Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan


Скачать книгу
in die deur verskyn.

      “Ek wil ’n oomblik met u praat, juffrou Tredoux,” sê hy en wink haar nader.

      Sy maak ’n diep buiging.

      “Waaroor, U Eksellensie?”

      “Don Diego weet iets belangriks omtrent u vader se verdwyning. As hy sterf, sal sy geheim saam met hom graf toe gaan. Hy wou dit nie eens met mý deel nie.” Hy sug diep. “Hy het vanaand hierheen gekom om die saak op te los, maar nie een van ons kon voorsien wat hier gebeur het nie.”

      “Hy het iets aan my probeer sê, U Eksellensie, maar hy het weer sy bewussyn verloor.”

      “Wat het hy alles gesê?”

      “Net dat ek hier moet weggaan, want monsieur Lorraine is ’n bedrieër.”

      Van der Stel knik. “Hy het dit min of meer so aan my ook gestel. Ek dink hy vermoed dat mijnheer Lorraine iets van u vader se verdwyning af weet.”

      “Maar hy het dan gesê dat hy my vader glad nie ken nie?”

      “Dit mag wees, maar hy mag nogtans iets weet. Ek weet nie wat nie.”

      Véronique maak ’n moedelose gebaar. “Dis alles so geheimsinnig. Dis asof almal bang word om iets te sê. Ek sal buitendien ook nie langer hier kan bly nie. Nie na wat vanaand gebeur het nie. Monsieur Lorraine sal my summier in die pad steek.”

      Die kommandeur dink ’n oomblik na voordat hy sê: “Ek vermoed dat u vader binnekort opgespoor sal word, juffrou. Tot dan mag u as my gas in die Kasteel kom woon.” Hy glimlag effens. “U optrede vanaand regverdig dit dat ek my oor u sal ontferm. U het u lewe gewaag deur in te gryp, maar dit het vrugte afgewerp.”

      “Ek is bly ek kon sy lewe red,” sê sy sag, en ’n dromerige uitdrukking verskyn in haar oë. “Hy verdien nie om só verraderlik te sterf nie.”

      “Hy is ’n uitsonderlike soort mens, ja, juffrou. Sy manne het ’n hoë agting en respek vir hom. Hy is van die weinig afstammelinge van die adel wat hom nie bo sy medemens ag nie.”

      Sy kyk na die kommandeur. “U hou van hom?”

      “Ja, ek hou van hom. Hy’s ’n man wat weet wat hy wil hê, en die duiwel sal hom nie stuit nie.”

      Véronique glimlag. “Miskien is hy die duiwel self.”

      Van der Stel lag sag voordat hy vra: “Sal ons ingaan? U mag vanaand saam met my in my persoonlike koets reis. Die dag sal aanstons breek, en ek glo nie daar sal dán meer struikrowers rondloop nie.”

      Sy glimlag dankbaar. “Baie dankie, U Eksellensie, baie dankie.”

      Véronique word tyd gegun om haar persoonlike besittings bymekaar te kry. Lyzette het na haar kamer gekom en sit nou op die rand van die bed en kyk hoe sy alles netjies in die trommels pak.

      “Ek gaan jou mis, Véronique,” sê sy na ’n lang stilte. “As vriendin, bedoel ek – nie as kamermeisie nie.”

      Véronique glimlag. “As alles eers verby is, sal ek vir jou kom kuier.”

      Lyzette kyk weg. “My pa sal dit nooit toelaat nie … Hy haat jou.”

      “Dan kom jy vir mý kuier.”

      “As hy dít uitvind, weet ek sowaar nie wat hy met my sal maak nie.”

      Véronique haal haar mantel uit die armoire en lê dit op die bed neer.

      “Hy sal my eendag vergewe, Lyzette. As hy Don Diego doodgemaak het, sou hy swaar gestraf gewees het. Ek het hom ten minste dáárvan gered.”

      “Hý sien dit nie so in nie. My moeder is net so ontsteld oor wat jy gedoen het.”

      Véronique kyk ondersoekend na haar.

      “Wat het presies gebeur, Lyzette? Hoekom het hulle mekaar tot ’n tweegeveg uitgedaag?”

