Versamelde poësie. D.J. Opperman
Читать онлайн книгу.DJ Opperman
versamelde poësie
Tafelberg / Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Versamelde poësie mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Verantwoording
Hierdie uitgawe van D.J. Opperman se Versamelde poësie bevat al die gedigte wat hy in sy nege afsonderlike digbundels gepubliseer het: Heilige beeste (1945), Negester oor Ninevé (1947), Joernaal van Jorik (1949), Engel uit die klip (1950), Blom en baaierd (1956), Dolosse (1963), Kuns-mis (1964), Edms. Bpk. (1970) en Komas uit ’n bamboesstok (1979). Werk wat by sy heengaan onafgerond was en vroeëre gedigte wat hy wel voltooi het maar nie vir publikasie vrygestel het nie, is nie vir hierdie bundel in aanmerking geneem nie.
Omdat Opperman by die herdruk van sy bundels soms geringe wysigings in sy werk aangebring het, is daar met die vasstelling van die teks vir die huidige uitgawe deurgaans gesteun op die laaste uitgawe van ’n betrokke bundel waaraan hy self ’n hand gelê het. Daarom is daar ook rekening gehou met Astrak (1960), die bloemlesing wat hy uit sy eie werk saamgestel het en self redaksioneel versorg het. In die geval van Joernaal van Jorik is gebruik gemaak van die teks wat in Die galeie van Jorik (1979) voorkom, ’n teks waaroor die digter self nog ’n oog laat gaan het.
Met hierdie poging om so naby as moontlik aan die finale wil van die digter te kom, was alle onsekerheid egter nie uit die weg geruim nie. Opperman het in sy vroeë poësie, veral in Heilige beeste, dikwels die verboë vorm van die adjektief gebruik, ook waar die taal dit nie gebied nie: “skrale oes” (“Misoes”), “donkere gange” (“Môre-uur”), “vele liefdes” (“Bede”), “skone val” (“Hooft”), “skrale plaat stapelia” (“Phoenix”), “verre/biesies” en “skelle houe” (“Donkerlied”) e.d.m. Hierdie vorme is in die tweede druk van Heilige beeste (1947) gehandhaaf en dergelike gevalle kom ook voor in Negester oor Ninevé, maar later het die digter heel bewus afskeid geneem van die “swak” uitgange wat hy as ’n dertiger-res in sy poësie beskou het. Dit is bv. duidelik te sien in van die gedigte uit die eerste twee bundels wat in Astrak opgeneem is. “Nagbloei” se “ryke bron” en “kale skouer” het in die bloemlesing “ryk bron” en “kaal skouer” geword, terwyl “strakke/skoonheid” en “donkere gang” uit “Mijn herte met luste ghevaen” “strak/skoonheid” en “donker gang” geword het. In “Nagedagtenis aan my vader” is “kleine wonder” tot “klein wonder” gewysig, en in “William Blake” het “late/nagte” “laat/nagte” geword ten spyte van die feit dat die verandering die rym geaffekteer het. Om enkele voorbeelde uit Negester oor Ninevé te noem: In “Nagwaak by die ou man” is “strenge blik” tot “streng blik” gewysig, terwyl in “Mont-aux-Sources” “geile slaap” tot “geil slaap” verander is.
Die vraag is nou of dit nie as ’n vingerwysing behoort te dien nie. Bestaan daar nie genoeg rede om vroeë gedigte wat nie in Astrak opgeneem is, dienooreenkomstig te wysig nie? Na wik en weeg is besluit om Astrak-wysiginge te handhaaf in die gedigte wat in die bloemlesing staan, maar om die wysiginge nie redaksioneel oor te dra op verse wat nie in Astrak opgeneem is nie. Verskillende oorwegings het hier gegeld waarvan een die feit is dat daar in Astrak verboë vorme oorgebly het wat nie deur die digter weggewerk is nie. Dit is dus duidelik dat Opperman in dié verband nie bloot resepmatig opgetree het nie.
