Sluiers van die nag. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Sluiers van die nag - Ena Murray


Скачать книгу
dat ons … wel, goed bevriend is nie.”

      Vir die eerste keer in jare is dit of daar histerie in die altyd kalm nagmatrone wil opborrel. Dan knik sy en weer is sy verbaas oor die gelykmatige toon van haar eie stem. “Natuurlik nie … professor.” Dan draai haar blik terug na die blonde man en meteens lyk hulle nie meer so weerloos en verskrik nie. “Ek het die volste reg om bevriend te wees met wie ek wil.”

      Die blonde man se wenkbroue lig, maar meteens word die deur beslis oopgehou en Ralph Weideman het geen ander keuse as om die onuitgesproke bevel te gehoorsaam nie. Hy werp amper ’n waarskuwende blik na agter toe hy uitstap, maar die hoofchirurg kyk glad nie terug toe hy hom volg nie. Die deur word net sag maar beslis agter hom toegetrek.

      Maryke se blik sak af na die bed. Soos ’n robot soek haar vingerpunte werktuiglik na die pasiënt se pols terwyl haar oë die tikkende sekondewyser van haar polshorlosie volg. Toe die spesiale verpleegster langs haar inskuif, is die eerste respirasie- en polstelling reeds netjies en sekuur op die kaart aangedui.

      Dis eers toe sy terug is agter haar lessenaar dat die verpleegster in haar op die agtergrond skuif. Sy staar op haar saamgeknelde hande neer … en nog nooit was Maryke Linde so verbaas, so verdwaas, so verward en bang as op hierdie oomblik nie.

      Sy is dankbaar toe sy eindelik in die vaal sluiers van ’n reënerige oggend kan uitstap. Toe sy by die ontvangstoonbank verbykom, is oom Daan ook gereed om van diens te gaan.

      “Moeg, matronetjie? Dit was ’n deurmekaar nag gewees, nè?”

      Sy glimlag en die effense hang van die skraal skouers beantwoord sy vraag. Tog is daar iets om haar mond en oë wat verraai dat Maryke Linde meer as net liggaamlik moeg is. Maar daarvan weet die ou man nie. Vanoggend bekyk hy haar egter met meer belangstelling as gewoonlik. Gisteraand het die nuwe hoofchirurg baie uitgevra oor hierdie meisie.

      Hy het dit so ongeërg moontlik gedoen, maar oom Daan is nie gister gebore nie. As jy by die veertig jaar lank in ’n hospitaal werk, leer jy mense ken. Heel vroeg in die aand het hy ’n paar vrae gestel, maar toe het oom Daan nog nie lont geruik nie. Maar toe die man hom darem omstreeks vieruur die oggend weer by sy toonbank kom tuismaak, en dít nadat hy heelnag geopereer het, en weer die gesprek in die rigting van die nagmatrone stuur, toe’t oom Daan geweet dis nie net sommer nie. Om die een of ander rede stel hierdie man in matrone Linde belang.

      Oom Daan het bekommerd begin wonder of die man dalk nie tevrede is met die nagmatrone nie. Hy verstaan hoeka hy laat die teaterpersoneel maar goed rondspring. Oom Daan was gou om al haar goeie en bekwame hoedanighede te besing en hy het die doktertjie presies vertel dat daar nie met ’n speld se punt op haar te prikke is nie. Tien jaar lank, ja, wragtie, tien jaar lank – die doktertjie het gelyk asof hy hom nie glo nie – het hy vertel, werk hy en hierdie nagmatronetjie saam en as daar iemand is wat weet watter bekwame en ordentlike kind hierdie mens is, dan is dit seker hy wat oom Daan is. Die doktertjie kan maar sy woord vat. Oom Daan is gek na al sy dogters soos hy hulle noem, maar sy topdogter in hierdie hospitaal is en sal altyd Maryke Linde bly. Sy is uit een stuk. Oom Daan het skoon opgewonde geraak.

      Maar vanoggend lyk sy topdogter moeg en half anderste en die oom wil sommer weer opgewonde raak. Hierdie nuwe doktertjie moenie met sy mense kom bodder en lyf wil rondgooi nie. Die nuwe superintendentjie het hoeka al van die eerste dag af ook almelee iets oor hierdie meisiekind te vrae en te visse by hom. Hulle moet die nagmatronetjie uitlos. As hulle aan haar raak, krap hulle aan oom Daan, dié moet hulle nou weet.

      Van al oom Daan se vurige gedagtes weet Maryke niks nie. Sy is net haastig om weg te kom van die hospitaal af en haar lippe trek wrang. Dit is die eerste keer in tien jaar dat sy gretiglik van die hospitaal afskeid neem. Maar vandag wil sy so gou as moontlik terug wees in die veiligheid van haar woonstel.

      Haar oë flits vinnig om haar en sy voel gerusgestel. Dis darem nog te vroeg vir die superintendent om aan diens te kom. “Lekker slaap, oom Daan. Oom is seker ook maar moeg vanmôre?”

