Versamelde poësie. D.J. Opperman
Читать онлайн книгу.dinamiet
en laat aan arbeiders
die besonderhede en verdriet.
Sarkofaag
Vas teen die stad rys bruingekerf
met ’n groen kuifie bo, die halwe berg
waar honderde bandiete
agter skoorstene van fabrieke
jare al met koekepan en pik
hul dieper ingrawe in skuinstes klip;
en om hul uit klein vensters van die stad
kyk klerke dag vir dag met huiwering na die gat.
Stadsnag
Op deuntjies van die saxofoon verdwyn
die siel se kommer, stryd en ongeloof,
en waar die stringe liggies troostend skyn,
bied ons ’n nagtelike vrees die hoof.
Saans in die stad as elke siel so pyn,
word dit aan Mefistofeles beloof
as hy ons net jong vrouens of ou wyn
wil gee om ons ’n rukkie te verdoof.
Maar tot die na-nag is ons dan verdoem
om tussen die geslote deur en muur
te lê, met alle stryd net uitgestel
tot nou, tot ’n erkenning, onverbloem,
tot hierdie wakkerlê om uur na uur
koorsig die klanke van ’n klok te tel.
Stad in die mis
Met gespanne spier
loop ek deur die mis
want om my sluip ’n dier
onder wit duisternis;
ek hoor hom knor en in oop mote
waggel sy pilare-pote
en sy kantelende rug metaal;
op hoeke van die strate blink
sy oë bloedbelope,
en met sy hap sluit staal op staal.
Vyfuur
Teen vensters gryp geel strooi van reën,
die dakke kwyn tot malvas lig,
en met die skemer oor die strate
skuif die moeë duisendpoot terug,
wentel en wentel die wêreld uit
deur verdiepings, die eerste, die tweede . . .
tot hy homself in eie duister sluit.
Vakansiebrief
Voor my in ’n mispel kras
drie kraaie; my dae verdwyn
in stiltes soos kwartels in lang gras.
Vanoggend toe ek erdwurms soek,
raak ek oor ’n fossiel verstrooid
soos oor ’n bladsy uit ’n muf dagboek.
’n Ou meid lê langs haar skerm, die wange
weggesak, haar oë reën en sand
in holtes van ’n maalklip opgevang.
Die berg se donker lies, vars spore
van die likkewaan en kuttels van ’n bok
roer iets in my van lank tevore;
maar die tarentaal sit stom
op haar nes vol eiers – my hart broei
oor die stad: glas, sink, beton.
Reën in die Bosveld
Lang maande lê die reënboog
in ’n miershoopgat gekrul,
blink en nat soos ’n voël se oog.
En winternagte as die steenuil fluit,
blaas ’n wit os op die rivier
dik mis teen riete en die walle uit . . .
Maar een middag bulk hy in die poort, swaai boos
sy horings oor die klowe,
en uit ’n miershoop vlieg die voël omhoog.
Stelsel
KLEINBOER
Vroeg Saterdag as die koekoekhaan kraai,
sing ek bo-op my karretjie gelaai
met wortels en koolkoppe; maar swyg
met bitter haat as ek saans huis toe draai.
MISOES
As ek die skrale oes van uitgedorste
goue dae sien, treur ek oor vermorste
krag en tyd, en soek vergeefs vergoeding
teen jou diepbewoë borste.
NAGGELUID
Deur my gebed, diep uit die nag se nok
hoor ek die hart van die heelal: ’n klok
wat tik en tik, afsydig tik,
en my gebed verbitter tot ’n wrok.
HAEL
Wat baat gebede, arbeid en gesaai
waar groter stelsels oor die enkeling draai?
My goedversorgde koringland word deur
die wit koeëls van ’n hemel afgemaai.
GROOT GETY
Dit is die bitterheid as my gevoel
geminag word: die groot gety wat spoel,
en haat en liefde uitklots, het behalwe
eb en vloed miskien geen ander doel.
Boer
Hy stap van soggens vroeg
agter vier osse
en die ploeg,
om aarde, son en wind
en reën in mielies
te verbind;
in ryke saad waaruit
fabriek en stad en
nasie spruit.
Kronieke
WITVLAG
Hul het die hand, die vredeshand gevra
en wapens neergelê, soveel verdra,
want elkeen dog dat hy en hy alleen
onder sy hemp ’n koue slagmes dra.
KINDERS VAN VYANDE
Waar ons tesaam die ewighede raak
kom daardie hinderende sterfbedspraak
van vadere: “My seun, ek sien in jou
manwording nader my misgunde wraak.”