Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan


Скачать книгу
oë wat in trane swem.

      “Ons sal mekaar weer sien,” antwoord Véronique gerusstellend. “Een van die dae kom ek kuier … as jou pa dit sal toelaat.”

      Sy hang haar mantel om haar skouers, groet Lyzette weer en dan draf sy met die trap af na onder om een van die dragonders te vra om haar bagasie in die kamer te gaan haal.

      Monsieur Etienne en madame Lorraine groet haar styf. Henri Lorraine wag haar buite die herehuis op die stoep in.

      “Ek het my nie met u misgis nie, mademoiselle,” sê hy en neem haar hand in albei syne. “U het selfs meer moed as wat ek gedink het. Dankie dat u daardie man se lewe gered het.”

      Sy glimlag stram.

      “Ek is bly ek kon dit doen, monsieur,” sê sy en dink aan Don Diego wat ’n rukkie gelede bleek en bewusteloos in een van die kommandeur se koetse gelaai is. Haar keel trek toe. Sal hy die vermoeiende rit na die Kasteel kan deurstaan? “Ek hoop net hy bly lewe, monsieur,” sê sy na ’n kort stilswye.

      “Hy sal lewe. Daarvan is ek baie seker. ’n Man soos monsieur Fernandez gaan nie sommer van ’n messteek dood nie.”

      Sy kyk na hom, ’n onseker blik in haar blou oë.

      “Ek hoop dat u gelyk het, monsieur.” Sy kyk om na die wagtende koets. “Adieu, monsieur, ek hoop dat ons mekaar weer sal sien.”

      “Adieu, mademoiselle …”

      Sy word in die koets gehelp en dan vertrek hulle.

      Die son is nog lank nie op nie, maar in die ysige nanag is daar selde aanvalle deur struikrowers. Agt dragonders doen die koets geleide en dus hoef hulle nie vir ’n aanval te vrees nie.

      Simon van der Stel sit teen die kussings en maak sy oë toe. Hy en Véronique het ’n paar woorde gewissel, maar albei van hulle is te uitgeput om ’n gesprek te voer.

      Véronique kan nie insluimer nie. Haar gedagtes bly terugdwaal na Don Diego. Teen hierdie tyd het hy seker al by die Kasteel aangekom. Sou hy nog lewe? En as hy sterf, wat sal dán gebeur? Sy besef skielik dat sy baie op hom staatmaak om haar vader op te spoor. Sy weet nou dat sy hom kan vertrou en dat hy haar nie in die steek sal laat nie. Maar as hy sterf, het sy niemand meer om haar te help nie.

      Sy voel na haar geldsakkie waarin die oorkrabbetjies is. Dit was ’n mooi gebaar van Lyzette om dit vir haar te gee. Sy is net jammer dat sy nie ook iets gehad het om vir Lyzette te gee nie, maar alles het so skielik gebeur dat sy nie eens aan iets kon dink nie. Hier in die koets is dit te donker om daarna te kyk. Sy sal maar moet wag totdat sy by die Kasteel is.

      Terwyl die oggend nader kom en die lug in die ooste bleek begin word, dink Véronique terug aan die laaste maand van haar lewe. Sedert sy voet aan wal gesit het, soek sy eenstryk na haar vader, sonder enige sukses. So baie het in die maand gebeur. Sy ken nog net ’n paar mense en niemand sal haar kan help in die soektog na haar vader nie. Monsieur Henri Lorraine bedoel dit goed, maar hy is maar net ’n koopman wat geweld nie kan verdra nie. Daar is Claude le Vau, die jong seun wat so graag wil hê die Franse moet bymekaar woon. Vir hom draai alles nou om hierdie een groot lewensideaal. Lyzette, weer, is ’n gawe meisie, maar dis buite die kwessie om háár hulp te vra. Die kommandeur sal help wanneer die tyd ryp is, maar tot dusver weet sy nog nie eens vir seker of haar vader ontvoer is nie.

      Al wat oorbly, is Don Diego … Haar verlange na en kommer oor hom word ’n fisieke pyn in haar binneste. Die verraderlike Etienne Lorraine het hom byna laat sterf. Sy word yskoud as sy daaraan dink. Etienne Lorraine is ’n lafaard. Sy wens net dat sy by was toe hulle mekaar uitgedaag het.

      Sy onthou Don Diego as die laggende donker Spanjaard op die markplein; die geheimsinnige, dreigende man in die pakkamer; die tere minnaar in die skeepsruim. Véronique druk met haar koel hand teen haar gloeiende wang. Ek het hom lief, dink sy wanhopig; ek het hom lief, en hy mag nie sterf nie …

      Die son sit reeds ’n handbreedte oor die horison toe hulle eindelik die Kaap binnery. Die boere kom in toue aan mark toe, en hulle kom ook ’n paar ruiters teë wat die oggendlug geniet. Almal kyk die kommandeur se koets nuuskierig agterna toe dié verbyry op pad na die Kasteel.

