Lang pad na liefde. Amelia Strydom

Читать онлайн книгу.

Lang pad na liefde - Amelia Strydom


Скачать книгу
en haar polsslag verdubbel. Gaan hy aan haar raak? Wil sy hê hy moet? Voor sy kan besluit, druk hy albei hande in sy broeksakke. “Vertel my nou van haar, toe.”

      “Waar sal ek begin? Ek kan haar nie opsom nie, dis soos om ’n reënboog in ’n botteltjie te probeer vang. Sy’s ’n geskenk wat ek elke dag van voor af oopmaak. Soos sy grootword, geniet ek haar net meer.”

      “Ek weet niks van kinders nie.”

      “Sy sal jou leer.”

      Hy klop teen sy bors, frons, en wys na die baadjie om haar skouers. “Daar’s ’n koevert in die binnesak. Dis joune. Julle s’n.”

      Sy trek haar skouers styf en lig haar ken. “Skyla het alles wat sy nodig het.”

      “Moenie hardegat wees nie. Ek skuld jou duisende in onderhoud.”

      “Jy skuld my niks.”

      “Ek wíl help. Sit dit in die bank vir later.” Hy sit sy hande op haar skouers, so swaar dat dit voel sy sak dieper in die sand weg. Swaar genoeg om haar te laat verstaan hy gaan nie nee vir ’n antwoord vat nie. “Ek haat die idee dat jy alleen moes sukkel. Gun my die kans om te doen wat ek kan?”

      Ag, hel, dit sal haar seker nie doodmaak nie. Wie’s sy om nee te sê as dit hom laat beter voel? “Maak vir haar ’n bankrekening oop. Vir wanneer sy wil gaan leer.”

      Hy gee haar skouers ’n drukkie en prop sy hande terug in sy sakke. “Dankie. Ons moet praat oor maandelikse onderhoud.”

      Anouk kreun. “Nie nou nie, seblief. Ons kan dit later doen.”

      “So oor ses, sewe jaar?” slaan die gegriefdheid weer deur.

      “Fine, jy wen.” Soos gewoonlik.

      Hy deins terug asof hy nie kan glo hoe maklik sy toegegee het nie. “Reg. Ek sal Maandag die dokumentasie opstel. Gee my jou bankbesonderhede, dan reël ek ’n debietorder.”

      “As dit jou gelukkig maak.” Doer ver speel ’n man met sy goue labrador. Die hond gaan haal sy tennisbal stertswaaiend uit die branders, maar weier om dit vir sy baas terug te gee. Die belaglike bedrag registreer eers toe Rossouw dit die tweede keer noem.

      “Is dit genoeg?” vra hy.

      “Is jy mal? Dis heeltemal te veel!”

      “Ek kan dit bekostig. Ek gaan dit nie eens voel nie.”

      “Baie flippen geluk, maar wat moet ek daarmee maak? Vir Skyla goue skoene koop?”

      “Jy glo nog altyd geld is die wortel van alle kwaad, huh?”

      “Minstens dink ek nie dis waaroor die lewe gaan nie.”

      Hy vryf oor sy oë. Die skaduwees daaronder raak aan haar gewete. “Ek’s nie die duiwel omdat ek ambisie het nie. Ek werk hard vir my geld.”

      “Newsflash: ek ook! Arbeiders wat hulle hande eelte werk, leef onder die broodlyn. Jy’t met jou gat in die botter geval.”

      “Gaan jy vir altyd vir my kwaad bly omdat my pa meer geld as joune verdien het? Ek het nie daarvoor gevra nie, oukei?”

      “Geld is nie vir my belangrik nie.”

      Hy lig sy wenkbroue. “Could’ve fooled me.”

      “As jy lus het vir baklei loop ek liewer.”

      “Anouk, asseblief. Ek verstaan hoekom jy bitter is. Jy het swaar gekry. As ek geweet het, het ek vroeër al gehelp.”

      “Ons kom reg.”

      “En ek bewonder jou daarvoor. Maar seblief, gee my nou die kans om na julle te kyk? Jy wou nie my pa se geld hê nie, I get it. Maar wat ek vandag het, het ek self verdien.”

