Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman


Скачать книгу
is binne vyf minute terug, erg ontstoke. Hy slaan met sy vuis op die toonbank en moet homself eers kalmeer voor hy in staat is om vir Hennie te vertel wat hy so pas uitgevind het.

      6

      “Hoe kon so ’n fout ingesluip het?” Hennie se stem is verslae en sy is skielik weer baie na aan trane.

      Donnie se antwoord is grimmig. “Ek weet nie. Maar ek gaan uitvind.”

      “Dis mos ’n verskriklike misverstand. Dis net die teenoorgestelde van die advertensie wat hulle moes plaas. Hoe kon die koerant so ’n flater begaan het? Om te sê dat Sesdoringsbiblioteek permanent gesluit is … Geen wonder hier het nie mense opgedaag om boeke uit te neem nie.”

      “Dis weer een of ander simpel klerk wat nie sy werk kan doen nie, wat net met ’n halwe oor geluister het toe ek die bewoording van die advertensie verstrek het.”

      “Maar daar is tog ’n hemelsbreë verskil tussen: ‘Groot Openingsdag van Sesdoringsbiblioteek’ en ‘Sesdoringsbiblioteek is permanent gesluit en sal nie weer open nie’. Hoe kon die klerk ons so verkeerd verstaan het?”

      “Dit gaan my verstand ook te bowe. Ek is lus en ry nou op die daad dorp toe om daardie vent ’n opstopper te gee.”

      “Wat help dit? Die skade is reeds gedoen. Al die eetgoed gaan mors en ek het my verniet gebreek om alles vandag reg te hê.”

      “Die koerant behoort jou skadevergoeding te betaal. Ek gaan ’n eis teen hulle instel. Ek gaan daarop aandring dat hulle ’n week lank elke dag ’n berig dra wat jou biblioteek adverteer. En laat hulle dit net waag om jou ’n rekening daarvoor te stuur. Ek is jammer, Hennie. Dalk was dit my fout. Dalk was my drukskrif nie duidelik genoeg nie en kon die klerk dit nie lees nie.”

      “Moenie vir die onnosele vent verskonings maak nie. Ek gaan saam met jou dorp toe ry om vas te stel hoe so ’n fout kon ingesluip het.”

      “Nee,” keer Donnie. “Dit sal beter wees as jy hier bly om die mense te ontvang wat my kennisgewing by die grootpad opgemerk het. Dankie tog daarvoor, anders het niemand geweet hier bestaan nog ’n biblioteek met die naam van Sesdorings nie.”

      “Tant Lettie!” Hennie storm kombuis toe om haar vennoot die slegte tyding oor te dra. Sy steek verbaas vas toe sy die ou dame penorent op ’n kombuisstoel aantref, haar arms gevou en haar lippe op ’n dun plooi getrek. “En nou, Talettie? Hoekom sit Tante so alleen hier in die kombuis?”

      “Laat ons maar sê ek … e … verkies om in die kombuis te sit, tot jou geselskap vertrek het.”

      Hennie begryp hoekom die ou dame so optree. Sy het tien jaar lank vir oupa Drik gewerk en sy weet natuurlik van die vete tussen die Vermaaks en die Meirings.

      “Donnie is aan ons kant, Tante,” glimlag Hennie. “Hy is anders as sy broer en sy vader. Hy wil graag sien dat ek van die biblioteek ’n sukses maak.”

      Al antwoord wat Hennie kry, is ’n snorkgeluid en tant Lettie se lippe pars nog stywer opmekaar.

      “Kom sit by ons, Tante,” pleit Hennie. “Donnie sal baie sleg voel as hy moet weet dat Tante hom en die res van die Meirings oor dieselfde kam skeer. Hy baklei aan ons kant, Talettie.”

      “Ek sal vir julle tee maak, Hennie, maar ek sal myne maar liewer hier in die kombuis drink. Hoe lank gaan meneer Meiring nog kuier?”

      “Ek weet nie.” Terwyl Hennie help om koppies reg te sit en Donnie se bord vol eetgoed op te hoop, vertel sy vir tant Lettie wat gebeur het, wat die rede is waarom geen mense opgedaag het nie.

      “Nou voel ek darem beter,” sluit Hennie die verduideliking af. “Ek was bang die mense het intussen almal by ander biblioteke aangesluit. Sodra hulle gehoor het daar was ’n misverstand, sal ons kliënte in hulle honderde opdaag om boeke te leen en Tante se heerlike koek en tee te koop. Ons sal nie kan voorbly nie. Tante sal sien …”

      “Is die ou skinderbek te kleingeestig om saam met my tee te drink?” vra Donnie toe Hennie met die skinkbord binnekom en hy sien dat daar net twee koppies is. Hy het saggies op sy tone agterna gegaan toe Hennie kombuis toe gestap het en by die deur gaan staan om te hoor wat die twee in die kombuis praat.

