het daar.”

      Isa het die storie al honderde kere gehoor, maar elke keer gee dit haar ’n warm gevoel in haar binneste. Nina het haar die naam Isa gegee, want Isa beteken “mooi”!

      Die manne vang goed en voordat die misgordyn behoorlik gelig het, kom hulle glimlaggend terug. “Nina! Isa! Julle kan begin oppak. Ons sout net die vis, dan kan ons teruggaan.” Jora, die hoofman van hul groep, skree sommer van ver af opdragte.

      Isa en Hareb draf al langs die strand af en tel nog vir oulaas mossels op.

      Die son beur moeisaam vir hom ’n pad deur die miswolke oop, maar toe hy eers ’n deurkomplek gekry het, druk hy die misvliese met ’n reusehand weg. Die grysblou see is kalm en stil en al beweging is die voëls op die gladde oppervlak.

      Die twee jong meisies hardloop laggend en spelend terug en die ander het al klaar opgepak toe hulle daar kom. Hulle kry hul deel om te dra, maar vir hierdie kinders van die woestyn is dit geen moeite nie. Daar is geen haas nie. Hulle loop rustig en daar is deurentyd ’n gelag en geskerts wat die pad kort maak.

      ’n Entjie van die strand af swenk hulle links en dan is hulle in die loop van die droë rivier. Twee dae lank stap hulle, en dan glip hulle tussen twee rotsagtige koppies deur en word die plek met takke toegemaak. Die wind sal binnekort hul spore doodvee en hulle is hier goed beskut teen al wat ’n nuuskierige oog is.

      Isa is bly toe hulle weer terug is by die hutte. Hier staan omtrent twaalf hutte. Die gesinne is maar klein – selde met meer as drie kinders. Die ou gemeenskappie is dus klein – eintlik net ’n groot familie!

      Isa is stil toe hulle die vis en mossels versorg. Die see is nie goed vir haar gemoedsrus nie. Elke jaar wanneer hulle daar was, is hierdie vreemde, knaende verlange in haar binneste en dit duur gewoonlik dae en weke voordat sy dit behoorlik afgeskud kry.

      2

      “Isa!” Nina skud liggies aan haar skouer.

      Isa sit verskrik regop. Nina druk haar hand voor haar mond om haar tot stilte te maan.

      “Kom!”

      “Waarheen?” fluistervra Isa en haar oë is groot in die skrefie maanlig wat by die hut insypel.

      Nina beduie egter net dat sy moet stilbly en loer by die opening van die hut uit om seker te maak dat almal reeds slaap. Nina vat haar hand en stil sluip hulle by die kamp uit. Isa wil oopbars van nuuskierigheid, maar weet dat sy nou geen geluid moet maak nie.

      Eers toe hulle baie ver van die hutte af is, gaan Nina uitasem sit. “Wat gaan aan, Ma-Nina? Waarheen gaan ons?” vra Isa nog steeds heeltemal oorbluf deur hierdie vreemde optrede van Nina.

      “Ons gaan na die gode toe.”

      “Die gode?” Isa se oë is groot en geskok.

      “Ja, dié waarvan Kara gepraat het. Hulle wil jou sien. Hulle wil natuurlik sien of ek goed na jou gekyk het.”

      Isa kan die heilige respek in Nina se stem hoor. “Maar, Ma-Nina, ons kan dit mos nie doen nie. Hulle kom soek dalk glad nie vir my nie. Hoe weet ons dat hulle ons goedgesind is?” vra Isa.

      “Wat sal hulle dan anders hier kom maak? Kara sê dit is mansgode en hulle lyk soos jy. Die een se hare is amper net so wit soos joune. Hulle dra ook vreemde klere soos wat jy aangehad het,” sê Nina beslis.

      “Ma-Nina . . .” Isa weet nie mooi hoe om dit vir haar te sê nie. Kara het ’n week gelede hier aangekom en gesê dat daar twee gode van die see se kant af aankom. Hulle het nog twee ander by hulle wat baie soos die Ouni’s lyk, maar hulle dra ook vreemde klere soos die gode. Dan is daar nóg vier, maar hul velle is swart en hulle dra groot pakke goed – hulle is seker die gode van die slawe, want hulle lyk soos die Nu-Khoins en hulle dra ook klere van vel.