      “Ag, kind, jy weet hoe gaan dit met ’n oumens. Slaap is nie meer so belangrik nie. Die stukkie lewe wat voorlê, het te kort geword. Maar jy moet nou lekker gaan rus. Jou voete moet af wees. Jy het seker vannag nooit gesit nie.”

      Op die stoeptrap skei hul paaie. Oom Daan swenk in die rigting van sy trapfiets. Winter en somer, sonskyn of reën, oom Daan ry fiets. Mense probeer hom ook verniet oorreed om saam te ry met ’n motor. Hy wys so ’n aanbod altyd beleef maar beslis van die hand.

      Maryke swaai regs weg in die rigting waar haar motortjie half verdwerg tussen die paar groter motors en die hospitaalbus staan. Sy versnel haar pas, sy wens dat sy al in haar woonstel is en vergetelheid in die genadige slaap gevind het.

      ’n Hand val meteens op haar skouer en sy kom verward tot stilstand.

      “Dis net ek. Jammer om u op te hou, maar … as dit moontlik is, sal ek graag ’n paar woorde met u wil praat, asseblief.”

      Sy staan weer woordeloos voor hom. Net so min as wat sy ’n enkele oomblik alleen met Ralph Weideman wil wees, net so min wil sy alleen met hierdie man wees, hierdie vreemdeling wat binne die bestek van net twee ontmoetings haar nood so goed begryp het dat hy haar tot hulp gekom het. Hoekom hy dit gedoen het bly nog steeds vir haar ’n raaisel.

      Maar dat hy wel met haar sal wil praat, kan sy verstaan. Sy deins innerlik terug, maar toe sy hand om haar elmboog vou en sy ferm in ’n rigting gedu word, stribbel sy nie teë nie.

      Dis ’n oomblik lank stil in die motor nadat die deure agter hulle toegeklap het. Hulle word intiem afgesluit van die buitewêreld waar die reënsluiers met al sterker intensiteit neersif. Maryke staar strak voor haar teen die voorruit vas en bemerk hoe die wasem stadig teen die binnekant begin aanslaan. Elke vesel in haar vermoeide liggaam span styf. Wanneer laas was sy só alleen saam met ’n man? Sy kan nie eens meer onthou nie. Sy wil haar kop draai en na hom kyk, maar tog is sy bang, bang dat daardie oë weer te diep sal kyk.

      Langs haar staar die dokter ook strak voor hom uit. Dan klink sy stem op, bot en kortaf. Asof hy veel liewer sou wou swyg, maar genoodsaak is om voort te gaan met ’n selfopgelegde, onaangename taak: “Ek veronderstel ek is u ’n verskoning skuldig, matrone. Ek het my neus in u persoonlike sake gesteek. As u wil, sal ek die saak regstel …”

      “Nee!” Die grys oë vlieg verskrik na die bloues op, dan sak haar ooglede vinnig en ’n pynlike blos vlam oor die bleek wange. “Ek bedoel …” Sy soek desperaat na die regte woorde. Wat moet die man van haar dink? Dan eindig sy lamlendig: “Ek bedoel dis nie nodig om … Dit maak nie saak nie.”

      Die man se blik rus ondersoekend op die afgewende gelaat. Hy frons. “Ek begryp nie heeltemal nie. Dat dit nie saak maak nie. Ek …” Dis of hy ook na woorde soek. “Ek tree nie gewoonlik impulsief op nie. Dis net dat ek … Wel, ek is jammer as ek deur my optrede vir u … komplikasies geskep het.”

      “Nee, u het nie vir my komplikasies geskep nie,” antwoord sy gedemp. Sy vervolg pynlik selfbewus: “U het my geensins in die verleentheid gestel nie. Ek is u … dankbaar.” Sy sluk swaar. “Ek besef egter dat dit vir ú ’n verleentheid geskep het …”

      “Geensins.” Hy aarsel, kyk haar weer sydelings aan en sê dan kalm: “As dit u pas, kan dit maar so bly. Dit sal aan my geen verskil maak nie.”

      Sy skud haar kop. “Ek begryp nie …”

      Die blou oë vang hare vas. “Ek bedoel dat as dit vir u tot hulp kan wees, ons die wanindruk wat geskep is maar kan laat deurgaan. Dit kan my nie skeel onder watter indruk Ralph Weideman verkeer nie.”

      “Maar dit sal nie net by … by Ralph bly nie. Daar is die hospitaal, die res van die personeel. Sulke dinge word rugbaar. U weet tog seker self hoe dit gaan.”

      Hy maak haar met ’n ongeduldige handgebaar stil, so asof die gesprek hom verveel en selfs tot ergernis stem. “Ek ken die bostelegraaf van ’n groot hospitaal. Teen hierdie tyd weet al wat ’n suster is al seker dat ons twee bevriend is. Die saalsuster kon sekerlik nie wag om die sappige stukkie nuus aan haar medesusters te gaan vertel nie. Sy sal ook nie nalaat om te noem dat die nuwe superintendent en die nagmatrone óók


Скачать книгу