Louisa du Toit Omnibus 8. Louisa du Toit
Читать онлайн книгу.geykte aanhaling te voorskyn, steeds skeef grinnikend.
Toe verloor Berna al haar geskoolde selfbeheersing, en sy word weer die meisietjie wat haar moes handhaaf teenoor ruwer, groter koshuisdogters: “Ek het ’n plaasjapie verwag,” sê sy, “en ’n bees gekry.”
“O nee,” verbeter hy droog, jy het ’n ridder op ’n perd kom soek en net die perd kom kry … ’n regte ou knolperd.” Hy sak onverwags op een knie neer en lig haar regtervoet op. Om nie haar balans te verloor nie, moet sy vinnig agtertoe gryp na die toonbank se rand.
Sy ruk om haar voet los te kry, en dit gee hom net genoeg tyd om haar gemaklike skoen af te stroop en agter sy rug vas te hou: “’n Skoen wat so fluks agter ’n prins aan geloop het, moet in ’n glaskas bewaar word,” reken hy met groot erns. “Dalk verander dit self in glas, wie weet?”
“Gee my skoen,” sis sy, nou eers daarvan bewus dat hulle gesien kon gewees het. Sy is seker dat die messelaar daar agter ’n grinnik op die gesig het, maar die sypaadjie voor die winkel lyk gelukkig leeg.
Wel, totdat Dawie ingestap kom. Sy oë rek toe hy vir Roux sien staan.
“Dag, Pa,” sê Roux redelik stug. Die “Pa” kom beslis nie so natuurlik soos van ’n eie seun nie. “En tot siens ook sommer, ek is al weer op pad. Ek het julle nuwe bestuurder ontmoet. Bekwame sakevrou, en vas op haar voete. Ek is seker sy sal diep spore hier trap.”
Dawie staan hom sonder woorde agterna en staar. Toe hy na Berna kyk, is sy blik steeds star. “Dis die eerste keer in maande wat hy sy voet hier sit.” Hy klink sowaar bewoë.
“Oom Dawie,” sug Berna, haar woede heeltemal verdamp, “hoe is dit dan dat hy ook van my weet? Ek bedoel, van die plannetjie wat julle vir my en hom gehad het, dat jy my op straat ontmoet het, en so?”
“Jy weet hoe stories op hierdie plekkie kan loop,” ontwyk Dawie, wat sekerlik bedoel dat Lammie haar mond verby loop en praat het. “Maar jy praat mos nou van dinge wat hoeka nie meer so is nie,” bevind hy dan met verligting. “Ons het mos met jou ooreengekom, of hoe?”
“Maar Roux dink nog … aag, laat staan dit, ons maak alles net erger.” Dis inderdaad soos ’n distel wat oopgeskiet het om honderde saadjies op die wind te versprei, onmoontlik om dit weer in te samel. Nou staan sy nog sonder skoen ook hier. Al wat sy kan doen, is om die ander een ook uit te trek.
Die duiwel haal vir Roux le Roux. Sy wens sy was ’n goëlaar, dan het sy daardie skoen ingespan om hom heelnag te teister, hy moenie ’n oog toemaak nie. Nou ja, dalk maak hy buitendien nie ’n oog toe nie. Hy vry mos glo so kliphard. Met die meisiemens wat die kunsboetiek het, vir Berna nog ’n onbekende.
Volgens wat sy al nou al stuk-stuk uitgevind het, het Roux klaar geswot in die regte toe sy pa dood is, en hy kom boer het. Maar iewers in die proses het daar onversoenbaarheid ingesluip, so voel Berna dit aan. Lammie wou half te kenne gee dat sy alleen sou kon boer tot Roux gereed is om oor te neem. Maar dat Roux haar wou kom “oppas”. Lammie het dit met so ’n geslote, half grimmige gesig gesê, dat Berna dit nie gewaag het om verder uit te vra nie.
Nou ja, regte ofte nie, Roux le Roux moet net onthou slim vang soms sy baas.
6
Dis ’n eienaardige gevoel waarmee Berna uit ’n diep slaap na die oppervlak kom: ’n gevoel van herkenning, ’n intense herbelewing. Maar sy kan net nie wakker genoeg word om te weet wat dit is nie. ’n Wakende droom, ’n reuk, ’n klank, ’n truuk van die onderbewussyn? ’n Slaapgeluid van een van die kleintjies? Uiteindelik dommel sy weer dieper weg, maar dit voel of dit onmiddellik daarna is dat haar rekenaarwekkertjie aan ’t blieb-blieb-blieb gaan.
Vandag is die dag van die vergadering, onthou sy. Byna twintig Rensdalse vroue het reeds laat weet dat hulle belangstel, nadat sy ’n advertensie in die koerantjie laat plaas en ook strooibiljette versprei het.