      “Sjuut, Donnie. Sy is oud. Oumense vergewe nie so maklik as iemand hulle in die verlede te na gekom het nie.”

      “Maar dis juis die punt! Ek het haar nooit te na gekom nie. Dis ek wat altyd vrede probeer maak het tussen jou oupa en my familie. Ek was altyd die buffer, net soos nou ook. Weet sy dit nie?”

      “Sy sal wel goed word, Donnie, as sy jou beter leer ken.”

      “Het sy nie gesien dat ek vergewensgesind genoeg was om jou oupa se begrafnis by te woon nie?”

      “Ons het nie veel oor die begrafnis gepraat nie, maar sy sê dat sy jou nie daar opgemerk het nie.”

      “Kan ek dit verhelp as sy blind is of teen haar ooglede se skille vaskyk? Sy kort ’n nuwe bril. Wat het die ou vrou nog oor my te sê gehad?”

      “Nie ’n woord nie, Donnie. Sy weet ons is vriende en sy is taktvol genoeg om jou nie met my te bespreek nie.”

      “Sy sal my om elke draai beswadder en vir jou leuens vertel. Belowe my jy sal haar nie glo nie, Hennie. Sy is ’n giftige ou vrou. Sy was deur jou oupa beïnvloed om ook die hele Meiring-gesin te haat. Sy sal jou enigiets oor my wysmaak, net sodat jy nie met my vriende moet wees nie. Belowe my jy sal jou nie aan ’n berugte ou skinderbek steur nie, my skat. Ek het jou lief en ek gaan nie toelaat dat ’n moedswillige ou voëlverskrikker tussen ons twee kom nie.”

      “Moenie so lelik van arme tant Lettie praat nie, Donnie.”

      “As ek daaraan dink dat sy ons verhouding probeer vernietig, kan ek nog baie leliker dinge oor daardie ou vrou kwytraak. Moet niks glo wat sy van my sê nie, Hennie. Dis alles leuens.”

      Hennie wou vir Donnie vertel het dat Talettie gesê het haar oupa het nie ’n motor besit nie. Toe sy egter sien hoe ontsteld Donnie is, ag sy dit gerade om liewer die onderwerp te verander en nie weer arme tant Lettie Jansen se naam teenoor Donnie te noem nie.

      “Ek was vanoggend baie na aan trane omdat niemand opgedaag het nie en ek was baie lus om Sesdorings te verkoop, maar nou is ek weer vol moed dat ek van die bib ’n sukses kan maak. Jy moet net reël dat die koerantadvertensie reggestel word, Donnie, dan sal alles regkom.”

      “Ek sal vroeg môreoggend weer ingaan dorp toe om daardie klerk aan sy nek te gryp.” Donnie neem ’n slukkie tee en sê dan aarselend: “Ek weet jy hou vol dat jy ’n sukses van Sesdorings kan maak, maar … Hennie, moet asseblief nie vir my kwaad word nie, maar ek wonder of dit ’n goeie idee is dat twee vroumense alleen op hierdie verlate plek woon. Ek sal nie hoor as jy in die nag om hulp skree nie en jy sal dalk nie betyds by die telefoon kan kom of jou rewolwer byderhand hê nie. Ek het jou lief, meisie, en ek wil nie dat jy iets oorkom nie.”

      “Jy vergeet van Lassie.”

      “Die hond is nog te jonk om van soveel waarde te wees. Hennie, hoekom verkoop jy nie Sesdorings nie? Ons sal jou ’n goeie prys betaal en dan kan jy mos ’n nuwe biblioteek in die dorp open.”

      “Ek bly op Sesdorings, waar my oupa twintig jaar lank alleen gewoon en gewerk het.”

      “Jou oupa was ’n man.”

      “Donnie, hierdie is al ’n holruggeryde onderwerp.”

      “Ek is seker, as jy daarop aandring, sal Carl die prys verhoog.”

      “Geld is nie alles nie, Donnie. Hierdie is die ou familie-erfplaas. As ek aan Carl verkoop, sal hy sy dam bou en dan is Sesdorings vir ewig verlore, dan lê my erfgrond onder die water en kan ek dit nooit weer terugkoop nie.”

      “Miskien het jy ook ’n plig teenoor die gemeenskap. Daardie dam sal aan die boere verligting bring. Noord-Transvaal is ’n droogtegeteisterde wêreld en kan jy dink wat ’n besproeiingsdam vir hulle sal beteken?”


Скачать книгу