      Véronique skrik wakker. Sy moes uiteindelik ingesluimer het. Sy kyk na die kommandeur wat nog rustig voortslaap. Dan vee sy moeg met haar hande oor haar oë en druk aan haar hare om dit weer netjies te kry.

      “Uiteindelik hier!” sê die kommandeur skielik en glimlag vir haar. “Dit was ’n vermoeiende rit.”

      Sy glimlag terug.

      “Dit was, U Eksellensie. Ek is jammer dat ek die oorsaak van u nagtelike terugkoms is.”

      Hy maak ’n afwerende gebaar met sy hande.

      “Vergeet daarvan. Ek sal net bly wees as die hele ding agter die rug is en u u vader opgespoor het.”

      Sy knik.

      “As Don Diego nie sterf nie, sal alles regkom, U Eksellensie.”

      Hulle hou in die binnehof van die Kasteel stil en word uit die koets gehelp. Die kommandeur gaan dadelik die Kasteel binne. ’n Paar minute later word Véronique gehaal en na haar woonkwartiere geneem.

      Dis ’n gerieflike vertrek aan die agterkant van die Kasteel. Haar bagasie word ook soontoe gebring en dan word sy ingelig dat die kommandeur haar net na middagete wil spreek.

      Toe sy alleen is, gaan sit sy op die bed. Wat staan haar nou te doen? Hier in die Kasteel kan sy nie onbepaald woon nie. Die kommandeur sal dit nie toelaat nie. Sy sal nou haar vader so gou moontlik moet opspoor.

      Skielik onthou sy van die oorkrabbetjies in haar geldsakkie. Voordat sy gaan slaap, wil sy eers daarna kyk. Later sal sy ook na Don Diego wil gaan, maar daarvoor is sy nou te uitgeput. Sy is ook half bang om te gaan, bang dat die nuus sleg mag wees.

      Sy staan op en gaan haal die klein pakkie wat Lyzette vir haar gegee het. Sy glimlag terwyl sy dit oopmaak. Aanvanklik het sy gedink dat sy en Lyzette moeilik met mekaar oor die weg sou kom, maar alles het goed afgeloop. Lyzette is ’n baie gawe meisie en bitter onseker van haarself in haar nuwe rol as rykmansdogter.

      Sy haal die papier versigtig van die pakkie af en staar dan geskok na die oorkrabbetjies. Daar is ’n saffier en twee diamante in elke oorkrabbetjie, en dis in silwer geset. Die juwele glinster in die oggendson wat by die vertrek inskyn.

      Dis egter nie die waarde van die oorkrabbetjies wat Véronique se asem wil laat wegslaan nie. Haar hart ruk in haar binneste toe sy besef dat hierdie oorkrabbetjies eens aan haar moeder behoort het, en dat haar vader dit sedert hy uit Frankryk weg is altyd by hom gehad het …

      6

      Sy staar onbegrypend na die skitterende edelstene in haar hand. Hoe het Lyzette se vader, Etienne Lorraine, dit in die hande gekry? Is daar dalk werklik ’n leidraad op L’Espérance wat sy misgekyk het?

      Sy skud haar kop. Miskien het Lorraine die juwele by iemand gekoop … miskien by iemand wat dit by haar pa gesteel het? Maar dan moet sy in elk geval uitvind by wié hy dit gekry het!

      Véronique weet dat sy nie nou meer sal kan slaap nie. Sy voel te opgewonde oor haar ontdekking. Uiteindelik het sy ’n tasbare bewys dat haar vader wel hier in die Kaap is … as hy nog lewe.

      Sy maak een van die trommels oop en haal ’n liggrys tabberd uit. Dis nie te erg gekreukel nie en sy sal dit kan dra totdat sy môre haar goed by madame Schoonveld kan gaan haal. Dit duur nie lank om te verklee en haar hare weer netjies te kry nie. Dan verlaat sy haar kamer haastig.

      Dit duur ’n rukkie voordat sy uitvind waar Don Diego is, en sy haas haar soontoe. ’n Wag staan voor die deur, maar hy laat haar toe om in te gaan. Die kommandeur moes hom van haar koms gesê het, dink sy verlig.

      Sy gaan die kamer saggies binne en steek dan vas.

      Don Diego lê op ’n bed aan die oorkant van die ruim vertrek. ’n Hollandse verpleegster is net besig om op te ruim nadat sy sy wond weer skoongemaak en verbind het. Sy glimlag vir Véronique


Скачать книгу