Sluiers van die nag. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Sluiers van die nag - Ena Murray


Скачать книгу
van haar siel instaar. Haar blik kleef aan hom, liewer op hom as op daardie naam, daardie angswekkend bekende naam op die bord, en sy sien hoe die gesig nog strenger word. Die oë, eers verbaas, vernou tot twee priemende lense wat nog dieper indring in die donker doolhof van haar hart, daar waar selfs sy huiwer om in te kyk …

      Sy weet sy moet wegkyk, wegdraai. Sy weet sy mag nie toelaat dat ’n volslae vreemdeling so diep in haar binneste kyk nie, maar sy staan vasgenael, nie in staat om te beweeg nie. Want dié is die oomblik wat sy altyd gevrees het; die oomblik wat sy so sorgvuldig tien jaar lank toegesluit gehou het … In hierdie enkele stonde is die verlede van diep agter die gegrendelde tralies uitgeruk en weer – so vars soos gister – voor haar oopgevlek …

      Sy het deur die jare gebid dat hierdie dag vir haar gespaar sal bly, dat die lewe haar hierdie een genade sal skenk, hierdie één toegif … Tien jaar lank het dit weggebly, het sy gerus geword. En nou … skielik, so onverwags … so verblindend en angswekkend onverwags, is dit op haar … en tien jaar gelede het sy nie so weerloos gevoel soos juis nou nie.

      “Kom sit hier op die bank en laat jou kop tussen jou knieë sak.”

      Sy stem klink formeel, so professioneel dat dit soos ’n emmer koue water in haar gesig is.

      Sy sluk, voel dat haar geskokte hart weer swaar en moeisaam begin klop. Genadelose selfdissipline laat die sluiers oor die grys kykers verskyn en sy besef nie die man sien hoe sy die angsvrees weer terugdwing nie tot daar waar dit jare lank sluimerend agter tralies geketting was. Dis amper asof hy ’n slot kan hoor klik …

      “Dankie, ek … Nee, dankie.”

      Hy sien haar wegstap, kyk haar peinsend agterna totdat sy om die hoek van die gang verdwyn. Hy bly staan voor die kennisgewingbord, sy oë soekend. Hy lees alles deur, maar dit beteken niks vir hom nie.

      “Oom Daan ken seker al die mense in hierdie plek, nie waar nie? Ek bedoel almal wat hier werk,” sê hy by die ontvangstoonbank.

      Oom Daan knik. Natuurlik ken hy almal, pedigree de lot. Driekwart van hulle was nog nie eens mens toe hy hier begin werk het nie. Selfs die hoofmatrone onthou hy as ’n bloedjong beginnertjie. Die vreemdeling in die grys pak vou sy arms op die toonbank en leun nader asof hy heelwat tyd nodig sal hê vir die inligting wat hy verlang.

      Maryke is innig dankbaar dat die hoofmatrone vyfuur van diens gaan en dat sy haar dagrapport van die dagmatrone sal ontvang. Die hoofmatrone se oë is baie skerp, en die onnatuurlike bleekheid van haar kollega se wange sou haar arendsblik nie ontgaan het nie, veral aangesien sy pas van ’n vakansie teruggekeer het. Sy is veronderstel om vars en fris te lyk.

      Matrone Lüdick skenk nie veel aandag aan Maryke se uiterlike nie. Dis ’n lang, harde dag wat agter die rug is en sy sien daarna uit om van diens te gaan.

      “Lekker vakansie gehou, matrone?” vra sy die beleefde vraag.

      “Dankie. Dit was lekker. Hoe gaan dit hier?” kom die stereotipe antwoord.

      “Soos gewoonlik. As jy gereed is, kan ons maar begin.” Maryke neem langs haar plaas en dis blote selfdissipline wat haar in staat stel om die dagrapport te volg en belangrike punte te memoriseer.

      Haar kalm stem verraai nie ’n greintjie van die chaos wat in haar binneste heers nie. Sy wens haar kollega ’n geruste nag toe en sak agter die lessenaar neer, die oop dagrapport voor haar.

      ’n Oomblik lank sien haar oë niks raak nie, is haar blik na binne gekeer. Maar stadig vloei kalmte terug as sy die bekende, gerusstellende dinge raaksien – die twee gemakstoele voor die lessenaar, die liasseerkabinette in die hoek, die verwarmer hier digby haar stoel, die oop dagrapport voor haar …

      Sy is gereed en bekwaam vir nog ’n jaar se werk, vir die lang, eensame nagure wat haar dag geword het. Ook die grys oë is weer kalm terwyl sy amper liefkosend na die bekende toneel om haar kyk. Sy is terug, veilig terug. Hierdie kantoor, hierdie lang, wit gange, die sale … dis haar wêreld, haar lewe, haar veilige hawe waar sy vrede – of soveel vrede as wat dit vir haar moontlik is om te ervaar – gevind het …

      Sy vou haar hande saam op die oop dagrapport. Dis ’n lang tyd as jy dit in een span voor jou sien. Dis ’n leeftyd. Tog het dit ongemerk verbygegaan, het haar lewe ongemerk in ’n donker groef verval. Die skemerlewe van die nag in ’n hospitaal het haar bestaan geword. Die flou bedlampie by ’n pasiënt se bed is die enigste lig wat sy ken …

      Sy weet dat sy ’n bynaam het. Uiltjie. Sy glimlag nou effens. Hoe gepas!