      “Ma-Nina, ek is glad nie van die gode nie. Ek kom . . .”

      Nina druk vinnig Isa se mond toe. “Jy moet dit nooit weer sê nie! Natuurlik is jy van die gode! Jy het uit die see gekom en hulle het jou spesiaal vir my daar op die strand neergesit omdat my hart so na jou gesmag het. Ek wil net vir hulle gaan wys dat ek jou al hierdie tyd mooi opgepas het.” Nina se stem is so beslis dat Isa weet dit sal nie help om verder met haar daaroor te redeneer nie.

      “Waar is die gode nou, Ma-Nina? Het Ma uitgevind?”

      “Ja, by die gat van die klein volstruisies.”

      Isa sug. Dit is nie ver hiervandaan nie. Nina het haar dinge mooi uitgewerk.

      Noudat sy daaraan dink, Nina was onrustig al vandat Kara met die storie gekom het dat daar gode uit die see aangekom het. Sy het vir Kara teruggestuur om die gode dop te hou en hy moes gereeld kom verslag doen waar hulle is.

      Nina staan weer steunend op en in stilte beweeg hulle ’n entjie verder voordat Nina haar terughou.

      “Gaan jy alleen nader en gaan kyk of hulle nog daar is. Saggies, hoor, die gode sal jou hoor.” Nina deel haar bevele uit en gaan sit dan moeg en kortasem onder ’n bos.

      Isa sluip geluidloos nader en sien dan in die maanskyn die hobbels soos die mense lê en slaap.

      Sy sit lank daar. Haar gedagtes is ’n maalkolk. Nina sal nooit luister en verstaan as sy probeer verduidelik nie. Soveel jare het sy gewag vir iemand om haar terug te neem na die beskaafde wêreld, en nou weet sy nie of sy wil gaan nie.

      Die dag wil-wil in die ooste breek toe Isa terugsluip.

      Nina lê skuins op haar sy en Isa weet dat die geringste beweging haar sal wakker maak. Arme Nina. Sy word nou so vinnig oud, haar tyd hier saam met hulle is nie meer lank nie. Wat gaan dan van haar word?

      In Isa woel en woed ’n tweestryd. Hier is eindelik van haar eie mense wat haar kan terugneem na waar sy hoort. Noudat die geleentheid hier is, is sy bang! Het sy nie al te veel verander en te veel vergeet van die beskawing nie? Al wat sy nog kan onthou, is die swaarkry en harde werk. Wil sy regtig weer teruggaan daarheen?

      Nina sit vinnig regop toe Isa liggies sug. “Is hulle nog daar?”

      “Ja, hulle is nog daar, maar ons sal maar moet wag totdat dit lig is, anders . . . skrik hulle dalk.”

      Nina kyk na die oosterkim en skud haar kop. Isa kom lê styf teen haar en sit haar arm om die benerige ou lyfie.

      “Ma-Nina, kom ons gaan liewer terug. Netnou . . . wil die gode my terugvat en . . . ek wil nie vir Ma-Nina alleen los nie.”

      Nina is eers ’n lang ruk stil.

      “Ek kan dit nie doen nie, kind. As ek jou vir hulle wegsteek, kan hulle dalk kwaad word en die ander mense van die Ounistam ook kwaad aandoen. Kara sê hulle het stokke by hulle waarmee hulle donderweer maak en dit laat ’n bok ín sy spore neerslaan. Nee, kind! Ons kan dit nie aan die ander doen nie. Ek is baie dankbaar vir die tyd wat hulle jou vir my gegee het. Ons . . . moet alleen gaan sodat hulle nie van die ander weet nie. Dit is hoekom ek jou hierheen gebring het.” Isa besef die wysheid van Nina se woorde.

      Al vertolk sy ook dinge heeltemal verkeerd, bly die beginsel nog reg.

      Isa sug en lê dan weer stil. Nina het reg, dit is beter dat hulle alleen gaan. Dalk gaan sy saam met hulle terug, dan sal dit beter wees dat


Скачать книгу