By die vasstelling van die teks moes ook aandag gegee word aan sekere afwykings van die aanvaarde skryfkonvensie wat meermale by Opperman voorkom. Eerstens is daar sy gebruik om die besitlike voornaamwoord, wanneer dit op God of Christus dui, dikwels met ’n hoofletter te skryf, terwyl dergelike voornaamwoorde gewoonlik met ’n kleinletter geskryf word. So kry ons bv. “U arbeiders” (“Kontrak”), “Christus en Sy sterwe” (“Rodar en Yrsa”), “U daggeel lig” en “U heelal” (“Na die myninstorting”), “Sy kruis” (“Dertiende dissipel”), “Sy kramptrekke” (“Vincent van Gogh”) e.d.m. Die feit dat Opperman, in weerwil van die konvensie, tot in sy latere poësie dié praktyk volgehou het (vgl. bv. “opofferinge van Sy werk” in “Nooi”, “na Sy bruid toe kom” in “Troumars” en “My gevange volk” in “Paddas”), dui daarop dat hy goeie rede moet gehad het om die hoofletter te gebruik. Moontlik wou hy op dié manier die goddelikheid en die goddelike besit benadruk, en langs dié weg kan misverstande natuurlik ook uitgeskakel word. Opperman se skryfwyse in dié verband word dus gehandhaaf.
Nog ’n skryfafwyking is te sien in Opperman se gebruik van ’n koppelteken in gevalle waar die konvensionele skryftaal dit nie nodig ag nie. Baie voorbeelde hiervan kom veral in sy vroeër werk voor: “half-oop rose” (“Bouquet”) (in teenstelling bv. met “halfoop oë” in “Blom van die baaierd”), “nuut-herrese” en “wind-bewoë” in “Hooft”, “visse blink-pens na die son” in “Wandeling”, “swart-bont bulle” in “Shaka”, “wolk-wit visioene” in “In die landskap”, “kors-droë klippe” in “Legende van die drenkelinge”, “vlamme-swaarde” in “Legende van die drie versoekinge”, “lampe-skyn” in “Debuut”, “sterre-boë” in “Walvis”. Ook in Joernaal van Jorik: “bamboes-eilande”, “sterre-stringe”, “bruin-groen”.
Maar ook hier is daar, uitgaande van die standpunt dat die gebruik van koppeltekens aksentuering en moontlik selfs fyn betekenisnuanses in die spel kan bring, nie in Opperman se gebruik ingegryp nie. Slegs in enkele gevalle waar dit bloot gaan om die spelling en dit geen artistieke implikasies kan hê nie, is die nodige wysiginge aangebring: “saksofoon” word “saxofoon” (“Stadsnag”), “crotonblare” word “krotonblare” (“Drif”), “randjie” word “rantjie” (“Shaka”), “thalidomide” word “talidomide” (“Gedagtes by ’n sarkofaag”), “Coca Cola” word “Coca-Cola” (“Amerika in Europa”).
Waar estetiese waardes moontlik in die spel kan kom, is die digter se afwykende spelling egter behou: “weeldrig” en “poeltjie” in “Shaka”, “slymrig” in “Legende van die drenkelinge”, “salpetrig” in “Ou knol”, “verby gekom” in “My stokperdjie kry vlerke”, “mors dood” in “Seremonie van die naelstring” en “by geroep” in “Tot siens”.
’n Rigtinggewende prinsipe was dus deurgaans die eerbiediging van die digter se wens (sover as wat dit vasstelbaar was), selfs in gevalle waar hy van die aanvaarde skryfkonvensie afgewyk het. Dit het meegebring dat slegs in enkele onvermydelike gevalle ’n redaksionele ingreep oorweeg is.
A P Grové (1987)
Heilige beeste
1945
Vir Marié
Heilige beeste
Dit is my laaste besit
wat ek bedags langs die Taka verdedig
en snags in die kraal tussen kiepersol en klip:
hulle wat wei
waar die hadida in die noorsboom wag
bo peule, miershoop en gras;
hulle wat afhanklik is
van die bul wat die sand krap
en die reuk van die koei nog vat;
hulle wat afstam
van kuddes deur dansende impi’s omring
in die koningskrale van Senzangakona en Dingaan;
hulle my drie drifte:
die aardse, die vrou en die Groot-Groot-Gees
oor die kraal tussen kiepersol en klip.
I
Kontrak
U het die wêreld oopgeskiet
tot grot en gramadoela;
toe die blaar en riet,
U arbeiders, gestuur; wortels
wat nederig werk, die mier
wat stokkies dra
en beitelpunt van die