      Dan versomber haar blik weer. Maar niemand ken Maryke Linde werklik nie. Niemand ken die mens agter die wit kleed van bekwaamheid nie. Dit kom en gaan gedurig op die nagpersoneel soos hulle ná nagdiens van ’n maand weer terugkeer dagdiens toe en die normale lewenspatroon. Net matrone Linde bly maandin en maanduit. Net sy bly deel van die nag, deel van die gedempte ligte, van die lang skaduwees.

      Nog voordat die son mooi op is en sy die warmte van sy strale kan voel, trek sy die gordyne in haar woonstel dig en slaap die dae van lig om. En wanneer die laatmiddagson lang vingers oor die stad trek, ontwaak sy, staan op, bad, trek aan en stap dan in die skemer uit soos ’n naguil …

      Haar lewe is nou al tien jaar lank ’n siklus van skemer tot skemer … ’n siklus waarin sy veilig gevoel het, weg van die lewe en sy werklikheid. Weliswaar weg van sy vreugdes, maar ook weg van die pyn en ontnugtering en genadeloosheid wat die lewe van lig kenmerk.

      Maar ’n naam in vlammeletters het skielik hierdie skemersirkel binnegedring. Ralph Weideman. Kan dit hý wees? Kan die lewe so wreed wees dat hy haar selfs na die nagwêreld waarin sy haar teruggetrek het, agtervolg? Kan daar ’n tweede dokter Ralph Weideman wees?

      Sy weet sy moet met haar rondes begin. Sy weet haar plig roep. Dis nie nou die tyd om terug te stap in die verlede nie. Maar vir die eerste keer in tien jaar laat Maryke Linde toe dat haar persoonlike lewe haar professionele lewe oorheers, laat sy toe dat die hospitaal wag terwyl dit in haar smeek, kerm dat daar ’n misverstand moet wees, dat die nuwe superintendent van die hospitaal nie Ralph Weideman moet wees nie. Nie dié Ralph Weideman nie …

      Die telefoon skril langs haar saamgeperste hande en sy tel dit werktuiglik op. Vir die res van die nag dwing plig die nagmatrone om persoonlike gedagtes en bittere herinneringe terug te druk in haar hart waaruit dit vroeër die aand so skielik ontsnap het. Die eerste nag ná haar vakansie is van die besigste wat sy in ’n lang tyd belewe het.

      ’n Groot toerbusongeluk vind plaas kwalik ’n uur nadat sy aan diens gekom het. Sy is nog nie klaar met haar rondes nie toe daar inderhaas reëlings getref moet word vir genoeg beddens. Personeel moet opgeroep word en talle ander sake moet in rekordtyd in gereedheid gebring word. Die nagmatrone se organisasievermoë is van die allergrootste belang maar, soos altyd, is sy bekwaam om die krisis die hoof te bied.

      Toe die eerste ambulans met skreeuende sirene voor die ongevalle-afdeling stilhou, is almal gereed om dadelik die nodige te doen.

      Op haar stil, onopsigtelike manier los die matrone probleme op, bied sy hulp aan en kyk toe dat alles vlot, want menselewens is op die spel. Sy beweeg soos ’n stil skaduwee tussen die sale sonder dat sy deur die personeel opgemerk word en sonder dat hulle werklik besef dat iemand daarvoor verantwoordelik moet wees dat alles so glad en sonder onnodige vertraging verloop. Wanneer iets nodig is, is dit meteens net daar en daar is nie tyd om te wonder hoe dit daar kom nie.

      Dis eers teen vieruur die oggend dat die vreemde rustigheid wat deel van ’n slapende hospitaal is, weer stadig begin terugkeer. Die rooi ligte bokant die teaters word afgeskakel. Daar is oorwinnings behaal en daar is ook teruggestaan vir ’n Groter Mag.

      In die kraamafdeling lê ’n klein mensie aan sy duim en suig met ’n uitdrukking op sy gesiggie asof hy ernstig twyfel of hy veel gaan hou van hierdie nuwe wêreld waarin hy hom so skielik bevind. ’n Entjie verder af lê sy moeder uitgeput en slaap onder die kalmering van verdowingsmiddels.

      En in saal D, waar ’n flou liggie in een van die privaat kamers brand, word die flou klop van lewe in die bleek pols noukeurig getel.

      ’n Stil skim skuif langs die saalsuster


Скачать книгу