Die eienaardige naggevoel wil haar egter nie heeltemal verlaat nie. Nadat sy die tweeling se gesiggies gaan was het in die badkamer op die agterstoepie en hulle op die toilet laat sit het, steek sy voor haar woonkamers vas. In die sanderige kolletjie net langs een van die twee buitemure, reg onder die slaapkamervenster, lê daar spore … die groot spore van rubbersoolskoene.
Dawie dra gemaklike winkelvelskoene, onthou sy onmiddellik, anders sou sy haar gerieflik kon wysmaak dat hy nuwe verfkolle van die ruite af verwyder het, of wat ook al. Die mense wat die ruite kom insit het? Reeds twee weke terug al. Of die verwers van die rame? Ook meer as ’n week gelede. Maar daar was nie wind intussen nie, dit kan wel spore wees wat sy voorheen net nie raakgesien het nie, waarvoor sy nou opgeskerp is deur haar vreemde nagtelike gewaarwording.
Dis ’n lang dag wat voorlê, met ’n vol program. Sy besluit dat sy wel van haar duister vermoedens sal vergeet sodra sy goed aan die gang is.
In ’n sekere opsig gebeur dit so. Daar is gebraaide niertjies vir ontbyt, en die tweeling word opeens daarvan bewus dat mens en dier onbekende verskynsels en organe binne-in hulle het wat so gou moontlik en met soveel vrae moontlik deur hulle tweetjies volledig vasgestel en uitgeken moet word.
“Kniertjies is giftig,” besluit Mientjie, terwyl sy tydsaam haar voetjies onder die tafel sit en swaai, ’n soort bevestiging van wysheid.
“Nee, jy dink aan kliertjies,” onderrig Lammie geduldig, ’n geduld wat vir Berna deurentyd verstom. Die twee mense is immers lankal nie meer gewoond aan woelwaters onder hulle voete nie. “En kliertjies is ook nie giftig nie, mens eet dit maar net nie.”
“Hiekom nie?” vra Ronnie, wat met die aanleer van die welluiende “r” ’n paar nuwe onhebbelikhede in sy spraak aangeleer het. Die “hiekom” in plaas van “hoekom” is skynbaar een van die foefies waarmee hy Mientjie probeer belet om al die aandag op te eis. Want hy weet dat hy gekorrigeer sal word, en korrigering is aandag.
“Sommer omdat al die afvalstowwe van die skaap se lyf daardeur gaan,” probeer Lammie uitlê. Dan onthou sy: “En dis hoekom, nie hiekom nie.”
“O,” sê Ronnie. “Hiekom is hoekom nie hiekom nie?”
Die gemessel en geverf by die winkel is klaar en dit moet vir vanaand se vergadering skoongemaak word. Dawie het genoeg stoele met sy bakkie aangery, sommer by die bure ook ligte stoele of van die opvousoort geleen.
Dit begin heel skaflik lyk en soos altyd maak die reuk van nuwe verf en vernis ’n opgewondenheid in Berna los. Sy is besig om eiehandig die toonbank met behulp van ’n skoonmaakmiddel en ’n poetslap blink te vryf, toe ’n vreemde meisie binnekom. Voor sy nog haar naam sê, so nadruklik asof sy ’n beëdigde verklaring aflê, weet Berna dat dit Nerida Nel moet wees, die “spesiale vriendin” van Roux. Sy is mos glo ’n kunstenares, en dit word vertel dat sy so boheems is.
Nou nie juis dat kunstenaars vir Berna vreemd is nie. Hoeveel het sy nie sien kom en gaan in die advertensiefirma waar sy gewerk het nie. Self het sy haar tot dusver daarvan weerhou om die meisie se kunsboetiek te besoek, al het sy gedink dat daar dalk iets nuttigs vir die verfraaiing van Koskas kan wees. Sy wil geen nuuskierigheid hoegenaamd in die sake van meneer Roux toon nie. As hy maar net op ’n keer haar lekker gemaklike skoen teruggee, sal sy ook al dankbaar wees, maar selfs dit sal sy nie oor haar dooie liggaam vir hom vra nie. En waar kry sy hom ook in die hande?
“Ek is Nerida Nel. Oor vanaand se vergadering,” sê die meisie wat ’n toonbeeld van bestudeerde onbestudeerdheid is, “ek sal nie hier wees nie, ek assosieer my nie juis met kudde-bedrywigheid nie. Maar ek sal ’n swyende lid word.”
Haar gesig sit redelik bleek tussen die warboel hare en die losserige rok wat haar van nek tot tone bedek. Modieus genoeg, seker, vir dié wat nog nie weer sterk, skoon lyne ontdek het nie. Eintlik lyk sy soos ’n lappop wat buite in die reën en wind gelê en verbleik het, en Berna voel nogal teleurgesteld. Sy het iets vlammends van Roux se ongewenste nooi verwag. ’n Verhouding tussen die twee lyk nou meteens doodgewoon moontlik, glad nie eens opspraakwekkend nie.
Berna reik na die lys in haar ruim handsak en skryf die meisie se naam by. “Sê net of u wil