      “Don Diego het iets gesê oor die skat wat my pa langs die strand uitgegrawe het. Hy het gesê dat dit nie aan my pa behoort nie en dat my pa dit aan die kommandeur moes oorhandig het. Seerowerskatte behoort nie aan die een wat hulle ontdek nie.”

      Véronique knik stadig.

      “Jou pa was miskien ’n bietjie haastig, maar ek dink hy het rede gehad om omgekrap te voel. Ek wonder wat Don Diego besiel het om so iets te sê? Hy moes mos geweet het dis nie die tyd en plek om so iets te sê nie.”

      “Hy maak my bang … die Spanjaard. Dis vir my asof hy dwarsdeur my kyk. Dit voel asof hy alles weet wat ek dink.”

      Véronique kyk nuuskierig na haar. “Hou jy dan nie van hom nie?”

      Lyzette bloos merkbaar. “O, ja, ek hóú van hom, maar hy laat my so skaam en onbelangrik voel. Hy is ’n wonderlike man … amper soos ’n vors.”

      Véronique lag sag, maar daar is ’n hartseer klank in haar stem.

      “Hy is net so onbereikbaar soos die sterre, Lyzette,” sê sy sag en gaan langs die meisie op die bed sit. “Maar hy is ook ’n mens en vanaand het hy amper gesterf.”

      Lyzette draai na haar. “Jy gaan saam met hom in die Kasteel wees, Véronique. Sal jy my kan laat weet hoe dit met hom gaan?”

      Véronique aarsel en knik dan tog. “Ek sal probeer.”

      Sy pak swygend verder in en dink skielik aan ’n verontrustende moontlikheid: Lyzette is sonder twyfel op hom verlief, maar het hy nie dalk ’n ánder liefde nie? Is hy nie dalk getroud nie? Hoekom is hy so afsydig teenoor vroue?

      “Jy het hom lief, nie waar nie, Véronique?” onderbreek Lyzette skielik haar gedagtegang.

      Sy kyk vinnig na haar. “Miskien … maar wat is die sin daarvan? Ek kan net sowel die maan liefhê.”

      “Jy het sy lewe gered. Hy mag jou dalk om jou hand vra uit dankbaarheid.”

      Véronique skud haar kop. “Nie Don Diego nie. Hy is nie die soort man wat ’n meisie uit dankbaarheid bemin nie.”

      Lyzette staan skielik van die bed af op. “Ek kom nou.” Sy loop die kamer uit, en Véronique gaan vir oulaas die laaikas en armoire deur om te sien of sy nie iets vergeet het nie.

      Lyzette kom na ’n rukkie met ’n pakkie terug. Sy hou dit na Véronique uit.

      “Ek het vir jou ’n afskeidsgeskenk.”

      Véronique kyk verbaas-verras na haar.

      “Jy moes dit nie gedoen het nie, Lyzette.”

      Lyzette gee ’n dun laggie.

      “Dit was nie so beplan nie, maar my pa het vir my die oorkrabbetjies gegee. Hy het gesê ek mag dit nie nou al dra nie. Hy sal tog nooit daarna vra nie.”

      Véronique skud haar kop.

      “Ek kan dit nie by jou neem nie, Lyzette.”

      “Asseblief … Hulle beteken tog niks vir my nie. Ek is seker daarvan dat jý daarvan sal hou. Dit pas by jou.”

      Voordat Véronique kan antwoord, is daar ’n klop aan die deur.

      “Binne!” roep sy.

      Die deur gaan oop en Emile kyk in.

      “Die kommandeur wil vertrek, mademoiselle.”

      “Ek kom dadelik, Emile!” Véronique neem haar mantel.

      Lyzette kyk na haar. “Gaan jy nie my geskenkie vat nie?” vra sy in ’n pleitende stem.

      Véronique aarsel. Dan glimlag sy.

      “Dankie, Lyzette; dit sal ’n aangename herinnering aan jou wees.” Sy neem die klein pakkie, kyk ’n oomblik lank daarna en sit dit dan in haar geldsakkie. “Ek sal dit baie mooi bewaar. Daar is nie nou tyd om daarna te kyk en dit te bewonder nie, maar ek sal jou dadelik laat weet hoe mooi dit is wanneer ek die pakkie oopgemaak het.”


Скачать книгу