      “As jy iets vir Skyla wil doen,” sê sy, “kan jy tyd saam met haar deurbring. Vir haar ’n pa wees.”

      “Ek het nie die beste rolmodel gehad nie.”

      “Gaan jy agter daardie verskoning wegkruip? Gaan jy haar liefde probeer koop en jou gewete met geld sus? Soos jou pa gedoen het?”

      Hy beweeg so vinnig dat sy skrik. Hy slaan een arm om haar middel en trek haar vas teen sy bors. Die ander hand se wysvinger druk hy teen haar lippe.

      “Genoeg. Hoekom kyk jy nie in die spieël nie, hm? Jy’s die een met issues oor geld. Sy’s my kind ook en sy gaan nie langer in ’n woonwa bly nie. Ek gaan vir julle ’n huis koop.”

      Sy skud haar kop om protes aan te teken.

      “Non-negotiable. Jy kan dit uitkies, of – as jy moeilik gaan wees – sal ek. Dit hoef nie ’n paleis te wees nie, maar dit moet nader aan my wees. Gordonsbaai, dalk. Ek kan nie so ver ry wanneer ek haar wil sien nie.”

      Arrogante control freak! Wat gaan hy doen as sy weier, haar weer met die hof dreig? As hy nader aan Skyla wil bly, kan hý trek.

      Sy stoei om los te kom, maar hy hou haar net stywer vas. Sy druk haar hande teen sy bors om hom weg te stamp. Als verniet, hy’s te sterk vir haar. Sy hartklop jaag onder haar vingers, so wild soos haar eie. Toe sy teen sy lyf verstil, haal hy sy vinger van haar brandende lippe af.

      “Manhandle my weer so, Van der Linde, en jy hoef nooit weer te worry oor kontrasepsie nie. Verstaan?”

      Hy steek die glimlag wat deurskemer agter sy vuis weg. “En ’n kar. Julle het betroubare wiele nodig.”

      “Ek’s lief vir die Chevy!”

      “So hou haar. Vat haar vir ’n drive wanneer Skyla by my kuier. Solank ek nie hoef te stres dat julle iewers in die donker gestrand sit nie.”

      “Ek het ’n selfoon –”

      “Wat nie orals op die kuspad kontak het nie. Moenie onredelik wees nie. Jy … aargh!”

      ’n Brander breek yskoud oor hul bene. Rossouw gryp haar hand en sleep haar tot op die droë sand. Hy kyk af na die broekspype wat aan sy kuite klou en trek ’n ek-ruik-koeimis-gesig.

      “Perfect. Ek spreek hierna kliënte op kantoor.”

      “Dit sal droog word, man.” Sy stamp haar elmboog in sy ribbes, die spanning skielik weer ontlont. “Dis nie nodig om jou knaters in ’n twist te kry oor ’n bietjie water nie.”

      “Anouk.” Die woer-woer agter haar naeltjie tol vinniger. Shit, hy voel dit ook. Net só het hy haar naam gesê wanneer hy haar wou soen. Só het hy sy kop gekantel. Meteens lyk hy weer negentien en net so ’n tikkie onseker.

      Hy vou sy vingers om haar wang en steel haar asem. Sy staan versteen: Kan nie roer nie, kan nie praat nie. So daar ís iets soos cellular memory. Sy weet, want elke vesel in haar lyf onthou hom. Verlang na hom.

      Dis eers toe sy hand op haar heup beland dat die sirene in haar kop begin skreeu. Nie. Weer. Nie. Sy hou van haar hart waar dit nou is, heel en veilig agter haar ribbes. Sy gaan dit nooit weer aan Rossouw toevertrou nie. Once bitten, twice smart. Die krag vloei terug na haar beenspiere, en haar veg-of-vlug-instink tree in. Veg kan sy nie – sy het nog nooit ’n kans gestaan teen wat sy vir hom voel nie.

      Van vlug het sy jare se oefening.

      En sy spring weg, onder sy aanraking uit, tot buite sy energieveld. Sy vul haar suurstofhonger longe met die seebries. “Kom. Ons het al twee kliënte om te sien.”

      Sy retireer ’n paar treë, draf op een plek, kyk orals behalwe na hom. “Wie’s eerste by die rotse?” daag sy hom uit.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив


Скачать книгу